Hulle se “vrede” terwyl daar geen vrede is nie
1. Waar bevind die Jeremia-klas van vandag hulself ten opsigte van die verkondigers van “vrede!” wanneer daar geen vrede is nie?
DIE profeet Jeremia was nie onder diegene van sy dag wat gesê het “vrede!” terwyl daar geen vrede was nie. Die Jeremia-klas van vandag is eweneens nie onder daardie woordvoerders van die valse Christendom wat daardie manne navolg wat in Jeremia se dag volgehou het om “vrede!” te sê nie. Wie sal eindelik diegene blyk te wees wat die waarheid gepraat het—die wat “vrede!” verkondig het, of die sogenaamde “doemprofete”?
2, 3. (a) Waarna voel manne verplig om te kyk as ’n bron van ’n stabiele, blywende vrede? (b) Wat is Jeremia vervolgens beveel om te sê om die magteloosheid van so ’n vredesboom toe te lig?
2 Om wêreldaangeleenthede op ’n vreedsame uitslag te laat afstuur, voel manne verplig om hulle tot bonatuurlike hulp te wend. Maar dit is nie na die God van die eertydse profeet Jeremia wat hulle as die bron van ’n stabiele, blywende vrede kyk nie. Die bonatuurlike magte vir vrede waarna hulle hulle wend, sal valse gode blyk te wees wat heeltemal magteloos is! As ’n waarskuwing aan ons almal oor die verplettering van die ongegronde drome oor vrede aan die kant van konings, vorste, priesters, profete en die besorgde bevolking wanneer hulle valse vredesgode hulle in die steek laat, is die geïnspireerde profeet Jeremia beveel om van daardie tyd te sê:
3 “In dié tyd [wat in Jeremia 7:32-34 voorspel is], spreek die HERE, sal hulle [die Babiloniese veroweraars] die bene van die konings van Juda en die bene van sy vorste en die bene van die priesters en die bene van die profete en die bene van die inwoners van Jerusalem uit hulle grafte uithaal, en hulle sal dit uitsprei voor die son en voor die maan en voor die hele [sterre]leër van die hemel wat hulle [as voorwerpe van aanbidding] liefgehad en gedien het, en waar hulle agter aan geloop het, en wat hulle gesoek en waarvoor hulle hul neergebuig het; dit [die bene] sal nie versamel en begrawe word nie, mis sal dit op die aarde wees.”—Jer. 8:1, 2.a
4. Wat dui die ontheiliging van grafte vir die aanbidders van valse gode aan, en wat verdien hulle nie?
4 Ja, die hemelliggame wat met soveel belofte op die inwoners van Jerusalem en die land Juda neergeskyn het, sal dan magteloos neerkyk gedurende daardie rampspoedige tyd wanneer die saak oor wie die God van waarheid is, opgeklaar sal word. Die ontheiliging van grafte van vername godsdienstiges en politici sal die veragting toon wat mense het vir diegene wat valse gode aanbid het in stryd met Jehovah se Tien Gebooie. Selfs die vrede waarmee hulle in die dood geslaap het, sal verstoor word (Job 3:13-19). In Jehovah se oë verdien die toegewyde aanbidders van valse gode nie vir hulself beskermende heiligheid nie, veral nie wanneer hulle beweer dat hulle in ’n Christelike verhouding met die God van die Bybel is en nogtans sy uitdruklike gebooie oortree nie (Ex. 20:1-6; 1 Joh. 5:21; 2 Kor. 6:16). Hulle verdien nie om eerbied vir die dooies te ontvang nie!
5. Hoe sal die vervolgers van Jehovah se Getuies vind dat hulle gespot met Jehovah op hul eie gode van toepassing is?
5 Die dag van afrekening sal dus aanbreek vir diegene wat die Christengetuies van Jehovah vervolg en hulle bespot met die uitdagende woorde: ‘Waar is julle God Jehovah? Laat hom kom en julle red!’ (Ps. 22:8, 9). In die naderende “groot verdrukking” waartydens die valse Christendom sal ondergaan, sal die vervolgers wat haar met hulle dade behaag het, uitvind of hulle valse gode hulle kan help. Dan sal hulle leer dat hulle gode nie in staat is om hulle te red van die oordeel van die God waarmee hulle die spot gedryf het nie.
6, 7. (a) Wat sou die mense wat na Babilon weggevoer is, verkies het, en waarom? (b) Hoe was die reaksie soos dié in Jeremia se dag, al het Jehovah ’n beroep gedoen dat mense na hom moes terugkeer?
6 In Jeremia se dag sou party Jerusalem se vernietiging oorlewe. Wat van hulle? Hulle sou weggevoer word na die land Babilon. Daar sou hulle ‘die dood bo die lewe verkies’ (Jer. 8:3). Selfs al het Jehovah ’n beroep op die verbondverbrekende Israeliete gedoen om weer ’n vreedsame verhouding met hom aan te knoop, het hulle die “gewilde weg” van die wêreld tot 607 v.G.J. bewandel. Hulle het dus geen veilige grondslag vir ’n vreedsame toekoms onder Jehovah se seën gelê nie. In hedendaagse tye het die valse Christendom ook die gewilde weg ingeslaan. Dekades lank al sedert 1919 G.J. het die Jeremia-klas, wat uit gesalfde getuies van Jehovah bestaan, die weg bekend gemaak om weer ’n vreedsame verhouding met die God van die Bybel te verkry. Maar die meeste lidmate van die Christendom het geweier om daarop ag te slaan. Dit is net soos Jeremia gesê het:
7 “Waarom is dan hierdie volk, Jerusalem, afkerig met ’n aanhoudende afkerigheid? Hulle hou vas aan bedrog, hulle weier om terug te keer. . . . daar is niemand wat berou het oor sy boosheid, dat hy sou sê: Wat het ek gedoen nie? Elkeen spring weg in sy loop [die gewilde weg].”—Jer. 8:4-6, vgl. NW.
8. Watter versuim om onderskeidingsvermoë aan die dag te lê was destyds die probleem, soos dit ook nou die geval is?
8 Wat was destyds in Jeremia se dag die probleem toe Jehovah gekom het om ondersoek na sy verbondsvolk in te stel? En wat is vandag die moeilikheid met die mense van die valse Christendom? Dit was en is hulle versuim om hulle onderskeidingsvermoë te gebruik soos dié wat trekvoëls het om die koms van die lente te onderskei. Voëls in die noorde wat tydens die noordelike winter toevlug kom soek het in die warm suidelike gebiede soos die in Palestina, keer stiptelik na hulle broei- en paarplekke in die noorde terug. “Maar”, sê Jehovah by wyse van ’n teëstelling, “my volk ken die reg van die HERE nie” (Jer. 8:7). Dieselfde situasie het bestaan in die dae van Jesus en sy apostels voordat die Romeine Jerusalem in 70 G.J. vernietig het (Matt. 16:2-4; Luk. 19:44). Dit is ook die geval met die valse Christendom in hierdie dae van die Jeremia-klas.
DIE VERBREKING NIE GENEES NIE
9, 10. (a) Op grond waarvan beweer die Christendom se geestelikes dat hulle wys is en die wet ken? (b) Watter toekomsblik gee Jehovah ons van die gevolge van hulle handelinge ter weerlegging van hulle bewering?
9 Die geestelikes van die Christendom beweer dat hulle wys is, nie soseer omdat hulle die Bybel het nie, maar omdat hulle kweekskoolopleiding gehad het. Hulle hou vol dat hulle op hoogte is van die wet van die Bybel se God en weet hoe om dit te vertolk en toe te pas. Maar die God van die Bybel weet beter. Hy kyk vooruit na die nabye toekoms, wanneer die gevolge van hulle hantering van die Christendom se sake hulle sal inhaal. Met so ’n toekomsblik sê Jehovah:
10 “Hoe durf julle sê: Ons is wys, en die wet van die HERE is by ons? Waarlik, kyk, bedrieglik werk die leuenpen van die skrywers [tydens die uitbreking van die finale moeilikheid]. Die slim mense kom in die skande, is verslae en verstrik. Kyk, hulle het die woord van die HERE verwerp, en watter wysheid sou hulle hê? Daarom sal Ek [wanneer die vyandelike leërs kom] hulle vroue aan ander gee, hulle landerye aan veroweraars; want van die kleinste tot die grootste maak hulle almal onregverdige wins; van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog.”—Jer. 8:8-10.
11, 12. (a) Hoe het die ‘pen van die skrywers’ van die valse Christendom ‘bedrieglik gewerk’? (b) Wat is volgens Jeremia 8:9 die rede waarom die pen van die Christendom se skrywers leuens geskryf het?
11 Omdat hulle dinge skryf wat strydig is met wat Jehovah voorspel het, sal dit binnekort blyk dat die ‘pen van die skrywers’ van die hedendaagse Christendom ’n “leuenpen” was. Dit het nie die waarheid geskryf nie. Gevolglik het daardie godsdienspen, in hierdie “tyd van die einde”, wanneer soveel in belang van die Christendom geskryf is, beslis ‘bedrieglik gewerk’ (Dan. 12:9). Waarom is dit die geval?
12 “Kyk”, het Jehovah in Jeremia 8:9 gesê, “hulle [die vermeende wyse manne] het die woord van die HERE verwerp, en watter wysheid sou hulle hê?” O ja, die Christendom se geestelikes sal ’n temateks uit die Bybel aanhaal, maar in hulle daaropvolgende preek wyk hulle af van wat die Bybel sê. Hulle leer mensgemaakte tradisies wat die Woord van God kragteloos maak. Hulle sal politieke aangeleenthede of ’n gewilde program vir maatskaplike hervorming bespreek. Hulle doen hulle voor as manne wat goddelik “wys” is, maar heg meer waarde aan wat Griekse filosofie en die “wysheid van hierdie wêreld” oor die mensesiel, die toestand van die dode, God se persoonlikheid, ensovoorts sê as wat die Bybel daaroor sê (1 Kor. 3:19). Hulle is egter besig om hulle in ’n strik vas te loop. Hulle sal eindelik “verstrik” raak wanneer hulle eie beleide wat op wêreldlike wysheid berus hulle in die steek laat. Hulle word in die skande gesteek en word verslae.
13. Wat is hoofsaaklik daarvoor verantwoordelik dat die Christendom se lidmate, van die kleinste tot die grootste, “onregverdige wins” maak? En hoe so?
13 Die geestelikes spoor hulle “kuddes” aan om wêreldse doelwitte na te streef wat die belofte van roem of materiële belonings inhou. Hulle trek die rykes ten koste van die armes voor. Hulle dring aan op geldelike vergoeding vir hulle godsdienstige dienste. Omdat hulle so ’n voorbeeld stel, dra hulle ’n groot deel van die skuld vir die feit dat hulle lidmate, van die kleinste tot die grootste, geestelike belange laaste stel en “onregverdige wins” of “vuil gewin” eerste stel (1 Pet. 5:1, 2). Hoe gepas tog dat Jehovah nie verhoed dat sulke naamchristene al hulle “onregverdige wins” verloor tydens die naderende “groot verdrukking” wat die valse Christendom gaan tref nie! Jehovah se profetiese Woord sal dus vir hulle bewaarheid word.
14. Tot watter mate het die geestelikes die geestelike verbreking van die Christendom genees?
14 Die geestelikes van die Christendom word steeds as geestelike geneeshere beskou. Maar was hulle sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog in 1918 in staat om die geestelike wond, “die verbreking [Hebreeus: shéber]” van die valse Christendom te genees? Die geskiedenis van die afgelope 60 jaar sedertdien verstrek die feite oor die geestelikes en hulle medegodsdiensleiers. Dit toon dat hulle in gebreke gebly het om by die grondoorsaak van haar kwaal uit te kom en waarom sy nie die “groot verdrukking” sal oorleef nie, maar vernietig sal word onder God se veroordeling. Hulle behandel voortdurend bloot die simptome maar nie die ware oorsaak van die Christendom se gedoemde posisie voor God nie. Hulle het haar verbreking oppervlakkig, ligweg, bolangs, “op die maklikste manier” genees asof dit sommer ’n onbenullige sakie vir Jehovah God is.
15. Wat dink die geestelikes van die godsdiensgeneesmiddels wat hulle gebruik, en met watter woorde verseker hulle hulle kuddes?
15 Sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog het die valse Christendom se ledetal ontsaglik toegeneem. Maar wat van hierdie lidmate se geestelike toestand en hulle verhouding met Jehovah God? Die godsdiensgeneesmiddels wat die geestelikes gebruik het, het sake nie verbeter nie, dit het nie verhoed dat flagrante wêreldsgesindheid die kerke binnedring nie. Ons hoef nie die besonderhede hiervan vir ons lesers te verstrek nie. Die geestelikes is vol vertroue oor die geneesmiddels wat hulle gebruik. Met woorde wat hulle sieklike kuddes hul waaksaamheid laat verslap, verseker die hedendaagse “priesters” en “profete” die valse Christendom voortdurend met die woorde: “Vrede, vrede!” of: “Alles is in die haak, alles is in die haak.”—Jer. 8:11; “An American Translation”; kyk ook “The New English Bible”.
16. Hoe weerspreek die geestelikes die woorde van die Jeremia-klas?
16 Hierdie godsdiensleiers tree dus vals op. Hulle laat hulle kuddes dink dat daar basies niks met die valse Christendom skort nie. Hulle beweer dat haar verhouding met God goed is en dus is daar geen verdrukking van Hom af te vrees nie. Moet dus geen ag slaan op die voorspellings wat die Jeremia-klas uiter oor die vroeë vernietiging van die valse Christendom tydens ’n “groot verdrukking” nie.—Jer. 6:14.
17. Waarom is daar in werklikheid geen vrede tussen Jehovah en die valse Christendom nie?
17 Die dreigende situasie word dus deur die Christendom se woordvoerders verkeerd voorgestel daar hulle sulke versekeringe van vrede gee “terwyl daar geen vrede is nie”. Daar bestaan geen vreedsame verhouding tussen Jehovah God en die valse Christendom nie. Haar sondes word nie bedek deur die soenbloed van Christus nie. Haar hemelhoë hoop sondes is onvergeeflik. God verkeer dus nie in vrede met haar nie. Vernietiging, nie “vrede” of geestelike voorspoed nie, wag op haar, want haar geestelikes en lidmate het skaamteloos dinge bedryf wat vir Jehovah ’n “gruwel” is.—Jer. 8:12.
18. Hoe sal die valse Christendom vernietig word, en wat sal die omvang van die vernietiging wees?
18 Omdat die geestelikes en hulle kuddes so gerus is, sal vernietiging hulle “skielik”, ja, soos “in ’n oomblik” oorval (Jer. 4:20; 6:25, 26). Sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog in 1918 het Jehovah die valse Christendom deeglik ondersoek, en binnekort, op sy vasgestelde tyd, sal hy met haar afreken, net soos hy met eertydse Jerusalem afgereken het. Dan sal haar selfversekerde godsdiensbeoefenaars in die vernietiging instruikel. Jehovah sal skoonskip maak; daar sal niks oorbly om agterna in te samel nie. Enige materiële dinge wat Jehovah hulle toegelaat het om te verkry, sal ‘by hulle verbygaan’ en in vyandelike hande beland.—Jer. 8:12, 13, vgl. NW.
19. (a) Wat het Jesus sy dissipels beveel om te doen wanneer hulle die teken sien dat Jerusalem eerlank vernietig gaan word? (b) Wat het diegene in die platteland in Jeremia se dag gedoen, met die gevolg dat hulle verwagtinge nie verwesenlik is nie?
19 Wat het Christus destyds in die jaar 33 G.J. die Jode aangesê om te doen toe hy die vernietiging voorspel het wat Jerusalem in 70 G.J. sou tref? Om uit Jerusalem en die hele provinsie Judea te gaan wanneer die teken van die naderende vernietiging verskyn. Die persoon wat op die landerye of in ’n buitegebied was, moes nie in Jerusalem inkom nie, maar dadelik maak dat hy uit Judea kom indien hy veilig wou wees en aan die lewe wou bly (Matt. 24:15-18; Luk. 21:20, 21). Maar in Jeremia se dag, toe die Babiloniese vernietigers naderkom, het die mense gemeen dat dit beter is om die oop platteland te verlaat en skuiling in Jerusalem en ander versterkte stede te soek. Hulle het verkies om tydens ’n beleëring in sulke moontlike skuilplekke om te kom, indien nodig. Maar hulle het nie hulp van Jehovah, die God van hulle tempel, ontvang nie. Hy het hulle eerder ’n bitter drank, dodelike “gifwater”, laat drink. Weens die versekeringe van hulle valse profete, ‘het hulle op vrede gewag’. Maar wat? “Maar daar is niks goeds nie; op ’n tyd van beterskap, maar kyk, daar is verskrikking.” Die geluid van of verslae oor die invallende vernietigingsmagte was in hulle ore.—Jer. 8:14-16.
20. Wie het volgens Jeremia 8:17 die dodelike magte gestuur, en hoe is hierdie profesie vervul?
20 In Jeremia se dag was Jehovah die Een wat sy vernietigingsagente teen die verbondsverbrekende Israeliete gestuur het. Hulle het gruwelike dinge voor hom gedoen en sy tempel en sy land besoedel. “Want kyk, Ek stuur slange, basiliske onder julle waarteen daar geen beswering is nie, en hulle sal julle byt, spreek die HERE” (Jer. 8:17). Daar was destyds geen Moses in Israel om ’n koperslang aan ’n paal op te hys sodat Israeliete wat deur slange gepik is gesond kon word net deur met geloof na die koperslang te kyk nie (Num. 21:4-9; Joh. 3:14, 15). Die Babiloniese vernietigers en verwoesters het nie om dowe neute gekom nie; niks wat die beleërde Israeliete destyds in 609 v.G.J. gedoen het, kon hulle van hulle Godgegewe taak laat afsien nie. “Versterkte stede” waarheen die Israeliete hulle toevlug geneem het, kon hulle nie teen Jehovah se oordeel beskerm nie.
21. Hoe het Jehovah in Jeremia 8:18, 19 getoon dat dit hom geen hartgrondige genot verskaf het om die volksramp te veroorsaak nie?
21 Dit het Jehovah geen hartgrondige genot verskaf om hierdie volksramp te veroorsaak nie. Hy het hulle dus behoorlik gewaarsku en die ontvolking van die land Juda en die wegvoering van die meeste oorlewendes na afgeleë Babilon voorspel. Daar sou die ellendige ballinge, wat verbaas was oor Jehovah se ‘vreemde werk’, tot hom roep om hulp. Hy het dus gesê: “Ag, kon ek my maar opvrolik in kommer! My hart is krank in my. Daar is die hulpgeroep van die dogter van my volk uit ’n baie ver land [Babilon]: Is die HERE nie in Sion nie? Of is sy Koning nie daarin nie?”—Jer. 8:18, 19.
22. Waarom het daardie werk van God vreemd voorgekom, en wat was volgens Jehovah die rede daarvoor?
22 Die Joodse ballinge kon eenvoudig nie glo dat Jehovah Jerusalem (Sion) so verlaag sou laat met geen tempel as die huis van hulle God en met geen koninklike troon waarop ’n afstammeling van koning Dawid as Jehovah se gesalfde koning sit nie. Hoeveel smaad het dit tog nie sy naam aangedoen nie—tydelik altans! Al was die gebeure van destyds vreemd, sal die valse Christendom se naderende vernietiging selfs vreemder wees. Jehovah toon in sy antwoord op die Joodse ballinge se hulpgeroep waarom dit kom: “Waarom het hulle My geterg met hulle gesnede beelde, met vreemde, nietige afgode?”—Jer. 8:19b; Jes. 28:21.
23. Wat gaan volgens Jeremia 8:20 gebeur met die verwagtinge van die Christendom se aanhangers om deur hulle werke gered te word?
23 Die valse Christendom se hoop op redding is onskriftuurlik; sy moet vergaan! Die tyd gaan binnekort aanbreek wanneer die aanhangers van die Christendom moet sê: “Die oes is verby, die somer [wat ’n manier om gered te word moes oplewer] is ten einde, en óns is nie verlos nie!” (Jer. 8:20). Laat ons nie onder diegene wees wat dit sê nie!
24. Watter uitroep in Jeremia 8:21, 22 weerspieël droefheid oor ’n rampspoedige boodskap soos ons s’n?
24 Persone wat vandag die valse Christendom aanhang, word dalk bedroef deur ’n boodskap soos ons s’n. Lank gelede het Jeremia bedroef gevoel oor die vooruitsig dat die tempel waar hy as ’n priester gedien het, vernietig sou word en omdat die nasie waarvan hy ’n lid was, afgemaai en verstrooi sou word. Omdat hy alle hoop laat vaar het dat sy volk geestelik sou herstel, kon hy in alle opregtheid en sonder enige wraakgevoelens uitroep: “Vanweë die verbreking [shéber] van die dogter van my volk is ek gebreek [shabár], is ek in die rou; verbaasdheid het my aangegryp. Is daar geen balsem in Gilead nie? Of is daar geen geneesheer nie? Want waarom het die genesing van die dogter van my volk nie tot stand gekom nie?”—Jer. 8:21, 22.
25. Is daar vandag ’n geneesmiddel vir die valse Christendom beskikbaar, en wat moet liefhebbers van blywende vrede nou doen?
25 Die verbreekte geestelike toestand van eertydse Jerusalem en die land Juda was ongeneeslik. Hulle is gevolglik letterlik in 607 v.G.J. deur die Babiloniërs verbreek. Vandag, op hierdie laat tydstip, bestaan daar geen geestelike “balsem in Gilead” om die valse Christendom te genees nie. Laat alle liefhebbers van ware en blywende vrede met Jehovah God dus nou uit haar vlug, voordat sy “skielik” vernietig word.
(Hierdie reeks artikels oor Jeremia se profesie word vervolg.)
[Voetnoot]
a Kyk Barug 2:24, 25, “Douay”-vertaling.