Babilon die Grote aangekla
TYDENS ’n reeks streekbyeenkomste wat in 1988-1989 dwarsdeur die wêreld gehou is, het miljoene getuies van Jehovah die resolusie aangeneem wat hulle afsku uitgespreek het van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens—waarvan die Christendom die vernaamste deel is. Sommige opregte persone vra dalk: Is daardie standpunt nie te sterk nie? Nee, glad nie! Wanneer ons sien hoe die profete van eertydse Israel die afgodediens van hulle tyd onomwonde veroordeel het en met watter sterk woorde Jesus die godsdiensgeveinsdheid van sy tyd aan die kaak gestel het, is ons as Jehovah se Getuies van mening dat hierdie standpunt allesins geregverdig is. Dit is selfs ’n opdrag van God.—Jesaja 24:1-6; Jeremia 7:16-20; Mattheüs 23:9-13, 27, 28, 37-39.
Op grond waarvan verafsku ons dan die gedrag van Babilon die Grote? Watter geskiedkundige bewys het ons van die godsdiens se versuim om die ware Soewereine Heer van die heelal, Jehovah, te eer?
Hedendaagse Babilon versmaai die Naam
Die Soewereine Heer van die heelal is nie anoniem nie. Hy het homself sowat 7 000 keer in die Bybel as Jehovah geïdentifiseer. Hy beskou sy naam as uiters belangrik. Die derde van die Tien Gebooie sê: “Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.” En Jesus het sy Vader se naam in die Onse Vader beklemtoon deur te sê: “Laat u Naam geheilig word.”—Exodus 20:7; Mattheüs 6:9.
Die Christendom het ’n ellendige rekord wat die verering van God se naam betref. Selfs die Engelse Statevertaling van 1611 gebruik die naam Jehovah, alleen en in samestellings, net sewe keer.a Ander vertalings het die naam heeltemal weggelaat. Die meeste godsdienste vereer dit nie. In plaas daarvan het hulle hulle “heilige” Drie-eenheid en, in sommige gevalle, Maria die sogenaamde Moeder van God bo die God van die Bybel verhef. Hulle het toegelaat dat Jehovah se kosbare naam so te sê in onbruik raak.b
Dit is prysenswaardig dat Islam een God erken, wat hulle ooreenkomstig hulle heilige boek, die Koran, Allah noem. Maar hulle gebruik nie sy naam, Jehovah, wat ten minste tweeduisend jaar voordat die Koran bestaan het in die Bybel geopenbaar is nie. Hindoes aanbid miljoene gode en godinne, maar Jehovah is nie onder hulle nie.
’n Vername oortreder ten opsigte van God se naam is Judaïsme. Die Jode het duisende jare lank beweer dat hulle God se naamvolk is, en tog het hulle God se regte naam vanweë hulle tradisie heeltemal in onbruik laat raak.
As getuies van die Soewereine Heer Jehovah moet ons derhalwe ons afkeer van Babilon die Grote se veronagsaming van God se heilige naam uitspreek.
Waarom ons Babiloniese leerstellings verafsku
Miljoene mense is al uitgebuit en in vrees gevange gehou as gevolg van die Babiloniese leerstelling dat die mens ’n onsterflike siel het. Valse godsdiens het van die ou tyd af vrees vir die moontlikheid dat die siel na die dood vir ewig in ’n helse vuur gepynig sat word, uitgebuit. ’n Subtieler verfyning van daardie leerstelling is die tydelike lyding in die vaevuur. Opregte mense betaal om Misse vir die oorledenes te laat opdra, maar weet nooit wanneer die betalings nie meer nodig is nie! Hierdie godslasterlike leerstellings het geen grondslag in die Bybel nie.—Vergelyk Jeremia 7:31.
Trouens, die Bybel leer dat die mens ’n lewende, sterflike siel is. Adam is nie vir sy ongehoorsaamheid tot ’n helse vuur of vaevuur veroordeel nie, maar is ter dood veroordeel. Eenvoudig gestel, “die loon van die sonde is die dood” (Romeine 6:23; Genesis 2:7, 17; 3:19). Die skriftuurlike hoop vir die dode berus nie op ’n onsterflike siel nie, maar eerder op God se belofte van ’n opstanding tot volmaakte lewe op ’n paradysaarde.—Johannes 5:28, 29; Openbaring 21:1-4.
Die “heilige” Drie-eenheid is nog ’n Babiloniese leerstelling. Hierdie leerstelling van drie persone in een God was nooit ’n deel van die geloof van die eertydse Hebreërs nie (Deuteronomium 5:6, 7; 6:4). Jesus, wat self ’n Jood was, het beslis nooit geglo of geleer dat hy die almagtige God is nie. Hy het nie beweer dat hy ’n deel van ’n triade is, soos Babiloniese leerstelling of dogma leer nie.—Markus 12:29; 13:32; Johannes 5:19, 30; 14:28; 20:17.
Ons verwerp derhalwe Babilon se godslasterlike leerstellings soos dit in die valse godsdienste van die wêreld geleer word. Ons aanbid die een ware God, Jehovah, deur sy Seun, wat “’n versoening” geword het, nie net vir die sondes van gesalfde Christene nie, maar ook vir die sondes van die hele mensewêreld.—1 Johannes 2:2.
Waarom ons godloënende filosofieë verwerp
Die Christendom se pouse en geestelikes betreur die toename in ateïsme, en talle gebruik dit om hulle steun aan regse politiek te regverdig. Maar ’n mens moet vra: Wie het die onregverdighede en ongelykhede verskoon wat hierdie toename in ateïsme, veral in die afgelope eeu, aangewakker het? Dit het by uitstek in die ryk van die Christendom plaasgevind. Die Russies-Ortodokse Kerk het byvoorbeeld met die tsare saamgewerk wat die volk wreed onderdruk het. Die gebrek aan egte Christenwaardes onder dié wat hulle as verteenwoordigers van God voorgedoen het, het bygedra tot die toestande wat ’n teelaarde vir ateïsme gevorm het.
Die Christendom se godsdienste het ook die Skepper-onterende evolusieleer, aangeneem. Hulle skryf die kompleksiteit en verskeidenheid van oor ’n miljoen lewensvorme aan die blinde natuurkragte toe. Hulle sê in werklikheid dat hierdie verskeidenheid deur ’n reeks voordelige toevalle ontstaan het. So ’n filosofie impliseer dat God oorbodig is en dat die mens teenoor niemand aanspreeklik is nie. Sedes word ’n saak van persoonlike keuse (Psalm 14:1). Een gevolg is dat daar nou jaarliks tienmiljoene aborsies is—in lande wat beweer dat hulle godsdienstig is!
Ons verwerp hierdie godloënende filosofieë en gebruike. Ons aanbid Jehovah, die een “wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel geskape het en wat daarin is, en die aarde en wat daarin is, en die see en wat daarin is”.—Openbaring 10:6; 19:6.
Waarom ons die vrug van Babilon die Grote verafsku
Die Christendom het versuim om ag te slaan op die waarskuwingsboodskappe aan die sewe gemeentes wat in Openbaring hoofstukke 2 en 3 uiteengesit word. Dit gee raad teen ’n sektegees, afgodediens en hoerery en teen louheid en versuim.
’n Besoek aan bykans enige plek van aanbidding sal toon hoeveel godsdienstige mense die skepsel bo die Skepper verhef het. Hoe so? Deur hulle verering van beelde en ikone en hulle aanbidding van “heiliges”, Madonnas en kruise.—Vergelyk Psalm 115:2-8; 2 Korinthiërs 5:7; 1 Johannes 5:21.
Dit is op hulle wat Paulus se woorde van toepassing is: “Omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik . . . het nie . . . Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van die verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.”—Romeine 1:21-23.
Waarom ons Babilon se onsedelikheid veroordeel
Gedurende die laaste 20 jaar is homoseksualiteit goedgekeur of verskoon as ’n alternatiewe lewenstyl. Miljoene homoseksuele probeer nie meer hulle lewenstyl wegsteek nie en loop nou op straat en spog met hulle “Gay Pride”. Hoe beskou God hulle homoseksualiteit?
Die Bybel het sowat 3 500 jaar gelede uitdruklik gesê: “Met ’n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ’n mens met ’n vrou het nie. Dit is ’n gruwel” (Levitikus 18:22). En Paulus het sowat 2 000 jaar gelede getoon dat God se standaarde nie verander het nie, deur te skryf: “Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang.”—Romeine 1:26, 27; 1 Korinthiërs 6:9, 10; 1 Timotheüs 1:10.
En tog is so baie van die geestelikes van die Christendom aktiewe homoseksuele dat hulle ’n kragtige homoseksuele pressiegroep in talle van die vername godsdienste tot stand kon bring. Hulle dring daarop aan dat hulle lewenstyl erken word en dat die predikerstatus aan hulle toegestaan word. ’n Goeie voorbeeld is Kanada se grootste Protestantse denominasie, die Verenigde Kerk van Kanada, wie se leiers op 24 Augustus 1988 met 205 stemme teen 160 ten gunste van die toelating van homoseksuele tot die bediening gestem het.
Waarom ons Babilon se geestelike prostitusie verafsku
Openbaring veroordeel Babilon se hoerery met “die konings van die aarde”, die politieke heersers daarvan. Die hoer word afgebeeld waar sy “op die baie waters sit”, wat “volke en menigtes en nasies en tale” voorstel (Openbaring 17:1, 2, 15). Vanweë haar intieme verhouding met die politieke heersers, het valse godsdiens deur die eeue heen openlik of onderlangs haar invloed gebruik om die gewone mense te onderdruk en uit te buit.
Voorbeelde van hierdie oorheersing is die konkordate, of ooreenkomste, wat die Vatikaan in hierdie twintigste eeu met Nazi- en Fascisteleiers onderteken het. Kerkinvloed oor die kuddes het gevolglik gelei tot algehele onderdanigheid aan genadelose leiers. In 1929 het die Vatikaan ’n konkordaat met Fascistediktator Benito Mussolini gesluit. Wat het in Duitsland gevolg? Duitse kardinaal Faulhaber, wat die volgende woorde aan Pius XI toegeskryf het, gee insig in die pous se denke oor Hitler: “Ek is bly; hy is die eerste staatsman wat opgekom het teen Bolsjewisme.” Faulhaber het later gesê: “My reis na Rome het bevestig wat ek al lank kon vermoed het. In Rome word Nasionaal-Sosialisme en Fascisme as die enigste bevryding van Kommunisme en Bolsjewisme beskou.”
Voor 1933 het Duitsland se Katolieke biskoppe die Nazi-filosofie teëgestaan. Maar soos Duitse skrywer Klaus Scholder in sy boek The Churches and the Third Reich sê, is die biskoppe deur die Vatikaan se ambassadeur in Duitsland, kardinaal Pacelli, beveel om hulle gesindheid teenoor Nasionaal-Sosialisme te verander. Wat het aanleiding gegee tot hierdie ommeswaai? Dit was die vooruitsig op die konkordaat tussen die Derde Ryk en die Vatikaan, wat op 20 Julie 1933 gesluit is.
Klaus Scholder berig: “Hitler het met die verkiesing en volkstemming van 12 November [1933] die vrugte van die Rykskonkordaat gepluk deur ’n verbasend groot getal stemme op hom te verenig, veral in oorwegend Katolieke kringe van die kieserskorps.”
Hoewel ’n paar Protestanteleiers hul teenstand teen die Nazi-oorname in 1933 bekendgemaak het, het hulle stemme spoedig vervaag in die rumoer van nasionalisme. Scholder verduidelik: “Die Protestantse kerk was klaarblyklik al hoe gewilliger om die vorige versigtigheid te laat vaar en nou uiteindelik deur die nasionale entoesiasme meegevoer te word. . . . Amptelike kerkverklarings wat die nuwe Ryk sonder voorbehoud gesteun het, is vir die eerste maal uitgereik.” Protestantisme het haarself in werklikheid aan Nazi-nasionalisme verkoop en, net soos die Katolieke Kerk, die dienares daarvan geword.
Die geskiedenis toon dat valse godsdiens deur die eeue heen met die invloedryke heersende elitegroepe omgegaan het en hulle aansien ten nadele van die gewone mense gesteun het. Die wêreld se godsdiensleiers, wat mag, eiendom en rykdom gretig nagejaag het, het nie die ‘geestesgesteldheid van Christus’ weerspieël nie. As Jehovah se Getuies verafsku ons sulke geestelike prostitusie.—Johannes 17:16; Romeine 15:5, NW; Openbaring 18:3.
Waarom ons Babilon se bloedskuld verfoei
In die boek Openbaring word Babilon die Grote van swaar bloedskuld beskuldig: “En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus . . . En die bloed van profete en heiliges is in haar gevind, en van almal wat op die aarde gedood is.”—Openbaring 17:6; 18:24.
Valse godsdiens se geskiedenis is vol haat en bloedvergieting, en die Christendom dra die grootste bloedskuld. Twee wêreldoorloë het in die ryk van sogenaamde Christennasies begin. “Christelike” politieke leiers het in 1914 en 1939 die toevlug tot wapens geneem, en dit het die seën van die geestelikes in al die strydende nasies gehad. The Columbia History of the World sê aangaande die Eerste Wêreldoorlog: “Die waarde van waarheid asook van die lewe het afgeneem, en daar was feitlik nie ’n enkele woord van protes gesê nie. Die bewaarders van God se Woord het die krygskoor gelei. Totale oorlog het totale haat tot gevolg gehad.” (Ons kursiveer.) Veldkapelane het hulle soldate met patriotiese ywer aangehits terwyl die jeugdiges van albei kante kanonvoer geword het. Dieselfde geskiedenisboek sê: “Die stelselmatige vergiftiging van manne se verstande met die een vlaag nasionalisme na die ander . . . het die soeke na vrede verder gedwarsboom.”
Valse godsdiens dwarsdeur die wêreld bring steeds haat voort terwyl konflikte woed tussen Jood en Moslem, Hindoe en Sikh, Katoliek en Protestant, Moslem en Hindoe, Boeddhis en Hindoe. Ja, valse godsdiens dra steeds by tot die bloedbad “van almal wat op die aarde gedood is”.—Openbaring 18:24.
In die lig van al die bewyse wat pas uiteengesit is, meen Jehovah se Getuies dat die byeenkomsresolusie van 1988 gepas en tydig is. Ons veroordeel valse godsdiens tereg as die bloedskuldige hoer, Babilon die Grote. Ons verkondig die enigste ware weg tot vrede en ware aanbidding aan die wêreld—dat hulle hul moet wend tot die Soewereine Heer van die heelal, Jehovah God, deur die Een wat hy na die aarde gestuur het, die Christus, of Messias, Jesus. Dit beteken dat hulle God se Koninkryk moet aanvaar as die regverdige, ewige regering, die enigste regering wat in die mensdom se behoeftes kan voorsien. En dit beteken ook dat dit nou die tyd is om die opdrag te gehoorsaam: “Gaan uit haar [Babilon die Grote] uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”—Openbaring 18:4; Daniël 2:44; Johannes 17:3.
[Voetnote]
b Kyk die brosjure met 32 bladsye “Laat u Naam geheilig word”—Watter naam?, uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, vir ’n breedvoerige bespreking van die belangrikheid en betekenis van God se naam.