Wanneer ander omgee
“EK HET glad geen bloedfamilie nie. . . . Ek sorg vir myself en kry van niemand hulp nie, en, glo my, ek het menigmaal hulp nodig. . . . Enige aandag, hoe gering ook al, roer ons baie diep. Dit word nederig waardeer.”
So het ’n bejaarde vrou geskryf. Ja, ouer persone is dikwels baie dankbaar wanneer ander omgee.
Maar dit geld ook vir talle jonger persone. Een meisie het aan haar dierbare vriende geskryf: “Ek wil julle albei bedank omdat julle so vriendelik en bedagsaam is, omdat julle ons ‘jonges’ saamneem en tyd aan ons afstaan sodat ons soveel pret kan hê.” ’n Klein groepie het ’n dag saam deurgebring in aangename en opbouende omgang. Dit was ongetwyfeld ’n heuglike geleentheid, en die briefie het dank teenoor die bedagsame egpaar uitgespreek omdat hulle “soveel omgegee het”.
BEDAGSAAMHEID HET WAARDE
’n Persoon vind dikwels baie daarby baat wanneer ander toon dat hulle omgee. Hy kan byvoorbeeld aanmoediging ontvang. ’n Ander jong persoon het die volgende aan haar geestelike suster geskryf: “Jy het my aangemoedig wanneer ek lus gekry het om naaldwerk te doen of te kook, en jy het my nooit gekritiseer nie . . . Ek het jou waarlik lief as ’n Christensuster.” Ja, aanmoediging in heilsame bedrywighede—veral in geestelike strewes—kan ander tot voordeel strek.—Handelinge 11:23, vgl. NW; 1 Petrus 5:12, vgl. NW.
Maar dit hou ook ander voordele in wanneer mense werklik omgee. ’n Persoon het moontlik leiding nodig, en dit is gewis baie makliker om goeie raad te aanvaar wanneer die ontvanger weet dat die gewer werklik omgee. Een Christen-ouere man was inderdaad bly toe hy ’n briefie ontvang het wat lui: “Dankie vir al die . . . raad en tyd en bedagsaamheid.” Die apostel Paulus het beslis vir medegelowiges omgegee, want hy het geskryf: “Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes. As iemand swak is, voel ek asof ek self ook swak is; as iemand in sonde val, voel ek asof ek ook deur vuur gaan.”—2 Korinthiërs 11:28, 29, NTP.
Wanneer ander omgee, kan daar nog ander voordele wees—verskuilde voordele. ’n Jong vrou het aan die vroeër gemelde egpaar geskryf: “Ek sal nooit genoeg vir julle kan doen nie. Ek hoop ek maak nooit een van julle seer nie.” Ja, goedheid verwek goedheid, en dit trek mense nader aan mekaar. En as jy weet dat ander omgee, sal jy hulle seer sekerlik nooit wil teleurstel of seermaak nie. Wanneer jy op jou beurt vir ander omgee, verskaf dit bykomende aansporing om op ’n liefdevolle, godvrugtige weg te volhard.
TOON DAT JY OMGEE
Hoe kan jy toon dat jy vir ander omgee? Daar is ongetwyfeld tallose maniere. Maar kom ons beskou net ’n paar.
“Wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar”, het die apostel Paulus geskryf (Efesiërs 4:32). Hy het ook gesê: “Die broederliefde moet bly. Vergeet die gasvryheid nie” (Hebreërs 13:1, 2). Ja, sorg dat jou optrede altyd van vriendelikheid, ontferming, liefde en gasvryheid getuig. Sulke optrede sal ander laat besef dat jy omgee.
Is dit nie byvoorbeeld wenslik, wanneer jy gasvryheid betoon, om persone van verskillende ouderdomme en agtergronde in te sluit en nie net diegene van jou ouderdom en lewenstand nie? Jesus Christus het eenmaal gesê: “Wanneer jy ’n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes, en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges” (Lukas 14:13, 14). Onthou gerus die minderbevoorregtes, waaronder miskien weduwees en wewenaars wat jou geselskap sal geniet.
Maar gestel jou middele is so beperk dat jy nie ’n feesmaal kan gee nie. Moenie jou daaroor bekommer nie. ’n Geïnspireerde spreuk lui: “Liewer ’n porsie groente waar liefde by is, as ’n vetgevoerde bees en haat daarby” (Spreuke 15:17). Jesus Christus het by een geleentheid, toe hy sy goeie vriendinne Maria en Martha van Betanië besoek het, die uitnemende waarde van geestelike dinge beklemtoon. Maar wat van ’n maaltyd? “Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; maar een ding is nodig” (Lukas 10:38-42). Ja, Jesus sou tevrede gewees het met net een voedselitem, sodat die verdeelde Martha, sowel as die oplettende Maria, baat kon vind by sy onderrigting.
Christene kan toon dat hulle vir ander omgee deur op sosiale voet met hulle te verkeer. Sulke geleenthede kan onvergeetlik gemaak word deur goeie ondervindinge te vertel wat in God se diens geniet is, of deur mekaar te bemoedig deur heilsame, geestelik opbouende geselskap, groeplesing uit die Bybel of Skriftuurlike besprekings. Oud en jonk kan hierby baat vind, en dikwels vlieg die tyd sommer om. Vriendskappe word versterk en almal onthou lank die aangename ure wat so saam deurgebring is.
Maar wat van die ontvangers van gasvryheid en ander weldade? Hoe gepas is dit tog dat hulle hulle diepe waardering uitspreek! Dit toon dat hulle ook omgee. “Met die oog op die tyd waarin ons lewe”, het een jong persoon aan dierbare vriende geskryf, “dink ek nie dat ons as Christene enige geleentheid deur ons vingers moet laat glip om vir mekaar te sê hoeveel ons mekaar se vriendskap waardeer nie. Julle . . . het my op so baie maniere gehelp, party waarvan julle nie eers weet nie.”
Diegene wat die regte beweegrede het wanneer hulle hulle besorgdheid oor ander toon, soek nie lof van ander nie. Hulle word nietemin beloon vir hulle onselfsugtigheid, want, soos Jesus gesê het, “dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Die gewer sowel as die ontvanger vind dus by bedagsame woorde en dade baat. Watter seëninge het dit tog tot gevolg wanneer ander omgee!