Job het volhard—Ons kan ook!
“Kyk! Ons noem dié wat volhard het gelukkig.”—JAKOBUS 5:11, NW.
1. Wat het een bejaarde Christen oor sy beproewinge gesê?
‘DIE Duiwel is op my spoor! Ek voel nes Job!’ Met hierdie woorde het A. H. Macmillan sy gevoelens teenoor ’n goeie vriend by die hoofkwartier van Jehovah se Getuies uitgespreek. Broer Macmillan het sy aardse loopbaan op 26 Augustus 1966 op die ouderdom van 89 voltooi. Hy het geweet dat erkenning vir die getroue diens van gesalfde Christene soos hy ‘saam met hulle gaan’ (Openbaring 14:13). Ja, hulle sou sonder onderbreking met Jehovah se diens voortgaan deur ’n opstanding tot onsterflike lewe in die hemel te ontvang. Broer Macmillan se vriende was verheug dat hy daardie beloning ontvang het. Gedurende sy laaste jare op aarde is hy egter deur verskillende beproewinge geteister, met inbegrip van gesondheidsprobleme wat hom besonder bewus gemaak het van Satan se pogings om hom te kry om sy onkreukbaarheid teenoor God prys te gee.
2, 3. Wie was Job?
2 Toe broer Macmillan gesê het dat hy net soos Job voel, het hy van ’n man gepraat wat groot toetse van sy geloof verduur het. Job het in “die land Us”, waarskynlik in noordelike Arabië, gewoon. Hy was ’n afstammeling van Noag se seun Sem en ’n aanbidder van Jehovah. Job se toetse het blykbaar plaasgevind iewers tussen die dood van Josef en die tyd toe Moses bewys het dat hy ’n regskape persoon is. Gedurende daardie tyd was daar niemand soos Job wat godvrugtige toegewydheid betref het nie. Jehovah het Job as ’n vroom, opregte en godvresende man beskou.—Job 1:1, 8.
3 As ‘die belangrikste man onder die mense in die ooste’ het Job baie dienaars gehad en 11 500 stuks vee. Maar geestelike rykdom was vir hom van die uiterste belang. Soos hedendaagse godvresende vaders het Job sy sewe seuns en drie dogters heel waarskynlik van Jehovah geleer. Selfs nadat hulle nie meer in sy huis gewoon het nie, het hy as gesinspriester opgetree deur offerandes ten behoewe van hulle te bring, net ingeval hulle gesondig het.—Job 1:2-5, vgl. NAV.
4. (a) Waarom moet vervolgde Christene oor die voorbeeld van die man Job nadink? (b) Watter vrae aangaande Job sal bespreek word?
4 Vervolgde Christene kan oor Job se voorbeeld nadink sodat hulle hulleself kan versterk om geduldig te volhard. “Kyk!” het die dissipel Jakobus geskryf. “Ons noem dié wat volhard het gelukkig. Julle het gehoor van die volharding van Job en het gesien hoe Jehovah dit laat afloop het, dat Jehovah baie teer in geneentheid en barmhartig is” (Jakobus 5:11, NW). Jesus se gesalfde volgelinge en die “groot menigte” van vandag moet, soos Job, volhard as hulle toetse van hulle geloof met welslae die hoof wil bied (Openbaring 7:1-9). Watter beproewinge het Job dan verduur? Waarom het hulle oor hom gekom? En hoe kan ons by sy ondervindinge baat vind?
’n Hewige geskil
5. Wat het in die hemel plaasgevind sonder dat Job daarvan geweet het?
5 Sonder dat Job daarvan geweet het, sou daar kort voor lank ’n groot geskil in die hemel geopper word. Op ’n dag ‘het die seuns van God gekom om hulle voor die HERE te stel’ (Job 1:6). God se eniggebore Seun, die Woord, was teenwoordig (Johannes 1:1-3). Die regverdige engele en die ongehoorsame ‘engeleseuns van God’ was ook daar (Genesis 6:1-3). Satan was daar, want hy sou eers ná die oprigting van die Koninkryk in 1914 uit die hemel gedryf word (Openbaring 12:1-12). Satan sou ’n hewige geskil in Job se dag opper. Hy het op die punt gestaan om die regmatigheid van Jehovah se soewereiniteit oor al Sy skepsele in twyfel te trek.
6. Wat het Satan probeer doen, en hoe het hy Jehovah gelaster?
6 “Waar kom jy vandaan?” het Jehovah gevra. Satan het geantwoord: “Van ’n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het” (Job 1:7). Hy het na iemand gesoek om te verslind (1 Petrus 5:8, 9). Deur knegte van Jehovah te kry om hulle onkreukbaarheid prys te gee, sou Satan probeer bewys dat niemand God ten volle uit liefde sou gehoorsaam nie. Jehovah het die geskil nie daar gelaat nie en vir Satan gevra: “Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ’n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad” (Job 1:8). Job het aan Goddelike standaarde voldoen wat met sy onvolmaakthede rekening gehou het (Psalm 103:10-14). Maar Satan het teëgekap: “Is dit verniet dat Job God vrees? Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land” (Job 1:9, 10). Die Duiwel het Jehovah dus gelaster deur te impliseer dat niemand Hom liefhet en aanbid vir wat Hy is nie, maar dat Hy skepsele omkoop om Hom te dien. Satan het beweer dat Job God om selfsugtige gewin dien en nie uit liefde nie.
Satan val aan!
7. Hoe het die Duiwel God uitgedaag, en wat was Jehovah se antwoord daarop?
7 “Maar”, het Satan gesê, “strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het—waarlik, hy sal U in u aangesig seën!” Wat sou God op so ’n beledigende aantyging antwoord? “Kyk”, het Jehovah gesê. “Alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie.” Die Duiwel het gesê dat al Job se besittings geseën, vermeerder en beskerm is. God sou toelaat dat Job ly, maar sy liggaam moes nie aangeraak word nie. Satan het die vergadering toe verlaat—vasbeslote om Job kwaad aan te doen.—Job 1:11, 12.
8. (a) Watter materiële verliese het Job gely? (b) Wat was die waarheid omtrent “die vuur van God”?
8 Kort daarna het die sataniese aanval begin. Een van Job se dienaars het hom hierdie slegte nuus gebring: “Terwyl die beeste aan ploeë was en die esels aan wei langs hulle, het die Sabeërs ’n inval gedoen en dit weggeroof, en hulle het die dienaars met die skerpte van die swaard verslaan” (Job 1:13-15). Die beskerming om Job se eiendom is weggeneem. Regstreekse demoniese mag is byna onmiddellik uitgeoefen, want ’n ander dienaar het berig: “Die vuur van God het van die hemel geval en gebrand onder die kleinvee en onder die dienaars, en dit het hulle verteer” (Job 1:16). Hoe diabolies was dit tog om dit te laat lyk of God daarvoor verantwoordelik was dat so ’n ramp sý kneg tref! Aangesien weerlig uit die hemel kom, kon Jehovah maklik geblameer word, maar die vuur was in werklikheid van demoniese oorsprong.
9. Watter uitwerking het dit op Job se verhouding met God gehad toe hy ekonomies geruïneer is?
9 Namate Satan die aanval voortgesit het, het ’n ander dienaar berig dat die Chaldeërs Job se kamele geroof en al die ander dienaars doodgemaak het (Job 1:17). Hoewel Job op hierdie manier ekonomies geruïneer is, het dit nie sy verhouding met God vernietig nie. Sou jy groot materiële verlies kon ly sonder om jou onkreukbaarheid teenoor Jehovah prys te gee?
’n Groter tragedie
10, 11. (a) Wat het met Job se tien kinders gebeur? (b) Hoe het Job Jehovah ná die tragiese dood van sy kinders beskou?
10 Die Duiwel was nog nie klaar met Job nie. ’n Ander dienaar het berig: “U seuns en u dogters was besig om te eet en wyn te drink in die huis van hulle oudste broer, toe daar meteens ’n groot wind oor die woestyn kom wat die huis aan die vier hoeke gryp; en dit het op die jongmense geval, sodat hulle gesterf het; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel” (Job 1:18, 19). Diegene wat verkeerd ingelig is, sê dalk dat die vernietiging wat deur daardie wind veroorsaak is ‘’n daad van God’ was. Maar demonemag het Job op ’n besonder teer plek getref.
11 Diep bedroef het Job ‘sy mantel geskeur, en sy hoof geskeer en in aanbidding op die grond geval’. Maar luister na sy woorde. “Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd!” Die verslag voeg by: “By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie” (Job 1:20-22). Satan het weer eens die onderspit gedelf. Gestel ons is bedroef weens die dood van ’n geliefde en ervaar smart as knegte van God? Onselfsugtige toegewydheid aan Jehovah en vertroue op hom kan ons help om net soos Job as handhawers van onkreukbaarheid te volhard. Die gesalfdes en hulle metgeselle wat ’n aardse hoop het, kan sekerlik vertroosting en krag uit hierdie verslag van Job se volharding put.
Die geskil raak hewiger
12, 13. Wat het Satan by ’n ander vergadering in die hemel geëis, en wat was God se antwoord?
12 Jehovah het weldra nog ’n vergadering in die hemelse hof byeengeroep. Job was nou ’n kinderlose, arm man wat oënskynlik deur God gestraf is, maar hy het steeds sy onkreukbaarheid gehandhaaf. Satan sou natuurlik nie erken dat sy aantygings teen God en Job vals was nie. Nou sou die “seuns van God” die argument en teenargument aanhoor terwyl Jehovah die Duiwel manipuleer sodat die geskil tot ’n beslissende botsing gevoer kon word.
13 Jehovah het rekenskap van Satan geëis en gevra: “Waar kom jy vandaan?” Die antwoord? “Van ’n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het.” Jehovah het weer eens die aandag gevestig op sy vroom, opregte en godvresende kneg Job, wat steeds sy onkreukbaarheid gehandhaaf het. Die Duiwel het geantwoord: “Huid vir huid, en alles wat iemand het, sal hy gee vir sy lewe; maar strek net u hand uit en tas sy gebeente en sy vlees aan—waarlik, hy sal U in u aangesig seën!” God het dus gesê: “Kyk, hy is in jou hand; spaar net sy lewe” (Job 2:2-6). Satan het daarop gesinspeel dat Jehovah Job nog in ’n mate beskerm en het gevra dat Job se gebeente en vlees aangetas word. Die Duiwel sou nie toegelaat word om Job dood te maak nie; maar Satan het geweet dat liggaamlike siekte hom baie pyn sou besorg en die indruk sou skep dat hy vanweë verborge sondes deur God gestraf word.
14. Waarmee het Satan Job getref, en waarom kon geen mens hom verligting bied nie?
14 Nadat Satan uit daardie vergadering verskoon is, het hy met bose genot tot die aanval oorgegaan. Hy het Job met “bose swere getref, van sy voetsool tot sy skedel”. Watter ellende het Job tog deurgemaak terwyl hy in die as gesit en homself met ’n potskerf gekrap het! (Job 2:7, 8). Geen mensegeneesheer kon hom verligting van hierdie verskriklik pynlike, weersinwekkende en vernederende beproewing bied nie, want dit is deur sataniese mag veroorsaak. Jehovah alleen kon Job genees. As jy ’n kneg van God is wat nie goeie gesondheid geniet nie, moet jy nooit vergeet dat God jou kan help om te volhard en jou die lewe in ’n wêreld vry van siekte kan gee nie.—Psalm 41:2-4; Jesaja 33:24.
15. Wat het Job se vrou hom aangespoor om te doen, en wat was sy reaksie?
15 Uiteindelik het Job se vrou vir hom gesê: “Hou jy nog vas aan jou onkreukbaarheid? Vervloek God en sterf!” (NW). “Onkreukbaarheid” dui op onberispelike toegewydheid, en sy het dit moontlik op sarkastiese wyse gesê om Job sover te kry om God te vervloek. Maar hy het geantwoord: “Soos ’n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie?” Selfs hierdie taktiek van Satan het nie gewerk nie, want daar word vir ons gesê: “By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie” (Job 2:9, 10). Gestel gesinslede wat ons teëstaan, sê dat ons dwaas is om ons af te sloof ter wille van Christelike strewes en hulle probeer ons oorreed om Jehovah God te versaak. Ons kan, soos Job, so ’n toets verduur omdat ons Jehovah liefhet en sy heilige naam wil loof.—Psalm 145:1, 2; Hebreërs 13:15.
Drie hooghartige bedrieërs
16. Wie het kwansuis gekom om Job te vertroos, maar hoe het Satan hulle gemanipuleer?
16 In wat toe al die tyd nog ’n sataniese plan was, het drie “vriende” kwansuis gekom om Job te troos. Die een was Elifas, waarskynlik ’n afstammeling van Abraham deur Esau. Aangesien Elifas eerste gepraat het, was hy waarskynlik die oudste. Bildad, ’n afstammeling van Suag, een van Abraham se seuns by Ketura, was ook teenwoordig. Die derde man was Sofar, wat ’n Naämatiet genoem is om sy familie of woonplek te identifiseer, moontlik in die noordweste van Arabië (Job 2:11; Genesis 25:1, 2; 36:4, 11). Soos diegene wat Jehovah se Getuies probeer oorreed om God vandag te versaak, is hierdie drietal deur Satan gemanipuleer in ’n poging om Job sover te kry om skuld op valse aanklagte te erken en sy onkreukbaarheid prys te gee.
17. Wat het die drietal gedoen wat Job besoek het, en wat het hulle sewe dae en sewe nagte nie gedoen nie?
17 Die drietal het ’n goeie vertoning van simpatie gelewer deur te huil, hulle klere te skeur en stof op hulle koppe te gooi. Maar toe het hulle sewe dae en sewe nagte by Job gesit sonder om een woord van vertroosting te uiter! (Job 2:12, 13; Lukas 18:10-14). Hierdie drie hooghartige bedrieërs het so ’n gebrek aan geestelikheid gehad dat hulle niks vertroostends oor Jehovah en sy beloftes kon sê nie. Tog het hulle verkeerde gevolgtrekkings gemaak en het hulle hulle gereed gemaak om dit teen Job te gebruik sodra hulle voldoen het aan die formalisme van die openbare vertoon van droefheid. Dit is interessant dat die jong man Elihu voor die sewe dae van stilte om was binne hoorafstand van hulle gaan sit het.
18. Waarom het Job vrede in die dood gesoek?
18 Job het die stilte uiteindelik verbreek. Nadat hy geen vertroosting uit die drietal se besoek geput het nie, het hy sy geboortedag vervloek en gewonder waarom sy lewe van ellende verleng word. Hy het vrede in die dood gesoek, omdat hy hom nie kon indink dat hy ooit weer ware vreugde sou ervaar voordat hy sterf nie, noudat hy brandarm, bedroef en ernstig siek was. Maar God sou nie toelaat dat Job sterf nie.—Job 3:1-26.
Job se beskuldigers val aan
19. In watter opsigte het Elifas Job valslik beskuldig?
19 Elifas het eerste gepraat in die drie rondtes van die debat wat Job se onkreukbaarheid verder getoets het. In sy eerste toespraak het Elifas gevra: “Waar is opregtes verdelg?” Hy het tot die slotsom gekom dat Job moes gesondig het om só deur God gestraf te word (Job, hoofstukke 4, 5). In sy tweede toespraak het Elifas Job se wysheid bespot en gevra: “Wat weet jy wat ons nie weet nie?” Elifas het daarop gesinspeel dat Job hom bo die Almagtige probeer stel. Hy het sy tweede aanval afgesluit deur Job te beskryf as iemand wat skuldig is aan afvalligheid, omkopery en bedrog (Job, hoofstuk 15). In sy laaste toespraak het Elifas Job valslik van baie misdade beskuldig—afpersing, die weerhouding van brood en water van die behoeftiges en die verdrukking van weduwees en wese.—Job, hoofstuk 22.
20. Wat was die aard van Bildad se aanvalle op Job?
20 Bildad het tweede aan die beurt gekom in elkeen van die drie rondtes van die debat en hy het gewoonlik gebly by die algemene tema wat Elifas gevolg het. Bildad se toesprake was korter maar bytender. Hy het selfs die beskuldiging gemaak dat Job se kinders gesondig het en dus verdien het om te sterf. Met ’n verkeerde redenasie het hy hierdie illustrasie gebruik: Soos biesies en riete opdroog en verdor sonder water, so gaan dit met “almal wat God vergeet”. Daardie stelling is waar, maar dit was nie op Job van toepassing nie (Job, hoofstuk 8). Bildad het Job se beproewinge geklassifiseer as dié wat oor die goddeloses kom (Job, hoofstuk 18). In sy kort toespraak het Bildad geargumenteer dat die mens “’n maaier” en “’n wurm” en gevolglik onrein voor God is.—Job, hoofstuk 25.
21. Waarvan het Sofar Job beskuldig?
21 Sofar het derde in die debat gepraat. Sy redenasie het oor die algemeen met dié van Elifas en Bildad ooreengestem. Sofar het Job van goddeloosheid beskuldig en het hom aangespoor om van sy sondige gewoontes af te sien (Job, hoofstukke 11, 20). Ná twee rondtes het Sofar niks verder gesê nie. Hy het niks gehad om by die derde rondte te voeg nie. Maar Job het sy beskuldigers die hele tyd moedig geantwoord. In een stadium het hy byvoorbeeld gesê: “Treurige vertroosters is julle almal. Kom daar nou ’n einde aan winderige woorde?”—Job 16:2, 3.
Ons kan volhard
22, 23. (a) Hoe kan die Duiwel dalk te werk gaan om ons, soos in Job se geval, sover te kry om ons onkreukbaarheid teenoor Jehovah God prys te gee? (b) Wat kan ons aangaande Job se gesindheid vra, hoewel hy verskillende toetse verduur het?
22 Ons het dalk soos Job met meer as een beproewing op ’n keer te kampe, en Satan gebruik dalk ontmoediging of ander faktore in sy poging om ons te kry om ons onkreukbaarheid prys te gee. Hy sal ons dalk sover probeer kry om teen Jehovah te draai as ons ekonomiese probleme ervaar. As ’n geliefde sterf of ons nie gesond is nie, kan Satan dit sy oogmerk maak om ons sover te kry om God daarvoor te blameer. Soos Job se vriende kan iemand ons selfs valslik beskuldig. Nes broer Macmillan getoon het, is Satan dalk ‘op ons spoor’, maar ons kan volhard.
23 Soos ons tot nou toe gesien het, het Job verskillende beproewinge verduur. Maar het hy net-net volhard? Het hy in werklikheid ’n gebroke gees gehad? Kom ons kyk of Job werklik alle hoop verloor het.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Watter groot geskil het Satan in Job se dag geopper?
◻ Hoe is Job tot die uiterste toe getoets?
◻ Waarvan het Job se drie “vriende” hom beskuldig?
◻ Hoe kan Satan ons, soos Job, sover probeer kry om ons onkreukbaarheid teenoor Jehovah prys te gee?
[Prent op bladsy 10]
A. H. Macmillan