Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 6/15 bl. 26-30
  • ’n Groot stap vir ’n klein landjie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Groot stap vir ’n klein landjie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Blyke van Jehovah se leiding
  • ’n Groot uitdaging
  • Jehovah het dit laat groei
  • Toekomsvooruitsigte
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 6/15 bl. 26-30

’n Groot stap vir ’n klein landjie

“TOE ons dit alles sien, was ons sprakeloos!” Dit was net een van die baie opmerkings deur die geesdriftige gaste wat op 29 Oktober 1983 aanwesig was by die toewyding van die nuwe takkompleks van Jehovah se Getuies in Emmen, Nederland.

’n Gehoor van 1 150, waaronder 54 afgevaardigdes uit nege ander lande, het die feesprogram bygewoon. Daar was ook honderde oues van dae, wie se “grysheid” ’n besondere atmosfeer aan die geleentheid verleen het. Onder die spesiale gaste was M. G. Henschel, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, wat al die pad van New York af gekom het om aan die toewydingsprogram deel te neem. In twee nabygeleë byeenkomssale het ’n gehoor van 2 978 hulp van ’n telefoonverbinding gevolg.

Blyke van Jehovah se leiding

Wat die gaste gekom het om te sien en hulle so opgewonde gemaak het, was die nuwe geriewe van die Nederlandse Tak van die Wagtoringgenootskap. Die gebouekompleks kan huisvesting verskaf aan tot 120 persone wat by die tak sal werk. Daar is ook ’n eetsaal vir 160 mense, ’n moderne kombuis en bakkery, ’n wassery, ’n Koninkryksaal en ’n biblioteek. Verder is daar kantore waarin 30 mense gemaklik kan werk, asook ’n drukkery en versendingsafdeling wat so groot soos ’n halwe rugbyveld is. Dit alles staan op ’n stuk grond van 5 hektaar in die dorp Emmen.

Maar waarom in Emmen, so ver van die groot stede in die weste van Nederland en van die ou tak in Amsterdam? Die verhaal van die soektog na ’n geskikte stuk grond in hierdie digbevolkte land toon duidelik dat Jehovah die saak gerig het.

Die soektog het in 1978 begin. Teen 1980 het dit gelyk of al die pogings tevergeefs was weens die Nederlandse regering se streng grondbewaringswette, wat nie die groot geboue sou toelaat wat ons nodig gehad het nie. Die Wagtoringgenootskap het derhalwe besluit om die soektog te staak en ’n regstreekse aansoek tot die departement van Dorps-en Landsbeplanning te rig.

Eerlank is ’n onderhoud aan hulle toegestaan. Die amptenaar het aandagtig geluister na wat die Getuies beoog. Toe, tot almal se verbasing, het hy gesê: “Jehovah se Getuies het gedurende die Tweede Wêreldoorlog ’n unieke werk in ons land gedoen, en dit word ongelukkig alte dikwels vergeet. Ek sal sorg dat julle sentrum in een van die drie noordelike provinsies van Nederland gebou word.” Jehovah het inderdaad die gebede van sy volk verhoor.

’n Afspraak is gereël om sommer die volgende oggend nog die direkteur van Dorps- en Landsbeplanning vir die noorde van die land te spreek. Binne 24 uur is ’n stuk grond van ongeveer vyf hektaar in Emmen aangewys. Dit was presies wat nodig was. Die vriendelike burgemeester van Emmen, verbaas oor die behulpsame houding van die streekowerheid, het bevestig dat die dorpsraad van Emmen Jehovah se Getuies in die dorp sou verwelkom. Hierdie belofte is enduit gestand gedoen.

’n Groot uitdaging

In Augustus 1980 is daar met uitgrawings begin. Maar daar was een probleem. Tot op daardie tydstip het die Getuies in Nederland nog nooit enige bouwerk groter as ’n Koninkryksaal of Byeenkomssaal aangepak nie. Nou het hulle voor die uitdaging te staan gekom om ’n gebouekompleks op te rig waarin 120 mense asook ’n moderne drukkery met sy eie werkwinkel en elektroniese settoerusting gehuisves kon word. Dit is geen wonder nie dat, toe ’n skyfie van die oorspronklike groep van vyftien bouers wat met die projek sou begin aan die gehoor by die toewydingsprogram vertoon is, almal saamgestem het dat die bouers en organiseerders, om die minste te sê, “optimisties” was.

Die groep het gou tot 120 voltydse werkers aangegroei. Gedurende naweke het daar tot 150 mense van die gemeentes gekom om te help. Maar hoe het hierdie betreklik onervare span werkers die taak baasgeraak? “Die engele het vir ons gebou”, het een van die bouers gesê. Op die een of ander manier het moeilike take altyd gedaan gekom, en probleme is op onvoorsiene maniere opgelos.

Byvoorbeeld: Hoewel beton baie duur is in hierdie deel van die land, het iemand goedgunstig ’n tweedehandse lotmeter geskenk, wat ’n besparing van meer as R70 000 meegebring het. Later, net toe ’n groot hyskraan nodig was, het ’n bouaannemer een te koop aangebied. Binne ’n paar weke is die kraan van 40 meter by die bouterrein opgerig. En wie sou dit bestuur? ’n Spesiale pionier (voltydse bedienaar) wat as ’n kraanbestuurder opgelei is net ’n paar weke voor die bouwerk begin het.

Dit was dieselfde met ander ambagsmanne. Byna die hele sentraleverwarming- en loodgieterstelsel is ontwerp en geïnstalleer deur spesiale pioniers wat hulle lisensies gekry het deur aandklasse by te woon. Drie van die tekenaars het net ’n paar jaar gelede in die waarheid gekom. Hulle het saam met ’n Getuie by ’n firma gewerk, en hy het hulle die “goeie nuus” vertel. Selfs die bouvoorman het net mooi op die regte tyd sy verskyning gemaak. Hy het net ’n paar jaar gelede die waarheid geleer en met sy gesin na Emmen getrek.

Jehovah het dit laat groei

Ten spyte van die prysenswaardige werk van die broers was daar nog een vraag in die gedagtes van baie wat by die toewyding teenwoordig was: “Wat het Jehovah se volk in hierdie klein landjie werklik in staat gestel om so ’n reuseprojek met welslae te voltooi?” Die antwoord was baie duidelik. Sonder Jehovah se seën sou daar geen behoefte aan so ’n bouprojek gewees het nie, laat staan nog die moontlikheid om dit suksesvol af te handel. Die verskillende sprekers by die toewydingsplegtigheid het die gehoor op ’n kort reis deur die verlede geneem om te sien hoe Jehovah sy getroue knegte geseën het.

Willi Diehl, ’n afgevaardigde uit Switserland, het ’n verhaal vertel wat hom aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog afgespeel het. Hy het gesê dat J. F. Rutherford, destyds president van die Wagtoringgenootskap, ’n Hollandse tandarts, Adriaan Block, wat in Mülhausen, Frankryk, gewoon het, genooi het om na Nederland terug te keer om met die predikingswerk aldaar te help. Tot op daardie tyd het die Sentraal-Europese takkantoor in Bern, Switserland, toesig gehou oor die werk in Nederland. Maar in 1922 is ’n takkantoor in Witte de Witstraat in Amsterdam geopen. Dit is in 1927 na Haarlem oorgeplaas.

Aanvanklik het die werk met die gang van ’n oskar vooruitgegaan, soos hulle destyds gesê het. Maar die oskar is stadig maar seker deur die motorkar vervang. ’n Ander spreker, Richard Kelsey van Duitsland, het die gehoor vertel dat pioniers uit Duitsland inderdaad die baanbrekerswerk in Nederland gedoen het. In 1932 was 8 van die 12 pioniers in die land van Duitsland afkomstig. Later het vervolging deur die Nazi’s baie ander Duitse broers en susters na Nederland laat uitwyk, waar hulle met die predikingswerk voortgegaan het.

Met die vooruitgang van die predikingswerk het al hoe meer Hollandse lektuur begin verskyn. Die Wagtoring is vroeër, in 1918, reeds in Hollands gepubliseer. Maar weens ’n gebrek aan belangstelling het daar net drie nommers verskyn. Dit het weer in 1926 verskyn, en sedertdien is publikasie nooit weer gestaak nie, nie eers gedurende die donker dae van die Tweede Wêreldoorlog nie.

Net voor Nederland in die oorlog gewikkel geraak het, en van die nommer van Oktober 1939 af, is die Hollandse Wagtoring gedruk op ’n drukpers wat van Praag, Tsjeggo-Slowakye, gekom het. ’n Roerende oomblik vir al die aanwesiges by die toewyding was om die operateur van daardie drukpers, broer Alois Stuhlmiller, een van die eerste pioniers uit Duitsland, op die verhoog te sien en uit sy eie mond te hoor hoe die tydskrifte gedruk is.

Die drukwerk in Haarlem het gou ten einde geloop. Die Nazi-invallers het op die pers beslag gelê. As ’n vergoedingsgebaar het die Hollandse regering na die oorlog toestemming verleen dat ’n drukkery in Amsterdam ingerig word, hoewel tydskrifte in ander lande gedruk moes word. Hierdie drukkery het nou gegroei tot die volledig toegeruste drukkery in Emmen, waar Hollandse tydskrifte met ’n rubberdruk-rotasiepers gedruk word.

Toekomsvooruitsigte

Nie net die geboue en drukkery nie, maar ook die takpersoneel, of Bethelgesin, is die afgelope tyd aansienlik uitgebrei. Toe die tak aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog geopen is, was daar net drie of vier lede. Teen 1964 het die Bethelgesin tot 19 aangegroei. Selfs aan die begin van die tagtigerjare was die getal net ongeveer 25. Met hierdie skrywe is daar 75 lede by die nuwe tak in Emmen, en hulle is druk besig met die werk. Met al hierdie middele en geriewe tot hulle beskikking sien hulle uit na selfs groter dinge.

’n Groot stap? Vir hierdie klein landjie, Ja. Te groot? Nee! Want soos broer Henschel in sy toewydingsrede gesê het: “Hierdie gebou is nie om dowe neute gebou nie.” Daar is ’n groot toekoms vir die werk van die Here in hierdie landjie.

Ons moet vorentoe kyk en ons hand aan die ploeg hou. Die 28 000 getuies van Jehovah in Nederland is vasbeslote om dit te doen. Hoewel die tye verander het en belangstelling in godsdienssake gekwyn het, is daar nog baie mense wat gunstig reageer op die Bybelboodskap van ’n komende nuwe orde. As dit Jehovah se wil is, is die Hollandse Getuies gretig om hulle te beywer vir die bevordering van Koninkryksbelange in hierdie klein landjie.

[Kaart op bladsy 26]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

NEDERLAND

Emmen

Haarlem

Amsterdam

WES-DUITSLAND

BELGIË

[Prent op bladsy 28]

Ingangsportaal van die nuwe takkantoor

[Prent op bladsy 29]

Alois Stuhlmiller het vertel hoe daar begin is om “Die Wagtoring” in Nederland te druk

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel