Die raaisel van Kimbilikiti word ontrafel
KIMBILIKITI is die voorouergodsdiens van die Rega-stam in die provinsie Kivu, wat in oostelike Zaïre geleë is. Rega-mans jag in die digte woude, die vroue vang vis in die riviere en gesinne bewerk die landerye. Maar almal se lewe word heeltemal oorheers deur Kimbilikiti, die groot stamgees aan wie hulle blinde gehoorsaamheid moet toon. En hulle moet alle geheime in verband met toewyding aan hom angsvallig bewaar, want as enige daarvan verklap word, is die straf onmiddellike dood. Trouens, enige beswaar oor die dood van ’n familielid wat deur Kimbilikiti tereggestel is, het eweneens onmiddellike teregstelling tot gevolg.
Hoe het hierdie magtige godsdiens ontstaan? Vir ’n antwoord moet ons teruggaan in die verlede.
’n Raaisel in wording
Volgens oorlewering het ’n sekere man, baie lank gelede in die stamgeskiedenis, drie seuns gehad. Katima Rega, die eersgeborene, was ’n lelike dwerg wat so gebreklik was dat hy nie kon trou nie. Maar hy was uiters intelligent en het ’n baie lewendige verbeelding gehad. Hy het so graag geëet dat hy eintlik ’n vraat was. Om hom te help om kos te kry sonder om te werk, het hy eenvoudige, fluitagtige bamboesinstrumente gemaak wat spookagtige geluide voortgebring het. Hy het ook ’n plat, bootvormige stuk hout met ’n tou aan die een punt gevorm. Wanneer hierdie uitvindsel vinnig bokant die kop geswaai is, het dit ’n luide, onheilspellende gedruis veroorsaak.
Hierdie legendariese uitvinder het eers sy toestelle op sy twee broerskinders getoets. Hy het hulle oortuig dat ’n gees die geluide maak en hulle so bang gemaak dat hulle vir hom kos en tabak by sy twee broers gesteel het. Hy het besluit om sy werkgebied uit te brei en het in die bos weggekruip waar hy gewag het dat die vroue visvang en dit in mandjies sit. Dan het hy sy instrumente gebruik, en dit het die vroue vreesbevange en sonder hulle vangste na die stat laat terugkeer.
Die verhale van die vreesbevange vroue is aanvanklik in twyfel getrek. Maar toe die situasie aanhoudend voorkom en die stat se mense nie meer vis gehad het om te eet nie, het die mans die „demondier” versigtig bekruip, net om te vind dat dit Katima Rega was. Party wou hom onmiddellik doodmaak, maar ander het gedink dat sy uitvinding baie slim was en het voorgestel dat hulle „die stem” as hulle stamgees aanneem. Dit sou as ’n geheim bewaar word en ’n raaisel vir al die oningewydes wees. Elke stamlid sou al die bevele, instruksies en gebooie van „die stem”, die gees van die woud, moes gehoorsaam. Maar wat moes hulle dit noem? Almal het ingestem toe ’n wyse oudste „Kimbilikiti” voorgestel het.
So het die Rega-stamgodsdiens ontstaan. ’n Hele stel wette, gebruike en bygelowe is om daardie eenvoudige begin gebou. Mettertyd is drie ander onsigbare „geeste” as metgeselle van Kimbilikiti bygevoeg. Kabile, wat soms as sy suster en dan weer as sy vrou beskou word, was ’n baie mooi en buitengewone vrou. Alle manlike adolessente word glo wonderbaarlik besny wanneer hulle geslagsomgang met haar het! Twamba, ’n jonger broer van Kimbilikiti, is veronderstel om so magtig te wees dat hy storms kan veroorsaak, huise inmekaar kan laat stort, en so meer. Sy „stem” word gehoor deur die gedruis van die bootvormige stuk hout! Die derde gees is Sabikangwa, of Mukungambulu. Hy is ook ’n jonger broer van Kimbilikiti en speel skynbaar die rol van sy boodskapper.
Geheime inisiasieritusse
In die sigbare ryk word Kimbilikiti deur ’n rangorde van hoëpriesters (die wyse Bami) verteenwoordig. Een van hulle, genaamd Mukuli, lei die besnydenisritusse. ’n Ander hoëpriester, Kitumpu, tree as dokter op en besny die adolessente. ’n Derde, Kilezi, sorg vir die pasbesnede seuns. Die Bikundi, ’n groep wat reeds geïnisieer is, speel die rol van tussenganger tussen die inisiasiekamp en die gewone statte.
Die inisiasieritusse (wat Lutende genoem word) word diep in die bos, die vermeende woonplek van Kimbilikiti, gehou. Hierdie ritusse word onder die diepste geheimhouding gedoen, en enigeen van die vroulike geslag (dier of mens) wat dit naby die plek waag, word onmiddellik verwurg! Op inisiasiedag word groot feeste in die verskillende statte gehou, met ononderbroke spele en dansery van vroeg die oggend af. Dit is om die uithouvermoë van die jong seuns wat geïnisieer gaan word te toets. Daarna luister hulle na die geskiedenis van Kimbilikiti, kompleet met al die mites wat oor die jare opgebou is. Die seuns word vertel dat Kimbilikiti en sy suster/vrou werklike persone is. Hierdie jongelinge word aangesê om hulleself voor te berei om met Kabile te worstel, waarna hulle geslagsomgang met haar sal hê en wonderbaarlik besny sal word. As enigeen van hulle in hierdie twee toetse faal, sal Kabile driftig by Kimbilikiti kla, wat die oortreder om die lewe sal bring!
Maar wanneer hulle eers in die bos is, sien die seuns nie een van die dinge wat hulle vertel is nie. In plaas daarvan gryp drie hoëpriesters (Mukuli, Kitumpu en Kilezi) hulle een na die ander en besny hulle. Dit, sê hulle, is die worsteling met Kabile! As ’n seun nie heeltemal gesond is teen die tyd dat hy na die stat moet terugkeer nie, word hy verwurg, want so ’n toestand sou die mite van wonderbaarlike besnydenis na geslagsomgang met pragtige, bonatuurlike Kabile ’n doodslag toedien.
Ondanks sulke hoë agting vir Kabile, word die seuns gedurende die inisiasieseremonies liederlike geslagsuitdrukkinge geleer wat hulle vroue, hulle eie moeders en susters inkluis, moet toeroep. Wanneer die ingewydes na hulle statte terugkeer, word vroue gedwing om feitlik naak te verskyn en op hulle knieë te loop en voor hulle te dans en om die skyf van hulle pasgeleerde beledigings te wees.
Gedurende die inisiasietye gaan die Bikundi (die wat reeds ingewy is) van stat tot stat waar hulle voedsel of besittings afdreig. Gesinne word gedwing om enigiets te gee wat vir Kimbilikiti en vir diegene by die inisiasiekamp gevra word. Paaie word selfs versper en verbygangers word verplig om te betaal wat Kimbilikiti se aanbidders eis. Sodoende laat hulle die oorspronklike doel van „die stem”—om voedsel te kry sonder om daarvoor te werk—voortbestaan.
Wat is Kimbilikiti dan werklik? ’n Bedrogspul wat op ’n paar stukke bamboes gegrond is! Maar om dit te laat voortbestaan, is ’n skrikstelsel uitgewerk, met vrees vir die dood as die basiese instrument (Hebreërs 2:14, 15). Die ander middele is bygelowigheid, gierigheid en onwelvoeglikheid. En dit alles word deur ’n rangorde van hoëpriesters gehandhaaf. Maar wat het dit met die vervolging van Jehovah se Getuies te doen?
[Prente op bladsy 6]
Kimbilikiti-„fluite”
[Prent op bladsy 7]
Getroue Getuies in die Pangi-streek