Die uur van God se oordeel het gekom
“Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom.”—OPENBARING 14:7.
1. Wat is party van die dinge wat in die eerste hoofstukke van Openbaring beskryf word?
DIE boek Openbaring bevat opwindende profesieë wat in ons dag vervul word. Die vorige artikel het party daarvan bespreek, waaronder die opening van ses simboliese seëls. Hierdie geopende seëls het die verwoestende rit van die vier ruiters van die Apokalips in hierdie “laaste dae” geopenbaar (2 Timotheüs 3:1; Openbaring 6:1-8). Hulle het ook inligting verskaf oor diegene wat saam met Christus in die hemel sal regeer en diegene wat “die groot verdrukking” sal oorlewe en vir ewig op aarde sal woon. Die ses seëls toon dat God se ‘bestemde tyd’ om oordeel te voltrek ‘naby is’.—Openbaring 1:3, vgl. NW; 7:4, 9-17.
2. Hoe gaan die sewe simboliese basuine van Openbaring hoofstuk 8 gebruik word?
2 Maar daar is nog een seël, die sewende. Openbaring 8:2 sê vir ons wat geopenbaar word wanneer dit oopgemaak word: “En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe basuine is aan hulle gegee.” Vers 6 sê: “En die sewe engele met die sewe basuine het hulle gereedgemaak om te blaas.” In Bybeltye is basuine gebruik om belangrike gebeurtenisse aan te kondig. Hierdie sewe basuinstote vestig eweneens in ons tyd die aandag op sake van lewensbelang. En hoewel engele op die basuine blaas, volg menslike Getuies op aarde dit op deur die lewensbelangrike nuus van elke basuinstoot alom bekend te maak.
Die betekenis van die basuinstote
3. Wat is die betekenis van die sewe basuinstote?
3 Hierdie basuinstote herinner ons aan die plae wat Jehovah oor eertydse Egipte gebring het. Daardie plae was blyke van Jehovah se oordeel teen daardie eerste wêreldmoondheid en sy valse godsdiens, maar het ook ontkoming vir God se volk moontlik gemaak. Die basuinstote van Openbaring is insgelyks hedendaagse plae, hierdie keer oor Satan se hele wêreld en sy valse godsdiens. Hulle is egter nie letterlike plae nie, maar teisterende boodskappe aangaande Jehovah se oordele. Hulle wys ook die weg van ontkoming vir God se volk aan.
4. Hoe is die sewe basuinstote in ons dag vervul?
4 Ooreenkomstig hierdie sewe basuinstote is kragtige resolusies teen Satan se wêreld by sewe spesiale jaarlikse byeenkomste van Jehovah se volk van 1922 tot 1928 aangeneem. Miljoene der miljoene eksemplare van die resolusies is versprei. Die uitbasuin van daardie verskroeiende boodskappe was egter nie net tot daardie jare beperk nie, maar het dwarsdeur die laaste dae voortgeduur. En vandag word dit met groter krag as ooit tevore uitgebasuin, aangesien miljoene lede van die “groot menigte” hulle stemme gevoeg het by die klein groepie gesalfdes wat na die Eerste Wêreldoorlog begin preek het (Openbaring 7:9). Hierdie miljoene verkondig nou jaar na jaar met groter krag en in toenemende getalle dat Satan se wêreld geheel en al gedoem is.
5. Wie is die “derde” van die wêreld wat eerste veroordeel word, en waarom?
5 In Openbaring 8:6-12 word daar op die eerste vier basuine geblaas. Hael, vuur en bloed word uitgegiet, met die gevolg dat “’n derde” van die wêreld verwoes word. Waarom word daar gesê dat “’n derde” die skuldige deel van die wêreld is wat eerste veroordeel word? Want hoewel Satan se hele stelsel laakbaar is in God se oë, is een deel laakbaarder as die res. Watter deel? Die deel wat die naam van Christus aangeneem het—die Christendom. En toe daar na die Eerste Wêreldoorlog begin is om God se oordeelsboodskappe teen haar te verkondig, het die ryk van die Christendom ongeveer ’n derde van die mensdom uitgemaak.
6. Waarom het Jehovah die Christendom aan vernietiging oorgelewer?
6 Die Christendom se godsdiens is die resultaat van die 1 900 jaar oue afval van die ware Christelike godsdiens wat deur Jesus en sy dissipels voorspel is (Mattheüs 13:24-30; Handelinge 20:29, 30). Die geestelikes van die Christendom doen hulle voor as leraars van die Christelike godsdiens, maar hulle leringe is ver verwyder van Bybelwaarheid, en hulle verdorwe handelinge doen God se naam voortdurend oneer aan. Hulle bloedskuld weens hulle ondersteuning van die oorloë van hierdie 20ste eeu is blootgelê. Die Christendom is deur en deur ’n deel van Satan se stelsel van dinge. Daarom ontvang sy kragtige, teisterende boodskappe van Jehovah wat toon dat sy hoegenaamd geen goddelike guns verdien nie. Jehovah het die Christendom se huis aan vernietiging oorgelewer net so seker as wat hy die Joodse huis van die eerste eeu daaraan oorgelewer het!—Mattheüs 23:38.
Verlewendig vir wêreldwye prediking
7, 8. (a) Wat openbaar die vyfde basuinstoot in Openbaring hoofstuk 9? (b) Wie word deur die sprinkane gesimboliseer?
7 In Openbaring 9:1 blaas die vyfde engel op sy basuin, en die visioen toon ’n ster wat op die aarde val. Hierdie ster het ’n sleutel in sy hand. Daarmee maak hy ’n put oop waarin ’n swerm sprinkane opgesluit was. Die ster is Jehovah se pas gekroonde hemelse Koning, Jesus Christus. Die sprinkane is God se knegte, wat vervolg en oënskynlik uit die weg geruim is toe hulle bestuurslede in 1918 in die tronk gegooi is. Maar Christus, nou in Koninkryksmag in die hemel, stel hulle vry sodat hulle hul wêreldwye openbare prediking kan hervat, tot groot ontsteltenis van die geestelikes wat saamgesweer het om hulle werk te beëindig.—Mattheüs 24:14.
8 Die sprinkane word as volg in Openbaring 9:7 beskryf: “En die voorkoms van die sprinkane was soos dié van perde wat vir die oorlog toegerus is, en op hulle koppe was iets soos krone wat net soos goud gelyk het, en hulle gesigte was soos die gesigte van mense.” Vers 10 voeg by: “En hulle het sterte gehad soos dié van skerpioene, en daar was angels in hulle sterte.” Hierdie sprinkane beeld gepas die verlewendigde oorblyfsel Koninkrykserfgename af wat sedert 1919 weer geestelik begin oorlog voer het. Met hernieude ywer het hulle God se pynigende oordeelsboodskappe verkondig, veral teen die verdorwe Christendom.
9, 10. (a) Wat openbaar die sesde basuinstoot? (b) Wie maak ook deel van die tienduisende kragtige perde uit?
9 Vervolgens blaas die sesde engel op sy basuin (Openbaring 9:13). Dit openbaar hoe leërs van perderuiters losgelaat word. Vers 16 se dat hulle getal “twee maal tienduisend maal tienduisend” is, wat op 200 miljoen te staan kom! En in verse 17 en 19 word hulle soos volg beskryf: “Die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan. . . . Hulle sterte is soos slange.” Hierdie leërs ruk op onder leiding van die Koning, Christus Jesus. En wat ’n skrikwekkende gesig is hulle tog nie!
10 Wat stel hierdie kragtige perde voor? Aangesien daar miljoene van hulle is, kan hulle nie net die gesalfde oorblyfsel wees van wie daar nou nog net ongeveer 8 800 op aarde oor is nie. Hierdie tienduisende perde moet die “groot menigte” van Openbaring hoofstuk 7 insluit, diegene met die hoop om vir ewig op die aarde te lewe. In die Bybel word die woord vir “tienduisend” dikwels gebruik om ’n baie groot, onbepaalde getal aan te dui. Hierdie simboliese perde sluit dus nie net die slinkende aantal gesalfdes in nie, maar ook die miljoene lede van die welsprekende “groot menigte” “ander skape” wat voortdurend toeneem en voortgaan met die openbare werk wat deur die sprinkaanagtige oorblyfsel begin is.—Johannes 10:16.
11. Waarom word daar gesê dat ‘die perde se mag in hulle bek is’, en hoe ‘rig hulle skade aan met hul sterte’?
11 Openbaring 9:19 sê: “[Die perde se] mag is in hulle bek”, en “[met hul sterte] rig hulle skade aan.” In watter sin is daar gesag in hulle bekke? In die sin dat God se knegte reeds dekades lank deur die Teokratiese Bedieningskool en ander vergaderinge geleer word om op gesaghebbende wyse sy oordeelsboodskappe mondeling bekend te maak. En hoe rig hulle skade met hulle sterte aan? Deurdat hulle duisendmiljoene Bybelse publikasies wêreldwyd versprei en sodoende pynigende boodskappe teen Satan se wêreld agtergelaat het. Vir hulle teenstanders lyk hierdie leërs van perderuiters inderdaad soos tienduisende maal tienduisende.
12. Waarmee moet die simboliese sprinkane en perde aanhou, en met watter gevolg?
12 Gevolglik moet die simboliese sprinkane en perde God se oordeelsboodskappe duideliker en harder bekend maak namate sy dag van wraak nader. Vir diegene met opregte harte is daardie boodskappe die beste nuus op aarde. Maar vir diegene wat Satan se wêreld verkies, is dit slegte nuus, want dit beteken dat hulle wêreld binnekort vernietig gaan word.
13. Wat behels die derde “wee” wat met die sewende basuinstoot verband hou, en hoe is dit ’n “wee”?
13 Die teisterende sprinkane en die leërs van perderuiters word beskryf as die eerste en tweede van drie goddelik bestemde “weë” (Openbaring 9:12; 11:14). Wat is die derde “wee”? In Openbaring 10:7 lees ons: “In die dae van die stem van die sewende engel . . . dan is die verborgenheid [“heilige geheim”, NW] van God volbring, soos Hy die blye tyding verkondig het aan sy diensknegte, die profete.” Hierdie heilige geheim behels die “saad” wat oorspronklik in Eden beloof is (Genesis 3:15). Daardie “saad” is ten eerste Jesus, maar dit sluit ook sy gesalfde metgeselle in wat saam met hom in die hemel sal regeer. Die heilige geheim het dus te doen met die hemelse Koninkryk van God. Hierdie Koninkryk sal die derde goddelik bestemde “wee” bring, want dit sal God se oordele teen Satan se wêreld met finaliteit voltrek.
Die Koninkryk word opgerig
14. Wat het die sewende basuinstoot van Openbaring 11:15 aangekondig?
14 Dan gebeur dit! Openbaring 11:15 sê: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here [Jehovah] geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.” Ja, daar word aangekondig dat God se Koninkryk in die hande van Christus in die jaar 1914 in die hemel opgerig is. En toe die oorblyfsel na die Eerste Wêreldoorlog verlewendig is, het hulle hierdie nuus bekend gemaak.
15. Watter gebeurtenis in 1922 het ’n nuwe golf van Koninkryksprediking meegebring?
15 In 1922, by ’n byeenkoms van Jehovah se knegte in Cedar Point, Ohio, VSA, het die duisende aanwesiges die opwindende aankondiging gehoor: “Dit is die dag der dae. Kyk, die Koning regeer! Julle is sy reklame-agente. Adverteer, adverteer, adverteer dus die Koning en sy koninkryk.” Dit het aanleiding gegee tot die groot golf van openbare Koninkryksprediking wat die oordele ingesluit het wat deur die sewe engele met hulle basuine aangekondig is. Vandag is daar ongeveer drie-en-’n-halfmiljoen knegte van Jehovah in meer as 57 000 gemeentes rondom die wêreld by hierdie aardwye Koninkryksprediking betrokke. Inderdaad tienduisende!
16. Watter verdere gebeurtenis rakende die hemel en aarde is in Openbaring hoofstuk 12 deur die sewende basuinstoot geopenbaar?
16 Maar die sewende engel het nog dinge om te openbaar. Openbaring 12:7 sê dat daar toe “oorlog in die hemel gekom” het. Vers 9 meld die volgende resultaat van Christus die Koning se optrede: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.” Vers 12 voeg by: “Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon.” Ja, die hemele is gereinig van Satan se invloed, ’n rede tot groot blydskap onder die getroue engele. Maar wat beteken dit vir die mensdom? Daardie selfde vers antwoord: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”
17. Waarom is dit gepas dat die wêreld se regerings in Openbaring hoofstuk 13 as ’n ‘wilde dier’ voorgestel word?
17 Openbaring 12:3 beskryf Satan as “n groot draak met sewe koppe en tien horings’, ’n monsteragtige gedierte wat op vernietiging uit is. Dit toon dat hy die ontwerper van die aardse politieke “dier” is wat in hoofstuk 13, verse 1 en 2, beskryf word. Daardie dier het ook sewe koppe en tien horings, in nabootsing van Satan. Vers 2 sê: “Die draak [Satan] het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag.” Dit is beslis gepas dat die politieke regerings as ’n wilde dier voorgestel word, want in hierdie 20ste eeu alleen is meer as honderdmiljoen mense in die oorloë van die nasies gedood.
18. Wat is die dier met twee horings wat in Openbaring 13:11 gemeld word, en hoe help sy optrede om hom te identifiseer?
18 Die volgende toneel in Openbaring 13 toon, soos vers 11 sê, ‘’n ander dier wat uit die aarde opkom, en hy het twee horings gehad net soos ’n lam en het gepraat soos ’n draak’. Hierdie dier met die twee horings is die Anglo-Amerikaanse politieke moondheid. Hy is soos ’n lam in die sin dat hy hom onskuldig voordoen, die mees verligte regeringsvorm. Maar hy praat soos ’n draak, soos Satan, en hy word “’n ander dier” genoem omdat sy regeringsoptrede dierlik is. Hy gebruik dwang en dreigemente en selfs geweld wanneer sy vorm van heerskappy nie aanvaar word nie. Hy staan nie onderdanigheid aan God se Koninkryk voor nie, maar eerder onderworpenheid aan Satan se wêreld. Dit is waarom vers 14 sê: “Hy verlei die bewoners van die aarde.”
19, 20. (a) Wat toon die onkreukbaarheid van Jehovah se knegte? (b) Hoe weet ons dat die gesalfde oorblyfsel beslis oor Satan se wêreld sal triomfeer?
19 Hierdie wêreld onder Satan se oorheersing is ’n moeilike woonplek vir diegene wat, ooreenkomstig Jesus se gebod aan ware Christene, geen deel daarvan is nie (Johannes 17:16). Die feit dat Jehovah se knegte in alle wêrelddele vandag hulle onkreukbaarheid handhaaf en eendragtig aanhou om Jehovah en sy regverdige weë te verheerlik, is dus ’n uitsonderlike blyk van sy krag en seën. Hulle doen dit ten spyte van hewige teenstand, vervolging en selfs die dood.
20 Veral die gesalfde oorblyfsel was teikens van Satan, omdat hulle medeheersers saam met Christus gaan wees. Maar Openbaring hoofstuk 14 toon dat hulle volle getal, 144 000, triomfantlik saam met Christus in Koninkryksmag versamel is. Hulle het hul Heer lojaal aangehang, want vers 4 sê: “Dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan”—en dit in weerwil van die wrede vervolging wat Satan oor hulle gebring het.
Die eerste ontvanger van God se oordele
21, 22. (a) Watter aankondigings doen die engele in Openbaring 14:7, 8? (b) Waarom kondig ’n engel godsdienstige Babilon se val aan terwyl sy steeds bestaan?
21 In Openbaring 14:7 roep ’n engel uit: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.” Wie ontvang eerste God se veroordeling? Vers 8 antwoord: “En ’n ander engel het gevolg en gesê: Geval, geval het Babilon die groot stad [“Babilon die Grote”, NW], omdat sy al die nasies laat drink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery.” Hier praat Openbaring vir die eerste maal, maar nie vir die laaste nie, van “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens.
22 Hoekom kondig die engel aan dat Babilon die Grote reeds geval het as godsdiens nog steeds invloed in verskeie dele van die aarde uitoefen? Wel, wat het in 539 v.G.J. gebeur toe eertydse Babilon geval het maar nie heeltemal vernietig is nie? Jehovah se gevange knegte het twee jaar later na hulle vaderland teruggekeer en ware aanbidding herstel! Die herstel van God se knegte tot die hernieude bedrywigheid en geestelike voorspoed wat in 1919 begin het, is eweneens duidelike bewys dat Babilon die Grote in 1919 uit Jehovah se oogpunt geval het. Hy het haar daar verdoem tot ’n latere uitwissing.
23. (a) Hoe word die weg vir Babilon die Grote se vernietiging gebaan? (b) Watter verdere profesieë sal in die volgende nommer van Die Wagtoring bespreek word?
23 As ’n voorspel tot haar naderende vernietiging bevind hedendaagse Babilon haar reeds diep in die moeilikheid. Haar korrupsie, growwe onsedelikheid, oneerlikheid en politieke inmenging is oral aan die kaak gestel. In die grootste deel van Europa gaan min mense vandag nog kerk toe. In talle sosialistiese lande word godsdiens as “die opium van die volk” beskou. Die hedendaagse Babilon het ook in skande verval in die oë van alle liefhebbers van God se Woord van waarheid. Sy wag dus nou as ‘t ware in die dodesel op haar verdiende teregstelling. Ja, “die bestemde tyd is naby” vir wêreldskokkende gebeurtenisse! En in die volgende nommer van Die Wagtoring sal verdere studieartikels die profesieë in Openbaring bespreek wat handel oor die naderende vernietiging van die godsdiens- “hoer” sowel as Satan se hele stelsel van dinge.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Wat beteken die sewe basuinstote wat in Openbaring hoofstuk 8 begin vir ons dag?
◻ Waarom word die Christendom eerste veroordeel?
◻ Hoe word die predikingswerk van die gesalfde oorblyfsel en die “groot menigte” in Openbaring hoofstuk 9 beskryf?
◻ Wat het die aankondiging in Openbaring 11:15 vir die hemel en die aarde beteken?
◻ Hoe het godsdienstige Babilon, ooreenkomstig die beskrywing in Openbaring 14:8, in 1919 geval, en wat beteken dit vir haar?