Hoe Jehovah sy werk seën
JEHOVAH se Getuies het in onlangse dekades geweldig vinnig aangewas. In net die afgelope tien jaar het hulle van 42-600 gemeentes tot ’n totaal van 60 192 in 212 lande uitgebrei. Met die oog hierop het sommige al gevra: Hoe word die werk van die Getuies gefinansier? Die Wagtoringgenootskap beantwoord graag in hierdie artikel dié vraag, asook verwante vrae.
Hef Jehovah se Getuies tiendes?
Nee. In eertydse Israel moes daar onder die Mosaïese Wet tiendes gehef word om God se tempeldienaars, die Leviete en die priesters, te onderhou (Numeri 18:21, 24-29). Hulle het, behalwe sekere stede, geen stamgronde besit nie. Daarom was hulle van hierdie spesiale onderhoud afhanklik. Getroue Israeliete kon ook vrywillige bydraes gee vir spesiale projekte, soos die bou van die tabernakel en later, die tempel.—Exodus 25:1-8; 1 Kronieke 29:3-7.
Die Bybel deel ons egter mee dat Jesus met sy dood ‘die wet van gebooie wat in insettinge bestaan, tot niet gemaak het’ (Efesiërs 2:15; Kolossense 2:13, 14). Met ander woorde, die Wet was in God se oë nou nie meer bindend op Jode of Christene nie. Die tiendeheffing is derhalwe saam met ander dele van die Wet—soos gereelde offerandes by die tempel—nie langer op die gelowiges van toepassing nie.
Dit is liefde, nie ’n wet nie, wat Christene beweeg om te gee. Die apostel Paulus het die beginsel verduidelik toe hy ’n kollekte vir behoeftige Christene in Judea gereël het. Hy het gesê: “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief” (2 Korinthiërs 9:7). Jehovah se Getuies volg hierdie skriftuurlike metode van vrywillige gawes.
Maak julle gebruik van onthale, kollektekoevertjies, die omstuur van kollektelyste en dergelike maniere om geld in te samel?
Nee, want ware Christene gee sonder dat hulle gedwing word of gelok word met pryse wat hulle miskien kan wen. Godsdiensgroepe wat gebruik maak van bingo, basaars, loterye, karnavals, die verhuring van kerkbanke of die omstuur van kollekteborde openbaar dat hulle nie aan hulle mense geestelike voedsel voorsien nie, en gevolglik beweeg God se gees nie hulle lidmate om vryelik geld by te dra nie. Dieselfde kan gesê word van dié wat nog die uitgediende gebruik van tiendeheffing volg.—Mattheüs 10:8.
Hoe finansier julle projekte soos die bou van nuwe Koninkryksale en takkantore, asook die vergroting van julle fasiliteite by die wêreldhoofkwartier in Brooklyn en by Patterson, New York?
Jehovah stort sy heilige gees op sy Getuies uit, wat hulle in staat stel om “goed te doen, ryk te wees in voortreflike werke, vrygewig te wees, mededeelsaam, om vir hulle ’n voortreflike fondament vir die toekoms veilig as ’n skat weg te lê, sodat hulle die werklike lewe stewig kan vasgryp” (1 Timotheüs 6:18, 19, NW). Hierdie gees beweeg Jehovah se Getuies om die Koninkrykswerk op alle maniere te ondersteun.
In 1989 het 3 787 188 Getuies in 212 lande byvoorbeeld 835 426 538 uur daaraan bestee om God se Woord aan ander te leer. En hulle het 3 419 745 gereelde tuisbybelstudies met belangstellendes gehou. Alle onkoste wat hulle in hierdie werk gehad het, is deur die individue self gedra. Jehovah het hierdie liefdesdiens met ’n vermeerdering van 263-855 pasgedoopte Getuies beloon.
Net so ’n gees van vrygewigheid beweeg Getuies en belangstellendes om die werk geldelik te ondersteun. Hulle help nie net om die lopende onkoste van hulle plaaslike gemeente te delg nie, maar hulle ondersteun ook alle bouwerk wat gedoen moet word, soos wanneer hulle Koninkryksaal of Byeenkomssaal opgeknap of vergroot moet word of as daar ’n nuwe saal gebou moet word. Daar moet elke jaar vanweë die vinnige vermeerdering ’n groot aantal Koninkryksale gebou word, waarvan sommige selfs honderdduisende rande kos. Die plaaslike Getuies dra hierdie onkoste deur hulle vrywillige bydraes en arbeid.
Daarbenewens moes die drukkery- en kantoorgeriewe asook die woonkwartiere van die takke in baie lande vergroot word—of moes daar nuwes gebou word—om huisvesting te voorsien aan die vergrootte personeel en fasiliteite wat die uitbreidende organisasie nodig het. Dit word ook deur vrywillige bydraes en arbeid ondersteun, soos in die geval van die bou- en opknappingsprojekte in Brooklyn en in Patterson, New York. Waar moontlik, finansier plaaslike Getuies die bouwerk. In sommige gevalle reël die Wagtoringgenootskap dat takke hulp—geldelik asook in die vorm van geskoolde arbeid—van ander lande ontvang. Sodoende word daar “gelykheid” onder die leiding van die Genootskap verkry.—2 Korinthiërs 8:14.
Waarom bedryf julle nie hospitale of klinieke en neem deel aan noodlenigingswerk en ander maatskaplike dienste, soos baie kerkgroepe nie?
Wanneer hulle kan, tree Jehovah se Getuies gou op om hulp te verleen tydens noodtoestande in die naweë van ’n oorlog of ’n natuurramp. Trouens, hulle is gewoonlik onder die eerstes op die toneel met voedsel, klere en vrywilligers om met die herstelwerk te help. Maar Jehovah se Getuies bedryf nie hospitale of klinieke nie, net so min as wat hulle brandweerafdelings of polisiemagte in stand hou, wat ook daar is om lewe te beskerm.
Hulle is toegewyde bedienaars van die evangelie, en hulle opdrag is om die goeie nuus van God se Koninkryk oor die hele wêreld te preek en te leer tot ’n getuienis voor die einde kom (Mattheüs 24:14). Soos Jesus gesê het, is die oes groot en die arbeiders min. Dit sal onvergeeflik wees as hulle hierdie dringende werk nalaat ter wille van ander bedrywighede, al is dit hoe prysenswaardig.—Mattheüs 9:37, 38.
’n Aantal Getuies van Jehovah is toevallig dokters, verpleegsters en hospitaalwerkers. Maar hulle beskou hierdie werk as ondergeskik aan hulle vernaamste roeping, naamlik die Christelike bediening.
Maak enige van die Wagtoringgenootskap se ampsdraers of lede geld uit die grootskaalse drukwerk wat julle doen?
Beslis nie! Volgens die wet is die Genootskap ’n nie-winsgewende korporasie. Daar is geen aandeelhouers, geen dividende en nie eers salarisse nie. Al die bedienaars by die hoofkwartier, insluitende die Genootskap se president en direkteure, het ’n wetlike eed van armoede afgelê. Elkeen ontvang voedsel, huisvesting en die nodige mediese sorg, asook ’n klein geldelike terugbetaling vir onkoste wat hy gehad het. As ’n Getuie in belang van die Genootskap ’n reis onderneem, word sy reiskoste gewoonlik gedek.
Daarbenewens vra ons bedienaars nêrens in die wêreld geld om huwelike te voltrek of om doopdienste of begrafnisdienste waar te neem nie. En daar is geen toegangsgelde of kollektes by openbare toesprake of byeenkomste nie.
Hoe kry die plaaslike gemeentes bydraes om hulle onkoste te dek, aangesien julle nooit kollekteborde omstuur nie?
Daar is bydraebussies in die Koninkryksale sodat mense kan bydra soos hulle wil (2 Konings 12:9). Alle bydraes, hoe groot of hoe klein ook al, word op prys gestel (Markus 12:42-44). Die bedienaar wat vir die gemeenterekeninge sorg, lees een keer ’n maand ’n kort staat aan die gemeente voor wat hulle inlig oor die totale bydraes wat ontvang is, die uitgawes en die bydraes wat die gemeente aan die Wagtoringgenootskap gestuur het om die wêreldwye predikingswerk en ander projekte te ondersteun.
Wanneer mense hierdie reëling verstaan, staan dit hulle vry om by te dra as hulle wil, elkeen “na sy vermoë” (1 Korinthiërs 16:2, NAV). Dit is die gebruik in elkeen van die meer as 60 000 gemeentes wêreldwyd.
Tydens Pinkster het die eerste Christene alles in gemeenskap gehad. Doen Jehovah se Getuies dit ook?
Daar het ’n noodtoestand ná Pinkster 33 G.J. ontstaan toe Jode, wat van afgeleë plekke af gekom het en wat tot die Christelike geloof bekeer is, in Jerusalem aangebly het om verdere geestelike onderrigting te ontvang. Hulle het tydelike huisvesting en voedsel nodig gehad; gevolglik het plaaslike Christene vrywillig hulle eiendomme verkoop en die opbrengs in ’n gemeenskaplike fonds gestort om vir ’n verlengde tydperk van samesyn voorsiening te maak (Handelinge 2:1, 38-47; 4:32-37). Niemand is verplig om te verkoop of by te dra nie (Handelinge 5:1-4). Hierdie gemeenskap van goedere was nie kommunisme soos sommige dink nie. Dit was slegs ’n tydelike reëling. Toe die Christene na hulle huise toe teruggegaan het, het dit opgehou.
Leer julle dat die gee van materiële bydraes sonde kan versoen?
Hoegenaamd nie! Die Bybel sê: “Julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos.”—1 Petrus 1:18, 19.
Jehovah se Getuies glo in die losprysoffer van Jesus vir redding. Hulle gee nie vrywillige bydraes met die verwagting dat dit hulle redding sal bewerkstellig nie. Hulle besef nietemin dat aansienlike fondse nodig is om die goeie nuus van God se regverdige nuwe wêreld te verkondig (2 Petrus 3:13). En hulle beskou dit as ’n voorreg wat Jehovah hulle skenk om bydraes ter bevordering van hierdie verkondigingswerk te gee.
Toe hy ’n groot bydrae gegee het vir Jehovah se tempel wat sy seun Salomo sou bou, het koning Dawid gebid: “Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; . . . Want wie is ek tog, en wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige gawes te skenk? Want dit kom alles van U, en uit u hand het ons dit aan U gegee.”—1 Kronieke 29:11, 14.
Vandag voel Jehovah se Getuies en ander regskapenes net soos Dawid gevoel het. Hulle is bly omdat hulle die voorreg het om bydraes te gee ter ondersteuning van die werk wat tot lof van Jehovah gedoen word, en erken dat alles wat hulle aan sy diens skenk buitendien van hom af kom. Jehovah seën hierdie gees, en dít is hoe hy sy werk seën.
[Venster op bladsy 23]
HOE PARTY TOT DIE KONINKRYKSWERK BYDRA
◻ SKENKINGS: Vrywillige geldelike bydraes kan regstreeks aan die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, 25 Columbia Heights, Brooklyn, New York 11201, of aan die Genootskap se plaaslike takkantoor gestuur word. Eiendom, soos vaste eiendom asook juwele of ander kosbare artikels, kan ook geskenk word. ’n Kort briefie wat meld dat dit ’n onvoorwaardelike bydrae is, moet hierdie bydraes vergesel.
◻ REËLING VIR VOORWAARDELIKE SKENKINGS: Geld kan aan die Wagtoringgenootskap gegee word om in trust beheer te word, op voorwaarde dat dit aan die skenker terugbetaal sal word, indien hy dit nodig sou kry.
◻ VERSEKERING: Die Wagtoringgenootskap kan benoem word as die begunstigde van ’n lewensversekeringspolis of in ’n aftree-/pensioenskema. Die Genootskap moet van sulke reëlings in kennis gestel word.
◻ TESTAMENTE: Eiendom of geld kan deur ’n wettige testament aan die Wagtoringgenootskap bemaak word. ’n Kopie moet aan die Genootskap gestuur word. (In Suid-Afrika moet die testamente Jehovah se Getuies van Suid-Afrika as begunstigde benoem.)
Skryf aan die Tesourierskantoor, Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, Privaatsak 2067, Krugersdorp, 1740, of aan die Genootskap se plaaslike takkantoor, vir nadere inligting of raad oor sulke aangeleenthede.
[Prent op bladsy 24]
Deel van die Bybelopleidingsentrum van Jehovah se Getuies wat in Patterson, New York, in aanbou is
[Prente op bladsy 25]
Jehovah seën die bouwerk van sy volk wat vrywillig bydra