Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w79 10/15 bl. 9-16
  • Waarom sal die Christendom nie behoue bly nie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom sal die Christendom nie behoue bly nie?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • MISPLAASTE VERTROUE IN ’N GODSDIENSGELUKBRINGER
  • VAN GODSDIENSHEILIGHEID TOT BESOEDELING
  • DIE OFFERS WAT JEHOVAH GOD BEHAAG
  • Hulle se “vrede” terwyl daar geen vrede is nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
  • Versterk om Jehovah se woorde te spreek
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • “Die weg van die lewe” of “die weg van die dood”—Welke?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
  • Jehovah—Ons Hoop om ’n nuwe orde binne te gaan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
w79 10/15 bl. 9-16

Waarom sal die Christendom nie behoue bly nie?

“Kyk, hulle het die woord van die HERE verwerp, en watter wysheid sou hulle hê? . . . van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog.”—Jer. 8:9, 10.

1. Waarom is dit nie vreemd dat Jerusalem as ’n vredes-element teleurstellend sal wees nie?

HEDENDAAGSE Jerusalem, die stad wat deur drie van hierdie wêreld se vernaamste gelowe hooggeskat word, speel oënskynlik weer ’n wêreldrol. Sal sy weer eens die stad van die Vredevors wees? Sal sy weer die onontbeerlike faktor wees by die skepping van wêreldvrede? In hierdie opsigte sal sy diegene wat haar op godsdiensgebied hoogag, teleurstel. Dit behoort nie vir ons vreemd te wees nie, want selfs eertydse Jerusalem het die God wie se glorieryke tempel op die berg Moria, een van haar beroemde heuwels, gepryk het, in die steek gelaat.

2. (a) Wat kan ons verbeur as ons na die valse Christendom se woordvoerders luister? (b) Wat het Jehovah verwek om die valse Christendom te waarsku?

2 Laat ons nie onder diegene wees wat vandag die weg inslaan wat tot onvermydelike teleurstelling lei nie. Die valse Christendom, wat groot verwagtinge vir hedendaagse Jerusalem koester, het al lank groot seggenskap in godsdienstige en politieke aangeleenthede. Ten spyte van haar prestige kan ons die ewige lewe wat ons begeer, verbeur indien ons luister na wat haar woordvoerders in hierdie mees kritieke tyd in die hele mensegeskiedenis sê. Volgens die onfeilbare Woord van God wat die valse Christendom beweer dat sy aanbid, is daardie stelsel van nominale, verklaarde Christelikheid gedoem, net soos die Jerusalem van die profeet Jeremia se dag was (Jer. 6:1-8). Deur persone wat net soos Jeremia volkome aan God toegewy is, is die Christendom behoorlik gewaarsku oor die gewisse vernietiging wat op haar wag. Ja, net soos dit die geval was tydens die laaste dae van Jerusalem in Jeremia se dag, het Jehovah God sy gesalfde getuies verwek om ’n hedendaagse Jeremiaklas te wees (2 Kron. 36:15, 16). Jehovah het hierdie Christengetuies van hom gereeld na die lidmate van die Christendom gestuur. Hy het hulle as’t ware ‘daagliks, vroeg en laat, gestuur’ (Jer. 7:25, 13). Maar alles tevergeefs!

3. Watter reaksiepatroon op so ’n waarskuwing het die Christendom se “profete” en “priesters” gevolg?

3 Die Christendom se “profete” en “priesters” het egter geweier om daarop ag te slaan. Hulle hou nie daarvan dat hulle “kuddes” ontstel word nie. Hulle gee dus valse versekeringe aan hulle wat God se profesieë weerspreek. Dit was die geval in Jeremia se dag. Dit was die geval in die dae van Christus se apostels (Jer. 5:20,21; Matt. 13:13-15; Hand. 28:25-27) Wil ons soos daardie misleide mense wees en weier om ag te slaan? Nee!

MISPLAASTE VERTROUE IN ’N GODSDIENSGELUKBRINGER

4, 5. (a) In watter soort struktuur stel die mense van die Christendom vandag hulle vertroue? (b) Hoe beskryf Jeremia mense wat ’n soortgelyke fout in sy dag gemaak het?

4 Miljoene persone stel vandag hulle vertroue in ’n gedoemde godsdiensstruktuur. Die geestelikes van die Christendom oorreed hulle lidmate om dit te doen. Die mense van Jerusalem en die land Juda het in die dae van Jeremia ’n soortgelyke fout begaan. Ons wil hulle nie navolg nie. Jeremia is deur Jehovah beveel om in die poort van die tempel van Jerusalem te staan en in die openbaar vir diegene wat soontoe kom te sê:

5 “Vertrou nie op bedrieglike woorde nie—wat sê: Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit! . . . Kyk, julle vertrou op bedrieglike woorde wat nie baat nie. Sal julle steel, doodslaan en owerspel bedrywe en vals sweer en vir Baäl offerrook laat opgaan en agter ander gode aan loop, wat julle nie ken nie, en dan opstaan voor my aangesig in hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, en sê: Ons is verlos!—om al hierdie gruwels te doen? Is hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, ’n spelonk van moordenaars in julle oë? Ook Ek—kyk, Ek het dit gesien, spreek die HERE.”—Jer. 7:4-11.

6. Tydens watter optrede het Jesus Jeremia se beeldspraak ten opsigte van die tempel te Jerusalem gebruik?

6 Jeremia is nie gemagtig om die tempel te reinig van al die besoedelende dinge wat daar gesit is deur diegene wat Jehovah se aanbidding met heidense afgodediens probeer meng het nie (Jer. 7:30, 31). Maar meer as 630 jaar na die vernietiging van daardie tempel het Jesus Christus, as die Seun van God, die herboude tempel te Jerusalem by twee geleenthede gereinig. Toe hy dit gedoen het, het Jesus Jeremia se beeldspraak gebruik. Ons lees: “Jesus het in die tempel van God ingegaan en almal wat in die tempel verkoop en koop, uitgejaag en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi. En Hy sê vir hulle: Daar is geskrywe: My huis moet ’n huis van gebed genoem word. Maar julle het dit ’n rowerspelonk gemaak.” (Matt. 21:12, 13; kyk ook Johannes 2:15, 16.) Daardie besoedelde tempel is in 70 G.J. vernietig.

7. (a) Waarin omskep die lidmate van die Christendom hulle godsdiensstruktuur terwyl hulle hulle aanbidding beoefen? (b) Wat noem hulle Jesus Christus, maar wat sal hy hulle noem?

7 Veral sedert 1919 G.J. het die hedendaagse Jeremia-klas die wêreld se aandag op die besoedelde toestand van die valse Christendom gevestig. Terwyl daardie lidmate in hierdie verklaarde Christelike stelsel van dinge aanbid, hou hulle aan om ‘te steel, dood te slaan, owerspel te bedrywe en vals te sweer’. Hulle bring godsdiensoffers aan ander gode (Baäls, Here) benewens die Here Jesus Christus. Materialisties omskep hulle hul godsdiensorganisasie in ’n blote “rowerspelonk” (Jer. 7:9-11, vgl. NW). Ten spyte van al hierdie dinge wat vir Jehovah walglik is, bring die lidmate van die Christendom lippehulde aan Jesus Christus en noem hulle hom “Here”. Hulle dink dat omdat hulle dit doen, alles in orde is en dat hulle aanbidding vir God en Christus welgevallig is. Maar Jesus Christus gaan hulle verras deur hulle persone te noem “wat die ongeregtigheid werk” omdat hulle nie sy Vader se wil doen nie.—Matt. 7:21-23.

8. Waarom dink die lidmate van die Christendom dat hulle godsdiensstruktuur onaantasbaar is?

8 Net soos die Israeliete na wie Jeremia Jehovah se boodskap gebring het, beskou die lidmate van die Christendom hulle “tempel”, waaroor hulle die naam van Christus uitgeroep het, soos ’n gelukbringer teen onheil vanaf God. Hulle wys na hulle nominale Christelike struktuur van dinge en sê: “Die HERE se tempel is dit!” (Jer. 7:4). Die Rooms-Katolieke Kerk maak daarop aanspraak dat dit apostolies is deur ’n reeks apostoliese opvolgers op te stel wat tot by Christus se twaalf apostels teruggaan. Die Anglikaanse Kerk van Groot-Brittanje sê iets soortgelyks van sy “biskoppe” (episkopaalse geestelikes). Die patriargate van die Oosters-Ortodokse Kerke maak staat op ’n denkbeeldige, ononderbroke opeenvolging van biskoppe reg tot by die twaalf apostels, wat volgens hulle apostoliese opvolgers gehad het. Die pousdom van Rome beweer dat dit gebou is op die apostel Petrus as “hierdie rots”, en dat die “poorte van die hel” dit dus nie kan oorweldig nie (Matt. 16:18, 19, die Katolieke “Nuwe Testament”). Weens sulke beweerde kontinuïteit sedert Christus se dag meen hulle dat die Christendom onaantasbaar is en dat dit nooit uitgewis kan word nie.

9, 10. (a) Watter vraag ontstaan oor aanbidders wat hulle vertroue in die ‘onaantasbaarheid’ van die valse Christendom stel? (b) Wat het Jehovah Jeremia aangesê om te sê oor die Jode wat hulle vertroue in hulle tempel gestel het?

9 Waarborg dit egter ’n persoon se veiligheid teen onheil en vernietiging saam met die valse Christendom indien hy sy vertroue in haar ‘onaantasbaarheid’ stel? Die apostel Paulus het gewaarsku dat mense in die “laaste dae” ‘’n gedaante van godsaligheid sou hê, maar die krag daarvan sou verloën’, en het toe bygevoeg: “Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Tim. 3:1-5). Verseker dit dus ’n persoon van beskerming wanneer God uiting aan sy regverdige misnoeë gee indien hy uiterlike formaliteite nakom in ’n huis of inrigting wat na bewering aan God toegewy is maar terselfdertyd besoedel is met valse aanbidding en wêreldlikheid? Wel, wat het Jehovah Jeremia aangesê om vir die Israeliete wat op hulle “tempel” vertrou het te sê? Luister:

10 “Gaan tog na my plek wat in Silo was [ongeveer 32 kilometer noord van Jerusalem], waar Ek my Naam vroeër laat woon het, en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van my volk Israel. Omdat julle dan nou al hierdie dinge gedoen het, spreek die HERE, en Ek met julle gespreek het, vroeg en laat, maar julle nie geluister het nie, en Ek julle geroep, maar julle nie geantwoord het nie, daarom sal Ek aan die huis waaroor my Naam uitgeroep is, waar julle op vertrou, en aan die plek wat Ek aan julle en julle vaders gegee het, doen soos Ek aan Silo gedoen het. En Ek sal julle van my aangesig wegwerp soos Ek al julle broers, die hele geslag van Efraim, weggewerp het.”—Jer. 7:12-15.

11. Wat het in Samuel se dag te Silo gebeur wat die Israeliete se godsdiensgevoeligheid geskok het?

11 Die dinge wat in die dae van die jong profeet Samuel met Silo gebeur het, het die Israeliete se godsdiensgevoeligheid geskok. Hulle het op die heilige verbondsark vertrou om hulle van ’n nederlaag deur die Filistyne te red. Dit is dus uit die Allerheiligste van die tabernakel te Silo geneem en die wetsoortredende priesters, die seuns van hoëpriester Eli, het dit na die slagveld gedra. Maar die Ark het hulle nie beskerm teen die gevolge van hulle skendings van Jehovah se wet nie. Helaas, die Ark het in die hande van die Filistyne beland, Eli se priesterlike seuns, Hofni en Pinehas, is gedood, en toe hy die droewige tyding ontvang, het vet hoëpriester Eli flou geword, agteroor geval, sy nek gebreek en gesterf. Die Israeliete het onder die juk van die Filistyne gebly, en nooit weer het die Ark, die simbool van Jehovah se teenwoordigheid, na sy plek in die heilige tabernakel te Silo teruggekeer nie, al is dit deur die geteisterde afgodaanbiddende Filistyne teruggestuur.—1 Sam. 3:1 tot 7:2.

12. Hoe het Jehovah Jerusalem en die land Juda behandel soos hy eens begunstigde Silo behandel het?

12 Deur Jeremia het Jehovah gewaarsku dat hy dieselfde met Jerusalem sou doen as wat hy met die eens begunstigde Silo gedoen het. Hy het dus toegelaat dat die Babiloniërs Jerusalem in 607 v.G.J. vernietig. Selfs die tempel wat koning Salomo gebou het en wat die verbondsark gehuisves het, is vernietig. Die Ark self het verdwyn en niemand weet waar dit vandag is nie. Na die ramp op Silo het die Filistyne die Israeliete daar laat bly. Maar nadat die Babiloniërs Jerusalem en sy tempel vernietig het, het hulle die meeste oorblywende Jode na afgeleë Babilon weggevoer. Die paar Jode wat oorgebly het, het die land eindelik in vrees verlaat en na Egipte gevlug. Dit het die hele land Juda onbewoond gelaat. Sodoende het Jehovah daardie verbondoortredende Jode voor sy aangesig verwyder!

13. Watter les moet ons uit daardie geval van misplaaste vertroue leer?

13 Laat ons vandag ’n les hieruit leer. Laat ons nie ons vertroue stel in dit wat die geestelikes van die Christendom meen as ’n godsdiensgelukbringer sal dien om haar van uitwissing te red nie. Die “groot verdrukking” wat haar binnekort gaan tref, sal baie erger wees as dit wat met Jerusalem en sy tempel gebeur het 37 jaar na Jesus die besoedelde tempel te Jerusalem, wat in ’n blote “rowerspelonk” verander is, gereinig het.—Matt. 24:1, 2, 21, 22.

VAN GODSDIENSHEILIGHEID TOT BESOEDELING

14. Waarom moet ons nie tot God bid dat die valse Christendom bewaar moet word nie?

14 Geen ware liefhebber van die God van die Bybel sal bid dat so ’n vreemde ding die valse Christendom nooit moet tref nie. Jehovah het sy profeet Jeremia belet om te bid dat Jerusalem en sy ontheiligde tempel die voltrekking van Sy regverdige verontwaardiging gespaar moet bly. Jerusalem se hedendaagse teenbeeld, die valse Christendom, is verstok. Na al hierdie jare waartydens Jehovah sy Christengetuies gestuur het om die mense van die Christendom te waarsku, hou sy met haar boosheid vol tot die punt waar sy onvergeeflik is.—Jer. 7:18-26; 5:7-9.

15, 16. (a) In die lig van watter handelwyse verdien die valse Christendom nie medelye nie? (b) Wat het Jehovah in Jeremia 7:30, 31 gesê toe hy dit toegelig het?

15 Ons moenie vir die valse Christendom jammer voel omdat haar vernietiging soveel menselewens sal raak nie. Haar handelwyse het God veel smaad aangedoen. Waarom sal ons nie eerstens aan hom dink nie? Hy is belangriker as alle menseskepsele. Dink net hoe die Christendom met haar honderdmiljoene lidmate sy naam oneer aangedoen het en sy getroue getuies wat sy waarskuwings en lewensreddende raad verkondig het, vervolg het. Het ons meer medelye met agtelose, ongehoorsame mense as met die naam van die allerhoogste God? Hulle ondergang saam met die valse Christendom is waarlik betreurenswaardig, maar hulle huidige skaamtelose godsdienshandelwyse is nie minder betreurenswaardig nie. Om dit toe te lig het Jehovah gesê:

16 “Die kinders van Juda het gedoen wat verkeerd is in my oë, spreek die HERE. Hulle het hul verfoeisels gesit in die huis waaroor my Naam uitgeroep is, om dit te verontreinig. En hulle het die hoogtes van Tofet gebou wat in die dal van die seun van Hinnom [buitekant die suidelike muur van Jerusalem] is, om [wat?] hulle seuns en hulle dogters met vuur te verbrand—iets wat Ek nie beveel het nie en in my hart nie opgekom het nie.”—Jer. 7:30, 31; kyk Levitikus 18:21; 20:2-5.

17. (a) Watter vraag ontstaan oor medelye met die mense-offers en die ouers wat hulle geoffer het? (b) By wie het die gedagte van sulke mense-offers ontstaan?

17 Vir wie moet ons dus die jammerste kry? Die afgodaanbiddende ouers wat rekenskap aan Jehovah sou moes gee? Of die seuns en dogters wat gillend as mense-offers vir die valse god Molog (Koning) op ’n hoë altaar te Tofet in die dal van die seun van Hinnom geoffer is? (Jer. 32:35). Hoe kon daardie gevoellose ouers sulke aanbidding van die duiwelse afgod Molog met aanbidding by die heilige tempel net noord van die dal vereenselwig? Dit was nie op Jehovah se bevel dat hulle sulke lewende mense-offers vir ’n valse god geoffer het nie. Die gedagte van sulke mense-offers het in die hart van die destydse godsdiensafvalliges opgekom, maar nooit in die hart van Jehovah God nie. Wat verdien manne wat probeer om sulke aanbidding met Jehovah se aanbidding te vermeng?

18. Hoe vergelyk sulke offers van die ou tyd in aantal met die wat nou in minder as ’n eeu deur die Christendom geoffer is?

18 Die aantal kinders wat destyds deur die afvallige “kinders van Juda” geoffer is, is onbeduidend vergeleke met die aantal mense-offers wat die valse Christendom gedurende die eeue aan haar onchristelike gode geoffer het. Hoewel sy voorgee dat sy die sigbare koninkryk van die Vredevors is, het sy tallose seuns en dogters vir die oorlogsgod, haar Molog of “Koning”, geoffer. In minder as ’n eeu het sy talle miljoene van haar beste jong lidmate opgeoffer tydens die twee bloedigste oorloë in die hele mensegeskiedenis, en in talle kleiner oorloë. Die valse Christendom noem dit lasterlik Christelikheid. Sy beskou sulke offers as “die hoogste offer” wat vir die geofferdes dadelik toegang tot Christus se teenwoordigheid in die hemel verkry!

DIE OFFERS WAT JEHOVAH GOD BEHAAG

19. Wel, wat beteken dit dan vir ’n Christen om sy liggaam as ’n “lewende, heilige . . . offer” aan God te bied?

19 Dit is nie die soort offers wat Jehovah God die volgelinge van sy Seun Jesus Christus aanraai om te bring nie. Hy het eerder die apostel Paulus geïnspireer om in Romeine 12:1, 2 te skryf: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Wanneer die Christen sy liggaam as “’n lewende, heilige . . . offer” aanbied, beteken dit nie dat hy selfmoord moet pleeg of dat sy priester hom moet doodmaak en hom op ’n altaar moet offer nie. Dit sal nie “redelike godsdiens” wees nie. Dit beteken eerder dat die Christen ’n selfopofferende lewe ten behoewe van God se diens lei, nie dat hy opsetlik vir die skyn ’n martelaar van homself moet maak nie.

20. Watter offers kan ’n lewende Christen aan God bring deur te lewe op ’n wyse wat vir ‘God welgevallig’ is?

20 Deur voortdurend te lewe op ’n wyse wat vir ‘God welgevallig’ is, kan die ware Christen die offer wat in Hebreërs 13:15, 16 gemeld word aan God offer: “Laat ons dan gedurig deur Hom [Christus, God se Hoëpriester] aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely. Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ’n welbehae aan sulke offers.”

21. Wat het Jehovah vir sy uitverkore volk gesê, is vir hom belangriker as diereoffers, en wat dus van menseoffers?

21 Die offers wat so beskryf is, laat nie toe dat ons Jehovah se aanbidding vermeng met die opoffering van mense- of diereoffers aan die valse gode van hierdie wêreld nie (Jes. 42:8). Die vernaamste ding wat God van sy volk wil ontvang, is gehoorsaamheid—gehoorsaamheid aan “die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God”. Toe Jehovah sy uitverkore volk uit dodelike verdrukking in eertydse Egipte verlos het, het hy nie die bring van diereoffers aan hom beklemtoon asof dit van die grootste belang was nie: “Maar hierdie saak het Ek hulle beveel, naamlik: Luister na my stem, dan sal Ek vir julle ’n God wees, en julle sal vir My ’n volk wees; en wandel net in die weg wat Ek julle beveel, dat dit met julle goed kan gaan” (Jer. 7:22, 23; 1 Sam. 15:22). Indien Jehovah nie by sy uitverkore volk daarop aangedring het dat hulle diereoffers moes bring nie, sou hy hulle beslis nie vra om menseoffers te bring nie. Die gedagte van mense-offers, soos die aan Baäl of Molog, het nie eens ‘in sy hart opgekom nie’.—Jer. 7:31.

22, 23. (a) Hoe het die valse Christendom, met haar reputasie as ’n vergieter van mensebloed, versuim om offers te bring wat vir God welgevallig is? (b) Wat sou met haar eertydse prototipe gebeur om te toon of sy ongestraf sal bly?

22 Ten spyte van die Christendom se aaklige reputasie as ’n vergieter van mensebloed, het sy nie die offers wat God behaag aan hom gebring nie. Sy was nie gehoorsaam aan die Bybel se God nie (Miga 6:6-8). Tot vandag toe het sy geen berou oor haar ongehoorsame handelwyse sodat sy die gepaste offer aan God bring nie: “Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (Ps. 51:19). Verdien die Christendom om ongestraf te bly? Sal sy ongestraf bly? Haar eertydse prototipe, Jerusalem, het die nodige straf ontvang, net soos Jehovah gesê het:

23 “Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat nie meer gesê sal word: Tofet en die dal van die seun van Hinnom nie, maar Moorddal. En hulle sal in Tofet begrawe, omdat daar geen plek sal wees nie. En die lyke van hierdie volk sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde sonder dat iemand hulle skrikmaak. En Ek sal uit die stede van Juda en uit die strate van Jerusalem laat ophou die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid; want die land sal ’n puinhoop word.”—Jer. 7:32-34; 19:6-9.

24. Wanneer het die tipiese vervulling van daardie plegtige profesie plaasgevind?

24 Hierdie plegtige profesie is nie vervul tydens die bewind van koning Josia, wat beelde verbrysel het en die plekke wat gebruik was om Molog en ander demongode te aanbid verontreinig het nie (2 Kon. 23:3-20). Tofet en die dal Hinnom is in ’n moorddal omskep, besaai met die lyke van Judeërs, sonder enige grafte om te verhoed dat vleisetende voëls en diere hulle verorber, toe langbeleërde Jerusalem in 607 v.G.J. deur die Babiloniërs verower is en die ellendige oorlewendes weggevoer is en die stad ’n puinhoop geword het. Jerusalem en Juda het 70 jaar lank woes gelê.—2 Kron. 36:17-21.

25. Watter profesie van Jeremia se vervulling sal die valse Christendom, in die lig van die voorgaande, nie vryspring nie?

25 Die bloedskuldige Christendom van vandag, met haar heidense gebruike, mensgemaakte tradisies en mengsel heidense filosofieë en Bybelleerstellings, sal geensins beter vaar as haar eertydse prototipe nie. Sy sal nie die vervulling van Jehovah se profesie vryspring nie: “’n Groot storm word opgewek uit die agterhoeke van die aarde. En die wat deur die HERE verslaan is, sal dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie; hulle sal mis op die aarde wees” (Jer. 25:32, 33). Nee! Die Christendom sal nie die naderende “groot verdrukking” oorlewe nie (Matt. 24:1, 2, 21, 22). Daarbenewens sal die res van die wêreldryk van valse godsdiens kort na haar vernietig word!

[Venster op bladsy 9]

Die Bybelprofesie van Jeremia vestig liefhebbers van geregtigheid se aandag op “die weg van die lewe”. Dit beskryf ook Jehovah God se voltrekking van oordeel aan valse godsdiens en die nasies wat sy wil teëstaan. Daardie uur is ophande! Dit is dus tydig dat “Die Wagtoring” in hierdie en die volgende nommers die hedendaagse vervulling van Jeremia se profesie bespreek.

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel