Insig in die nuus
Voorspelde geweld
“Adolessente word baie gewelddadiger as wat hulle jare gelede was”, sê James Fox, kriminoloog van die Northeastern-Universiteit. “Ek sien ’n groot verandering in die soort jongmense wat ons kry”, sê Faye Harrison, ’n regter van Michigan. “Baie hardvogtiger, baie vinniger (om geweld te pleeg), baie dieper betrokke by ernstige misdaad op ’n vroeër ouderdom.” Trouens, tieners in ’n woedebui is “jaarliks vir ongeveer 300 ouermoorde deur adolessente verantwoordelik”, berig die Detroit Free Press.
Waarom die toename in geweld onder vandag se jeug? Volgens USA Today voer Fox die volgende redes aan: makliker verkryging van wapens, televisiegeweld en “oor die algemeen, minder respek vir gesag”. David Ramirez, ’n regter van Denver, wat die aandag op ouers vestig, meen dat “tradisionele waardes en idees oor respek nie aan kinders oorgedra word nie, en talle ouers voel skynbaar nie so ’n verpligting teenoor hulle kinders nie”, sê The Denver Post.
Baie tydig is die woorde wat deur die apostel Paulus geskryf is toe hy, eeue gelede, voorspel het “dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, . . . ongehoorsaam can hulle ouers, . . . sonder natuurlike liefde, . . . bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie” (2 Timotheüs 3:1-3). Christene kan teen die insypeling van sulke gesindhede waak deur liefdevolle gesinsverhoudings aan te kweek, soos aangedui word in Bybelpassasies soos Deuteronomium 6:4-9 en Kolossense 3:12-14, 18-21.
Ons betaal die prys
“Ons lees nie die Bybel nie en weet nie wat daarin staan nie”, sê Amerikaanse meningspeiler George Gallup jr. “Ons betaal hiervoor en ly dienooreenkomstig ten opsigte van die egskeidingsyfer, kindermishandeling, dwelmmisbruik en bedrog en oneerlikheid op alle vlakke van die samelewing.” Volgens die Gallupopname is 40 persent van Amerikaners Sondae in die kerk en ongeveer 80 persent trou in die kerk, maar die egskeidingsyfer het sedert 1960 verdriedubbel, die getal ongetroude pare wat saamwoon het byna vyfvoudig vermeerder, en buite-egtelike kinders het byna vervierdubbel. Aborsies het tussen 1972 en 1979 verdriedubbel.
Gallup, wat ronduit op die wortel van die probleem gewys het, het gesê: “Dit is duidelik dat die kerke nie tot die fundamentele vlak deurdring deur waardes in te skerp nie. Ons lewe godsdiens baie oppervlakkig na. Dit verander nie ons lewe nie en lei ons nie in die regte rigting nie. Dit is ook nie op die Bybel gebaseer nie.”
Nogtans behoort die Christelike godsdiens lewens te verander en te rig en Bybelgebaseerd te wees. Dit was oorspronklik so. Vroeë Christene is geleer om ‘die oue mens af te lê’. Paulus het geskryf: “Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards . . . sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle.”—Efesiërs 4:22; 1 Korinthiërs 6:9-11.
“Die eerste mens was ’n mens”
Sommige evolusioniste beweer dat evolusie “honderd persent” geloofbaar is en dat dit “’n teorie [is] wat ’n mens in ’n laboratorium kan nagaan”. Maar by die Tweede Internasionale Kongres van Mensepaleontologie, wat onlangs in Turyn, Italië, gehou is, was dit duidelik dat talle wetenskaplikes steeds bedenkinge oor die saak het.
Pleks van te bevestig dat evolusie “honderd persent” geloofbaar is, het die kongres blykbaar groot meningsverskille onder wetenskaplikes oor wanneer en hoe die mens geëvolueer het aan die lig gebring. Paleontoloog Bernard Vandermeersch het byvoorbeeld die feit onderstreep dat die resultate van paleontologie, wat die mens se oorsprong betref, “strydig is met die data wat deur genetika voorsien word” en wat op een gemeenskaplike voorouer dui.
Maar sulke teenstrydighede bestaan net onder mense wat weier om die eenvoudige waarheid te aanvaar dat God “uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak [het] om oor die hele aarde te woon” (Handelinge 17:26). Hoe het hy dit gedoen? Genesis 2:7 sê vir ons dat ‘God die mens uit die stof van die aarde geformeer en in sy neus die asem van die lewe geblaas het’ wat die mens “’n lewende siel” laat word het.
Dit is nie verbasend nie dat bioloog Giuseppe Sermonti, in ’n kommentaar oor die gevolgtrekkings van die kongres, toegegee het dat “alle pogings om ons uit die bome van die ape te kry geen interessante resultate opgelewer het nie. Die eerste mens was ’n mens.”