Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 9/15 bl. 4-6
  • Naasteliefde is moontlik

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Naasteliefde is moontlik
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jesus se goeie voorbeeld
  • God is geen aannemer van die persoon nie
  • Naasteliefde in werking
  • “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Waarom moet jy jou naaste liefhê?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Wat dit beteken om ons naaste lief te hê
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • ’n Samaritaan betoon naasteliefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 9/15 bl. 4-6

Naasteliefde is moontlik

JESUS CHRISTUS se gelykenis van die Samaritaan het getoon wat ware naasteliefde werklik beteken (Lukas 10:25-37). Jesus het ook geleer: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”—Mattheüs 22:37-39.

Vind jy dit moeilik om jou naaste van ’n ander etniese groep lief te hê, iets wat met baie mense die geval is? Dit is moontlik omdat jy van diskriminasie en ongeregtigheid gehoor of dit self ondervind het. Jy of jou geliefdes moes dalk al selfs wrede behandeling deur mense van ’n ander groep verduur.

Aangesien Jesus getoon het dat dit een van God se gebooie is om ons naaste lief te hê, moet dit moontlik wees om sulke sterk gevoelens te oorkom. Die sleutel daartoe is om mense te beskou soos God en Christus hulle beskou. In hierdie verband kan ons gerus die voorbeeld van Jesus en die vroeë Christene ondersoek.

Jesus se goeie voorbeeld

Die eerste-eeuse Jode het sterk gevoelens teen die Samaritane gekoester, ’n volk wat in ’n gebied tussen Judea en Galilea gewoon het. By een geleentheid het Joodse teenstanders Jesus minagtend gevra: “Sê ons nie met reg dat U ’n Samaritaan is en van die duiwel besete is nie?” (Johannes 8:48). Die anti-Samaritaanse gevoelens was so sterk dat sommige Jode die Samaritane selfs openlik in die sinagoges vervloek het en daagliks gebid het dat die Samaritane nie die ewige lewe moet ontvang nie.

Kennis van hierdie diepgewortelde haat het Jesus ongetwyfeld aangespoor om die gelykenis te vertel van die Samaritaan wat bewys het dat hy ’n ware naaste is deur die Joodse man te help wat deur die rowers geslaan is. Hoe kon Jesus geantwoord het toe die Joodse man wat met die Mosaïese Wet vertroud was, gevra het: “Wie is my naaste?” (Lukas 10:29). Wel, Jesus kon hom ’n direkte antwoord gegee het deur te sê: ‘Jou naaste is nie net jou mede-Jood nie, maar ook ander mense, selfs ’n Samaritaan.’ Die Jode sou dit egter moeilik gevind het om te aanvaar. Daarom het hy die gelykenis vertel van ’n Samaritaan wat aan ’n Jood barmhartigheid bewys het. Jesus het die Joodse luisteraars derhalwe gehelp om tot die gevolgtrekking te kom dat ware naasteliefde nie-Jode moet insluit.

Jesus het nie anti-Samaritaanse gevoelens gekoester nie. Toe hy by een geleentheid deur Samaria gereis het, het hy by ’n fontein gerus terwyl sy dissipels na die stad daar naby gegaan het om voedsel te koop. Toe ’n Samaritaanse vrou daar kom water skep het, het hy gesê: “Gee vir My water om te drink.” Aangesien die Jode niks met die Samaritane te doen gehad het nie, het sy gevra: “Hoe is dit dat U wat ’n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek ’n Samaritaanse vrou is?” Jesus het vir haar getuig en selfs openlik gesê dat hy die Messias is. Sy het gereageer deur na die stad toe te gaan en ander te roep om na hom te kom luister. Die gevolg? “Baie van die Samaritane uit daardie stad het in Hom geglo.” Wat ’n goeie resultaat omdat Jesus nie dieselfde gesindheid gehad het wat algemeen onder sy Joodse tydgenote voorgekom het nie!—Johannes 4:4-42.

God is geen aannemer van die persoon nie

God se voorneme was dat Jesus hoofsaaklik vir die Jode, “die verlore skape van die huis van Israel”, moes preek (Mattheüs 15:24). Sy vroeë volgelinge was dus van Joodse oorsprong. Maar net drie jaar ná die uitstorting van die heilige gees op Pinkster 33 G.J. het Jehovah dit duidelik gestel dat hy wou hê dat Joodse gelowiges die dissipelmaakwerk na die mense van die nasies, die nie-Jode, moes uitbrei.

Die idee om ’n Samaritaan soos jouself lief te hê, sou vir die Jode moeilik genoeg gewees het. Dit sou selfs moeiliker gewees het om naasteliefde aan onbesnede nie-Jode te betoon, mense wat minder met die Jode gemeen gehad het as die Samaritane. Waar The International Standard Bible Encyclopaedia oor die Jode se gesindheid teenoor die nie-Jode kommentaar lewer, sê dit: “Ons tref die uiterste weersin, veragting en haat in N[uwe] T[estamentiese] tye aan. Hulle [die nie-Jode] is as onrein beskou, en dit was onwettig om enige vriendskaplike betrekkinge met hulle te hê. Hulle was vyande van God en Sy volk, en hulle mag God nie leer ken het tensy hulle proseliete geword het nie, en selfs dan kon hulle nie, soos in antieke tye, ten volle in die broederskap opgeneem word nie. Die Jode was verbied om hulle raad te gee, en as hulle oor Goddelike dinge uitgevra het, moes hulle vervloek word.”

Hoewel baie hierdie beskouing gehuldig het, het Jehovah die apostel Petrus ’n visioen gegee waarin vir hom gesê is om ‘nie onheilig te ag wat God rein gemaak het nie’. God het hom toe na die huis van die nie-Jood Cornelius gerig. Petrus het vir Cornelius, sy gesin en ander nie-Jode van Christus vertel. Petrus het gesê: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.” Terwyl Petrus nog gepraat het, het die heilige gees oor die nuwe gelowiges gekom, wat toe gedoop is en die eerste nie-Joodse volgelinge van Christus geword het.—Handelinge, hoofstuk 10.

Joodse volgelinge het hierdie ontwikkeling aanvaar omdat hulle besef het dat Jesus se opdrag om ‘dissipels van al die nasies te maak’ nie net tot die Jode in alle lande beperk was nie, maar die nie-Jode ingesluit het (Mattheüs 28:19; Handelinge 11:18). Hulle het alle negatiewe gevoelens wat hulle moontlik jeens nie-Jode gekoester het, oorkom en ywerig ’n predikingskampanje gereël om dissipels onder die nasies te maak. Minder as 30 jaar later kon daar gesê word dat die goeie nuus “in die ganse mensdom onder die hemel” verkondig is.—Kolossense 1:23.

Die apostel Paulus, wat self ’n Christen met ’n Joodse agtergrond was, het die voortou met hierdie predikingswerk geneem. Voordat hy ’n volgeling van Christus geword het, was hy ’n ywerige lid van die godsdienssekte van die Fariseërs. Hulle het nie net op die nie-Jode neergesien nie, maar selfs op die gewone mense van hulle eie nasionaliteit (Lukas 18:11, 12). Maar Paulus het nie toegelaat dat daardie beskouing hom daarvan weerhou om naasteliefde teenoor ander te betoon nie. Hy het eerder “’n apostel van die heidene [nie-Jode]” geword, en sy lewe daaraan gewy om dissipels in al die lande om die Middellandse See te maak.—Romeine 11:13.

Tydens sy bediening is Paulus gestenig, geslaan en in die gevangenis opgesluit (Handelinge 14:19; 16:22, 23). Het hierdie slegte ondervindinge hom verbitterd laat raak en laat dink dat hy sy tyd onder sekere nasies en etniese groepe mors? Glad nie. Hy het geweet dat daar opregtes van hart onder die talle etniese groepe van sy dag versprei was.

Wanneer Paulus nie-Jode gevind het wat bereid was om God se weë te leer, het hy hulle liefgekry. Hy het byvoorbeeld aan die Thessalonicense geskryf: “Ons was vriendelik onder julle soos ’n pleegmoeder haar kinders koester. Terwyl ons so na julle verlang het, was dit ons aangenaam om aan julle nie alleen die evangelie van God mee te deel nie, maar ook ons eie lewe, omdat julle vir ons dierbaar geword het” (1 Thessalonicense 2:7, 8). Hierdie hartgrondige woorde toon dat Paulus die nie-Joodse Thessalonicense waarlik liefgehad het en nie toegelaat het dat enigiets die vreugde van ’n goeie verhouding met hulle bederf nie.

Naasteliefde in werking

Net soos in die eerste eeu kweek diegene wat vandag by die Christengemeente aansluit liefde aan vir mense van alle etniese groepe. Deur ’n Goddelike beskouing van ander te ontwikkel en die goeie nuus van die Koninkryk aan hulle bekend te maak, het ware Christene hulle begrip verbreed van mense wat hulle andersins moontlik nooit sou leer ken het nie. Hulle betoon selfs broederliefde teenoor hulle (Johannes 13:34, 35). Jy kan dit ook ondervind.

Sulke liefde bestaan onder Jehovah se Getuies, al word hulle in 229 lande aangetref en verteenwoordig hulle “alle nasies en stamme en volke en tale” (Openbaring 7:9). As ’n wêreldwye broederskap is hulle verenig in die aanbidding van Jehovah, in hulle weiering om aan enige etniese botsings en wedywering deel te neem en in hulle verwerping van vooroordele wat mense van hartlike verhoudings met hulle medemens beroof.

Assosieer met die Getuies, en jy sal sien hoe mense van alle etniese agtergronde God se wil doen. Jy sal naasteliefde in werking sien terwyl hulle die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig. Ja, en in hulle gemeentes sal jy vriendelike, opregte mense ontmoet wat deur hulle lewe toon dat hulle waarlik geleer het om hulle naaste lief te hê.

[Prent op bladsy 6]

In die gemeentes van Jehovah se Getuies sal jy gelukkige mense van alle rasse aantref

[Foto-erkenning op bladsy 4]

Arrival of the Good Samaritan at the Inn/The Doré Bible Illustrations/Dover Publications, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel