‘Kies bekwame manne wat God vrees’
‘Kies jy uit die hele volk bekwame manne wat God vrees, betroubare manne wat onregverdige wins haat. En stel dié aan oor hulle.”—EXODUS 18:21.
1. Waarom is die woorde “opsiener” en “ouere man” vir Jehovah se Getuies van besondere betekenis?
“SEDERT die tyd van Homerus [omstreeks die 9de eeu v.G.J.] tot op ons dag het baie woorde gesterf; baie ander is gebore. Epískopos [opsiener] en presbýteros [ouere man] het voortbestaan.” Hierdie kommentaar deur ’n hedendaagse Grieksgeleerde bring die ryke betekenis en lewenskragtigheid van die Griekse woorde vir “opsiener” en “ouere man” na vore. Hierdie woorde is duisende jare reeds onafskeidelik verbonde aan Jehovah se organisatoriese reëling vir sy volk. As jy een van Jehovah se Getuies is, sal die volgende bespreking oor hoe hierdie woorde in die Christengemeente opgeneem is vir jou van besondere betekenis wees.
2, 3. Vir wie moes Moses oortuig sodat hy as die Goddelik aangestelde leier van die Israeliete kon dien?
2 Bybelgeskiedenis strek natuurlik baie verder terug as die tyd van die Griekse digter Homerus. In die 16de eeu v.G.J. het Moses die opdrag van Jehovah ontvang om terug te keer na Egipte en die Israeliete uit slawerny uit te lei. Aan wie moes hy sy getuigskrifte voorlê, aangesien hy sowat 40 jaar van sy volk af weg was? “Gaan heen”, het God gesê, “en versamel die oudstes [Grieks, gerousía, “raad van ouderlinge”; kyk Septuaginta] van Israel . . . En hulle sal na jou luister. Dan moet jy met die oudstes van Israel na die koning van Egipte gaan.”—Exodus 3:16, 18.
3 Van die dae van die aartsvaders af het die oudstes klaarblyklik groot aansien geniet vanweë hulle ervaring, kennis, wysheid en goeie oordeel. Dit was vir hulle wat Moses moes oortuig sodat hulle hom sou aanvaar as die leier wat deur God aangestel is om hulle te verlos.
Vereistes vir oudstes in Israel
4. Watter voorstel het Jetro aan Moses gemaak, en wat was die gevolg daarvan?
4 Nadat die Israeliete uit die woestyn gekom het en van hulle Egiptiese gevangenemers bevry is, het Moses se regterlike verantwoordelikheid teenoor die nasie oorweldigend geword. Sy besoekende skoonvader, Jetro, het dit so duidelik ingesien dat hy ’n praktiese voorstel gemaak het wat klaarblyklik Jehovah se goedkeuring weggedra het. Hy het gesê: “Die ding wat jy doen, is nie goed nie. Jy sal heeltemal uitgeput raak, jy sowel as hierdie volk wat by jou is. Want die saak is te swaar vir jou; jy kan dit nie alleen doen nie. Luister nou na my; ek sal jou raad gee, en God sal met jou wees. Wat jou betref, wees jy die verteenwoordiger van die volk by God . . . Maar kies, jy uit die hele volk bekwame manne wat God vrees, betroubare manne wat onregverdige wins haat . . . en laat hulle saam met jou dra” (Exodus 18:17-23). Hierdie nuwe regterlike reëling in Israel het die las na ander bekwame manne versprei. Die vergadering van Israel het nou ’n georganiseerde liggaam van oudstes gehad wat bekwaam was om regterlike sake en geskille te hanteer.
5. Moes Moses sommer enige ouer manne kies wat beskikbaar was?
5 Wat ’n kontras vorm dit tog met die huidige wêreldstelsel waar so min mense werklik verhewe beginsels waardeer—waar omkopery en korrupsie die heersers sowel as die onderdane ondermyn! In eertydse Israel moes die manne wat saam met Moses vir die nasie sou regspreek sorgvuldig uitgesoek word. Soos Jetro dit gestel het: “Jy moet self soek na bekwame, godvresende manne onder die hele volk, eerlike en onomkoopbare manne, en jy moet hulle oor die volk aanstel” (Exodus 18:21, The New English Bible). Moses moes nie bloot manne van gevorderde leeftyd kies nie. Hy moes “soek” na bekwame, bevoegde, onomkoopbare manne. Wat ’n wonderlike standaard vir diegene wat vandag na die belange van Jehovah se volk moet omsien!
Oudstes deur Jehovah gemagtig
6, 7. Wat het Jehovah gedoen ten einde oudstes in Israel aan te stel?
6 ’n Ruk later het die Israeliete oor die toestande in die woestyn gekla. Moses het nou gevoel dat ook die administratiewe las van die nasie vir hom te groot was en het die probleem teenoor Jehovah beken. Wat was God se oplossing? Ons lees: “Toe sê die HERE aan Moses: Bring vir My sewentig manne uit die oudstes [Grieks, presbytéron, Septuaginta] van Israel bymekaar, van wie jy weet dat hulle oudstes, [presbyteroi] van die volk en sy opsigters is, . . . en van die Gees wat op jou is, sal Ek afsonder en op hulle lê, en hulle sal jou help om die las van die volk te dra.”—Numeri 11:16, 17.
7 Moses het gedoen soos hy beveel is, en die verslag deel ons mee: “Daarop het die HERE neergedaal in die wolk en met hom gespreek; en Hy het, van die Gees wat hom was, afgesonder en op die sewentig oudstes [presbytérous] gelê. En terwyl die Gees op hulle rus, het hulle geprofeteer” (Numeri 11:24, 25). Hier was duidelike bewys van die teokratiese aanstelling van daardie “oudstes”. Jehovah het sy volk georganiseer sodat hulle uit gevangenskap verlos kon word, en nou het hy ‘bekwame, betroubare, godvresende manne’ gebruik om die verantwoordelikheid van leierskap en bestuur met Moses te deel.
8. Watter rol het die oudstes vervul nadat die Israeliete hulle in die Beloofde Land gevestig het?
8 Met verloop van tyd het die nomadiese Israeliete die Beloofde Land verower en hulle weer in vaste woonplekke in dorpe en stede gevestig, soos hulle voorheen in Egipte gelewe het. Dit het beteken dat die oudstes nou op gemeenskapsvlak vir die volk verantwoordelik was. Hulle het opgetree as ’n liggaam van opsieners vir hulle onderskeie gemeenskappe en het regters en opsigters geword vir regspraak en die handhawing van vrede, goeie orde en geestelike gesondheid.—Deuteronomium 16:18-20; 25:7-9; Rut 4:1-12.
Is grysheid voldoende?
9, 10. Aan watter ander vereistes benewens fisiese se rypheid moes ’n “oudste” voldoen? Staaf jou antwoord Skriftuurlik.
9 Wil dit dan sê dat enige ouer man in Israel vanselfsprekend ’n “oudste” in ’n regterlike of administratiewe hoedanigheid sou wees? Sou ’n Israeliet outomaties ’n “oudste” word wanneer hy ’n seker ouderdom bereik? Nee, dit sou nie ’n redelike gevolgtrekking wees nie. Elihu het die saak duidelik gestel deur te sê: “’n Ou mens [is] nie noodwendig verstandig nie en die ouderdom gee ’n mens nie ’n beter oordeel nie”. En die wyse prediker het geskryf: “Grysheid is ’n luisterryke kroon wanneer dit op die weg van geregtigheid gevind word” Job 32:6, 9, Die Lewende Bybel; Spreuke 16:31, NW; Prediker 12:9, 10). Die Hebreeuse Skrifte toon duidelik dat, by die bekwame “oudste”, ouderdom en ervaring gepaard moes gaan met wysheid en ’n regverdige lewenswandel.
10 Ouderdom en ervaring is egter van groot waarde. Om vir diensvoorregte in aanmerking te kom, moet ouere manne die leiding van God se gees aanvaar en insig in sy Woord verkry. Dit is nie genoeg om bloot tekste te kan aanhaal nie. Dit is ook noodsaaklik dat ’n “ouere man” weet hoe om sulke tekste wyslik toe te pas.—Spreuke 4:7-9; Titus 1:9.
Ouere manne in die Christengemeente
11, 12. (a) Het die Joodse gemeenskappe nog oudstes gehad toe Jesus Christus op aarde was? (b) Onder watter soort reëling is ouere manne in die Christengemeente aangestel?
11 Uit ons bespreking tot dusver is dit duidelik dat bekwame “oudstes” of ouere manne van antieke tye af gebruik is om die leiding te neem onder Jehovah se volk. Teen die tyd dat Jesus Christus op die aarde was, het die Jode ’n sentrale liggaam van priesters en oudstes in Jerusalem gehad wat as die Sanhedrin bekend gestaan het. Dit het as ’n Joodse hoër hof gedien (Mattheüs 26:57-68, vgl. NW). Daar is nietemin getuienis dat groepe oudstes of ouderlinge steeds ’n rol gespeel het in gemeenskapsaangeleenthede in die stede en nie net op nasionale vlak nie.—Lukas 7:3-5.
12 Met hierdie historiese agtergrond in gedagte is dit maklik om te sien hoe die vroeë Christengemeente sou voortgaan om ’n teokratiese reëling te gebruik soortgelyk aan dié wat in Moses se dag deur Jehovah goedgekeur is. Onder die leiding van God se heilige gees sou ‘bekwame, eerlike, onomkoopbare en godvresende manne’ as “ouderlinge”, of ouere manne, in die Christengemeente aangestel word.
13. Waarom was bedrywige, bekwame manne in die Christengemeente nodig?
13 Van Pinkster van 33 G.J. af het die gemeente van gelowiges vinnig gegroei (Handelinge 2:41; 4:4). Hulle is nie in private, afgeskeie Bybelstudiegroepe verdeel asof hulle ’n Esseense sekte was nie. Die Christelike godsdiens was nie ’n privaat aangeleentheid nie. Dit moes in die openbaar bekend gemaak word, aan die nasies verkondig word (Mattheüs 5:14-16; 28:19, 20). Om hierdie rede was bedrywige, bekwame manne nodig om die leiding in die Christelike organisasie te gee. Hulle sou logieserwys die “ouere manne” wees.
Vereistes vir “ouere manne”
14. Watter vereistes vir ouere manne het Petrus beklemtoon?
14 Teen die sewende dekade van die Gewone Jaartelling was daar reeds geestelike vereistes vasgestel vir daardie ouere marine wat die leiding sou neem in die Christengemeente. Ons vind derhalwe talle verwysings na hierdie vereistes in die geskrifte van die apostels Petrus en Paulus. Petrus het byvoorbeeld geskryf:
“Ek vermaan die ouderlinge onder julle . . . : Hou as herders toesig oor die kudde van God, wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde” (1 Petrus 5:1-3).
Toe Petrus beklemtoon het dat “ouderlinge” of ouere manne “nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid” moes dien, het hy dus eintlik die raad herhaal wat aan Moses gegee is, naamlik om ‘bekwame, godvresende, betroubare manne wat onregverdige wins haat’ te kies.—Exodus 18:21.
15. Watter vereistes vir ’n ouere man het Paulus gemeld?
15 In sy brief aan sy vertroude medewerker Titus wat op die Mediterreense eiland Kreta gedien het, het Paulus hom beveel om ‘die dinge in orde te bring wat defek was’ in die gemeentes en om ‘in stad na stad ouere manne [presbytérous] aan te stel’. Dit is interessant dat die Griekse woord wat as “ouere man” vertaal word die gedagte bevat van ’n “ryp man wat weens sy ervaring en verstandigheid geskik is om oor sy gesin of mense te regeer” (Episcopos y Presbyteros, deur professor Manuel Guerra y Gómez). Hierdie begrip blyk ook duidelik uit die vereistes wat Paulus aan Titus uitgespel het vir daardie Christene wat vir die opsienersamp in aanmerking sou kom. Hy het geskryf:
“As iemand onberispelik is, die man van een vrou, gelowige kinders het wat nie beskuldig word van losbandigheid of tugteloos is nie. Want ’n opsiener, [Grieks, epískopon] moet as ’n rentmeester van God onberispelik wees, nie eiesinnig, nie oplopend, geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie; maar gasvry, een wat die goeie liefhet, ingetoë, regverdig, heilig, een wat homself beheers; een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê” (Titus 1:5-9, vg|. NW).
’n Noukeurige hersiening van hierdie vereistes help ons om te besef dat ’n “ouere man” in die Christengemeente ’n hoë standaard moes bereik ten opsigte van gedrag en geestelikheid.
16. Hoe weet ons dat ouere manne in die eerste eeu G.J. ook opsieners was?
16 Dit is ook interessant om te let op hoe Paulus die Griekse woord presbýteros en epískopos “ouere man” en “opsiener”, gebruik. Hieruit lei ons af dat die bekwame ouere manne die pligte van opsieners in die gemeente vervul het. Ander tekste toon dat daar ’n aantal van hierdie ouere man-opsieners in dieselfde gemeente kon wees.—Handelinge 14:23; 20:28; Filippense 1:1.
17. (a) Watter vereistes vir ’n opsiener het Paulus aan Timotheüs gestuur? (b) Waarom moet ’n ouer man ook ywerig wees in die predikingswerk?
17 In sy brief aan Timotheüs het Paulus ook die vereistes vir ’n opsiener uiteengesit, maar in effens verskillende terme, moontlik met ander omstandighede in gedagte (1 Timotheüs 3:1-7). Aangesien die vroeë Christengemeente uiteraard ’n organisasie van evangeliste was, is dit as vanselfsprekend beskou dat hierdie ouere manne ook ywerig sou wees in die verkondiging van die goeie nuus. Daar was geen plek vir traagheid nie.—Lukas 24:46-48; 1 Korinthiërs 9:16; vergelyk Mattheüs 25:24-27.
Die afval tas die gemeente aan
18. Hoe het die afval die posisie van opsieners aangetas?
18 Teen die tyd dat die gemeente die tweede en derde eeu binnegegaan het, het dinge begin verander. Die voorspelde afval het begin wortelskiet (Handelinge 20:29, 30; 2 Petrus 2:1). Eersugtige manne het selfs onder die ouere manne in die gemeente opgestaan. Met ontaarde motiewe het hulle hul opsienersamp as ’n posisie van mag en aansien begin beskou. Sekere gemeentelike opsieners het selfs “biskoppe” geword wat oor ’n bisdom of groep kerke regeer het. Later is hierdie biskoppe deur die leke tot die amp verkies, waarvan party invloedryke heersers was. Een Katolieke geskiedskrywer wys op die gevolge hiervan: “Dit het ’n baie groot gevaar ingehou, veral van die oomblik af dat die episkopaat se aansien toegeneem het en hierdie ampte gepaard gegaan het met aansienlike inkomste en materiële belange . . . [met die gevolg dat] politici tot die invloedrykste bisdomme verhef is”.
19. Wat was die eindresultaat van die afval?
19 Ja, elke biskop het ’n magtige monarg geword. Dit het weer bygedra tot die verdeeldheid en steuringe in die Christendom, wat toe lank reeds nie meer die ware Christelike godsdiens was nie. Die teokratiese reëling van bekwame, eerlike, geestelik gesinde ouderling-opsieners het in ’n hiërargie van geestelikes ontaard. Die vrywillige diens aan die gemeente is in ’n besoldigde beroep verander waarvoor jare van hoër onderrig in teologie, filosofie en kerkreg nodig was.
20. Watter vrae moet nou beantwoord word?
20 Het dit beteken dat die ware Christelike godsdiens, met sy oorspronklike teokratiese reëling vir elke gemeente, nooit herstel sou word nie? Of dat die heilsame, eenvoudige diens van “ouere manne”, of “opsieners”, vir altyd verlore wes? En wat van Jesaja se profesie wat vooruit gewys het op ’n veredeling van die teokratiese organisasie? Dit lui: “Vir koper bring Ek goud en vir yster bring Ek silver, en vir hout koper en vir klippe yster; en Ek sal Vrede as jou owerheid aanstel en Geregtigheid as jou bestuurders” (Jesaja 60:17). Die volgende artikel hierdie belangrike vrae beantwoord.
Ken jy die antwoorde?
◻ Watter soort manne is in eertydse Israel gekies om die regterlike verantwoordelikheid met Moses te deel?
◻ ln watter hoedanigheid het die “oudstes” gedien nadat die Israeliete hulle in die Beloofde Land gevestig het?
◻ Wat is party van die voortreflike eienskappe wat Christen- ouere manne, of -opsieners, behoort te openbaar?
◻ Hoe het die voorspelde afval die reëling in verband met ouere manne geraak?
[Prent op bladsy 19]
Die oudstes van Israel het as regters by die stadspoorte gedien