Bybelboek nommer 19—Psalms
Skrywers: Dawid en ander
Waar geskryf: Onseker
Geskrif voltooi: ca. 460 v.G.J.
1. Wat is die boek Psalms, en wat bevat dit?
DIE boek Psalms was die geïnspireerde liedereboek van ware aanbidders van Jehovah in die ou tyd, ’n versameling van 150 heilige liedere, of psalms, wat getoonset en verwerk is vir die openbare aanbidding van Jehovah God in sy tempel in Jerusalem. Hierdie psalms is lofliedere aan Jehovah, en nie net dit nie, hulle bevat ook smeekbedes om barmhartigheid en hulp, asook uitinge van hoop en vertroue. Hulle is vol dankseggings en jubeling en vol uitroepe van groot, ja, buitengewoon groot vreugde. Party is beknopte samevattings van gebeure in die geskiedenis, waarin Jehovah se liefderyke goedheid en sy groot dade bepeins word. Hulle bevat tallose profesieë, waarvan talle merkwaardige vervullings gehad het. Hulle bevat baie onderrig wat nuttig en opbouend is, alles ingeklee in verhewe taal en beeldspraak wat die leser tot in sy diepste wese roer. Die psalms is ’n kosbare geestelike maaltyd, pragtig berei en uitnodigend voor ons opgedien.
2. (a) Watter titels het Psalms gekry, en wat beteken hulle? (b) Wat is ’n psalm?
2 Wat is die betekenis van die boek se titel, en wie het die Psalms geskryf? In die Hebreeuse Bybel word die boek Seʹfer Tehil·limʹ genoem, wat beteken “Boek van lofliedere”, of eenvoudig Tehil·limʹ, dit wil sê, “Lofliedere”. Dit is die meervoudsvorm van Tehil·lahʹ, wat “’n Loflied” of “Lied van lof” beteken en in die opskrif van Psalm 145 voorkom. Die naam “Lofliedere” is uiters gepas, aangesien die boek lof aan Jehovah benadruk. Die titel “Psalms” kom van die woord Psal·moiʹ in die Griekse Septuagint, wat dui op liedere wat met musiekbegeleiding gesing word. Die woord kom ook op ’n aantal plekke in die Christelike Griekse Geskrifte voor, soos in Lukas 20:42 en Handelinge 1:20. ’n Psalm is ’n heilige lied of gedig wat in die lofprysing en aanbidding van God gebruik word.
3. Wat vertel die opskrifte van die skrywers?
3 Baie van die psalms het titels, of opskrifte, en die skrywer word dikwels hierin genoem. Drie-en-sewentig opskrifte meld die naam Dawid, “die lieflike in die sange van Israel” (2 Sam. 23:1). Psalms 2, 72 en 95 is ongetwyfeld ook deur Dawid geskryf. (Sien Handelinge 4:25, Psalm 72:20 en Hebreërs 4:7.) Daarbenewens is Psalms 10 en 71 blykbaar ’n voortsetting van Psalms 9 en 70 onderskeidelik, en hulle kan derhalwe aan Dawid toegeskryf word. Twaalf psalms word aan Asaf toegeskryf, wat blykbaar die huis van Asaf aandui, aangesien party van hulle oor gebeure ná Asaf se dag praat (Ps. 79; 80; 1 Kron. 16:4, 5, 7; Esra 2:41). Elf psalms word regstreeks aan die kinders van Korag toegeskryf (1 Kron. 6:31-38). Psalm 43 is blykbaar ’n voortsetting van Psalm 42 en kan derhalwe ook aan die kinders van Korag toegeskryf word. Psalm 88 meld nie net “die kinders van Korag” in sy opskrif nie, maar ook Heman, en Psalm 89 noem Etan as die skrywer. Psalm 90 word aan Moses toegeskryf, en Psalm 91 is waarskynlik ook Moses s’n. Psalm 127 is Salomo s’n. Meer as twee derdes van die psalms word derhalwe aan verskillende skrywers toegeskryf.
4. Watter tydperk word deur die geskrif gedek?
4 Die boek Psalms is die Bybel se grootste boek. Soos blyk uit Psalms 90, 126 en 137 is dit oor ’n lang tydperk geskryf, ten minste sedert die tyd toe Moses geskryf het (1513-1473 v.G.J.) tot na die herstel uit Babel en waarskynlik Esra se dag (537–ca. 460 v.G.J.). Dit blyk dus dat die skrywe daarvan oor nagenoeg duisend jaar gestrek het. ’n Baie langer tyd word egter deur die inhoud gedek, daar dit begin by die skepping en ’n samevatting gee van die geskiedenis van Jehovah se handelinge met sy knegte tot die tyd dat die laaste psalms gekomponeer is.
5. (a) Hoe weerspieël die boek Psalms organisasie? (b) Watter verdere inligting word deur die opskrifte verstrek? (c) Waarom is dit nie nodig om die woord “Seʹla” uit te spreek wanneer die psalms gelees word nie?
5 Die boek Psalms is ’n boek wat organisasie weerspieël. Dawid self praat van “die optogte van my God, my Koning in die heiligdom. Vooraan gaan die sangers, daaragter die snaarspelers, tussen jongmeisies in wat die tamboeryn slaan. Loof God, die Here, in die vergaderinge” (Psalm 68:25-27). Dit is die rede vir die dikwels herhaalde uitdrukking “Vir die musiekleier” in die opskrifte, asook vir die talle digterlike en musikale uitdrukkings. Party opskrifte verklaar die nut of doel van ’n psalm of verstrek musiekinstruksies. (Sien die opskrifte van Psalms 6, 30, 38, 60, 88, 102 en 120.) By ten minste 13 van Dawid se psalms, soos Psalms 18 en 51, word die gebeure wat daartoe aanleiding gegee het dat hulle gekomponeer is kortliks gemeld. Vier-en-dertig van die psalms het glad nie ’n opskrif nie. Die woordjie “Seʹla”, wat 71 keer in die hoofteks voorkom, is waarskynlik ’n tegniese musiek- of voordragterm, hoewel die presiese betekenis daarvan nie bekend is nie. Sommige doen aan die hand dat dit ’n pouse aandui vir stilswyende bepeinsing in die sang of in sowel die sang as die instrumentale musiek. Dit hoef gevolglik nie uitgespreek te word by die lees van die psalms nie.
6. (a) In watter afsonderlike volumes is die boek Psalms verdeel? (b) Wie het blykbaar die boek Psalms in sy finale vorm gerangskik?
6 Sedert die ou tyd is die boek Psalms in vyf afsonderlike boeke, of volumes, verdeel: (1) Psalms 1-41; (2) Psalms 42-72; (3) Psalms 73-89; (4) Psalms 90-106; (5) Psalms 107-150. Vermoedelik was Dawid vir die eerste versameling van hierdie liedere verantwoordelik. Blykbaar is Esra, die priester en “skrifgeleerde, vaardig in die wet van Moses”, deur Jehovah gebruik om die boek Psalms in sy finale vorm te rangskik.—Esra 7:6.
7. Op watter ander kenmerke van Psalms moet gelet word?
7 Die progressiewe groei van die versameling verklaar moontlik waarom party van die psalms in die verskillende gedeeltes herhaal word, soos Psalms 14 en 53; 40:14-18 en 70; 57:8-12 en 108:2-6. Al vyf die gedeeltes eindig met lof wat teenoor Jehovah uitgespreek word, of ’n doksologie—die eerste vier hiervan sluit teensang deur die volk in en die laaste bestaan uit die hele Psalm 150.—Ps. 41:13, voetnoot in NW-naslaanuitgawe.
8. Verduidelik die komposisiestyl van ’n akrostigon en lig dit toe.
8 ’n Baie besondere komposisiestyl word in nege psalms gebruik; dit word akrostigons genoem as gevolg van die alfabetiese rangskikking (Psalms 9, 10, 25, 34, 37, 111, 112, 119 en 145). In hierdie rangskikking begin die eerste vers of verse van die eerste strofe met die eerste letter van die Hebreeuse alfabet, ʼaʹlef (א), die volgende vers(e) met die tweede letter, bêth (ב), en so gaan dit voort deur al of feitlik al die letters van die Hebreeuse alfabet. Dit het moontlik as ’n geheuehulp gedien—dink net aan die tempelsangers wat sulke lang liedere soos Psalm 119 moes onthou! Dit is interessant dat ’n akrostigon van Jehovah se naam in Psalm 96:11 gevind word. Die eerste helfte van hierdie vers in Hebreeus bestaan uit vier woorde, en die beginletters van hierdie woorde is, wanneer hulle van regs na links gelees word, die vier Hebreeuse konsonante van die Tetragrammaton, JHWH (יהוה).
9. (a) As gevolg van watter agtergrond raak baie van die psalms die verstand en hart regstreeks? (b) Wat anders dra by tot hulle krag en skoonheid?
9 Die heilige, liriese gedigte is in rymlose Hebreeuse versvorm geskryf en openbaar onoortroffe skoonheid van styl en ritmiese gedagtegang. Hulle spreek regstreeks tot die verstand en hart. Hulle skilder helder beelde. Die wonderlike omvang en diepte van sowel die inhoud as die kragtige, uitgesproke emosies is deels toe te skryf aan Dawid se buitengewone lewenservaringe, wat die agtergrond vir baie van die psalms verskaf. Min mense het so ’n kleurryke lewe gelei—as ’n herderseun, ’n stryder wat Goliat man-alleen aangedurf het, ’n hofmusikus, ’n balling onder lojale vriende en onder verraaiers, ’n koning en veroweraar, ’n liefdevolle vader wat met tweedrag in sy eie huis te kampe gehad het, iemand wat twee keer die bitterheid van ernstige sonde ervaar het en tog altyd ’n geesdriftige aanbidder van Jehovah en liefhebber van Sy Wet was. Met so ’n agtergrond is dit geen wonder dat die boek Psalms elke denkbare menslike emosie dek nie! Die poëtiese parallelismes en teenstellings wat so kenmerkend van die Hebreeuse versvorm is, dra by tot die boek se krag en skoonheid.—Ps. 1:6; 22:21; 42:2; 121:3, 4.
10. Wat getuig van die egtheid van Psalms?
10 Die feit dat hierdie baie ou liedere tot Jehovah se lof in volkome harmonie met die res van die Skrif is, is oorvloedige bewys van hulle egtheid. Die skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte haal tallose kere uit die boek Psalms aan (Ps. 5:10 [Rom. 3:13]; Ps. 10:7 [Rom. 3:14]; Ps. 24:1 [1 Kor. 10:26]; Ps. 50:14 [Matt. 5:33]; Ps. 78:24 [Joh. 6:31]; Ps. 102:26-28 [Hebr. 1:10-12]; Ps. 112:9 [2 Kor. 9:9]). Dawid self het in sy laaste lied gesê: “Die Gees van die HERE spreek in my, en sy woord is op my tong.” Dit was hierdie gees wat oor hom vaardig was van die dag toe hy deur Samuel gesalf is (2 Sam. 23:2; 1 Sam. 16:13). Daarbenewens het die apostels uit die Psalms aangehaal. Petrus het gepraat van die “Skrif . . . wat die Heilige Gees voorspel het deur die mond van Dawid”, en in ’n aantal aanhalings uit die Psalms het die skrywer van die brief aan die Hebreërs van die Psalms gepraat as verklarings wat deur God geuiter is of het hy hulle ingelei met die woorde “soos die Heilige Gees spreek”.—Hand. 1:16; 4:25; Hebr. 1:5-14; 3:7; 5:5, 6.
11. Hoe word stawende getuienis deur Jesus se eie verklarings bekroon?
11 As die kragtigste bewys van egtheid haal ons die verrese Here Jesus aan, wat aan die dissipels gesê het: “Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het . . . dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.” Jesus het daar die hele Hebreeuse Geskrifte gegroepeer soos die Jode dit gedoen het en soos dit vir hulle welbekend was. Toe hy die Psalms gemeld het, het dit die hele derde deel van die Skrif ingesluit, wat die Hagiografa (of Heilige Geskrifte) genoem is, waarvan Psalms die eerste boek was. Dit word bevestig deur wat hy ’n paar uur vroeër aan die twee op pad na Emmaüs gesê het toe hy “vir hulle uitgelê [het] in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het”.—Luk. 24:27, 44.
INHOUD VAN PSALMS
12. Hoe hef Psalms gou ’n tema van geluk aan, asook die Koninkrykstema?
12 Boek Een (Psalms 1-41). Met die uitsondering van Psalms 1, 2, 10 en 33 word hulle almal regstreeks aan Dawid toegeskryf. Die grondtoon word reg aan die begin in Psalm 1 aangegee, waar dit die man welgeluksalig, of gelukkig, verklaar wat behae in Jehovah se wet skep en dit dag en nag oordink ten einde dit te volg, in teenstelling met goddelose sondaars. Dit is die eerste verklaring van geluk wat in die Psalms aangetref word. Psalm 2 begin met ’n uitdagende vraag en vertel van al die konings en vorste van die aarde wat saam “teen die HERE en teen sy Gesalfde” staan. Jehovah spot met hulle en praat dan in grimmige toorn met hulle en sê: “Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg.” Dit is hy wat alle teenstand sal verpletter en stukkend slaan. Julle ander konings en heersers, julle moet ‘Jehovah met vrees dien’ en Sy Seun erken sodat julle nie vergaan nie! (v.2, 6, 11). Die Psalms hef dus gou die Koninkrykstema van die Bybel aan.
13. Wat anders word in die eerste versameling psalms na vore gebring?
13 In die eerste versameling neem gebede, sowel smeekbedes as danksegginge, ’n belangrike plek in. Psalm 8 vergelyk Jehovah se grootheid met die mens se nietigheid, en Psalm 14 lê die dwaasheid bloot van mense wat weier om hulle aan God se gesag te onderwerp. Psalm 19 toon hoe die wonderlike skepping van Jehovah God sy heerlikheid bekend maak, en verse 8-15 wys op die lonende voordele van gehoorsaamheid aan God se volmaakte wet, waaroor daar later in Psalm 119 uitgewei word. Psalm 23 word allerweë aanvaar as een van die meesterstukke van alle literatuur, maar wat dit selfs uitmuntender maak, is die pragtige eenvoud waarop dit lojale vertroue in Jehovah uitspreek. O, mag ons almal ‘in lengte van dae in die huis van Jehovah, die Groot Herder, bly’! (23:1, 6). Psalm 37 gee goeie raad aan godvresende mense wat tussen boosdoeners woon, en Psalm 40 verwoord die welbehae om God se wil te doen, soos Dawid dit gedoen het.
14. Wat word in Boek Twee van die Psalms oor verlossing gesê, en watter gebede van Dawid word genoem?
14 Boek Twee (Psalms 42-72). Hierdie gedeelte begin met agt psalms van die Koragiete. Psalms 42 en 43 word albei aan die kinders van Korag toegeskryf, aangesien hulle in werklikheid een gedig in drie strofes is wat verbind word deur ’n vers wat herhaal word (42:6, 12; 43:5). Psalm 49 benadruk hoe onmoontlik dit vir die mens is om sy eie losprys te voorsien, en dit vestig die aandag op God as die een wat sterk genoeg is om die mens “van die mag van die doderyk” te verlos (v. 16). Psalm 51 is ’n gebed van Dawid, uitgespreek na sy verskriklike sonde met Batseba, die vrou van Uria, die Hetiet, en dit toon sy opregte berou (2 Sam. 11:1–12:24). Hierdie gedeelte eindig met ’n psalm “oor Salomo”, waarin daar om sy vreedsame regering en om Jehovah se seën op hom gebid word.—Ps. 72, vgl. NW.
15. Wat sê Boek Drie oor Israel se geskiedenis, Jehovah se oordele en sy Koninkryksverbond?
15 Boek Drie (Psalms 73-89). Ten minste twee hiervan, Psalms 74 en 79, is na die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. gekomponeer. Hulle betreur hierdie groot ramp en smeek Jehovah om sy volk te help ter wille van ‘die eer van sy naam’ (79:9). Psalm 78 verhaal die geskiedenis van Israel van Moses se tyd af totdat Dawid hulle as herder begin ‘oppas het na die opregtheid van sy hart’ (v. 72), en Psalm 80 vestig die aandag op Jehovah as die ware “Herder van Israel” (v. 2). Psalms 82 en 83 is kragtige smeekbedes tot Jehovah om sy oordele aan sy vyande en aan die vyande van sy volk te voltrek. Hierdie smeekbedes is glad nie wraaksugtig nie, maar word geuiter met die doel “dat hulle u Naam kan soek, o [Jehovah] . . . [en] sodat hulle kan weet dat U, wie se Naam [Jehovah] is, alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde” (83:17, 19, vgl. NW [v. 18]). Psalm 89 is die laaste in hierdie gedeelte en beklemtoon “die goedertierenhede van die HERE”, wat by uitstek blyk uit die verbond wat Hy met Dawid gesluit het. Dit is ’n verbond vir ’n ewige erfgenaam vir Dawid se troon, wat vir onbepaalde tyd voor Jehovah sal regeer!—V. 2, 35-38.
16. Hoe verheerlik Boek Vier Jehovah se koningskap en trou aan sy verbond?
16 Boek Vier (Psalms 90-106). Soos Boek Drie bevat dit 17 psalms. Dit begin met die gebed van Moses, wat God se ewige bestaan kontrasteer met die kort lewensduur van die sterflike mens. Psalm 92 verheerlik Jehovah se verhewe eienskappe. Dan is daar die grootse groep, Psalms 93-100, wat begin met die opwekkende oproep: “Die HERE is Koning.” Gevolglik word ’n beroep op al die mense van die “ganse aarde” gedoen om ‘tot eer van Jehovah te sing en sy Naam te loof, want Jehovah is groot en baie lofwaardig’. “Die HERE is groot in Sion” (93:1; 96:1, 2, 4; 99:2). Psalms 105 en 106 dank Jehovah vir sy wonderlike dade ten behoewe van sy volk en dat hy sy verbond met Abraham getrou gestand gedoen het deur aan sy saad die land te gee ondanks hulle herhaalde murmurering en afvalligheid.
17. Van watter besondere belang is Psalm 104, en watter tema word van hier af herhaal?
17 Psalm 104 is van besondere belang. Dit loof Jehovah vir die majesteit en die heerlikheid waarmee hy hom beklee het, en dit beskryf sy wysheid soos geopenbaar in sy talle werke en voortbrengsels op die aarde. Dan word die tema van die hele boek Psalms met volle krag weergegee wanneer die uitroep vir die eerste keer voorkom: “Halleluja!” (v. 35). Hierdie oproep aan ware aanbidders om Jehovah die lof te bring wat sy naam toekom, is in Hebreeus ha·leloe–Jahʹ. Halleluja is ’n vorm waarmee mense dwarsoor die wêreld vandag bekend is. Vanaf hierdie vers kom die uitdrukking 24 keer voor, en ’n aantal psalms begin en eindig daarmee.
18. (a) Watter refrein beklemtoon Psalm 107? (b) Wat is die sogenaamde Hallel-Psalms?
18 Boek Vyf (Psalms 107-150). In Psalm 107 het ons ’n beskrywing van Jehovah se verlossingsdade, vergesel van die melodieuse refrein: “Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders” (v. 8, 15, 21, 31). Psalms 113 tot 118 is die sogenaamde Hallel-Psalms. Volgens die Misjna het die Jode hulle by die Pasga en by Pinkster, die Huttefees en die Inwydingsfees gesing.
19. Watter kontras vorm Psalms 117 en 119, en wat is enkele van laasgenoemde se kenmerke?
19 Psalm 117 is kragtig in sy eenvoud, aangesien dit die kortste psalm en hoofstuk in die Bybel is. Psalm 119 is die langste psalm en Bybelhoofstuk, daar dit altesaam 176 verse in sy 22 alfabetiese strofes van 8 verse elk bevat. Met die uitsondering van twee verse (119:90 en 122) noem al hierdie verse op die een of ander manier die woord of wet van Jehovah God, en in elke strofe word etlike of al die uitdrukkings (wet, getuienis, bevele, gebod, verordeninge) van Psalm 19:8-15 herhaal. Daar word meer as 170 keer na die woord van God verwys deur een van die volgende 8 uitdrukkings: gebod (gebooie), verordening(e), wet, bevele, insettinge, getuienis(se), belofte(s), woord(e).
20, 21. (a) Wat is die Bedevaartsliedere, of Liedere van die Opgange? (b) Hoe openbaar hulle Dawid se besef van die noodsaaklikheid vir verenigde aanbidding?
20 Dan kom ons by nog ’n groep psalms, die 15 Bedevaartsliedere, of Liedere van die Opgange, Psalms 120-134. Vertalers het hierdie uitdrukking op verskeie maniere weergegee omdat die betekenis daarvan nie heeltemal begryp word nie. Party sê dat dit op die verhewe inhoud van hierdie psalms slaan, hoewel dit nie lyk of daar ’n duidelike rede is waarom hulle bo die ander geïnspireerde psalms verhef moet word nie. Baie kommentators meen dat die titel ontstaan het omdat hierdie liedere gesing is deur die aanbidders wat vir die jaarlikse feeste na Jerusalem opgereis, of “opgegaan”, het, aangesien die reis na die hoofstad as ’n opgang beskou is omdat die stad hoog in die berge van Juda geleë was. (Vergelyk Esra 7:9.) Dawid in die besonder het ’n diepe besef gehad van hoe noodsaaklik dit vir God se volk is om in aanbidding te verenig. Hy was verheug om die uitnodiging te hoor: “Laat ons na die huis van die HERE gaan!”; en die stamme hét opgetrek “om die Naam van die HERE te loof”. Met die oog hierop het hy die vrede, veiligheid en voorspoed van Jerusalem ernstig nagestreef en gebid: “Ter wille van die huis van die HERE onse God wil ek die goeie vir jou soek.”—Ps. 122:1, 4, 9.
21 Psalm 132 vertel van Dawid se eed om homself geen rus te gun totdat hy ’n gepaste rusplek vir Jehovah, wat deur die verbondsark verteenwoordig is, gevind het nie. Nadat die Ark in Sion geplaas is, word daar in pragtige digterlike woorde beskryf dat Jehovah sê dat hy Sion gekies het, “my rusplek vir ewig; hier wil Ek woon, want Ek het dit begeer”. Hy erken hierdie sentrale plek van aanbidding, “want daar gebied die HERE die seën”. “Mag die HERE jou seën uit Sion.”—132:1-6, 13, 14; 133:3; 134:3; sien ook Psalm 48.
22. (a) Hoe word Jehovah se lofwaardigheid verheerlik? (b) Hoe swel die glorieryke tema van die boek tot ’n crescendo in die laaste psalms?
22 Psalm 135 verheerlik Jehovah as die lofwaardige God wat alles doen wat hom behaag, in teenstelling met die nietige en ydele afgode, wie se makers net soos hulle sal word. Psalm 136 is bedoel vir teensang en elke vers eindig met: “Want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.” Dit blyk dat sulke teensang by baie geleenthede gebruik is (1 Kron. 16:41; 2 Kron. 5:13; 7:6; 20:21; Esra 3:11). Psalm 137 vertel van die verlange na Sion in die harte van die Jode wat in Babel in gevangenskap was en getuig ook dat hulle nie die liedere, of psalms, van Sion vergeet het nie, al was hulle ver van hulle geboorteland. Psalm 145 verheerlik Jehovah se goedheid en koningskap en wys dat hy ‘almal bewaar wat Hom liefhet, maar dat Hy al die goddelose sal verdelg’ (v. 20). As ’n besielende slot, hef Psalms 146-150 dan weer die glorieryke tema van die boek aan, want elke psalm begin en eindig met die woord: “Halleluja!” Hierdie melodie van lof swel tot ’n groot crescendo in die 150ste Psalm, waar daar in ses verse 13 keer ’n beroep op die ganse skepping gedoen word om Jehovah te loof.
WAAROM NUTTIG
23. (a) Watter lewende boodskap bevat Psalms? (b) Hoe word Jehovah se naam en soewereiniteit verheerlik?
23 As gevolg van hulle volmaakte skoonheid en styl hoort die psalms van die Bybel onder die voortreflikste literatuur in elke taal. Hulle is egter baie meer as literatuur. Hulle vorm ’n lewende boodskap van die Oppersoewerein van die heelal, Jehovah God self. Hulle gee diepe insig in die fundamentele leerstellings van die Bybel en praat allereers van Jehovah, die Outeur daarvan. Daar word duidelik getoon dat hy die Skepper van die heelal en alles daarin is (8:4-10; 90:1, 2; 100:3; 104:1-5, 24; 139:14). Die naam Jehovah word inderdaad groot gemaak in die boek Psalms, waar dit sowat 700 keer voorkom. (Sien NW.) Daarbenewens kom die verkorte vorm “Jah” 43 keer voor, sodat die goddelike naam gemiddeld sowat 5 keer in elke Psalm gemeld word. Bowendien word daar nagenoeg 350 keer van Jehovah as ʼElo·himʹ, of God, gepraat. Dat Jehovah se heerskappy die hoogste is, blyk uit verwysinge na hom as “Soewereine Heer” in ’n aantal psalms (NW).—68:20; 69:6; 71:5; 73:28; 140:7; 141:8.
24. Wat word in Psalms oor die sterflike mens gesê, en watter gesonde raad word gegee?
24 Daar word getoon dat die sterflike mens, in teenstelling met die ewige God, in sonde gebore word en ’n verlosser nodig het, en dat hy sterf en tot “stof” terugkeer wanneer hy na die doderyk (Sjeool), die mensdom se gemeenskaplike graf, neerdaal (6:5, 6; 49:8-21; 51:7, 9; 89:49; 90:1-5; 115:17; 146:4). Die boek Psalms beklemtoon hoe noodsaaklik dit is om God se wet te gehoorsaam en op Jehovah te vertrou (1:1, 2; 62:9; 65:6; 77:12; 115:11; 118:8; 119:97, 105, 165). Dit waarsku teen vermetelheid en “verborge” sondes (19:13-15; 131:1) en moedig eerlike en heilsame omgang aan (15:1-5; 26:5; 101:5). Dit wys dat die regte gedrag Jehovah se goedkeuring meebring (34:14-16; 97:10). Dit bied ’n helder hoop deur te sê dat ‘die heil aan Jehovah behoort’ en dat hy die siel van dié wat hom vrees, sal “red van die dood” (3:9; 33:19). Dit bring ons by die profetiese aspek.
25. (a) Waarvan is die boek Psalms vol? (b) Hoe het Petrus Psalms gebruik om die Grotere Dawid te identifiseer?
25 Die boek Psalms is vol profesieë wat heenwys na Jesus Christus, die “seun van Dawid”, en die rol wat hy as Jehovah se Gesalfde en Koning sou vervula (Matt. 1:1). Toe die Christengemeente op Pinksterdag 33 G.J. in aansyn gekom het, het die heilige gees die apostels begin verlig in verband met die vervulling van hierdie profesieë. Op daardie einste dag het Petrus herhaaldelik uit Psalms aangehaal terwyl hy die tema van sy beroemde toespraak ontwikkel het. Dit het gehandel oor ’n persoon: “Jesus, die Nasarener.” Die laaste deel van sy redenasie is feitlik uitsluitlik gebaseer op aanhalings uit die Psalms wat bewys dat Christus Jesus die Grotere Dawid is en dat Jehovah nie Jesus se siel in die doderyk, of Hades, sou laat nie, maar hom uit die dood sou opwek. Nee, “Dawid het nie in die hemele opgevaar nie”, maar soos hy in Psalm 110:1 voorspel het, het sy Here wel. Wie is Dawid se Here? Petrus bereik sy groot hoogtepunt en antwoord kragtig: “Hierdie Jesus wat julle [aan die paal genael] het”!—Hand. 2:14-36, vgl. NW; Ps. 16:8-11; 132:11.
26. Wat toon dat Petrus se toespraak nuttig was?
26 Was Petrus se toespraak, wat op die Psalms gebaseer was, nuttig? Die doop van nagenoeg 3 000 wat dieselfde dag by die Christengemeente gevoeg is, spreek vanself.—Hand. 2:41.
27. Hoe het ‘die heilige gees’ Psalm 2 uitgelê?
27 Kort daarna het die dissipels by ’n spesiale vergadering ’n smeekbede tot Jehovah gerig en Psalm 2:1, 2 aangehaal. Hulle het gesê dat dit vervul is in die heersers se verenigde teenstand teen God se ‘heilige kneg Jesus, wat deur God gesalf is’. En die verslag sê voorts dat hulle ‘almal met die heilige gees vervul is’.—Hand. 4:23-31.
28. (a) Watter redenasie ontwikkel Paulus aan die hand van Psalms in Hebreërs hoofstukke 1 tot 3? (b) Hoe verskaf Psalm 110:4 ’n grondslag vir Paulus se bespreking van die Melgisedekiaanse priesterskap?
28 Kyk nou na die brief aan die Hebreërs. In die eerste twee hoofstukke vind ons ’n aantal aanhalings uit die Psalms oor die voortreflikheid van Jesus, as God se hemelse, gekroonde Seun, bo die engele. Paulus toon aan die hand van Psalm 22:23 en ander verwysings dat Jesus ’n gemeente van “broeders” het, lede van Abraham se saad en “deelgenote van die hemelse roeping” (Hebr. 2:10-13, 16; 3:1). Dan brei die apostel vanaf Hebreërs 6:20 en reg deur hoofstuk 7 uit oor die bykomende amp wat Jesus as hoëpriester “volgens die orde van Melgisedek . . . vir ewig” beklee. Dit verwys na God se belofte in Psalm 110:4, wat met ’n eed bekragtig is en waarna Paulus keer op keer verwys om die voortreflikheid van Jesus se priesterskap bo dié van Aäron te bewys. Paulus verduidelik dat Jesus Christus deur Jehovah se eed ’n priester is, nie op die aarde nie, maar in die hemel, en dat hy “altyddeur” priester bly—die voordele van sy priesterlike diens sal ewigdurend wees.—Hebr. 7:3, 15-17, 23-28.
29. Op watter uitsonderlike voorbeeld van toegewydheid wat in die Psalms gemeld en in Hebreërs 10:5-10 verklaar word, moet ons ag slaan?
29 Verder word ons in Hebreërs 10:5-10 vertel van Jesus se groot waardering vir die offerweg wat God se wil vir hom was en van sy vasbeslotenheid om daardie wil uit te voer. Dit is gebaseer op Dawid se woorde in Psalm 40:7-9. Dit is vir ons almal van die grootste nut om hierdie voorbeeldige gees van toegewydheid te ondersoek en na te volg as ons God se goedkeuring wil verkry.—Sien ook Psalm 116:14-19.
30. Hoe het die Psalms Jesus se weg in besonderhede voorspel, en hoe moes hy vertroosting uit hulle geput het?
30 Die weg wat Jesus gevolg het, wat ’n hoogtepunt bereik het in daardie verskriklike beproewing wat hy aan die folterpaal verduur het, is in merkwaardige besonderhede in die Psalms voorspel. Dit het ingesluit dat hy asyn aangebied sou word om te drink, dat die lot vir sy bokleed gewerp sou word, die wrede mishandeling van sy hande en voete, die bespotting en die nog bitterder geestessmart van daardie hartverskeurende uitroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:34, 35, 43, 46; Ps. 22:2, 8, 9, 15-19; 69:21, 22). Soos aangedui deur Johannes 19:23-30, moes Jesus selfs gedurende daardie ure groot troos en leiding uit die Psalms geput het, in die wete dat al hierdie tekste tot in die kleinste besonderheid vervul moes word. Jesus het geweet dat die Psalms ook van sy opstanding en verheerliking gepraat het. Hy het ongetwyfeld sulke dinge in gedagte gehad toe hy sy apostels die laaste aand voor sy dood in “lofsang”, of psalms, voorgegaan het.—Matt. 26:30.
31. Wat voorspel die boek Psalms in verband met die Koninkryksaad en Jesus se gemeente?
31 Die Psalms identifiseer die “seun van Dawid” en Koninkryksaad dus duidelik as Christus Jesus, wat nou as Koning sowel as Priester in die hemelse Sion verhoog is. Daar is nie genoeg ruimte om ’n uitvoerige beskrywing te gee van al die gedeeltes uit Psalms wat in die Christelike Griekse Geskrifte aangehaal word as profesieë wat in die Gesalfde van Jehovah vervul is nie, maar nog ’n paar voorbeelde word hier aangegee: Ps. 78:2—Matt. 13:31-35; Ps. 69:5—Joh. 15:25; Ps. 118:22, 23—Mark. 12:10, 11 en Hand. 4:11; Ps. 34:21—Joh. 19:33, 36; Ps. 45:7, 8—Hebr. 1:8, 9. Jesus se gemeente van ware volgelinge word ook in die Psalms voorspel, nie as individue nie, maar as ’n groep uit alle nasies wat in God se guns opgeneem word om aan ’n werk deel te neem om Jehovah se naam te loof.—Ps. 117:1—Rom. 15:11; Ps. 68:19—Ef. 4:8-11; Ps. 95:7-11—Hebr. 3:7, 8; 4:7.
32. (a) Wat onthul die studie van Psalms in verband met Jehovah se heiliging en Koninkryksvoornemens? (b) Hoe moet ons, uit waardering vir sy koningskap, uiting aan lojaliteit en dankbaarheid gee?
32 Ons studie van die Psalms dra grootliks by tot ons waardering van Jehovah God se koningskap, wat hy tot Sy heerlikheid en heiliging deur die beloofde Saad en Koninkrykserfgenaam uitoefen. Mag ons altyd onder daardie lojales wees wat hulle verheug in ‘die glans van Jehovah se heerlike majesteit’ en na wie daar verwys word in Psalm 145, wat “’n loflied” van Dawid genoem word: “Hulle maak melding van die heerlikheid van u koninkryk en spreek van u mag, om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk. U koninkryk is ’n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy duur deur al die geslagte” (Ps. 145:5, 11-13). Ooreenkomstig die profetiese psalm word die glans van God se opgerigte Koninkryk in die hande van Christus nou aan die mensekinders in al die nasies bekend gemaak. Hoe dankbaar moet ons tog vir daardie Koninkryk en sy Koning wees! Die laaste woorde van die Psalms is inderdaad gepas: “Laat alles wat asem het, [Jehovah] loof! Halleluja!”—150:6, vgl. NW.
[Voetnoot]
a Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsye 710-11.