Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 3/15 bl. 15-20
  • Bied die uitdaging van lojaliteit die hoof

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bied die uitdaging van lojaliteit die hoof
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verdedig Jehovah
  • Lojaliteit teenoor Jehovah se organisasie
  • Lojaliteit teenoor lojale ouer manne
  • Lojaliteit in die huwelik
  • Hulp om lojaal te bly
  • Aanskou die lojales!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • “U alleen is lojaal”
    Kom nader aan Jehovah
  • Lojaliteit—Tot watter prys?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Aan wie moet jy lojaal wees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 3/15 bl. 15-20

Bied die uitdaging van lojaliteit die hoof

“[Beklee] julle met die nuwe persoonlikheid . . . wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is.”—EFESIËRS 4:24.

1. Waarom is ons lojaliteit aan Jehovah God verskuldig?

DAAR is baie fasette daaraan verbonde om die uitdaging van lojaliteit die hoof te bied. Die belangrikste faset is om die uitdaging van lojaliteit teenoor Jehovah God die hoof te bied. Met die oog op wie Jehovah is en wat hy vir ons gedoen het, en weens ons toewyding aan hom, is ons inderdaad lojaliteit aan hom verskuldig. Hoe openbaar ons lojaliteit teenoor Jehovah God? ’n Vername manier is deur lojaal teenoor Jehovah se regverdige beginsels te wees.

2, 3. Watter verband is daar tussen lojaliteit en regverdigheid?

2 Om daardie uitdaging die hoof te bied, moet ons op die woorde in 1 Petrus 1:15, 16 ag slaan: “Word, in ooreenstemming met die Heilige wat julle geroep het, self ook in julle hele gedrag heilig, want daar staan geskrywe: ‘Julle moet heilig wees, want ek is heilig.’” Lojaliteit teenoor Jehovah God sal daartoe lei dat ons hom te alle tye gehoorsaam en ons gedagtes, woorde en dade in ooreenstemming met sy heilige wil bring. Dit beteken dat ons ’n goeie gewete moet handhaaf, soos ons in 1 Timoteus 1:3-5 beveel word: “Die doel van hierdie opdrag is in werklikheid [nie om ’n ander leer te verkondig of aandag te skenk aan valse stories nie, maar] liefde uit ’n rein hart en uit ’n goeie gewete en uit geloof sonder huigelary.” Ons is weliswaar nie een volmaak nie, maar ons moet ons allerbeste probeer doen, nie waar nie?

3 Lojaliteit teenoor Jehovah sal verhoed dat ons op selfsugtige wyse regverdige beginsels prysgee. Trouens, lojaliteit sal verhoed dat ons innerlik iets anders is as wat ons uiterlik voorgee om te wees. Die psalmis het lojaliteit in gedagte gehad toe hy gesing het: “Leer my, HERE, u weg: ek sal in u waarheid wandel; verenig my hart tot die vrees van u Naam” (Psalm 86:11). Lojaliteit vereis wat al tereg beskryf is as “gehoorsaamheid aan die onafdwingbare”.

4, 5. Wat sal lojaliteit ons verhoed om te doen?

4 Lojaliteit teenoor Jehovah God sal ook verhoed dat ons enigiets doen wat sy naam en Koninkryk tot oneer sal strek. Daar het byvoorbeeld eenkeer soveel probleme tussen twee Christene ontstaan dat hulle hulle verkeerdelik tot ’n wêreldse geregshof gewend het. Die regter het gevra: ‘Is julle albei Getuies van Jehovah?’ Hy kon klaarblyklik nie verstaan waarom hulle in die hof was nie. Wat ’n skande was dit tog nie! Lojaliteit teenoor Jehovah God sou daardie broers gehelp het om op die raad van die apostel Paulus ag te slaan: “Ja, dit beteken dan geheel en al ’n nederlaag vir julle dat julle regsgedinge met mekaar het. Waarom laat julle julle nie liewer veronreg nie? Waarom laat julle julle nie liewer te kort doen nie?” (1 Korintiërs 6:7). Lojaliteit teenoor Jehovah God beteken beslis dat ons eerder persoonlike verlies ly as om Jehovah en sy organisasie oneer aan te doen.

5 Lojaliteit teenoor Jehovah God behels ook dat ons nie voor mensevrees swig nie. “Die vrees vir die mens span ’n strik; maar hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word” (Spreuke 29:25). Ons swig dus nie voor vervolging nie, maar ons volg die voorbeeld wat deur Jehovah se Getuies in die voormalige Sowjetunie, in Malawi, in Etiopië en in talle ander lande gestel is.

6. Met wie sal lojaliteit ons verhoed om te assosieer?

6 As ons lojaal teenoor Jehovah God is, sal ons dit vermy om met enigeen vriende te maak wat ’n vyand van hom is. Dit is waarom die dissipel Jakobus geskryf het: “Egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap met die wêreld vyandskap met God is nie? Elkeen dan wat ’n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ’n vyand van God” (Jakobus 4:4). Ons wil graag die lojaliteit hê waarvan koning Dawid getuig het toe hy gesê het: “HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ’n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met ’n volkome haat; vyande is hulle vir my!” (Psalm 139:21, 22). Ons wil nie met enige moedswillige sondaars omgaan nie, want ons het niks met hulle in gemeen nie. Sal lojaliteit teenoor God nie verhoed dat ons met enigeen van hierdie vyande van Jehovah assosieer nie, hetsy dit persoonlik is of deur middel van die televisie?

Verdedig Jehovah

7. Wat sal lojaliteit ons help om met betrekking tot Jehovah te doen, en hoe het Elihu dit gedoen?

7 Lojaliteit sal ons beweeg om Jehovah God te verdedig. Wat ’n goeie voorbeeld het Elihu tog gestel! Job 32:2, 3 sê vir ons: “Die toorn van Elihu . . . het ontvlam; teen Job het sy toorn ontvlam, omdat hy homself regverdig beskou het voor God. Sy toorn het ook ontvlam teen sý drie vriende, omdat hulle geen antwoord gevind het nie en [God] veroordeel het.” (Vergelyk NW.) In Job hoofstukke 32 tot en met 37 verdedig Elihu Jehovah. Hy het byvoorbeeld gesê: “Wag ’n bietjie op my, en ek sal u inlig; want daar is nog genoeg te sê tot eer van God. . . . Aan my Skepper [sal ek] reg verskaf. . . . Hy trek sy oë nie af van die regverdige nie.”—Job 36:2-7.

8. Waarom moet ons Jehovah verdedig?

8 Waarom is dit nodig om Jehovah te verdedig? Ons God Jehovah word vandag op tallose maniere gelaster. Daar word beweer dat hy nie bestaan nie, dat hy deel van ’n Drie-eenheid is, dat hy mense vir ewig in ’n brandende hel folter, dat hy ’n vergeefse poging aanwend om die wêreld te bekeer, dat hy nie oor die mensdom besorg is nie, ensovoorts. Ons toon ons lojaliteit teenoor Jehovah deur hom te verdedig en te bewys dat hy wel bestaan; dat hy ’n wyse, regverdige, almagtige en liefdevolle God is; dat hy ’n tyd vir alles het en dat hy op sy bestemde tyd alle boosheid tot ’n einde sal bring en van die hele aarde ’n paradys sal maak (Prediker 3:1). Dit vereis dat ons van elke geleentheid gebruik maak om van Jehovah se naam en Koninkryk te getuig.

Lojaliteit teenoor Jehovah se organisasie

9. Oor watter kwessies het party getoon dat hulle ’n gebrek aan lojaliteit het?

9 Nou kom ons by die kwessie van lojaliteit teenoor Jehovah se sigbare organisasie. Ons is beslis lojaliteit daaraan verskuldig, ook aan die “getroue en verstandige slaaf” waardeur die Christengemeente geestelik gevoed word (Matteus 24:45-47). Gestel iets verskyn in die Wagtoringpublikasies wat ons nie op die oomblik verstaan of mee saamstem nie. Wat sal ons doen? Aanstoot neem en die organisasie verlaat? Dit is wat party gedoen het toe Die Wagtoring baie jare gelede die nuwe verbond op die Millennium toegepas het. Ander het aanstoot geneem aan wat Die Wagtoring eenkeer oor die neutraliteitskwessie gesê het. As diegene wat hulle oor hierdie kwessies laat struikel het lojaal teenoor die organisasie en teenoor hulle broers was, sou hulle op Jehovah gewag het om hierdie kwessies op te klaar, wat hy wel op sy bestemde tyd gedoen het. Lojaliteit sluit dus in dat ons geduldig wag totdat verdere inligting deur die getroue en verstandige slaaf gepubliseer word.

10. As ons lojaal is, waaroor sal ons nie nuuskierig wees nie?

10 Lojaliteit teenoor Jehovah se sigbare organisasie beteken ook dat ons niks met afvalliges te doen moet hê nie. Lojale Christene sal nie nuuskierig wees oor wat sulke mense te sê het nie. Diegene wat deur Jehovah God gebruik word om sy werk op aarde te rig, is weliswaar nie volmaak nie. Maar wat sê God se Woord moet ons doen? Moet ons God se organisasie verlaat? Nee. Broederlike geneentheid moet ons lojaal teenoor die organisasie laat bly, en ons moet voortgaan om ‘mekaar intens lief te hê uit die hart’.—1 Petrus 1:22.

Lojaliteit teenoor lojale ouer manne

11. Teen watter negatiewe denke sal lojaliteit ons help waak?

11 Wanneer iets in die gemeente gesê of gedoen word wat ons moeilik vind om te verstaan, sal lojaliteit verhoed dat ons ander se beweegredes bevraagteken, en dit sal ons help om die standpunt in te neem dat dit moontlik ’n kwessie van opinie is. Is dit nie veel beter om eerder ons aandag op die goeie eienskappe van die aangestelde ouer manne en ander medegelowiges toe te spits as op hulle tekortkominge nie? Ja, ons wil teen sulke negatiewe denke waak, want dit hou verband met ontrouheid! Lojaliteit sal ons ook help om gehoorsaam te wees aan Paulus se opdrag “om van niemand kwaad te spreek nie”.—Titus 3:1, 2.

12, 13. Voor watter besondere uitdagings kom ouer manne te staan?

12 Lojaliteit skep besondere uitdagings vir ouer manne. Een van hierdie uitdagings is die kwessie van vertroulikheid. ’n Gemeentelid neem ’n ouer man dalk in sy vertroue. Lojaliteit teenoor daardie persoon sal verhoed dat die ouer man die beginsel van vertroulikheid skend. Hy sal ag slaan op die raad in Spreuke 25:9: “Openbaar ’n ander se geheim nie.” Dit beteken nie eens aan sy eie vrou nie!

13 Daar is ook ander toetse van lojaliteit wat ouer manne die hoof moet bied. Sal hulle mense probeer behaag, of sal hulle moedig en op sagmoedige wyse diegene help wat raad nodig het, selfs al is hulle familielede of goeie vriende? Lojaliteit teenoor Jehovah se organisasie sal diegene wat ouer manne is, beweeg om enigeen te probeer help wat geestelike hulp nodig het (Galasiërs 6:1, 2). Hoewel ons vriendelik sal wees, sal lojaliteit ons openhartig met ons mede- ouer man laat praat, net soos die apostel Paulus openhartig met die apostel Petrus gepraat het (Galasiërs 2:11-14). Aan die ander kant moet opsieners versigtig wees en nie onverstandig optree of partydigheid toon of op die een of ander manier hulle gesag misbruik sodat hulle dit vir diegene in hulle sorg moeilik maak om lojaal teenoor God se organisasie te wees nie.—Filippense 4:5.

14, 15. Watter faktore kan die lojaliteit van gemeentelede op die proef stel?

14 Daar is ander aspekte verbonde aan die uitdaging om lojaal teenoor die gemeente en sy ouer manne te wees. As daar ’n bietjie probleme in die gemeente is, bied dit ons die geleentheid om lojaliteit te toon teenoor Jehovah en teenoor diegene wat hom verteenwoordig. (Sien Die Wagtoring, 15 Junie 1987, bladsye 15-17.) Wanneer iemand uit die gemeente gesit word, vereis lojaliteit dat ons die ouer manne ondersteun en nie self probeer besluit of daar voldoende redes vir die optrede was nie.

15 Lojaliteit teenoor die gemeente vereis ook dat ons al vyf weeklikse vergaderinge ondersteun in die mate wat ons omstandighede en vermoë dit toelaat. Lojaliteit vereis nie net dat ons vergaderinge gereeld bywoon nie, maar dat ons ook daarvoor voorberei en opbouende kommentare lewer wanneer die geleentheid hom voordoen.—Hebreërs 10:24, 25.

Lojaliteit in die huwelik

16, 17. Voor watter uitdagings om lojaal te bly, kom getroude Christene te staan?

16 Aan wie nog is ons lojaliteit verskuldig? Indien ons getroud is, moet ons, in die lig van ons huweliksgeloftes, die uitdaging van lojaliteit teenoor ons huweliksmaat die hoof bied. Lojaliteit teenoor ons maat sal verhoed dat ons die fout begaan om vriendeliker teenoor ander vroue of mans te wees as wat ons teenoor ons eie vrou of man is. Lojaliteit teenoor ons maat vereis ook dat ons nie ons maat se swakhede of tekortkominge aan buitestanders sal bekend maak nie. Dit is makliker om by ander te kla as om jou in te span om die kommunikasiekanale tussen jou en jou huweliksmaat oop te hou, iets wat ons in ooreenstemming met die Gulde Reël behoort te doen (Matteus 7:12). Die huwelikstaat bied in werklikheid ’n ware uitdaging vir ons Christelike lojaliteit.

17 Om hierdie uitdaging van lojaliteit die hoof te bied, moet ons nie net sorg dat ons ons nie aan growwe wangedrag skuldig maak nie, maar ons moet ook let op ons gedagtes en gevoelens (Psalm 19:15 NW). As ons bedrieglike hart byvoorbeeld na plesier en opwinding smag, is dit vir ons so maklik om op selfsugtige wyse van bewondering na begeerte oor te gaan. Koning Salomo beveel lojaliteit in die huwelik aan deur mans op figuurlike wyse te vermaan om ‘water uit hulle eie reënbak te drink’ (Spreuke 5:15). En Jesus het gesê dat “elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (Matteus 5:28). Mans wat hulle verlustig in pornografie loop die gevaar om oorgehaal te word om egbreuk te pleeg, en sodoende hulle vrou te bedrieg en ontrou aan haar te wees. Op dieselfde wyse kan ’n vrou wat vasgevang word in die gees van strooisages waarin egbreuk gepleeg word in die versoeking kom om ontrou aan haar man te wees. Maar as ons waarlik lojaal teenoor ons huweliksmaat is, versterk ons die huweliksband, en help ons mekaar in ons pogings om Jehovah God te behaag.

Hulp om lojaal te bly

18. Watter besef sal ons help om lojaal te wees?

18 Wat sal ons help om die uitdaging van lojaliteit op hierdie vier gebiede die hoof te bied: lojaliteit teenoor Jehovah, teenoor sy organisasie, teenoor die gemeente en teenoor ons huweliksmaat? Een manier waarop ons gehelp word, is as ons besef dat die uitdaging van lojaliteit met die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit verband hou. Ja, deur lojaal te bly, toon ons dat ons Jehovah as die Universele Soewerein beskou. Ons kan sodoende ook selfrespek hê en die hoop om vir ewig in Jehovah se nuwe wêreld te lewe. Ons kan onsself help om lojaal te bly deur oor die goeie voorbeelde van lojaliteit na te dink, van Jehovah tot diegene wat in die Bybel en in ons Wagtoringpublikasies genoem word, asook in verslae in die jaarboek.

19. Watter rol speel geloof in ons lojaliteit?

19 Sterk geloof in Jehovah God en ’n vrees om hom te mishaag, sal ons help om die uitdaging van lojaliteit die hoof te bied. Ons versterk ons geloof in en vrees vir Jehovah deur ywerig God se Woord te bestudeer en aan die Christelike bediening deel te neem. Dit sal ons help om in ooreenstemming met Paulus se raad in Efesiërs 4:23, 24 op te tree: “Julle [moet] vernuwe . . . word in die krag wat julle verstand aandryf en julle met die nuwe persoonlikheid . . . beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is.”

20. Watter eienskap sal ons bowenal help om lojaal te wees teenoor Jehovah en teenoor alle ander mense aan wie ons lojaliteit verskuldig is?

20 ’n Waardering vir Jehovah se eienskappe help ons om lojaal te wees. As ons bowenal onselfsugtige liefde vir ons hemelse Vader het en dankbaar is vir alles wat hy vir ons gedoen het en ons hom met ons hele hart en siel en verstand en krag liefhet, sal dit ons help om lojaal teenoor hom te wees. As ons daarbenewens die liefde het wat Jesus gesê het sy volgelinge sou identifiseer, sal dit ons help om lojaal teenoor alle Christene in die gemeente en almal in ons gesin te wees. Met ander woorde, dit kom eintlik daarop neer of ons selfsugtig of onselfsugtig is. Ontrouheid beteken dat ons selfsugtig is. Lojaliteit beteken dat ons onselfsugtig is.—Markus 12:30, 31; Johannes 13:34, 35.

21. Hoe kan die uitdaging om lojaal te wees, opgesom word?

21 Ter opsomming: Lojaliteit is die uitstekende eienskap wat deur Jehovah God, deur Jesus Christus en deur al Jehovah se ware knegte geopenbaar word. Om ’n goeie verhouding met Jehovah God te hê, moet ons die uitdaging van lojaliteit teenoor hom die hoof bied deur aan sy regverdige vereistes te voldoen, deur niks met sy vyande te doen te hê nie en deur Jehovah in formele en informele getuieniswerk te verdedig. Ons moet ook die uitdaging die hoof bied om lojaal teenoor Jehovah se sigbare organisasie te wees. Ons moet lojaal teenoor ons gemeente en teenoor ons huweliksmaat wees. As ons die uitdaging van lojaliteit met welslae die hoof bied, sal ons ’n aandeel aan die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit hê en sal ons ons aan sy kant van die geskil skaar. Sodoende sal ons sy guns verkry en sal ons die ewige lewe as prys ontvang. Wat die apostel Paulus oor godvrugtige toegewydheid gesê het, geld ook as ons die uitdaging van lojaliteit die hoof bied. Dit is voordelig vir die teenswoordige en die toekomstige lewe.—Psalm 18:25, NW; 1 Timoteus 4:8.

Hoe sal jy antwoord?

◻ In watter opsigte kan ons die uitdaging van lojaliteit teenoor God die hoof bied?

◻ Wat vereis lojaliteit teenoor Jehovah se organisasie van ons?

◻ Hoe kan ouer manne die uitdaging van lojaliteit die hoof bied?

◻ Watter uitdaging in verband met lojaliteit moet getroude Christene die hoof bied?

◻ Watter eienskappe sal ons help om die uitdaging van lojaliteit die hoof te bied?

[Prent op bladsy 17]

Lojaliteit teenoor gemeentelede sal verhoed dat ouer manne oor vertroulike sake praat

[Prente op bladsy 18]

Lojaliteit teenoor ’n mens se huweliksmaat versterk die huweliksband

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel