Waarom moet jy jou naaste liefhê?
DIE ewige lewe hang af van ons liefde vir God en ons naaste. Daardie punt is gestel tydens ’n gesprek wat byna 2 000 jaar gelede plaasgevind het.
’n Joodse man wat goed met die Mosaïese Wet vertroud was, het vir Jesus Christus gevra: “Wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” Jesus het geantwoord: “Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?” Die man het uit die Wet aangehaal en gesê: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.” “Jy het reg geantwoord”, het Jesus gesê. “Doen dit, en jy sal lewe.”—Lukas 10:25-28.
Daarop het die man Jesus gevra: “Wie is my naaste?” Pleks van ’n direkte antwoord te gee, het Jesus ’n gelykenis vertel van ’n Joodse man wat beroof, geslaan en half dood laat lê is. Daar het toe twee Jode aangekom—eers ’n priester en daarna ’n Leviet. Hulle het albei besef wat met hulle mede-Jood gebeur het, maar het niks gedoen om hom te help nie. Vervolgens het daar ’n Samaritaan aangekom. Hy het innig jammer vir die beseerde Jood gevoel, sy wonde verbind en hom na ’n herberg toe geneem en seker gemaak dat daar verder vir hom gesorg sou word.
Jesus het sy navraer gevra: “Wie dan van hierdie drie, dink jy, was die naaste van hom wat onder die rowers verval het?” Dit was ongetwyfeld die barmhartige Samaritaan. Jesus het dus getoon dat ware naasteliefde kragtiger as etniese grense is.—Lukas 10:29-37.
’n Gebrek aan naasteliefde
Vandag is daar al hoe meer vyandigheid tussen mense van verskillende etniese groepe. Onlangs het neo-Nazi’s in Duitsland byvoorbeeld ’n man op die grond neergegooi en met hulle swaar stewels op hom getrap en byna al sy ribbes gebreek. Toe het hulle drank met ’n hoë alkoholinhoud oor hom uitgegooi en hom aan die brand gesteek. Die man wat sterwend daar gelos is, is aangeval omdat hulle gedink het dat hy ’n Jood is. In ’n nieverwante voorval is ’n brandbom op ’n huis naby Hamburg gegooi en drie mense van Turkse oorsprong het doodgebrand—een van hulle ’n tienjarige dogtertjie.
In die Balkan en verder oos het etniese oorloë duisende lewens geëis. Ander het in botsings tussen mense van verskillende agtergronde in Bangladesj, Indië en Pakistan gesterf. En in Afrika het stam- en rassebotsings die lewe van nog ander geëis.
Sulke geweld ontstel die meeste mense, en hulle sal nooit enigiets doen om hulle naaste kwaad aan te doen nie. Trouens, etniese geweld is tydens groot betogings in Duitsland veroordeel. Tog sê The New Encyclopædia Britannica: “Lede van byna al die wêreld se kulture beskou hulle eie lewenswyse as verhewe bo dié van selfs nou verwante medemense.” Sulke beskouings beperk naasteliefde. Kan enigiets daaromtrent gedoen word, veral aangesien Jesus gesê het dat die lewe van liefde vir God en ons naaste afhang?
[Foto-erkenning op bladsy 2]
Cover: Jules Pelcog/Die Heilige Schrift
[Foto-erkenning op bladsy 3]
The Good Samaritan/The Doré Bible Illustrations/Dover Publications, Inc.