Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 10/15 bl. 29-30
  • Wag op Jehovah

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wag op Jehovah
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Hoop op God”
  • Ons barmhartige Toevlug
  • Verlossing is verseker
  • ‘Wag in stilte’
  • Loof ons Verlosser
  • Glanspunte uit die Tweede Boek van Psalms
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Bybelboek nommer 19—Psalms
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Geïnspireerde liedere wat vertroos en onderrig
    Die Bybel—Wat is die boodskap daarin?
  • Glanspunte uit die Eerste Boek van Psalms
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 10/15 bl. 29-30

Bybelglanspunte Psalm 42 tot 72

Wag op Jehovah

Jehovah se knegte kan beproewinge van geloof met volharding die hoof bied omdat God hulle Toevlug en Verlosser is. Hoe goed word dit tog getoon in die Tweede Boek van die Psalms! Ja, Psalm 42 tot 72 bewys dat ons kan volhard as ons biddend op Jehovah wag om ten behoewe van ons op te tree.

“Hoop op God”

Lees asseblief Psalm 42 tot 45. ’n Leviet in ballingskap is hartseer omdat hy nie na Jehovah se heiligdom kan gaan nie, maar is tevrede om ‘op God te hoop’ om as sy Verlosser op te tree (Psalm 42, 43). Dan volg ’n smeekbede vir ’n nasie wat in gevaar verkeer, moontlik ’n sinspeling op die Assiriese inval in Juda in koning Hiskia se dag (Psalm 44). Daarna wys ’n koninklike huwelikslied op die Messias, Jesus Christus.​—Psalm 45.

♦ 42:2​—In watter sin was die psalmis soos ‘’n hert wat na water smag’?

Hierdie Leviet was om die een of ander rede in ballingskap. Hy het aanbidding by Jehovah se heiligdom dermate gemis dat hy gevoel het soos ’n dors hert, of takbokooi, waarop daar jag gemaak word en wat smag na water in ’n barre dorsland. Hy het ‘gedors’, of gesmag, na Jehovah en na die voorreg om God by Sy heiligdom te aanbid.​—Vers 3.

♦ 45:2​—Watter “goeie woorde” het die psalmis se hart geroer?

’n Deel van hierdie psalm is van toepassing op Jesus Christus (Psalm 45:6, 7, NW; Hebreërs 1:8, 9). Die psalmis se hart is dus geroer deur ’n toekomstige gebeurtenis​—die oprigting van die Messiaanse Koninkryk in 1914. Jehovah se Getuies word ook beweeg om hierdie “goeie woorde” te verkondig.

Les vir ons: Die ondervinding van die psalmis in ballingskap behoort ons te beweeg om innige waardering te toon vir die omgang wat ons nou met Jehovah se volk geniet. As gevangenskap weens vervolging ons tydelik verhinder om saam met hulle te wees, kan ons nadink oor die vreugde wat ons in heilige diens geniet het en moet ons bid om volharding terwyl ons ‘op God hoop’ om ons in staat te stel om weer daadwerklik met sy aanbidders om te gaan.​—Psalm 42:5, 6, 12; 43:3-5.

Ons barmhartige Toevlug

Lees Psalm 46 tot 51. Jehovah, ons Toevlug, sal oorloë laat ophou (Psalm 46). Hy is “Koning oor die hele aarde”, en hierdie onoorwinlike Beskermer is vir ewig ons God (Psalm 47, 48). Die verdruktes moet op Jehovah wag, maar almal wat ‘dank offer’, sal “die heil van God” geniet (Psalm 49, 50). As ons sondig, maar berouvol is, soos Dawid was oor sy sonde met Batseba, sal God ons van bloedskuld verlos, want ‘’n gebroke en verslae hart sal hy nie verag nie’.​—Psalm 51.

♦ 46:3​—Hoe kan ‘die aarde waggel’?

Selfs al sou die berge tydens ’n natuurlike omwenteling op die aarde in die see verdwyn, sou diegene wat op God vertrou geen rede hê om te vrees nie. Hulle kan onwrikbare vertroue in Jehovah as hulle Toevlug stel, ongeag wat gebeur.

♦ 51:7​—Van watter sonde het Dawid gepraat?

Hy het nie bedoel dat geslagsomgang in die huwelik, ontvangenis en geboorte sondig is nie. Hy het ook nie van enige spesifieke sonde van sy moeder gepraat nie. Hy het eerder sy eie sondige natuur as ’n afstammeling van Adam erken (Job 14:4; Romeine 5:12). Jehovah het barmhartigheid aan Dawid betoon, nie net vanweë die Koninkryksverbond nie, maar ook vanweë sy berou.​—2 Samuel 7:12-16.

Les vir ons: Psalm 46 pas die tyd toe Jerusalem deur die Assiriërs bedreig is. Omdat koning Hiskia geweet het dat ‘God ’n toevlug is, ’n hulp wat geredelik te vinde is in benoudhede’, het hy tot Jehovah gebid en is die stad op wonderdadige wyse verlos (2 Konings, hoofstuk 19). In benoudheid moet ons ook God ons Toevlug maak. Hoe? Deur op hom te vertrou, by sy Woord te bly en sy organisasie aan te hang.

Verlossing is verseker

Lees Psalm 52 tot 57. God sal ’n slegte persoon “uit die land van die lewendes” uitroei en “die beendere verstrooi” van enigiemand wat Sy volk teenstaan (Psalm 52, 53). Toe Saul op Dawid jag gemaak het, was Dawid seker van goddelike verlossing, en toe hy bedrieg is, het hy sy sorg op Jehovah gewerp (Psalm 54, 55). Die psalmis was tevrede om op God te wag om ’n einde aan sy teëspoed te maak.​—Psalm 56, 57.

♦ 52:10​—In watter sin is die regverdige soos ’n olyfboom?

’n Olyfboom kan as ’n simbool van vrugbaarheid, prag en waardigheid dien (Jeremia 11:16; Hosea 14:7). In hierdie Psalm word die goddelose knoeier wat uiteindelik gestraf gaan word, gekontrasteer met die regverdige wat beskerm word en soos ’n groen olyfboom gedy.

♦ 54:3​—Waarom het Dawid gesê: “Verlos my deur u Naam”?

Die goddelike naam het geen mistieke krag nie, maar kan God self voorstel. Met hierdie versoek het Dawid gevolglik erken dat Jehovah Sy volk kan red (Exodus 5:24-6:7). Hoewel die Sifiete vir koning Saul gesê het waar Dawid hom bevind, het ’n inval deur die Filistyne in Israel ’n einde aan Saul se soektog na Dawid gemaak (1 Samuel 23:13-24:1; Psalm 54:1, 2). So het Jehovah Dawid dus gered.

Les vir ons: Dawid se vyande het vir hom ’n kuil gegrawe (Psalm 57:7). So ’n kuil om ’n mens mee te vang, dui gevaarlike omstandighede of komplotte aan wat Jehovah se knegte in gevaar stel. Maar teenstanders van God se volk kan deur hulle eie bose planne verstrik word. As ons dus op Jehovah vertrou en versigtig te werk gaan, is ons verlossing verseker.​—Spreuke 11:21; 26:27.

‘Wag in stilte’

Lees Psalm 58 tot 64. Uit besorgdheid oor ongeregtigheid het Dawid gebid dat God die goddelose moet vergeld (Psalm 58, 59). Toe hy met ’n neerlaag bedreig is, het hy gesmeek om gered te word en was hy seker dat God die teenstanders sou vertrap (Psalm 60). Jehovah was reeds ’n toevlug vir Dawid; daarom sou hy stil op verlossing wag (Psalm 61, 62). Toe Dawid gedwing was om na die woestyn te vlug, moontlik toe Absalom in opstand gekom het, het hy vreugde gevind ‘in die skaduwee van God se vleuels’ (Psalm 63). Die psalmis het ook gebid om beskerming teen “die werkers van ongeregtigheid” en was seker dat die regverdige skuiling by Jehovah sou vind.​—Psalm 64.

♦ 58:4-6​—In watter opsig is die goddelose soos ’n slang?

Die valse, lasterlike verklarings van die goddelose kan ’n slagoffer se reputasie vernietig, net soos ’n slang se gif dodelik kan wees (Psalm 140:4; Romeine 3:13; Jakobus 3:8). Die goddelose is daarbenewens “soos ’n dowe adder wat sy oor toestop”, want hulle weier om na raad te luister en dit te aanvaar.

♦ 63:4​—Hoe is God se goedertierenheid “beter as die lewe”?

Die lewe sonder God het nie ’n ware doel nie. Maar Jehovah se lojale liefde wat teenoor Dawid bewys is, het ware sin aan sy lewe gegee. Intiemheid met God maak die lewe altyd sinvol vir sy goedgekeurde knegte, verseker hulle van goddelike hulp en leiding en stel hulle in staat om uit te sien na ’n gelukkige lewe wat vir ewig kan duur.

Les vir ons: Dawid was tevrede om ‘in stilte’ op God te wag om ten behoewe van hom op te tree (Psalm 62:2-8). Omdat hy hom aan Jehovah se wil onderwerp het, het hy veilig gevoel en stille vertroue in God gekoester. As ons sulke vertroue in Jehovah stel, sal “die vrede van God” ons harte en sinne bewaar terwyl ons wag op goddelike verlossing van vyande en verdrukking.​—Filippense 4:6, 7; Psalm 33:20.

Loof ons Verlosser

Lees Psalm 65 tot 72. Jehovah word geloof as die Bron van oorvloedige oeste, milde reënbuie, groen weivelde en vrugbare kuddes (Psalm 65). “Die eer van sy Naam” moet besing word (Psalm 66). Hy moet geprys word, en hy word geloof as “’n God van verlossinge” (Psalm 67, 68). Die lyding van die Messias word voorspel, en Jehovah word verheerlik as die “redder” op wie se hulp die psalmis sal wag (Psalm 69-71). Sulke vertroue sal beloon word, want aardwye voorspoed en verlossing van verdrukking is seker gedurende die Messias se geseënde bewind.​—Psalm 72.

♦ 68:12​—Wie maak die “groot skare” vroue uit?

Nadat Jehovah Israel se krygers gebruik het om ’n vyand te verslaan, het Israelitiese vroue die goeie nuus van die oorwinning met musiek, sang en dans verkondig. (1 Samuel 18:6, 7; vergelyk Exodus 15:20, 21.) In gehoorsaamheid aan God se “woord”, of bevel, het die manne van Israel teen die vyandelike nasies in die Beloofde Land geveg en hulle verslaan. Dit het Israelitiese vroue goeie nuus gegee om tydens die viering van die oorwinning te verkondig. Bedienaresse speel vandag ’n belangrike rol as Koninkryksverkondigers deur die goeie nuus in verband met Jehovah se “woord” te verkondig, en dit sluit die taak in om die nasies in kennis te stel dat hulle binnekort deur die Messiaanse Koning, Jesus Christus, onderwerp gaan word.

♦ 69:24​—Waarom is God versoek om die vyand se heupe te laat wankel?

Wanneer die sterk spiere in die heupe saamgetrek word, kan hulle baie krag uitoefen. Maar daar is ’n verlies aan krag wanneer heupe skud of wankel, moontlik as gevolg van vrees. In hierdie smeekbede om verlossing het Dawid God gevra om sy vyande die krag wat hulle verkeerd gebruik te ontneem.

♦ 72:16​—Wat beteken hierdie vrugbaarheid?

‘Vrug soos in Libanon’ kan dui op graan wat so dig en hoog groei dat dit soos Libanon se groen, hoë woude is. Die hoë, dik halms wat swaar are dra en moontlik op terrasse tot by die bergtoppe geil groei, kan vergelyk word met die toringhoë seders van Libanon. Dit dui op buitengewoon groot oeste gedurende die Messias se bewind. En die feit dat ‘diegene uit die stad sal bloei soos die plante’ dui aan dat Jesus se aardse onderdane inderdaad talryk sal wees.

Les vir ons: Die psalmis het gebid: “U [Jehovah] wat my baie en bange node laat sien het, sal my weer lewend maak” (Psalm 71:20). Hoewel God nie sulke ontberinge veroorsaak nie, laat hy toe dat ons beproef word en ’n antwoord gee aan sy Smader, die Duiwel (Jakobus 1:13; Spreuke 27:11). Jehovah laat nooit toe dat ons bo ons kragte versoek word nie en kan ons help om met sterk geloof uit ons beproewinge te kom (1 Korinthiërs 10:13; 1 Petrus 1:6, 7). Gesalfde Christene het “baie en bange node” gesien toe hulle met die hoogtepunt van die Eerste Wêreldoorlog vervolg is. Maar Jehovah het hulle in 1919 ‘weer lewend gemaak’ en hulle het voortgebeur in Koninkryksdiens, waar die “groot menigte” later by hulle aangesluit het (Openbaring 7:9). Vir so ’n verloop van sake moet die Groot Verlosser beslis geloof word.

Dit verg geloof om op God te wag om ten behoewe van ons op te tree. Ons moet dalk in stilte wag omdat ons niks kan doen om ons moeilike omstandighede te verander nie. Maar ons sal in staat wees om net soos die psalmiste te volhard mits ons tevrede is om op Jehovah te wag.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel