Geregtigheid binnekort vir alle nasies
“Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag, dat jy kan lewe en die land in besit kan neem wat die HERE jou God jou sal gee.”—DEUTERONOMIUM 16:20.
1. Wat was God se oorspronklike voorneme met die mens, en hoe alleenlik kon hy dit vervul?
JEHOVAH GOD se voorneme toe hy die man en vrou geskep het, was dat die aarde met volmaakte skepsele gevul moet word. Hulle almal sou hom loof en help om die aarde te onderwerp (Genesis 1:26-28). Aangesien die mens na God se beeld geskep is, het hy die eienskappe wysheid, geregtigheid, liefde en mag gehad. Alleenlik deur die gebalanseerde beoefening van hierdie eienskappe kon die mens ooit sy Skepper se voorneme met hom vervul.
2. Hoe belangrik was die najaging van geregtigheid vir die seuns van Israel?
2 Soos in die vorige artikel gemeld is, het die mens in opstand gekom teen die manier waarop God dinge doen en is hy ter dood veroordeel. Nou was dit weens onvolmaaktheid vir hom onmoontlik om God se oorspronklike voorneme met die mensdom uit te voer. Die mens se onvermoë om volmaakte geregtigheid aan die dag te lê, was ’n betekenisvolle faktor in hierdie mislukking. Geen wonder dan dat Moses die seuns van Israel herinner het nie: “Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag”! Hulle lewe en die vermoë om die Beloofde Land in besit te neem, het afgehang van hulle najaging van geregtigheid.—Deuteronomium 16:20.
’n Skadu van komende goeie dinge
3. Waarom is ’n ondersoek van Jehovah se handelinge met Israel vandag vir ons belangrik?
3 Jehovah se handelinge met die nasie Israel versterk ons vertroue dat hy ongetwyfeld sy geregtigheid aan al die nasies duidelik sal maak deur sy gekose Kneg, Jesus Christus. Die apostel Paulus verduidelik sake soos volg: “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê” (Romeine 15:4). Aangesien God ‘geregtigheid en reg liefhet’, het hy vereis dat die Israeliete hom in al hulle handelinge met mekaar navolg (Psalm 33:5). Ons kan dit duidelik sien as ons ’n paar van die 600 wette wat aan Israel gegee is, ondersoek.
4. Hoe is probleme in verband met burgerregte onder die Mosaïese Wet gehanteer?
4 Daar was geen probleme in verband met burgerregte as die Mosaïese Wet gevolg is nie. Aangaande ’n nie-Israeliet wat in die land kom woon het, sê Levitikus 19:34: “Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos ’n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself.” Watter regverdige en liefdevolle reëling tog! Daarbenewens is regters sowel as getuies vermaan: “Jy mag in ’n regsaak geen getuienis aflê agter die meerderheid aan om die reg te verdraai nie. Ook mag jy die geringe nie voortrek in sy regsaak nie” (Exodus 23:2, 3). Dink net daaraan—geregtigheid vir ryk sowel as arm!
5. Vergelyk strafregtelike wette onder die Mosaïese Wet met dié van vandag.
5 Die strafregtelike wette onder die Mosaïese Wet was ver verhewe bo die wette in die wetboeke van hedendaagse nasies. Die steler is byvoorbeeld nie opgesluit sodat hy ’n las geword het vir die hardwerkende mense wat die Wet gehoorsaam het nie. Hy moes werk en dubbel of meer betaal vir wat hy gesteel het. Die slagoffer het dus geen verlies gely nie. Gestel die steler het geweier om te werk en te betaal. In daardie geval is hy as ’n slaaf verkoop totdat vergoeding gedoen is. As hy steeds hardnekkig was, is hy om die lewe gebring. So het reg aan die slagoffer geskied, en dit was ’n sterk afskrikmiddel vir ander wat miskien wou steel (Exodus 22:1, 3, 4, 7; Deuteronomium 17:12). En aangesien die lewe in God se oë heilig is, is enige moordenaar doodgemaak. Dit het ’n goddelose, moorddadige persoon uit die nasie verwyder. Barmhartigheid is nietemin aan onopsetlike doodslaners betoon.—Numeri 35:9-15, 22-29, 33.
6. Tot watter gevolgtrekking kom ons as ons Israel se wette ondersoek?
6 Wie kan dan ontken dat geregtigheid al God se regterlike handelinge met die nasie Israel gekenmerk het? Met watter troos, watter hoop, word ons dus tog vervul wanneer ons peins oor hoe God se belofte in Jesaja 42:1 deur Christus Jesus ten uitvoer gebring gaan word! Daar word ons verseker: “Hy sal die reg [of, “geregtigheid”, NW] na die nasies uitbring.”
Geregtigheid gebalanseer met barmhartigheid
7. Beskryf Jehovah se barmhartige handelinge met Israel.
7 God se geregtigheid word gebalanseer met barmhartigheid. Dit is duidelik getoon toe die Israeliete teen God se regverdige weë in opstand begin kom het. Luister na Moses se beskrywing van Jehovah se barmhartige sorg vir hulle gedurende hulle 40 jaar in die woestyn: “Hy het hom gevind in ’n woestynland en in ’n woeste wêreld, vol gehuil van die wildernis; Hy het hom omring, op hom ag gegee, hom bewaak soos sy oogappel. Soos ’n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels—die HERE alleen het hom gelei” (Deuteronomium 32:10-12). Later, toe die nasie afvallig geword het, het Jehovah gepleit: “Bekeer julle tog van julle bose weë en julle bose werke.”—Sagaria 1:4a.
8, 9. (a) In watter mate het God barmhartige geregtigheid aan die Jode betoon? (b) Watter uiteindelike ramp het hulle oorval, maar wat kan gesê word van die manier waarop God met hulle gehandel het?
8 Jehovah se aanbod van barmhartigheid het op dowe ore geval. Deur die profeet Sagaria het God gesê: “Hulle het nie gehoor en na My nie geluister nie” (Sagaria 1:4b). God se barmhartige geregtigheid het hom dus beweeg om sy eniggebore Seun te stuur om hulle te help om na Hom terug te keer. Johannes die Doper het God se Seun voorgestel deur te sê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Johannes 1:29). Jesus het die Jode etlike jare lank onvermoeid God se regte weë geleer, tallose wonderwerke verrig en sodoende bewys dat hy die voorspelde Verlosser is (Lukas 24:27; Johannes 5:36). Maar die mense het nie geluister of geglo nie. Jesus is gevolglik beweeg om uit te roep: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ’n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!”—Mattheüs 23:37, 38.
9 God het die voltrekking van sy oordeel nog 37 jaar teruggehou, tot 70 G.J. Toe het hy die Romeine toegelaat om Jerusalem te vernietig en duisende Jode in gevangenskap weg te voer. Wie kan, wanneer ons Jehovah se lankmoedigheid en geduld oor ’n tydperk van talle eeue beskou, nie sien dat geregtigheid al sy handelinge met die huis van Israel gekenmerk het nie?
Geregtigheid vir alle nasies
10. Hoe is God se geregtigheid aan alle nasies betoon?
10 Na Israel se verwerping van Jesus het Jakobus gesê: “God [het] in die begin uitgesien . . . om ’n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem” (Handelinge 15:14). Hierdie “volk”, met inbegrip van die enkele Jode wat Jesus as die Messias aanvaar het, maak gesamentlik “die [geestelike] Israel van God” uit en bestaan uit 144 000 geesverwekte volgelinge van Christus Jesus (Galasiërs 6:16; Openbaring 7:1-8; 14:1-5). Die eerste onbesnede nie-Joodse gelowige was Cornelius. Toe Cornelius en sy huisgesin God se weg van redding aangeneem het, het Petrus gesê: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is” (Handelinge 10:34, 35). Paulus wei uit oor die geregtigheid van Jehovah se onpartydigheid wanneer hy sê: “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie, want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag [of, “saad”, NW] van Abraham en volgens die belofte erfgename.”—Galasiërs 3:28, 29.
11. Watter belofte is aan Abraham gedoen, en hoe sal dit vervul word?
11 Hier word ons herinner aan ’n wonderlike belofte wat Jehovah aan Abraham gedoen het. Danksy daardie aartsvader se gewilligheid om sy geliefde seun Isak te offer, het God vir hom gesê: “Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën . . . En in jou nageslag [of, “saad”, NW] sal al die nasies van die aarde geseën word” (Genesis 22:16-18). Hoe sal hierdie belofte vervul word? ‘Abraham se saad’, wat bestaan uit Jesus Christus en sy 144 000 gesalfde volgelinge wat tot die dood toe getrou bly, gaan duisend jaar lank uit die hemel oor die mensdom heers (Openbaring 2:10, 26; 20:6). Aangaande daardie geseënde tyd verseker Jehovah ons: “Tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde.” Waarom? Omdat “die heerskappy” van daardie Messiaanse Koninkryk ‘tot in ewigheid deur reg en geregtigheid versterk sal word’.—Jesaja 9:6.
12. In watter mate word seëninge van die Abrahamitiese verbond reeds geniet?
12 Maar dit is nie nodig om te wag totdat die Duisendjarige Heerskappy van Jesus Christus begin om die seëninge van die Abrahamitiese verbond te geniet nie. Hierdie seëninge word reeds ondervind deur “’n groot menigte” mense “uit alle nasies en stamme en volke en tale”. Deur simbolies ‘hul klere te was en hul klere wit te maak in die bloed van die Lam’, Jesus Christus, het hulle ’n regverdige posisie voor Jehovah verkry. Net soos Abraham het hulle Jehovah se vriende geword! Geregtigheid kenmerk inderdaad Jehovah se weg van redding vir miljoene uit alle nasies.—Openbaring 7:9, 14.
Reageer jy op God se regverdige weë?
13, 14. (a) Watter hartgrondige ondersoek moet ons almal doen? (b) Hoe kan ons ons dankbaarheid aan Jehovah betoon?
13 Is jou hart geraak en diep geroer deur God se weg van geregtigheid en liefde deurdat hy sy eniggebore Seun as ’n losprys vir jou gegee het? Stel jou voor hoe Abraham moes gevoel het toe Jehovah hom gevra het om sy seun, die een wat hy so liefgehad het, te offer! Maar God se gevoelens is veel dieper. Dink aan sy gevoelens toe sy dierbare Seun beledigings, die skeltaal van verbygangers en die verskriklike pyn van die folterpaal verduur het. Stel jou Jehovah se reaksie voor op Jesus se uitroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Mattheüs 27:39, 46). Geregtigheid het nietemin vereis dat Jehovah God sy Seun op so ’n wyse moes laat sterf sodat hy sy onkreukbaarheid ter verdediging van God se regverdigheid kon bewys. Daarbenewens het Jehovah ’n weg van redding vir ons geopen deur toe te laat dat sy Seun sterf.
14 Ons dankbaarheid teenoor Jehovah en sy Seun behoort ons dus beslis te beweeg om in die openbaar te erken: “Heil aan onse God . . . en aan die Lam!” (Openbaring 7:10). Deur aldus positief te reageer, toon ons ons geloof in Moses se woorde: “Al [Jehovah se] weë is geregtigheid” (Deuteronomium 32:4, NW). Hoe bly moet dit Jehovah en sy Seun tog maak as ons God se regverdige weë vir die mens se redding erken en dan najaag!
15. Wat beteken Jesus se woorde aan Nikodemus vir ons?
15 Is ons nie bly dat ons medegelowiges in die 1870‘s ’n ferm standpunt oor die geskil rakende die losprysoffer ingeneem het nie? Is ons nie bly dat ons vandag tot ’n organisasie behoort wat net so vasbeslote is om by God se regverdige en liefdevolle weg vir die mens se redding te bly nie? In daardie geval moet ons besondere aandag skenk aan wat Jesus vir Nikodemus gesê het: “God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie . . . Hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in [of, “in ooreenstemming met”, NW] God gedoen is.” As ons nie deur God veroordeel wil word nie, moet ons ons geloof in die Seun toon deur ‘werke in ooreenstemming met God’ te doen.—Johannes 3:17, 18, 21.
16. Hoe kan Jesus se dissipels die hemelse Vader verheerlik?
16 Jesus het gesê: “Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees. As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly” (Johannes 15:8, 10). Wat is sommige van hierdie gebooie? Een word aangetref in Johannes 13:34, 35, waar Jesus vir sy dissipels gesê het: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê . . . Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” Hierdie vrug, die liefde, is duidelik onder Jehovah se Getuies te sien. Jesus het ook beveel: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mattheüs 28:19). Doen jy persoonlik hierdie ‘werke in ooreenstemming met God’?
17. Watter resultaat toon dat die predikings- en onderrigtingswerk ’n blyk van Jehovah se geregtigheid is?
17 Die geregtigheid van Jehovah se weg deur toe te laat dat Jesus se volgelinge hierdie predikings- en onderrigtingswerk doen, is duidelik wanneer ons kyk wat Jehovah se Getuies in net een jaar bereik het. Gedurende 1988 is 239 268 nuwe dissipels gedoop! Verbly dit nie jou hart nie?
Die God van geregtigheid sal gou optree
18. Watter vrae kan geopper word met die oog op die vervolging van Jehovah se volk?
18 Die getuieniswerk is nie sonder teenstand uitgevoer nie. Jesus het vir sy volgelinge gesê: “As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg” (Johannes 15:20). Die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies getuig van die waarheid van daardie verklaring. Die Getuies het in die een land na die ander verbooie, gevangenisstraf, slae en selfs marteling verduur. Dit laat ons weer aan Habakuk se profetiese woorde dink: ‘Die wet verloor sy krag, en die reg kom nooit meer te voorskyn nie.’ Daarom kan selfs Jehovah se volk soms lus voel om te vra: ‘Waarom duld Jehovah die trouelose? Waarom swyg Hy wanneer die goddelose dié verslind wat regverdiger is as hy?’—Habakuk 1:4, 13.
19. Watter gelykenis het Jesus vertel om ons te help om dinge uit God se standpunt te sien?
19 Jesus het ’n gelykenis vertel wat ons help om sulke vrae te beantwoord en ons in staat stel om dinge uit God se standpunt te sien. In Lukas 17:22-37 het Jesus die gewelddadige toestande beskryf wat die einde van hierdie stelsel van dinge sou kenmerk. Hy het gesê dat dit ooreen sou kom met die toestande voor die Vloed in Noag se dag en die vernietiging van Sodom en Gomorra in die dae van Lot. Toe het Jesus, soos beskryf in Lukas 18:1-5, hom tot sy dissipels gewend en “aan hulle ’n gelykenis vertel met die oog daarop dat ’n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie”. Jesus het vertel van ’n baie behoeftige weduwee en van “’n regter” wat in ’n posisie was om in haar behoeftes te voorsien. Die weduwee het aanhou soebat: “Doen reg aan my teenoor my teëparty.” Weens haar volharding het die regter eindelik ‘aan haar reg gedoen’.
20. Watter les leër ons uit Jesus se gelykenis?
20 Wat is die les vir ons vandag? Jesus het ’n teenstelling tussen daardie onregverdige regter en Jehovah getref en gesê: “Hoor wat die onregverdige regter sê. Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen.”—Lukas 18:6-8a.
21. Hoe moet ons ons persoonlike probleme beskou en oplos?
21 Onthou altyd dat waar dit by ons persoonlike probleme kom, enige oënskynlike vertraging in ’n antwoord op ons versoeke nie te wyte is aan onwilligheid aan God se kant nie (2 Petrus 3:9). As ons soos daardie weduwee die een of ander soort vervolging of onreg verduur, kan ons geloof hê dat God sal toesien dat reg uiteindelik geskied. Hoe kan ons sulke geloof toon? Deur onophoudelik te bid en dan ons gebede op te volg deur met ’n getroue handelwyse vol te hou (Mattheüs 10:22; 1 Thessalonicense 5:17). Deur ons getrouheid sal ons bewys dat daar geloof op die aarde is, dat daar ware liefhebbers van geregtigheid is en dat ons een van hulle is.—Lukas 18:8b.
“Jubel, o nasies, oor sy volk”
22. Op watter triomfantlike noot het Moses sy lied afgesluit?
22 Moses het talle eeue gelede sy lied op hierdie triomfantlike noot afgesluit: “Jubel, o nasies, oor sy volk, want Hy sal die bloed van sy knegte wreek, en Hy sal wraak oefen op sy teëstanders en versoening doen vir sy land en sy volk” (Deuteronomium 32:43). Jehovah se dag van wraak kom immer nader. Hoe dankbaar is ons tog dat hy steeds geduld tesame met geregtigheid beoefen!
23. Watter gelukkige vooruitsig is daar vir diegene wat die vreugde van God se volk deel?
23 Die geleentheid is nog daar vir mense in alle nasies ‘om tot bekering te kom’, maar daar moet sonder versuim opgetree word. Petrus het gewaarsku: “Die dag van die HERE sal kom soos ’n dief” (2 Petrus 3:9, 10). God se geregtigheid vereis dat hierdie goddelose stelsel binnekort vernietig moet word. Mag ons, wanneer dit gebeur, bevind word onder diegene wat gunstig gereageer het op die verblydende uitroep: “Jubel, o nasies, oor sy volk.” Ja, mag ons onder die gelukkiges wees wat gesien het dat geregtigheid al God se wee kenmerk!
Hoe sal jy antwoord?
◻ Waarom behoort die Mosaïese Wet ons geloof in God se geregtigheid te versterk?
◻ Wat moet ons beweeg om gunstig op God se regverdige weë te reageer?
◻ Hoe kan Jehovah verheerlik word?
◻ Alleenlik waar kan ware vreugde vandag gevind word?
[Prent op bladsy 25]
“Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.”—Handelinge 10:34, 35
[Prent op bladsy 28]
God sal reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat tot hom roep