Geregtigheid kenmerk al God se weë
“Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is [geregtigheid]; ’n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy.”—DEUTERONOMIUM 32:4, vgl. NW.
1. Watter eienskappe van Jehovah het Moses in sy lied voor die seuns van Israel beklemtoon voordat hy gesterf het, en waarom was hy bevoeg om dit te sê?
JEHOVAH, die Opperregter, Wetgewer en Koning “het geregtigheid en reg lief” (Psalm 33:5; Jesaja 33:22). Moses, die middelaar van die Wetsverbond en ’n profeet “vir wie die HERE van aangesig tot aangesig geken het”, het intiem vertroud geraak met Jehovah se regverdige weë (Deuteronomium 34:10; Johannes 1:12). Kort voordat Moses gesterf het, het hy die uitnemendheid van Jehovah se geregtigheid beklemtoon. Ten aanhore van die hele gemeente van Israel het hy die woorde van hierdie lied uitgeroep: “Luister, o hemele, dat ek kan spreek, en laat die aarde hoor die woorde van my mond. . . . Die Naam van [Jehovah] roep ek uit: Gee grootheid aan onse God! Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is [geregtigheid]; ’n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy.”—Deuteronomium 32:1, 3, 4, vgl. NW.
2. Hoe het geregtigheid nog altyd al God se werke gekenmerk, en waarom is dit belangrik?
2 Geregtigheid kenmerk al Jehovah se werke, en dit word altyd in volkome harmonie met sy wysheid, liefde en krag uitgeoefen. In Job 37:23 het God se kneg Elihu Job herinner: “Die Almagtige—ons vind Hom nie; Hy is groot van krag, maar die reg en die volheid van geregtigheid krenk Hy nie.” En koning Dawid het geskryf: “Jehovah het geregtigheid lief, en hy sal sy lojale dienaars nie verlaat nie” (Psalm 37:28, NW). Watter vertroostende versekering tog! In al God se weë sal hy nooit diegene wat lojaal teenoor hom is vir een oomblik verlaat nie. God se geregtigheid waarborg dit!
Waarom geregtigheid ontbreek
3. Wat ontbreek vandag onder mense, en hoe het dit die mens se verhouding met God geraak?
3 Waarom is daar vandag so ’n gebrek aan geregtigheid onder mense aangesien Jehovah die God van geregtigheid, die Een wat geregtigheid liefhet en die “Skepper wan die eindes van die aarde” is? (Jesaja 40:28). Moses antwoord in Deuteronomium 32:5 (NW): “Hulle het van hul kant verderflik gehandel; hulle is nie sy kinders nie, die gebrek lê by hulleself. ’n Krom en verdraaide geslag!” Die mens se verderflike bedrywigheid het hom in so ’n mate van sy Skepper geskei dat God se gedagtes en weë beskryf word as hoër as dié van die mens “soos die hemel hoër is as die aarde”.—Jesaja 55:8, 9.
4. Watter weg het die mens ingeslaan, en wat het dit vir hom meegebring?
4 Moet nooit vergeet dat die mens nie deur sy Skepper ontwerp is om onafhanklik van Hom op te tree nie. Jeremia som die situasie vir ons reg op wanneer hy sê: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Die mens se verwerping van God se regverdige wee en heerskappy het hom onder heeltemal ander en baie magtige onsigbare magte gestel, naamlik Satan die Duiwel en sy demonmedewerkers. Die apostel Johannes sê nadruklik: “Die hele wêreld [lê] in die mag van die Bose.” Hierdie demoniese magte stel glad nie daarin belang om geregtigheid onder die mensdom te handhaaf nie.—1 Johannes 5:19.
5. Gee voorbeelde van die gebrek aan geregtigheid in die wêreld vandag.
5 ’n Voorbeeld van die gebrek aan geregtigheid in die laaste dae van hierdie stelsel van dinge is in 1984 deur die Verenigde State se Minister van Justisie, William French Smith, beklemtoon. In sy kommentaar oor ’n ondersoek na tronkvonnisse in 12 Amerikaanse state tussen 1977 en 1983 het Smith gesê: “Die publiek neem aan dat die grootste oortreders—moordenaars, verkragters, dwelmsmouse—lang vonnisse uitdien. Die buro se studie toon . . . hoe maklik dit vir geharde misdadigers is om weer op die straat te kom om nuwe misdade te pleeg.” Geen wonder nie dat Paul Kamenar van die Washingtonse Regstigting gesê het: “Die regstelsel is alte dikwels slap.”
6. (a) Wat was die morele toestand van Juda voor sy gevangenskap? (b) Watter vrae het Habakuk gestel, en is hulle vandag van toepassing?
6 Daar was min geregtigheid in die nasie Juda voordat die Babiloniese leërs dit in 607 v.G.J. verower het. God se profeet Habakuk is gevolglik deur God geïnspireer om te sê: “Daarom verloor die wet sy krag, en die reg kom nooit meer te voorskyn nie; want die goddelose omsingel die regverdige, daarom kom die reg verdraaid te voorskyn” (Habakuk 1:4). Hierdie onregverdige situasie het meegebring dat die profeet Jehovah gevra het: “Waarom aanskou U die trouelose, swyg U wanneer die goddelose dié verslind wat regverdiger is as hy?” (Habakuk 1:13). Mense wat geraak word deur die ongeregtigheid wat algemeen op alle terreine van mensebedrywigheid voorkom, kan vandag tereg ook vra: Waarom hou die God van geregtigheid aan om toe te kyk hoe ongeregtigheid op die aarde gepleeg word? Waarom laat hy toe dat “die reg verdraaid te voorskyn” kom? Waarom “swyg” hy? Dit is belangrike vrae, en net God se kosbare Woord, die Bybel, verstrek die ware en bevredigende antwoorde.
Waarom God ongeregtigheid toegelaat het
7. (a) Waarom het die mens die Paradys wat God hom gegee het, verloor? (b) Watter geskille is in Eden geopper, en hoe het God se geregtigheid daarop gereageer?
7 God se werke is volmaak, soos Moses getuig het. Dit was waar in die geval van die volmaakte mensepaar wat God in die Paradys van Eden gesit het (Genesis 1:26, 27; 2:7). Daardie hele reëling was volmaak vir die mens se welsyn en geluk. Die goddelike verslag deel ons mee: “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed” (Genesis 1:31). Maar Edeniese rustigheid het nie lank geduur nie. Onder die invloed van ’n opstandige geesskepsel is Eva en haar man, Adam, betrek by ’n konfrontasie met Jehovah oor die manier waarop Hy oor hulle regeer. Die regmatigheid van God se gebooie aan hulle is nou betwyfel (Genesis 3:1-6). Toe die regverdigheid van God se heerskappy so bevraagteken is, is lewensbelangrike morele geskille geopper. Die geskiedverhaal van die getroue man Job toon dat die onkreukbaarheid van al God se skepsele nou ook betwyfel is. Geregtigheid het vereis dat tyd toegestaan moes word om hierdie geskille van universele belang te besleg.—Job 1:6-11; 2:1-5; kyk ook Lukas 22:31.
8. (a) In watter rampspoedige toestand bevind die mens homself nou? (b) Watter straal van hoop vind ons in Moses se lied?
8 Die rampspoedige toestand van die mensdom wat voortgespruit het uit hul verwerping van God se regverdige weë word deur Paulus in Romeine 8:22 opgesom. Daar het die apostel geskryf: “Ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe.” Baie van daardie ‘gesug’ en “barensnood” is te wyte aan die gebrek aan geregtigheid onder mense omdat “die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk” (Prediker 8:9). Maar ons kan die almagtige God dank dat hy nie gaan toelaat dat so ’n bespotting van die gereg onbepaald voortduur nie! Kyk in hierdie verband wat Moses verder in sy lied in Deuteronomium 32:40, 41 gesê het: “So waar as Ek ewig leef—as Ek [Jehovah] my glinsterende swaard skerp gemaak het en my hand na die strafgerig gryp, sal Ek wraak oefen op my teëstanders en my haters vergelde.”
9. Verduidelik hoe Jehovah se hand ‘na die strafgerig gegryp het’ toe die mens in opstand gekom het.
9 Jehovah se hand het destyds in Eden ‘na die strafgerig gegryp’. God het die mens tereg sonder versuim ter dood veroordeel omdat hy Sy gebooie moedswillig oortree het. Hy het vir Adam gesê: “Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). Eeue later het die apostel Paulus die verskriklike gevolge van Adam se sonde vir die hele mensegesin opgesom. Hy het geskryf: “Soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.”—Romeine 5:12.
10. Watter twee sade het sedert Adam se opstand ontwikkel, en hoe het Jehovah daarop gereageer?
10 Nadat die mens in opstand gekom het, het God ook gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt” (Genesis 3:15, 17-19). Die ontwikkeling van hierdie twee sade vind nou al 6 000 jaar lank plaas, en daar het altyd “vyandskap” tussen hulle bestaan. Maar ondanks al die veranderende tonele op aarde het Jehovah se regverdige weë nie verander nie. Deur sy profeet Maleagi sê hy: “Ek, die HERE, het nie verander nie” (Maleagi 3:6). Dit het verseker dat God se handelinge met die onvolmaakte en opstandige mensdom immer deur geregtigheid gekenmerk is. Jehovah het nie een keer van sy verhewe, regverdige beginsels afgewyk nie, maar het hulle laat strook met sy wonderlike eienskappe—wysheid, liefde en mag.
God kom die mens te hulp
11, 12. Hoe is Psalm 49 ’n goeie beskrywing van die mens se verknorsing?
11 Satan se goddelose invloed het die hele mensdom soos die tentakels van ’n reuseseekat omvou. O, hoe uiters noodsaaklik is dit dat mense bevry word, nie net van die doodsvonnis wat oor hulle hang nie, maar ook van die onregverdige stelsels van onvolmaakte menseheerskappy!
12 Die haglike verknorsing waarin die mens hom bevind sedert die doodsvonnis oor hom uitgespreek is, word goed beskryf in die volgende psalm van die seuns van Korag: “Hoor dit, alle volke, luister, alle bewoners van die wêreld, geringes sowel as aansienlikes, tesame ryk en arm! Niemand kan ooit ’n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie (want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend), dat hy vir ewig sou voortlewe, die vernietiging nie sou sien nie” (Psalm 49:2, 3, 8-10). Dit alles het gebeur omdat God geregtigheid toegepas het!
13, 14. (a) Wie alleen kon die mens red, en waarom is die persoon wat deur God gekies is so geskik? (b) Hoe het al God se beloftes in Jesus “Ja” geword?
13 Waar kon hulp dan vandaan kom? Wie kon die mens uit die mag van die dood red? Die psalm antwoord: “God sal my siel loskoop van die mag van die doderyk” (Psalm 49:16). Net God se groot liefde, wat in harmonie met Sy geregtigheid werksaam is, kon die mens uit “die mag van die doderyk” bevry. Ons vrae is verder beantwoord gedurende ’n nagtelike gesprek tussen Jesus en die versigtige Fariseër Nikodemus. Jesus het vir hom gesê: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Voordat God se Seun aarde toe gekom het, het hy saam met sy Vader in die hemel gewoon. In hierdie voormenslike bestaan is hy beskryf as iemand wie se ‘verlustiginge met die mensekinders was’ (Spreuke 8:31). Hoe gepas tog dat Jehovah hierdie besondere geesskepsel—Sy eniggebore Seun—gekies het om die mensdom vry te koop!
14 Paulus het aangaande Jesus gesê: “Hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja” (2 Korinthiërs 1:20). Een van hierdie beloftes wat deur die profeet Jesaja opgeteken is, word in Mattheüs 12:18, 21 (NW) gemeld, waar ons aangaande Jesus lees: “Kyk! My kneg wat ek uitverkies het, my geliefde, wat my siel goedgekeur het! Ek sal my gees op hom lê, en hy sal aan die nasies duidelik maak wat geregtigheid is. Voorwaar, op sy naam sal die nasies hoop.”—Kyk Jesaja 42:1-4.
15, 16. Hoe was dit vir Jesus moontlik om die “Ewige Vader” van Adam se afstammelinge te word?
15 Tydens Jesus se aardse bediening het hy duidelik gemaak dat mense van alle nasies uiteindelik op sy naam kon hoop en sodoende die voordele van God se geregtigheid kon geniet. Jesus het gesê: “Die Seun van die mens [het] nie gekom . . . om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie” (Mattheüs 20:28). God se volmaakte wet wat aan die nasie Israel gegee is, het gelui: “Siel vir siel” (Deuteronomium 19:21, NW). Nadat Jesus sy volmaakte lewe in die dood afgelê het en deur God se krag opgewek is om terug te keer hemel toe, was hy gevolglik in die posisie om Jehovah die waarde van sy volmaakte menselewe aan te bied in ruil vir Adam se lewensregte. Sodoende het Jesus “die laaste [of tweede] Adam” geword en kan hy nou die “Ewige Vader” van al Adam se gelowige afstammelinge wees.—1 Korinthiërs 15:45; Jesaja 9:5.
16 God se weg van redding deur middel van sy liefdevolle voorsiening—die losprysoffer van sy Seun, Jesus Christus—is dus ‘aan die nasies duidelik gemaak’. En dit word inderdaad deur goddelike geregtigheid gekenmerk. Hoe dankbaar moet ons tog wees dat God die manier voorsien het waarop ‘ons siel losgekoop kan word van die mag van die doderyk’!
Verdedig die losprys
17, 18. Watter vennootskap het C. T. Russell in die 1870‘s aangegaan, maar hoe het Barbour hom in 1878 verras?
17 Net soos die eerste-eeuse Christene verdedig Jehovah se Getuies in ons tyd nog altyd die leër oor die losprysoffer van Jesus Christus. Dit is interessant om te onthou dat die eerste president van die Wagtoring- genootskap, Charles Taze Russell, eens ’n mederedakteur en finansiële ondersteuner was van ’n godsdienstydskrif met die naam The Herald of the Morning. Daardie tydskrif is oorspronklik uitgegee deur ’n Adventis, N. H. Barbour van Rochester, New York, VSA. Russell was in sy twintigerjare, maar Barbour was veel ouer.
18 Die vennootskap het blykbaar goed gevlot tot 1878, toe Barbour onverwags ’n artikel gepubliseer het wat die losprysleer geloën het. In sy beskrywing van wat gebeur het, het Russell gesê: “Mnr. Barbour . . . het ’n artikel vir The Herald geskryf waarin hy die leër van die Versoening loën—loën dat die dood van Christus die Loskoopprys vir Adam en sy nageslag was. Hy het gesê dat die dood van ons Heer net so min vir die mens se sondes kon betaal as wat die daad om ’n speld deur die liggaam van ’n vlieg te steek sodat dit ly en sterf deur ’n aardse ouer as ’n regverdige vereffening vir die wangedrag van sy kind beskou sou word.”
19. (a) Wat was Russell se reaksie op Barbour se beskouing van die losprys? (b) Is Russell se wens aangaande Die Wagtoring verwesenlik?
19 Russell kon hom deur sy ouer vennoot laat lei het, maar hy het nie. ’n Polemiek is etlike maande lank in die tydskrif gevoer, met Barbour wat die losprys geloën en Russell wat ten gunste daarvan geskryf het. Uiteindelik het Russell alle bande met Barbour verbreek en begin om hierdie tydskrif uit te gee, wat destyds Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence genoem is. C. T. Russell het hom soos volg oor die nuwe tydskrif uitgedruk: “Dit was uit die staanspoor ’n besondere verdediger van die Losprys; en ons hoop dat dit, deur Gods genade, tot die einde toe so sal bly.” Is redakteur Russell se hoop verwesenlik? Beslis! Bladsy 2 van hierdie einste nommer sê ter verduideliking dat die tydskrif “geloof voor[staan] in die tans heersende Koning, Jesus Christus, wie se vergote bloed die weg vir die mensdom open om die ewige lewe te verkry”.
20. Watter vrae moet nog beantwoord word?
20 Ons het tot dusver in ons bespreking gesien hoe God se geregtigheid ’n middel vereis het om die mensdom te bevry van die veroordeling van sonde en die dood waaronder hulle gebuk gaan. Liefde het daardie middel voorsien. Maar vrae soos die volgende moet nog beantwoord word: Hoe word die voordele van Jesus Christus se losprysoffer beskikbaar gemaak? Hoe kan jy daarby baat vind, en hoe gou? Die volgende artikel voorsien antwoorde wat beslis jou vertroue sal versterk dat geregtigheid al God se weë kenmerk.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Hoe belangrik ag God geregtigheid?
◻ Waarom is daar soveel ongeregtigheid onder mense?
◻ Hoe het God voorsiening gemaak vir die mens se bevryding van die dood?
◻ In watter mate het Die Wagtoring die losprys verdedig?
[Prent op bladsy 20]
Moses spreek die woorde van sy lied op die vlaktes van Moab
[Prent op bladsy 23]
So lief het God die wêreld gehad dat hy sy eniggebore Seun gegee het