Jesus se lewe en bediening
Are pluk op die Sabbat
EERLANK verlaat Jesus en sy dissipels Jerusalem en keer hulle terug na Galilea. Dit is lente, en op die lande is daar koringare aan die halms. Die dissipels is honger, en hulle pluk van die are en eet dit. Maar omdat dit ’n Sabbat is, bly hulle handelinge nie onopgemerk nie.
Godsdiensleiers in Jerusalem het pas tevore probeer om Jesus om die lewe te bring weens beweerde skendings van die Sabbat. Nou bring Fariseërs ’n beskuldiging in. “Kyk, u dissipels doen wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie”, sê hulle.
Die Fariseërs beweer dat dit op oes en dors neerkom om are te pluk en dit met die hande te vryf om te eet. Maar hulle streng vertolking van werk het die Sabbat ’n las gemaak, terwyl dit bedoel was om ’n vreugdevolle, geestelik opbouende tyd te wees. Daarom antwoord Jesus deur Skriftuurlike voorbeelde op te haal wat toon dat Jehovah God nooit bedoel het dat sy Sabbatwet so onnodig streng toegepas word nie.
Toe Dawid en sy manne honger was, sê Jesus, het hulle in die tabernakel ingegaan en die toonbrode geëet. Hoewel die brode reeds voor Jehovah verwyder en deur vars brode vervang is, was hulle normaalweg vir die priesters gehou. Tog is Dawid en sy manne onder die omstandighede nie veroordeel omdat hulle dit geëet het nie.
Jesus meld nog ’n voorbeeld en sê: “Het julle nie in die wet gelees dat die priesters op die sabbat in die tempel die sabbat ontheilig en onskuldig is nie?” Ja, selfs op die Sabbat hou die priesters aan om in die tempel te slag en ander werk te doen ter voorbereiding van diereoffers! “En Ek sê vir julle: Een wat groter is as die tempel, is hier”, sê Jesus.
Jesus vermaan dan die Fariseërs en sê: “As julle geweet het wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie.” Dan sluit hy af: “Want die Seun van die mens is Here óók van die sabbat.” Wat het Jesus daarmee bedoel?
Jesus het verwys na sy vreedsame Koninkryksbewind van duisend jaar. Sesduisend jaar is die mensdom al in moeitevolle slawerny onder Satan die Duiwel, terwyl geweldpleging en oorlog aan die orde van die dag is. Die groot sabbatsheerskappy van Christus sal daarenteen ’n tyd van rus van al sulke lyding en verdrukking wees. Mattheüs 12:1-8; Levitikus 24:5-9; 1 Samuel 21:1-6; Numeri 28:9; Hosea 6:6.
♦ Watter beskuldiging word teen Jesus se dissipels ingebring, maar hoe antwoord Jesus daarop?
♦ Watter tekortkoming van die Fariseërs bring Jesus aan die lig?
♦ In watter opsig is Jesus ‘Here van die sabbat’?