Vervolg omdat hulle die waarheid verkondig
JEHOVAH SE GETUIES ondersteun nie die opvattinge en gebruike van Kimbilikiti nie, want dit is strydig met Skriftuurlike beginsels. Die waarheid in God se Woord, die Bybel, het die Getuies vrygemaak (Johannes 8:31, 32). Hulle weier gevolglik dat hulle seuns volgens die inisiasieritusse van Kimbilikiti besny word. Die Getuies weier ook om voedsel, geld of besittings te gee wat gedurende inisiasietye geëis word, en hulle vroue neem nie deel aan verpligte visvangsessies wat vir dieselfde doel georganiseer word nie.
Dit is interessant dat die staatsaanklaer, in verband met die voormelde moord op die Getuies, die volgende in sy aanbeveling aan die hof gesê het: ,Sekere Warengas wat in die verlede aan die ritusse van Kimbilikiti deelgeneem het en die geheime ken, assosieer nou met Jehovah se Getuies. Hulle het die geheime onthul, veral die oor die nie-bestaan van die gees genaamd Kimbilikiti. Hulle het gevolglik die leuens geopenbaar omtrent die offers wat geëis word deur die gemelde gees wat, volgens Jehovah se Getuies, ’n groot bedrogspul is wat deur die ou manne georganiseer word wat die seremonies lei.’
Wanneer individue van die Rega-stam ware Bybelleerstellings aanvaar, word bygelowigheid en vrees vir die dood deur waarheid en die opstandingshoop vervang (Johannes 5:28, 29). Beledigings teenoor moeders, vrouens en susters word deur respek vir vroue vervang.—Efesiërs 5: 21-6:4; 1 Timotheüs 5:1, 2.
In treffende teenstelling hiermee laat die talle kerke en sendings van die Christendom hulle lidmate toe om stamgodsdiens onder ’n dun fineer van sogenaamde Christelikheid te beoefen. Trouens, talle priesters en hoëpriesters van Kimbilikiti word as getroue, gerespekteerde lidmate van verskillende kerke beskou. Hoe anders tog as die gesindheid van die apostel Paulus! Hy het geskryf: „Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? . . . Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode?”—2 Korinthiërs 6:14-16.
Diegene wat sterk bande met Kimbilikiti sowel as met die ortodokse kerke het, het dikwels moeilikheid vir Jehovah se Getuies veroorsaak. Hierdie teenstanders kom baie ooreen met die makers van afgode in antieke Efese. Hulle het gesien dat hulle bedryf in gevaar gestel is deur Paulus, wat bewys het dat „dit geen gode is wat met hande gemaak word nie” (Handelinge 19:23-28). Dieselfde beginsel geld vir die feit dat die gees Kimbilikiti nie bestaan nie.
Jehovah se Getuies meen dat dit hulle plig is om sulke waarhede bekend te maak. Hulle word natuurlik soms vervolg omdat hulle die waarheid verkondig. Maar wat kan ons uit hulle getroue volharding leer?