Nou en vir ewig vreugdevol
“Verbly julle en wees vir ewig vreugdevol oor wat ek skep. Want kyk, ek skep Jerusalem as ’n rede tot vreugde en haar volk as ’n rede tot verblyding.”—JESAJA 65:18, NW.
1. Hoe het ware aanbidding individue deur die eeue heen geraak?
DEUR die eeue heen het tallose mense groot vreugde daaruit geput om die ware God, Jehovah, te dien. Dawid was maar een van die talle wat hom in ware aanbidding verlustig het. Die Bybel deel ons mee wat gebeur het toe die verbondsark na Jerusalem toe gebring is: “Dawid en die hele huis van Israel [het] dan die ark van die HERE met gejuig en basuingeklank opgehaal” (2 Samuel 6:15). Sulke vreugde om Jehovah te dien, is nie bloot iets wat tot die verlede behoort nie. Jy kan dit ook geniet. En jy kan binnekort selfs op nuwe maniere vreugde ondervind!
2. Wie is vandag by nog ’n vervulling van Jesaja hoofstuk 35 betrokke benewens die oorspronklike vervulling daarvan ten opsigte van die Joodse terugkerendes?
2 In die voorgaande artikel het ons die eerste vervulling ondersoek van die opwindende profesie wat in Jesaja hoofstuk 35 opgeteken staan. Ons kan dit tereg ’n herstellingsprofesie noem, want dit is wat dit vir die eertydse Jode geword het. Dit het ’n soortgelyke vervulling in ons tyd. Hoe so? Wel, sedert Pinkster 33 G.J. het Jehovah met geestelike Israeliete begin handel, waarvan Jesus se apostels en ander die eerstes was. Hulle is mense wat met God se heilige gees gesalf is, en hulle word ’n deel van wat die apostel Paulus “die Israel van God” noem (Galasiërs 6:16; Romeine 8:15-17). Onthou ook dat hierdie Christene in 1 Petrus 2:9 “’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit” genoem word. Petrus identifiseer vervolgens geestelike Israel se toewysing: “‘Julle [moet] die voortreflikhede alom bekend . . . maak’ van die een wat julle uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het.”
’n Vervulling in ons tyd
3, 4. Wat was die situasie toe Jesaja hoofstuk 34 in hedendaagse tye vervul is?
3 Daar was ’n tyd vroeg in hierdie eeu toe die oorblyfsel van geestelike Israel op aarde nie konsekwent besig was om so ’n boodskap te verkondig nie. Hulle het hulle nie ten volle in God se wonderbare lig verheug nie. Trouens, hulle was in groot duisternis. Wanneer was dit? En wat het Jehovah God daaromtrent gedoen?
4 Dit was gedurende die Eerste Wêreldoorlog, kort nadat God se Messiaanse Koninkryk in 1914 in die hemel opgerig is. Die nasies, met die steun van die geestelikes van die kerke in verskeie lande, het in gramskap teenoor mekaar ontvlam (Openbaring 11:17, 18). God was natuurlik net so gekant teen die afvallige Christendom met sy verhewe geestelikeklas as wat hy teen die hoogmoedige nasie van Edom was. Gevolglik sal die Christendom, die teenbeeldige Edom, die hedendaagse vervulling van Jesaja hoofstuk 34 ondervind. Hierdie vervulling deur middel van permanente uitwissing sal net so seker plaasvind as die eerste vervulling teen eertydse Edom.—Openbaring 18:4-8, 19-21.
5. Watter soort vervulling het Jesaja hoofstuk 35 in ons tyd gehad?
5 Wat van hoofstuk 35 van Jesaja se profesie en sy beklemtoning van vreugde? Dit is ook in ons tyd vervul. Hoe so? Dit is vervul met betrekking tot ’n herstelling van geestelike Israel uit ’n soort gevangenskap. Kom ons ondersoek die feite in wat in werklikheid onlangse teokratiese geskiedenis is en wat plaasgevind het gedurende die leeftyd van baie wat nog lewe.
6. Waarom kan daar gesê word dat die oorblyfsel van geestelike Israel in ’n toestand van gevangenskap gekom het?
6 Die oorblyfsel van geestelike Israel het vir ’n betreklik kort rukkie gedurende die Eerste Wêreldoorlog nie heeltemal rein gebly nie, en hulle het ook nie ten volle in ooreenstemming met God se wil opgetree nie. Party van hulle was met dwaalleringe besmet en het hulle posisie in gevaar gestel deur nie ’n duidelike standpunt vir Jehovah in te neem toe druk op hulle geplaas is om die strydende nasies te ondersteun nie. Gedurende daardie oorlogsjare het hulle verskillende vorme van vervolging ondergaan, en hulle Bybellektuur is selfs in baie plekke verbied. Uiteindelik is party van die vooraanstaande broers skuldig bevind en op valse aanklagte in die tronk gesit. As ’n mens terugkyk, is dit nie moeilik om te sien nie dat God se volk, in sekere sin, in ’n toestand van gevangenskap was, in plaas van vry te wees. (Vergelyk Johannes 8:31, 32.) Hulle het ’n ernstige gebrek aan geestelike insig gehad (Efesiërs 1:16-18). Hulle was betreklik stil wat lof aan God betref, en gevolglik was hulle geestelik onvrugbaar (Jesaja 32:3, 4; Romeine 14:11; Filippense 2:11). Sien jy hoe dit met die situasie van die eertydse Jode in gevangenskap in Babilon ooreenkom?
7, 8. Watter soort herstel het die hedendaagse oorblyfsel ondervind?
7 Maar sou God sy hedendaagse knegte in daardie toestand laat bly? Nee, hy was vasbeslote om hulle te herstel, in ooreenstemming met wat deur middel van Jesaja voorspel is. Hierdie selfde profesie in hoofstuk 35 het dus ’n duidelike vervulling in ons tyd met die herstel van die oorblyfsel van geestelike Israel tot voorspoed en gesondheid in ’n geestelike paradys. In Hebreërs 12:12 pas Paulus Jesaja 35:3 in figuurlike sin toe, wat bevestig dat ons gegronde rede het om ’n geestelike toepassing van hierdie deel van Jesaja se profesie te maak.
8 In die naoorlogse tydperk het die gesalfde oorblyfsel van geestelike Israel as ’t ware uit gevangenskap gekom. Jehovah God het Jesus Christus, die Grotere Kores, gebruik om hulle te bevry. Hierdie oorblyfsel kon derhalwe ’n herbouingswerk doen wat ooreenkom met die werk van die oorblyfsel van eertydse Jode, wat na hulle land teruggekeer het om die letterlike tempel in Jerusalem te herbou. Daarbenewens kon hierdie hedendaagse geestelike Israeliete begin om ’n geil geestelike paradys, ’n figuurlike tuin van Eden, te ontwikkel en voort te bring.
9. Hoe het iets soos wat in Jesaja 35:1, 2, 5-7 beskryf word in ons tyd ontwikkel?
9 Met die voorgaande in gedagte, kom ons beskou weer eens Jesaja hoofstuk 35 en kyk eerstens na verse 1 en 2. Wat na ’n dor land gelyk het, het werklik begin bloei en so vrugbaar soos die eertydse vlaktes van Saron geword. Kyk vervolgens na verse 5 tot 7. Die oorblyfsel, waarvan ’n aantal nog lewe en in Jehovah se diens bedrywig is, se oë van verstand is geopen. Hulle kon die betekenis van wat in 1914 en daarná gebeur het beter begryp. Dit het ook baie van ons geraak wat die “groot skare” uitmaak en wat nou sy aan sy met die oorblyfsel dien.—Openbaring 7:9.
Maak jy deel van die vervulling uit?
10, 11. (a) Hoe is jy by die vervulling van Jesaja 35:5-7 betrokke? (b) Hoe voel jy oor hierdie veranderinge?
10 Kyk byvoorbeeld na jouself. Het jy die Bybel gereeld gelees voor jy met Jehovah se Getuies begin omgaan het? As jy dit wel gedoen het, hoeveel het jy daarvan verstaan? Jy weet nou byvoorbeeld wat die waarheid omtrent die toestand van die dooies is. Jy kan waarskynlik vir iemand wat in die onderwerp belangstel na pertinente tekste in Genesis hoofstuk 2, Prediker hoofstuk 9 en Esegiël hoofstuk 18, asook baie ander gedeeltes, verwys. Ja, jy verstaan heel waarskynlik wat die Bybel oor baie onderwerpe of kwessies leer. Kortom, die Bybel maak vir jou sin, en jy kan ’n groot deel daarvan aan ander verduidelik, soos jy ongetwyfeld wel doen.
11 Dit sou egter goed wees as elkeen hom kan afvra: ‘Hoe het ek alles geleer wat ek omtrent Bybelwaarhede weet? Het ek ál die gedeeltes, wat so pas genoem is, gevind voor ek saam met Jehovah se volk gestudeer het? Het ek dit verstaan en die regte gevolgtrekkings oor die betekenis daarvan gemaak?’ Die eerlike antwoord op hierdie vrae is waarskynlik nee. Niemand moet aanstoot aan so ’n stelling neem nie, maar daar kan basies gesê word dat jy blind was wat hierdie tekste en hulle betekenis betref. Is dit nie waar nie? Hulle was daar in die Bybel, maar jy kon hulle nie sien of hulle betekenis verstaan nie. Hoe is jou oë dan geestelik geopen? Dit was deur middel van wat Jehovah gedoen het deur Jesaja 35:5 ten opsigte van die gesalfde oorblyfsel te vervul. Jou oë is later ook geopen. Jy is nie meer in geestelike duisternis nie. Jy kan sien.—Vergelyk Openbaring 3:17, 18.
12. (a) Waarom kan ons sê dat dit nie nou die tyd vir wonderdadige fisiese genesing is nie? (b) Hoe het die geval van broer F. W. Franz toegelig hoe Jesaja 35:5 in ons tyd vervul word?
12 Ywerige studente van die Bybel en van God se handelinge deur die eeue heen besef dat dit nie nou die tyd in die geskiedenis is vir fisiese wonderwerke van genesing nie (1 Korintiërs 13:8-10). Ons verwag dus nie dat Jesus Christus blinde oë moet open om te bewys dat hy die Messias, die Profeet van God, is nie (Johannes 9:1-7, 30-33). Ook stel hy nie al die dowes in staat om weer te hoor nie. Toe Frederick W. Franz, een van die gesalfdes en die voormalige president van die Wagtoringgenootskap, amper 100 jaar oud was, was hy byna blind en moes hy ’n gehoortoestel gebruik. Hy kon etlike jare al nie meer sien om te lees nie; maar wie sou ooit aan hom dink as blind of doof in die sin wat hier in Jesaja 35:5 bedoel word? Sy skerp geestelike insig was ’n seën vir God se volk regoor die aarde.
13. Watter verandering of herstelling het God se hedendaagse volk ondervind?
13 Of wat van jou tong? God se gesalfdes was dalk gedurende hulle geestelike gevangenskap stil. Maar toe God eers daardie toestand reggestel het, het hulle tonge begin jubel oor wat hulle van God se opgerigte Koninkryk en sy beloftes vir die toekoms geweet het. Hulle het jou moontlik gehelp om ook jou tong los te maak. Hoe dikwels het jy in die verlede met ander oor Bybelwaarhede gepraat? Miskien was daar ’n tyd toe jy gedink het: ‘Ek geniet dit om te studeer, maar ek sal nooit met vreemdelinge gaan praat nie.’ Maar is dit nie waar dat “die tong van die stomme” nou “jubel” nie?—Jesaja 35:6.
14, 15. Hoe wandel baie in ons tyd op “die heilige weg”?
14 Die eertydse Jode wat uit Babilon bevry is, het ’n lang reis terug na hulle tuisland toe gehad. Wat in ons tyd kom daarmee ooreen? Wel, kyk na Jesaja 35:8: “Dáár sal ’n grootpad wees en ’n weg wat die heilige weg genoem sal word; geen onreine sal daarop voorttrek nie.”
15 Sedert hulle bevryding uit geestelike gevangenskap het die gesalfde oorblyfsel, wat nou deur miljoene ander skape vergesel word, uit Babilon die Grote uitgegaan op ’n figuurlike grootpad, ’n rein, heilige weg wat ’n mens na ’n geestelike paradys lei. Ons doen alles in ons vermoë om aan die vereistes te voldoen om op hierdie heilige weg te kom en te bly. Dink aan jouself. Is jou sedelike standaarde en die beginsels wat jy naleef nie nou baie hoër as toe jy in die wêreld was nie? Wend jy nie ’n groter poging aan om jou denke en gedrag in ooreenstemming met God se standaarde te bring nie?—Romeine 8:12, 13; Efesiërs 4:22-24.
16. Watter toestande kan ons geniet terwyl ons op die heilige weg wandel?
16 Terwyl jy op hierdie heilige weg bly wandel, hoef jy jou eintlik nie oor dierlike mense te bekommer nie. In die wêreld moet jy weliswaar altyd op jou hoede wees dat hebsugtige of venynige mense jou nie in figuurlike sin verslind nie. Baie mense behandel ander wreedaardig. Hoe anders is dit tog onder God se volk! Daar is jy in ’n beskermde milieu. Jou mede-Christene is natuurlik nie volmaak nie; soms begaan iemand ’n fout of gee jou aanstoot. Maar jy weet dat jou broers nie daarop uit is om jou seer te maak of jou te verslind nie (Psalm 57:5; Esegiël 22:25; Lukas 20:45-47; Handelinge 20:29; 2 Korintiërs 11:19, 20; Galasiërs 5:15). Hulle toon eerder belangstelling in jou; hulle het jou gehelp en hulle wil saam met jou dien.
17, 18. In watter sin bestaan daar nou ’n paradys, en watter uitwerking het dit op ons?
17 Ons kan dus na Jesaja hoofstuk 35 kyk met die hedendaagse vervulling van verse 1 tot 8 in gedagte. Is dit nie duidelik dat ons gevind het wat tereg ’n geestelike paradys genoem kan word nie? Nee, dit is nie volmaak nie—nog nie. Maar dit is waarlik ’n paradys, want hier kan ons, soos vers 2 sê, reeds ‘die heerlikheid van Jehovah, die sieraad van ons God, sien’. En wat is die gevolg? Vers 10 sê: “Juis hulle wat deur Jehovah vrygekoop is, sal terugkeer en gewis met ’n vreugdegeroep na Sion kom; en verheuging tot onbepaalde tyd sal op hulle hoof wees. Hulle sal tot gejubel en verheuging kom, en droefheid en gesug moet wegvlug” (NW). Die feit dat ons uit valse godsdiens uitgekom het en ware aanbidding onder God se guns beoefen, verskaf ons waarlik vreugde.
18 Die vreugde wat met ware aanbidding verband hou, neem steeds toe, nie waar nie? ’n Mens sien hoe nuwelinge veranderinge aanbring en in Bybelwaarheid gevestig raak. Jy sien hoe jongmense grootword en geestelike vooruitgang in die gemeente maak. Daar is doopgeleenthede, waar jy sien hoe mense wat jy ken, gedoop word. Is dit nie redes om vandag vreugde, oorvloedige vreugde, te hê nie? Ja, watter vreugde verskaf dit ons tog nie wanneer ander by ons aansluit in ons geestelike vryheid en paradystoestande nie!
’n Toekomstige vervulling!
19. Met watter verblydende verwagting vervul Jesaja hoofstuk 35 ons?
19 Wat ons so ver in Jesaja hoofstuk 35 bespreek het, het betrekking op die eerste vervulling met die Jode se terugkeer en ook op die geestelike vervulling wat vandag plaasvind. Maar dit is nie al nie. Daar is nog baie meer. Dit hou verband met die Bybelse versekering van ’n komende herstelling van letterlike paradystoestande op die aarde.—Psalm 37:10, 11; Openbaring 21:4, 5.
20, 21. Waarom is dit logies en skriftuurlik om te glo dat daar ’n verdere vervulling van Jesaja hoofstuk 35 sal wees?
20 Dit sou nie konsekwent wees van Jehovah om sulke aanskoulike beskrywings van ’n paradys te gee en dan die vervullings tot geestelike dinge te beperk nie. Dit beteken natuurlik nie dat die geestelike vervullings van weinig belang is nie. Selfs as ’n letterlike paradys geskep is, sou ons dit nie kon geniet het as ons te midde van die pragtige natuurskoon en vreedsame diere deur geestelik verdorwe mense omring was nie, mense wat soos wrede diere optree. (Vergelyk Titus 1:12.) Ja, die geestelike vervulling moet eerste kom, want dit is die belangrikste.
21 Die komende Paradys is nietemin nie beperk tot die geestelike aspekte wat ons nou geniet en in die toekoms selfs meer sal geniet nie. Ons het goeie rede om ’n letterlike vervulling van profesieë soos Jesaja hoofstuk 35 te verwag. Waarom? Wel, in hoofstuk 65 het Jesaja “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” voorspel. Die apostel Petrus het daarna verwys toe hy beskryf het wat op die dag van Jehovah sal volg (Jesaja 65:17, 18; 2 Petrus 3:10-13). Petrus het aangedui dat die aspekte wat Jesaja beskryf het inderdaad sal bestaan wanneer die “nuwe aarde” ’n werklikheid word. Dit sluit beskrywings in waarmee jy moontlik vertroud is—dat huise gebou en bewoon sal word; dat wingerde geplant en die vrug daarvan geëet sal word; dat ’n mens die werk van jou hande lank sal geniet; dat ’n wolf en ’n lam saam sal wei en dat geen kwaad aardwyd sal plaasvind nie. Met ander woorde, ’n lang lewe, veilige huise, ’n oorvloed kos, bevredigende werk en vrede onder die diere en tussen die diere en die mense.
22, 23. Watter rede tot vreugde sal daar in die toekomstige vervulling van Jesaja hoofstuk 35 wees?
22 Vervul daardie vooruitsig jou nie met vreugde nie? Dit behoort, want dit is hoe God ons geskep het om te lewe (Genesis 2:7-9). Hoe hou dit dus verband met die profesie in Jesaja hoofstuk 35 wat ons besig is om te bespreek? Dit beteken dat ons verdere rede het om van vreugde uit te roep. Die letterlike woestyne en dor lande sal bloei, wat ons rede tot vreugde gee. Dan sal mense met blou of bruin oë, of watter ander pragtige kleur ook al, maar wat nou blind is, weer kan sien. Ons mede-Christene wat doof is, of selfs dié van ons wat hardhorend is, sal weer goed kan hoor. Wat ’n vreugde tog om daardie vermoë te gebruik om te hoor hoe God se Woord gelees en uitgelê word, asook om te luister na die pragtige geluide van die briesie in die bome, die gelag van ’n kind, ’n voël se lied!
23 Dit sal ook beteken dat die lammes, met inbegrip van dié wat deur gewrigsontsteking gepla word, sonder pyn sal rondbeweeg. Wat ’n verligting sal dit tog wees! Dan sal strome deur die wildernis vloei. Ons sal die golwing van die water sien sowel as die bruisende geluid daarvan hoor. Ons sal daar kan loop en aan die groen gras en biesies kan raak. Dit sal waarlik die herstelde Paradys wees. Wat van die vreugde om sonder vrees tussen leeus of ander soortgelyke diere rond te beweeg? Ons hoef dit nie eens te begin beskryf nie, want ons almal het ons al in dié toneel verlustig.
24. Waarom kan jy met die uitdrukking in Jesaja 35:10 saamstem?
24 Jesaja verseker ons: “Juis hulle wat deur Jehovah vrygekoop is, sal terugkeer en gewis met ’n vreugdegeroep na Sion kom; en verheuging tot onbepaalde tyd sal op hulle hoof wees.” Ons kan dus saamstem dat ons rede het om van vreugde uit te roep. Vreugde oor wat Jehovah reeds vir sy volk in ons geestelike paradys doen en vreugde oor wat ons kan verwag in die letterlike Paradys wat só naby is. Oor vreugdevolle persone—oor ons—skryf Jesaja: “Hulle sal tot gejubel en verheuging kom, en droefheid en gesug moet wegvlug.”—Jesaja 35:10, NW.
Het jy opgemerk?
◻ Watter tweede vervulling het Jesaja hoofstuk 35 gehad?
◻ Wat kom in geestelike sin ooreen met die wonderdadige veranderinge wat Jesaja voorspel het?
◻ Watter aandeel het jy aan die vervulling van hierdie profesie gehad?
◻ Waarom kan ons sê dat Jesaja hoofstuk 35 ons met hoop vir die toekoms vervul?
[Prent op bladsy 15]
Die Raymondstraat-gevangenis in Brooklyn, New York, waar sewe vooraanstaande broers in Junie 1918 gevange gehou is
[Prent op bladsy 16]
Hoewel broer Franz in sy latere jare byna blind was, het sy geestelike insig skerp gebly
[Prente op bladsy 17]
Geestelike groei en vooruitgang is redes tot vreugde