Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 4/15 bl. 15-20
  • Vertrou op Jehovah

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vertrou op Jehovah
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waar is die broederliefde?
  • Oorlewing deur vertroue in Jehovah
  • ’n Rooskleurige toekoms
  • Jehovah onderskraag sy knegte
  • Vertrou op Jehovah met jou hele hart
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • “O Jehovah, . . . in u het ek my vertroue gestel”
    Ons Christelike lewe en bediening — Vergaderingwerkboek — 2017
  • Vertroue is noodsaaklik vir ’n gelukkige lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Versterk jou vertroue in Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 4/15 bl. 15-20

Vertrou op Jehovah

“Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; . . . verlustig jou in die HERE.”—PSALM 37:3, 4.

1, 2. (a) Wat het met diegene gebeur wat in die eerste eeu nie op Jehovah vertrou het nie, en met diegene wat wel op hom vertrou het? (b) Watter vrae kan oor godsdiens in ons tyd geopper word?

IN DIE eerste eeu van ons Gewone Jaartelling het die Joodse godsdiensleiers beweer dat hulle God aanbid. Maar hulle het nie op hom vertrou nie. Hulle het sy gebooie oortree en sy verteenwoordigers vervolg (Mattheüs 15:3; Johannes 15:20). Gevolglik het Jehovah ‘hulle huis woes gelaat’ (Mattheüs 23:38). In 70 G.J. het Romeinse leërs Jerusalem en sy tempel verwoes en het talle godsdiensleiers en hulle volgelinge die lewe gelaat. Maar diegene wat op Jehovah vertrou het, is beskerm, want hulle het ag geslaan op die waarskuwings van sy woordvoerders en na veiligheid gevlug.—Mattheüs 24:15-22; Lukas 21:20-24.

2 Vertrou hierdie wêreld se godsdienste in hierdie laaste dae van die stelsel op die ware God, Jehovah? Gehoorsaam hulle sy gebooie en doen hulle sy wil, of volg hulle die godsdiensleiers van die eerste eeu vir wie God verlaat het na? Watter een van die hedendaagse godsdienste kan verwag om deur Jehovah beskerm te word omdat hulle ‘op Jehovah vertrou en doen wat goed is’?—Psalm 37:3.

Waar is die broederliefde?

3. Waarom het godsdienstige vredespogings gefaal?

3 Pous Johannes Paulus II het onlangs gewaarsku dat “die hele mensdom se voortbestaan ernstig bedreig word”. Hy het beklemtoon dat “daardie bedreiging die beste teëgewerk kan word deur die gesamentlike pogings van verskillende godsdiensgroepe”. Dit is God se wil, het hy gesê, dat godsdiensleiers “saamwerk” om “vrede en versoening” te bewerkstellig. Maar waarom het God dan nie sodanige pogings deur die eeue been geseën as dit God se wil is nie? Hy het dit nie gedoen nie omdat die godsdienste nie vertrou het op God se manier om vrede deur middel van sy hemelse Koninkryk te bring nie (Mattheüs 6:9, 10). Hulle het eerder die politiek en oorloë van die nasies gesteun. Gevolglik het godsdienstige mense van een nasie in oorlogstyd godsdienstige mense van ’n ander nasie doodgemaak, en selfs mense van hulle eie godsdiens doodgemaak. Katoliek het Katoliek doodgemaak, Protestant het Protestant doodgemaak, en ander godsdienste het dieselfde gedoen. Maar maak ware geestelike broers mekaar dood terwyl hulle beweer dat hulle God dien?

4. Wat het Jesus gesê is die standaard vir ware godsdiens, en waarom was dit “’n nuwe gebod”?

4 Jesus het die standaard vir ware godsdiens gestel toe hy vir sy volgelinge gesê het: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34, 35). Diegene wat die ware godsdiens beoefen, moet mekaar dus liefhê. Dit was “’n nuwe gebod”, want Jesus het gesê: “Soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.” Hy was bereid om sy lewe vir sy volgelinge af te lê. Hulle moet bereid wees om dieselfde te doen—nee, nie om die lewe van medegelowiges te neem nie, maar hulle eie lewe af te lê, indien nodig. Dit was nuut, want dit is nie onder die Mosaïese Wet vereis nie.

5. Hoe beklemtoon God se Woord op kragtige wyse dat dit vir sy ware aanbidders nodig is om liefde en eenheid onder hulle te hê?

5 God se Woord sê: “As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ’n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê” (1 Johannes 4:20, 21). Deur hierdie liefde bewaar diegene wat op Jehovah vertrou ware internasionale eenheid. Die apostel Paulus sê in 1 Korinthiërs 1:10: “Ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.”—Kyk ook 1 Johannes 3:10-12.

6. Waarom kan Jehovah se Getuies sê dat hulle “rein is van die bloed van almal”?

6 Volgens The World Book Encyclopedia is 55 miljoen mense in die Tweede Wêreldoorlog gedood. Hulle is deur mense van elke groot godsdiens behalwe Jehovah se Getuies om die lewe gebring. Nie een van daardie sterftes is deur ’n getuie van Jehovah veroorsaak nie, want hulle was gehoorsaam aan die gebod om mekaar lief te hê en het geweier om by die oorloë van die nasies betrokke te raak. Hoewel talle getuies weens hulle neutrale standpunt ’n martelaarsdood gesterf het, kon hulle soos die apostel Paulus sê: “Ek [is] rein . . . van die bloed van almal.”—Handelinge 20:26.

7, 8. Hoe erken sommige geestelikes hulle bloedskuld?

7 ’n Katolieke kapelaan vir die vlieëniers wat in 1945 die atoombomme op Japan gewerp het, het onlangs gesê: “Die afgelope 1 700 jaar maak die kerk oorlog fatsoenlik. Dit oorreed mense om te glo dat dit ’n eervolle Christenprofessie is. Dit is nie waar nie. Ons is aan breinspoeling onderwerp. . . . Die evangelie van die Regverdige Oorlog is ’n evangelie wat Jesus nooit verkondig het nie. . . . Daar is niks in die lewe of leer van Jesus wat daarop sou dui dat terwyl dit ongeoorloof is om mense met ’n kernplofkop te veras dit geoorloof is om mense met napalm of vlamwerper te veras nie.”

8 Die Catholic Herald van Londen het gesê: “Die eerste Christene . . . het Jesus aan Sy woord gehou en geweier om in die Romeinse leër te dien al is hulle ook met die dood gestraf. Sou die verloop van die geskiedenis anders gewees het as die Kerk by sy oorspronklike standpunt gebly het? . . . As die kerke van vandag ’n gesamentlike verklaring kon doen waarin hulle oorlog veroordeel . . . , wat sal beteken dat elke lidmaat deur sy gewete verplig sou word om soos die Christene ’n gewetensbeswaarde te wees, sou vrede inderdaad verseker kon word. Maar ons weet dat dit nooit sal gebeur nie.”

9. Waarom kom ons tot die gevolgtrekking dat Jehovah hierdie wêreld se godsdienste verlaat het?

9 Die godsdienste van hierdie wêreld het dus ’n dodelike kompromis ten opsigte van God se wette aangegaan. Hulle vertrou hom net so min as wat die Fariseërs hom vertrou het. “Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk” (Titus 1:16). Gevolglik het God hierdie wêreld se godsdienste net so gewis verlaat as wat hy die skynheilige Joodse godsdiens in die eerste eeu verlaat het.—Mattheüs 15:9, 14.

Oorlewing deur vertroue in Jehovah

10, 11. Wat het koning Hiskia gedoen toe Assirië geëis het dat Jerusalem oorgee, en wie is deur Sanherib se woordvoerder uitgetart?

10 Moenie jou vertroue in menseoplossings vir hierdie wêreld se probleme stel nie. Vertrou eerder op die Een wat sy beloftes kan nakom (Josua 23:14). Kyk byvoorbeeld wat in die agtste eeu voor Christus, in die dae van koning Hiskia van Juda, gebeur het. Die Bybel sê van hom: “En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE” (2 Konings 18:3). Die magtige wêreldmoondheid Assirië het gedurende sy bewind teen Jerusalem opgeruk. Assiriese koning Sanherib se woordvoerder het geëis dat Jerusalem oorgee en gesê: “So sê die koning: Laat Hiskia julle nie bedrieg nie, want hy sal julle nie uit sy hand kan red nie. En Hiskia moet julle nie op die HERE laat vertrou nie.”—2 Konings 18:29, 30.

11 Wat het Hiskia gedoen? Die Bybel sê: “Hiskia het voor die aangesig van die HERE gebid en gesê: HERE, God van Israel, wat op die gerubs troon, U alleen is die God van al die koninkryke van die aarde, Ú het die hemel en die aarde gemaak! o HERE, neig u oor en luister. Open u oë, HERE, en kyk; en hoor die woorde van Sanherib, wat hy gestuur het om die lewende God [uit te tart]! . . . Verlos ons dan nou tog uit sy hand, HERE onse God, dat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, HERE, alleen God is.”—2 Konings 19:15-19, vgl. NW.

12. Hoe het Jehovah Hiskia se gebed verhoor?

12 Jehovah het hierdie gebed gehoor en die profeet Jesaja gestuur om vir Hiskia te sê: “So sê die HERE aangaande die koning van Assirië: Hy sal in hierdie stad nie inkom en daar geen pyl in skiet en dit met geen skild aanval en daar geen wal teen opgooi nie.” Moes Hiskia Assirië met ’n leer teenstaan? Nee, hy moes op Jehovah vertrou, en hy het dit gedoen. Die gevolg? “Die engel van die HERE [het] uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd-vyf-en-tagtigduisend verslaan.” Sanherib self het geboet omdat hy Jehovah en Jehovah se knegte uitgetart het, want sy eie seuns het hom later vermoor. Net soos Jehovah gesê het, is nie een wapen teen Jerusalem gebruik nie.—2 Konings 19:32-37.

13, 14. Op watter grondslag sal mense uit alle nasies die einde van hierdie stelsel oorleef?

13 In ons dag sal iets soortgelyks gebeur. Diegene wat op Jehovah vertrou, sal die wêreld se uittarting en die wêreld se einde oorleef. “Hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o HERE!” (Psalm 9:11). Maar voordat Jehovah hierdie bloedskuldige wêreld teregstel, nooi hy regskapenes om na hom te kom vir veiligheid. Hulle maak “’n groot menigte” uit alle nasies uit, wat “uit die groot verdrukking kom”. Hulle oorleef hierdie stelsel se einde omdat hulle op Jehovah vertrou en hom “dag en nag” dien.—Openbaring 7:9-15.

14 Dit is hulle wat gehoor gee aan die oproep wat nou wêreldwyd al hoe luider weerklink, soos voorspel in Jesaja 2:2, 3: “En aan die einde van die dae sal die huis van die HERE [sy ware aanbidding] vasstaan . . . En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, . . . dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel.” Vers 4 sê: “En hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”

15. Wie vervul die profesie van Jesaja 2:2-4, en hoe?

15 Wie ‘smee van hulle swaarde pikke’ in ons dag? Wie ‘leer nie meer om oorlog te voer nie’? Wie het onverbreeklike liefde vir hulle geestelike broers en susters dwarsoor die aarde en is eensgesind met hulle? Wie vertrou werklik op Jehovah en nooi ander om dit ook te doen? Die feite van ons tyd toon dat die antwoord net Jehovah se Getuies kan wees. Soos Hiskia, vertrou hulle op Jehovah met hulle hele hart en toon hulle dit deur sy gebooie te hou.

’n Rooskleurige toekoms

16, 17. Watter rooskleurige toekoms beloof Jehovah diegene wat op hom vertrou?

16 Jehovah beloof diegene wat op hom vertrou die rooskleurigste toekoms denkbaar wanneer hy hierdie ou wêreldgemeenskap deur sy nuwe vervang. In die nuwe wêreld hier op aarde sal daar geen vrees of wantroue, geen armoede, ongeregtigheid of misdadigheid wees nie. Mense sal nie meer in oorloë of deur aborsies vermoor word nie. Openbaring 21:4 beloof selfs dat daar “geen dood meer [sal] wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie”.

17 Die aarde sal mettertyd ’n paradys word, soos Jesus belowe het (Lukas 23:43, NW). En aangesien selfs die dood weggedoen sal word, sal diegene wat op Jehovah vertrou vir ewig in die Paradys kan lewe, Miga 4:4 sal volkome vervul word: “Hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik.” Stel jou voor dat jy in ’n gemeenskap lewe waar elkeen wat jy teëkom iemand is wat jy kan vertrou! Waarom sal dit die geval wees? Want, soos Jesaja 54:13 sê: “Al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.”

18. Hoe word diegene wat op Jehovah vertrou reeds nou beloon?

18 Maar miljoene van Jehovah se Getuies wêreldwyd word selfs nou beloon omdat hulle op Jehovah vertrou. Omdat Jehovah se knegte sy wette en beginsels gehoorsaam, is hulle byvoorbeeld vry van longkanker wat deur tabakrook veroorsaak word. Omdat hulle in ’n moreel rein milieu lewe, word hulle oor die algemeen nie bedreig deur die wêreldepidemie van seksueel oorgedraagde siektes, met inbegrip van Vigs, nie. Omdat hulle nie dwelms gebruik nie, word hulle in groot mate teen breinbeskadigende en dodelike kwale beskerm waaraan baie dwelmslawe ly. En aangesien hulle nie bloedoortappings aanvaar nie, doen hulle nie die dodelike kwale op wat deur bloed oorgedra word nie, hepatitis inkluis, wat elke jaar in die Verenigde State tienduisend ontvangers van bloed dood of permanent benadeel.

19. Hoe sal Jehovah diegene red wat hom dien al sterf hulle nou?

19 Selfs al sou party wat nou op Jehovah vertrou as gevolg van bejaardheid, siekte of ’n ongeluk sterf, sal Jehovah hulle red. Hy sal hulle terugbring deur middel van die opstanding. Die apostel Paulus het ons derhalwe aangespoor om “nie op onsself [te] vertrou nie, maar op God wat die dode opwek”.—2 Korinthiërs 1:9.

Jehovah onderskraag sy knegte

20, 21. (a) Watter teenstand kan ons verwag, soos blyk uit wat met Jesus gebeur het? (b) Hoe regverdig Jehovah sy volk, soos hy Jesus geregverdig het?

20 Hou in gedagte dat “die hele wêreld in die mag van die Bose”, Satan die Duiwel, lê (1 Johannes 5:19). As jy dus op God vertrou, sal jy deur Satan en sy wêreld teengestaan word. Hulle sal probeer om jou vertroue deur spot of vervolging te ondermyn, net soos in die geval van Jesus. Nadat hy aan die folterpaal genael is, het “verbygangers . . . Hom gesmaad terwyl hulle hul hoofde skud en sê: . . . As U die Seun van God is, kom af van die kruis! En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes en ouderlinge gespot en gesê: Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. . . . Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou verlos as Hy behae in Hom het.”—Mattheüs 27:39-43.

21 God het Jesus inderdaad drie dae later gered deur hom uit die dode op te wek. Daardie geslag van spotters is egter deur die Romeinse leërs om die lewe gebring of tot slawe gemaak. Indien daardie spotters uit die dood sou terugkom, sal hulle hulle moet onderwerp aan die Een wat hulle tweeduisend jaar gelede gespot het, aangesien Christus as Koning van God se hemelse Koninkryk toesig oor die opstanding gaan hou! Ja, Jehovah regverdig sy knegte wat sê: “Ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan ’n mens my doen?”—Psalm 56:12.

22. Wat sê Jehovah oor diegene wat op hom vertrou, en oor diegene wat dit nie doen nie?

22 Jehovah sê omtrent sy knegte: “Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is. Want hy sal wees soos ’n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ’n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.” Maar Jehovah sê ook: “Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk. En hy sal wees soos ’n kaal bos in die wildernis, en ky sal nie sien as die goeie kom nie.”—Jeremia 17:5-8.

23. Wat moet ons doen as ons die ewige lewe wil hê?

23 In hierdie kritieke tye moet ons dus “vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid, en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart” (Psalm 37:3, 4). Mag jou verwesenlikte begeertes die ewige lewe as gawe in die regverdige nuwe wêreld insluit wat beloof is deur die God op wie ons vertrou.

Vrae ter hersiening

□ Watter standaard moet gehandhaaf word deur diegene wat op Jehovah vertrou?

□ Leer hierdie wêreld se godsdienste hulle lidmate om Jehovah te vertrou?

□ Hoe is koning Hiskia se vertroue in Jehovah geregverdig?

□ Hoe word die profesie van Jesaja 2:2-4 vandag vervul?

□ Watter toekoms sal diegene geniet wat op Jehovah vertrou?

[Prent op bladsy 17]

Die Assiriese koning se woordvoerder het Jehovah uitgetart en geëis dat Jerusalem oorgee

[Prent op bladsy 18]

In die nuwe wêreld sal diegene wat op Jehovah vertrou algehele vrede en veiligheid geniet

    Afrikaanse publikasies (1975-2021)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2021 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel