Hou aan om jou te onderwerp aan “die Gees wat lewend maak”
“Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie.”—JOHANNES 6:63.
1. (a) Hoe help Jehovah sy volk om die invloed van hierdie wêreld se “lug” te weerstaan? (b) Hoe sal dit ons help om die regte geestesgesindheid te hê as ons die vrugte van God se gees aankweek?
JEHOVAH GOD se heilige gees is onontbeerlik as ons die invloed van hierdie wêreld se “lug”, of gesindhede, wil weerstaan (Efesiërs 2:1, 2). Ons het ook die Bybel nodig, wat God se gedagtes bevat wat onder leiding van die heilige gees opgeteken is. En ons moet ’n nederige, Christelike gesindheid hê, wat voortgebring word deur die vrugte van God se gees—“liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing”—aan te kweek. Die apostel Paulus het vermaan: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.”—Galasiërs 5:16, 17, 22, 23.
2. Hoe verskil wat deur God se gees voortgebring word met die gevolge as ’n mens “die gees van die wêreld” aanneem?
2 Paulus het ook geskryf: “Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het” (1 Korinthiërs 2:12). Die “lug”, of geestesgesindheid, van hierdie wêreld maak dood, maar wat God deur middel van die heilige gees gee, bring die ewige lewe vir diegene wat dit aanvaar. Jesus het gesê: “Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe” (Johannes 6:63). Aangesien ‘die vlees van geen nut is nie’, het ons goddelike hulp nodig om sonde te oorwin en die wêreld se gees te weerstaan.
3, 4. (a) Wat is hebsug, en hoe buit ‘die owerste van die lug’ die vleeslike begeerte na materiële besittings uit? (b) Hoe is ’n hebsugtige persoon ’n afgodedienaar?
3 In die voorgaande artikel het ons twee gevaarlike aspekte van hierdie wêreld se “lug” bespreek—om met onsedelikheid te speel en onbetaamlike modes van kleredrag en persoonsversorging. Maar daar is baie ander aspekte. Hierdie wêreld se atmosfeer is byvoorbeeld deurtrokke van hebsug, van ’n intense, selfsugtige begeerte na materiële voordele of materiële besittings. ‘Die owerste van die lug’ het gesorg dat hierdie wêreld se propaganda en reklame jou onvervuld laat voel as jy nie ’n oorvloed van materiële besittings het nie. Hierdie aspek van die wêreld se “lug” kan jou bedwelm met die idee dat dit die belangrike dinge in die lewe is. Het hierdie materialistiese “lug” jou beïnvloed?
4 Die Bybel sê: ‘Geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ’n afgodedienaar is, het ’n erfdeel in die koninkryk van Christus en van God nie’ (Efesiërs 5:5). Let daarop dat ’n gierigaard in werklikheid ’n afgodedienaar is. Jy dink dalk: ‘Ek sal beslis nie so ver gaan dat ek ’n afgodedienaar word nie.’ Maar wat is afgodediens? Is dit nie dat iets anders in die plek van Jehovah en sy aanbidding gestel word en dat aandag daaraan in plaas van aan God en sy diens gegee word nie? Hebsug kan beteken dat ’n mens geld en die mag en invloed wat daarmee gepaard gaan feitlik aanbid. Bewys dit nie dat hierdie wêreld se “lug” jou nadelig beïnvloed as jy dit belangriker ag om ’n nuwe motor, ’n videokassetopnemer of enige ander materiële besitting te verkry as om jou geleenthede in Jehovah se diens uit te brei nie? Word materiële besittings nie vir jou soos afgode nie?
5. Op watter maniere is hierdie wêreld se “lug” gevul met ’n selfsugtige begeerte na rykdom?
5 Strewe jy na groter geleerdheid of ’n lonende betrekking omdat jy ryk wil word en meer materiële voordele wil hê as wat jy nodig het? Prikkel skemas om gou ryk te word jou belangstelling en wil jy daarby betrokke raak? Hierdie wêreld se “lug” is gevul met ’n selfsugtige begeerte na rykdom en bedrog met betrekking tot die betaling van regeringsbelastings. Dobbelary en soortgelyke bedrywighede floreer in hierdie atmosfeer. Moenie in die versoeking kom nie. Diegene wat die invloed van hierdie wêreld se hebsugbelaaide “lug” vermy, vind dat hulle ware geluk smaak as hulle met noodsaaklikhede tevrede is en Koninkryksbelange eerste stel.—Mattheüs 6:25-34; 1 Johannes 2:15-17.
Behoorlike gebruik van die tong
6. Watter uitwerking kan hierdie wêreld se spraakgewoontes op ons as Christene hê?
6 Wat van ons spraakgewoontes? Obseniteite, toornige woorde, leuentaal—hierdie wêreld se “lug” is deur en deur met sulke vuil taal besoedel. Tog is selfs die spraak van sommige wat met die Christengemeente omgaan soms grof, selfs vulgêr. Die dissipel Jakobus sê onomwonde vir ons: “Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie. ’n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en bitter water opborrel nie?” (Jakobus 3:10, 11). Het jy die kliektaal of sleng van hierdie wêreld aangeleer? Het jy ’n dubbele woordeskat, een wat jy tussen Christene gebruik en die ander wat jy elders gebruik? Paulus het geskryf: “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor” (Efesiërs 4:29). Hoe belangrik is dit tog dat ons deurentyd betaamlike, rein taal gebruik!
7. Wat behels dit om ‘die leuen af te lê en die waarheid te spreek’?
7 Ons moet ook sorg dra dat ons altyd die waarheid praat. As ’n mens slinks is of ander opsetlik mislei om verantwoordelikheid te ontduik, kom dit in werklikheid op ’n leuen neer. Sorg dus dat jy ag slaan op Paulus se raad: “Lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede.”—Efesiërs 4:25; Spreuke 3:32, NW.
8. (a) Hoe tree talle wêreldse mense op wanneer hulle kwaad gemaak word? (b) Wat moet ons doen as ons kwaad gemaak word?
8 Nog ’n aspek van hierdie wêreld se gees is wanneer mense op onbeteuelde wyse aan woede uiting gee. Talle wêreldse mense verloor maklik hul selfbeheersing. Hulle ontplof en verontskuldig hulself dan deur te sê dat hulle net hul gemoed lug gegee het. Dit is egter nie wat Paulus aangeraai het nie, want hy het geskryf: “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid” (Efesiërs 4:31). Maar sê nou woede bou op ten spyte van die feit dat ons selfbeheersing en ander vrugte van God se gees aankweek. Wat dan? “Word toornig en moenie sondig nie”, het Paulus geskryf. “Laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; en gee aan die duiwel geen plek nie” (Efesiërs 4:26, 27). As ons kwaad gemaak word, moet ons die saak dus gou, voor die einde van die dag, in die reine bring. Anders begin bitterheid en wrewel in die hart wortelskiet, en dit is moeilik om dit uit te roei. Moenie toelaat dat jy die toornige, wraaksugtige “lug” van hierdie wêreld inasem nie!—Psalm 37:8.
9. Wat is sommige algemene gesindhede onder werknemers, en waarom moet ons ons werkgewoontes ondersoek?
9 Wat van jou werkgewoontes? Om by die werk lyf weg te steek en ’n werkgewer te besteel, is vandag algemeen. Het jy hierdie “lug” ingeasem? Het die gesindheid dat ‘almal dit doen’ jou beïnvloed? Moet nooit vergeet dat die manier waarop ons as Christene ons werk doen Jehovah en sy ware aanbidding in ’n slegte lig kan stel nie. Wil jy hê dat iemand die waarheid wat een van Jehovah se Getuies by sy deur verkondig weens jou gedrag by die werk moet verwerp? “Laat die een wat steel, nie meer steel nie”, het Paulus gesê, “maar laat hom liewer arbei . . . sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het.”—Efesiërs 4:28.
10. Hoe kan ons in ons sekulêre werk toon dat ons nie deur die selfsugtige “lug” van hierdie wêreld beïnvloed word nie?
10 Hoewel die verhouding tussen heer en slaaf wat in die eerste eeu bestaan het vandag selde voorkom, kan Christenwerknemers leer uit wat Paulus in Efesiërs 6:5-8 aan Christenslawe geskryf het. Werknemers word daar vermaan om ‘gehoorsaam te wees aan diegene vir wie hulle werk, nie bloot as mensebehaers nie, maar as diensknegte van Christus’. ’n Christen moet dus nooit probeer om hom uit ’n volle dag se werk of die lewering van beloofde goedere of dienste uit te draai nie. As ons dinge ‘soos vir Jehovah’ doen, sal ons die regte gesindheid hê en nie deur die selfsugtige, lui “lug” van hierdie wêreld beïnvloed word nie.
Voedsel, drank en vermaak
11. Hoe het ’n wêreldse gesindheid ten opsigte van voedsel en drank sommige van Jehovah se knegte in Bybelse tye beïnvloed?
11 Het die wêreld se onmatige gebruik van voedsel en drank jou beïnvloed? Die wêreld se gesindheid is ‘eet, drink en wees vrolik, want môre sterf ons’ (1 Korinthiërs 15:32). En hierdie gees het, selfs sedert die ou tyd, sommige van God se knegte beïnvloed. Dink terug aan die keer in die woestyn toe die Israeliete “gaan sit het om te eet en te drink. Toe staan hulle op om hulle te vermaak” (Exodus 32:6, NW). Daardie “vermaak” het gelei tot onbeheerste losbandigheid en afgodediens, sodat God se toorn teen hulle ontvlam het. Laat ons nooit daardie weg inslaan nie.—1 Petrus 4:3-6.
12. Wat moet ons doen as ons eet- en drinkgewoontes aandag nodig het?
12 Jehovah het ons ’n ontsaglike verskeidenheid smaaklike, kleurryke en voedsame voedsel en drank gegee, maar hy wil hê dat ons hierdie dinge in matigheid moet gebruik. Vraatsug en dronkenskap word in die Bybel veroordeel (Spreuke 23:20, 21). Wees dus eerlik en vra jou af: Kan ek my eet- en drinkgewoontes verbeter? As jy groter selfbeheersing nodig het, moet jy dit erken en optree ooreenkomstig jou gebede dat God se gees jou help om hierdie probleem te bowe te kom. “Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul”, het Paulus gesê (Efesiërs 5:18). Ja, word met God se gees vervul, en moenie swig voor die onbeheerste gees van hierdie wêreld nie! “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God” (1 Korinthiërs 10:31). Maar as jy hardnekkige probleme op hierdie gebied het, moet jy die hulp van geestelik ryp manne in die gemeente inroep.—Galasiërs 6:1; Jakobus 5:14, 15.
13. (a) Hoe is dit duidelik dat die Duiwel baie van die hedendaagse vermaak verderf het? (b) Hoe kan ons hierdie wêreld se gesindheid ten opsigte van vermaak vermy?
13 Hierdie wêreld is erg verslaaf aan sport, musiek en verskeie vorme van vermaak. Dit is nie noodwendig verkeerd om sulke dinge te geniet nie, tensy dit Skriftuurlike beginsels skend. Maar die probleem is dat Satan, ‘die owerste van die lug’, baie van die hedendaagse vermaak verderf het (Efesiërs 2:2). Dikwels bevorder dit onsedelikheid, vergoelik dit geweld en beeld dit sukses deur middel van kullery, bedrog en selfs moord uit. Wanneer ons na sulke vermaak kyk, asem ons hierdie gesindhede diep in ons gestel in, en die giftige uitwerking daarvan sal ons stellig benadeel. En al is party soorte vermaak nie Skriftuurlik onaanvaarbaar nie, bestaan die gevaar dat ons daaraan verslaaf kan raak, sodat min tyd vir geestelike sake oorbly. Ons moet dus selektief wees. Ruim tyd in om heilsame en voordelige ontspanning met mate te geniet, maar moenie die onmatigheid van die wêreld navolg nie. Hetsy hierdie wêreld se “lug” lekker of onaangenaam ruik, dit is besoedel en dodelik!—Spreuke 11:19.
Rassetrots—’n bose wind
14. Hoe kan ons met betrekking tot maatskaplike probleme deur hierdie wêreld se “lug” beïnvloed word?
14 ’n Ietwat subtiele aspek van hierdie wêreld se “lug” is rasse- en volkstrots. Sommige bevorder die wanbegrip dat sekere rasse meerderwaardig en ander minderwaardig is. Nasionalisme beweeg mense om te dink dat hulle geboorteland beter as alle ander is. Trouens, baie ly onnodig en word basiese menseregte en benodigdhede ontneem vanweë die selfsug en vooroordeel van ander. Dit lei tot wrewel, selfs geweld. Baie kom in opstand en gebruik eie reg, daar hulle vol vertroue is dat hulle maatskaplike probleme op hulle manier kan oplos. Ons kan ook in hierdie idees vasgevang word. Wanneer ons onreg ly of dit sien en dan hoor hoe mense op maatskaplike hervorming aandring, kan ons beïnvloed word as ons nie op ons hoede is nie. Ons kan ons neutrale standpunt begin verlaat en kant kies (Johannes 15:19). Ernstiger nog, ons kan lus voel om gedurende stakings wag te staan, propaganda te maak of die toevlug tot geweld te neem om veranderinge te forseer.
15. Wat raai die Bybel ons aan as ons lus het om ‘ons te wreek’?
15 ’n Gemeente se gees kan deur rassegevoel of nasionalisme beïnvloed word. (Vergelyk Handelinge 6:1-7.) Maar ons sal die regte gees hê as ons ag slaan op die raad: “As dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here” (Romeine 12:18, 19). Aangesien alle rasse van die eerste mensepaar kom en God nie partydig is nie, is daar in die Christengemeente geen plek vir rasse- of volkstrots nie.—Handelinge 10:34, 35; 17:26; Romeine 10:12; Efesiërs 4:1-3.
Hou aan om lewegewende “lug” in te asem
16. Wat sal voorkom dat ons deur die gees van hierdie wêreld beïnvloed word?
16 Ons het die vernaamste dodelike aspekte van hierdie wêreld se “lug”, of gees, bespreek. Dit omring ons en oefen soveel druk uit dat as ons toelaat dat ’n lugleegte in ons geestelikheid ontstaan hierdie vuil “lug” sal instroom om dit te vul. Suksesvolle weerstand daaraan hang grootliks af van hoe lief ons suiwer, rein en regverdige dinge het en hoeveel ons onsuiwer, onrein en bose dinge haat. Ons sal aanhou om die regte “lug” in te asem as ons aanhou om die regte geestesgesindheid aan te kweek ooreenkomstig die leiding van Jehovah se heilige gees.—Romeine 12:9; 2 Timotheüs 1:7; Galasiërs 6:7, 8.
17. Wat moet ons onmiddellik doen as ons gewaar dat hierdie wêreld se “lug” in ons rigting trek?
17 Jy moet beslis nie toelaat dat enige van hierdie wêreld se vuil “lug” vir jou lekker begin ruik nie. Die owerste van hierdie “lug” weet presies wat nodig is om die sinne te prikkel en ’n begeerte te wek wat dikwels tot sonde lei (Jakobus 1:14, 15). Bly in die gedeelte waar “rook verbode” is, Jehovah se geestelike paradys. Wanneer jy gewaar dat ’n damp van hierdie wêreld se “lug” in jou rigting trek, moet jy dit vermy. Draai jou daarvan weg net soos jy dodelike gif sou vermy. “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is. Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.”—Efesiërs 5:15-17.
18. Wat sal die gees wees van diegene wat bevoorreg is om op die gereinigde aarde te woon?
18 Dit is God se wil dat ons hom as handhawers van onkreukbaarheid dien. As ons dit doen, sal dit die lewe beteken in sy nuwe stelsel, wat nou ophande is. Hoe verkwikkend sal dit tog wees wanneer ons dan lug inasem! Geen dodelike besoedelstowwe nie, net suiwer, lewegewende lug. Dit sal geld vir die letterlike lug en, van groter belang, vir die gees van diegene wat bevoorreg is om op die gereinigde aarde te woon. Hulle sal ’n gehoorsame, nederige, ontvanklike gesindheid openbaar. Die “lug” van hierdie ou wêreld, wat gevul is met opstandige, verdorwe en goddelose invloede, sal tot die verlede behoort.—Openbaring 21:5-8.
19. Wie sal tot in Jehovah se nuwe stelsel behoue bly?
19 Ons wil beslis nie onder diegene wees wat die “lug” van hierdie stelsel inasem wanneer Jehovah besoedeling sowel as diegene wat dit veroorsaak by Armageddon uit die weg ruim nie. Wat ’n verligting sal dit tog wees wanneer die ou wêreld tot die verlede behoort en ‘die owerste van die lug’ in die afgrond gewerp is! Almal wat Jehovah liefhet en aanhou om rein, betaamlike en regverdige dinge lief te hê, sal daar wees. Jehovah wil hulle daar hê en sal hulle deur sy gees help. Hy sal hulle die ewige lewe in ’n rein, heilsame nuwe stelsel gee. Laat ons nie daardie voorreg verbeur omdat ons die dodelike “lug” van hierdie ou stelsel inasem nie!
Hoe sou jy antwoord?
◻ Hoe word ’n hebsugtige persoon ’n afgodedienaar?
◻ Hoe kan hierdie wêreld se “lug” jou spraakgewoontes beïnvloed?
◻ Watter gees moet Christenwerknemers openbaar wanneer hulle sekulêre werk doen?
◻ Hoe kan jy voorkom dat hierdie wêreld se gesindheid ten opsigte van voedsel, drank en vermaak jou beïnvloed?
◻ Watter gees ten opsigte van ras en nasionalisme moet nie die Christengemeente binnedring nie?
[Prent op bladsy 16]
Is jou gesin geestelik sterk genoeg om hierdie wêreld se “lug” te weerstaan?
[Prent op bladsy 17]
As ons dinge ‘soos vir Jehovah’ doen, sal ons nie deur die selfsugtige, lui “lug” van hierdie wêreld beïnvloed word nie