Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 7/15 bl. 8-13
  • Behou deug in ’n verdorwe wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Behou deug in ’n verdorwe wêreld
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die verdorwe wêreld van die Romeine
  • Vandag se verdorwe wêreld
  • Verwerp die wêreld se verdorwenhede
  • Streef jy deug na?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Hoe ons deugsaamheid kan aankweek
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Hoe kan ons deug by ons geloof voeg?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Waarom het God oorlog gevoer teen die Kanaäniete?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 7/15 bl. 8-13

Behou deug in ’n verdorwe wêreld

“Hou aan om alles sonder murmurering en redekaweling te doen, sodat julle onberispelik en onskuldig kan word, kinders van God sonder ’n smet te midde van ’n krom en verdraaide geslag.”—FILIPPENSE 2:14, 15.

1, 2. Waarom het Jehovah die vernietiging van die Kanaäniete gelas?

JEHOVAH se bevel laat geen ruimte vir ’n kompromis nie. Die Israeliete het op die punt gestaan om die Beloofde Land in te gaan toe die profeet Moses vir hulle gesê het: “Jy moet hulle heeltemal met die banvloek tref: die Hetiete en Amoriete, die Kanaäniete en Feresiete, die Hewiete en Jebusiete, soos die HERE jou God jou beveel het.”—Deuteronomium 7:2; 20:17.

2 Waarom het Jehovah, in die lig van die feit dat hy ’n barmhartige God is, die vernietiging van Kanaän se inwoners geëis? (Exodus 34:6). Een rede was ‘sodat die Kanaäniete Israel nie leer om te handel volgens al die gruwels wat hulle vir hul gode gedoen het en dus teen Jehovah God sondig nie’ (Deuteronomium 20:18). Moses het ook gesê: “Weens die goddeloosheid van hierdie nasies verdryf die HERE hulle voor jou uit” (Deuteronomium 9:4). Die Kanaäniete was in werklikheid die beliggaming van verdorwenheid. Seksuele verdorwenheid en afgodediens was kenmerke van hulle aanbidding (Exodus 23:24; 34:12, 13; Numeri 33:52; Deuteronomium 7:5). Bloedskande, sodomie en bestialiteit was “die werke van die land Kanaän” (Levitikus 18:3-25). Onskuldige kinders is op wrede wyse aan valse gode geoffer (Deuteronomium 18:9-12). Geen wonder dat Jehovah die blote bestaan van hierdie nasies as ’n bedreiging vir die fisiese, sedelike en geestelike welstand van sy volk beskou het nie!—Exodus 34:14-16.

3. Wat was die gevolg omdat die Israeliete nie God se bevele aangaande Kanaän se inwoners ten volle uitgevoer het nie?

3 Omdat God se bevele nie ten volle uitgevoer is nie, het baie inwoners van Kanaän Israel se verowering van die Beloofde Land oorleef (Rigters 1:19-21). Mettertyd het die ondermynende invloed van die Kanaäniete op hulle begin inwerk en kon daar gesê word: “Hulle [die Israeliete] het [Jehovah se] insettinge en sy verbond verwerp wat Hy met hulle vaders gesluit het, en sy getuienisse waarmee Hy hulle gewaarsku het, en agter nietige afgode aan geloop en self nietig geword, en agter die nasies aan wat rondom hulle was, van wie die HERE hulle beveel het om nie soos hulle te maak nie” (2 Konings 17:15). Ja, deur die jare het baie Israeliete juis daardie verdorwenhede beoefen wat die rede was waarom God die vernietiging van die Kanaäniete gelas het—afgodediens, seksuele oordadighede en selfs kinderofferandes!—Rigters 10:6; 2 Konings 17:17; Jeremia 13:27.

4, 5. (a) Wat het met ontroue Israel en Juda gebeur? (b) Watter vermaning word in Filippense 2:14, 15 gegee, en watter vrae ontstaan?

4 Die profeet Hosea het derhalwe gesê: “Hoor die woord van die HERE, o kinders van Israel! Want die HERE het ’n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie. Hulle sweer en lieg en moor en steel en pleeg owerspel; hulle breek in, sodat bloedbad aan bloedbad raak. Daarom treur die land, en alles wat daarop woon, kwyn weg: die wilde diere van die veld en die voëls van die hemel, ja, ook die visse van die see kom om” (Hosea 4:1-3). In 740 v.G.J. het Assirië die verdorwe noordelike koninkryk van Israel verslaan. Ietwat meer as ’n eeu later het Babilon die ontroue suidelike koninkryk van Juda verower.

5 Hierdie gebeure lig toe hoe gevaarlik dit kan wees om toe te laat dat ons deur verdorwenheid beïnvloed word. God verag onregverdigheid en sal dit nie duld onder sy volk nie (1 Petrus 1:14-16). Ons lewe weliswaar in “die teenswoordige goddelose stelsel van dinge”, in ’n wêreld wat al hoe meer verdorwe raak (Galasiërs 1:4; 2 Timoteus 3:13). God se Woord vermaan nietemin alle Christene om aan te hou om op so ’n wyse te handel dat hulle “onberispelik en onskuldig [is], kinders van God sonder ’n smet te midde van ’n krom en verdraaide geslag, onder wie [hulle] as ligte in die wêreld skyn” (Filippense 2:14, 15). Maar hoe kan ons deug in ’n verdorwe wêreld behou? Is dit werklik moontlik om dit te doen?

Die verdorwe wêreld van die Romeine

6. Waarom was dit vir die eerste-eeuse Christene ’n uitdaging om deug te behou?

6 Dit was vir die eerste-eeuse Christene ’n uitdaging om deug te behou, want elke faset van die Romeinse samelewing was deurtrek van verdorwenheid. Die Romeinse filosoof Seneka het van sy tydgenote gesê: “Mense probeer geweldig hard om mekaar in boosheid te oortref. Elke dag word die begeerte om verkeerd te doen groter en word die afkeer daarvan minder.” Hy het die Romeinse samelewing met “’n gemeenskap van wilde diere” vergelyk. Geen wonder dat die Romeine vir vermaak sadistiese gladiatorgevegte en wellustige teateropvoerings bygewoon het nie.

7. Hoe het Paulus die verdorwenhede beskryf wat onder baie in die eerste eeu G.J. algemeen was?

7 Die apostel Paulus het moontlik die verdorwe gedrag van mense in die eerste eeu in gedagte gehad toe hy geskryf het: “God [het] hulle aan skandelike geslagsluste oorgegee . . . , want ook hulle vroue het die natuurlike gebruik van hulleself verander in een wat teen die natuur is; en net so het ook die mans die natuurlike gebruik van die vrou laat vaar en hewig in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand, mans met mans, en onwelvoeglike dinge bedryf en in hulleself die volle vergelding ontvang wat hulle vir hulle dwaling verdien het” (Romeine 1:26, 27). Aangesien die Romeinse samelewing daarop uit was om onrein vleeslike begeertes na te jaag, het hulle in verdorwenheid verval.

8. Hoe is kinders dikwels in die Griekse en Romeinse samelewing uitgebuit?

8 Daar kan nie duidelik uit die geskiedenis gesien word hoe algemeen homoseksualiteit onder die Romeine was nie. Maar hulle is ongetwyfeld deur hulle Griekse voorgangers beïnvloed, onder wie dit algemeen beoefen is. Dit was gebruiklik dat ouer mans jong seuns aan verdorwenhede blootgestel het deur hulle onder hulle vlerke te neem in ’n leerling-onderwyser-verhouding wat dikwels daartoe gelei het dat die jong seuns ’n lewenswyse van afwykende seksuele gedrag gevolg het. Satan en sy demone was ongetwyfeld agter hierdie verdorwenheid en mishandeling van kinders.—Joël 3:3; Judas 6, 7.

9, 10. (a) Hoe het 1 Korintiërs 6:9, 10 verskillende soorte verdorwenhede veroordeel? (b) Wat was die agtergrond van party in die Korintiese gemeente, en watter verandering het in hulle geval plaasgevind?

9 Paulus het onder Goddelike inspirasie vir die Christene in Korinte geskryf: “Wat! Weet julle nie dat onregverdiges God se koninkryk nie sal beërf nie? Moenie mislei word nie. Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of mans wat vir onnatuurlike doeleindes aangehou word of mans wat by mans lê of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of afpersers sal God se koninkryk beërf nie. En tog is dit wat party van julle was. Maar julle is skoon gewas, maar julle is geheilig, maar julle is regverdig verklaar in die naam van ons Here Jesus Christus en met die gees van ons God.”—1 Korintiërs 6:9-11.

10 Paulus se geïnspireerde brief het dus geslagsonsedelikheid veroordeel deur te sê dat ‘hoereerders nie God se koninkryk sal beërf nie’. Maar nadat hy ’n aantal verdorwenhede opgenoem het, het Paulus gesê: “Dit [is] wat party van julle was. Maar julle is skoon gewas.” Met God se hulp was dit vir kwaaddoeners moontlik om rein te word in sy oë.

11. Hoe het eerste-eeuse Christene in die goddelose milieu van hulle dag gevaar?

11 Ja, Christelike deug het selfs in die verdorwe wêreld van die eerste eeu gefloreer. Gelowiges is ‘verander deur hulle verstand te hervorm’ (Romeine 12:2). Hulle het hulle “vroeëre lewenswandel” laat vaar en is ‘vernuwe in die krag wat hulle verstand aandryf’. Hulle het dus van die wêreld se verdorwenhede gevlug en hulle “met die nuwe persoonlikheid . . . beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is”.—Efesiërs 4:22-24.

Vandag se verdorwe wêreld

12. Watter veranderinge het sedert 1914 in die wêreld plaasgevind?

12 Wat van ons dag? Die wêreld waarin ons lewe, is meer verdorwe as ooit. Veral sedert 1914 was daar ’n wêreldwye sedelike verval (2 Timoteus 3:1-5). Omdat mense tradisionele opvattings omtrent deug, sedelikheid, eer en etiek verwerp, het baie van hulle egosentries in hulle denkwyse geword en “alle sedelikheidsgevoel verloor” (Efesiërs 4:19). Die tydskrif Newsweek het gesê: “Ons lewe in ’n tyd van sedelike relativisme”, en dit het bygevoeg dat die heersende sedelike klimaat “alle opvattings van reg en verkeerd tot ’n kwessie van persoonlike smaak, emosionele voorkeur of kulturele keuse afgewater het”.

13. (a) Hoe bevorder baie van vandag se vermaak verdorwenheid? (b) Watter slegte uitwerking kan onwelvoeglike vermaak op individue hê?

13 Net soos in die eerste eeu is verdorwe vermaak vandag algemeen. Die televisie, radio, rolprente en video’s voorsien ’n nimmereindigende stroom seksgeoriënteerde materiaal. Verdorwenheid het selfs rekenaarnetwerke binnegedring. Daar is al hoe meer pornografiese materiaal op hedendaagse rekenaarnetwerke beskikbaar, en persone van verskillende ouderdomme kry toegang daartoe. Waartoe lei dit alles? Een koerantrubriekskrywer sê: “Wanneer ons volkskultuur deurdrenk is van bloedvergieting en gruweldade en goedkoop seks, raak ons gewoond aan bloedvergieting en gruweldade en goedkoop seks. Ons raak afgestomp. Verdorwenheid word al hoe aanvaarbaarder, want al hoe minder dinge skok ons.”—Vergelyk 1 Timoteus 4:1, 2.

14, 15. Watter bewyse is daar dat geslagsedelikheid wêreldwyd afgeneem het?

14 Let op hierdie verslag in The New York Times: “Wat 25 jaar gelede as skandalig beskou sou word, het nou ’n aanvaarbare lewenswyse geword. Die aantal paartjies wat saambly pleks van te trou, het tussen 1980 en 1991 [in die Verenigde State] met 80 persent gestyg.” Dit is nie net ’n verskynsel eie aan Noord-Amerika nie. Die tydskrif Asiaweek berig: “’n Kultuurstryd woed in lande regoor [Asië]. Die geskil is seksuele vryheid teenoor tradisionele waardes, en die druk om te verander, neem voortdurend toe.” Statistiek toon dat egbreuk en voorhuwelikse geslagsomgang in baie lande aanvaarbaarder word.

15 Die Bybel het voorspel dat sataniese bedrywighede in ons dag hewig sou wees (Openbaring 12:12). Dit behoort ons dus nie te verbaas dat verdorwenheid onrusbarend algemeen is nie. Die seksuele uitbuiting van kinders het byvoorbeeld epidemiese afmetings aangeneem.a Die Verenigde Nasies-kinderfonds berig dat “kommersiële seksuele uitbuiting kinders in feitlik elke land in die wêreld skaad”. “Na wat berig word, word meer as 1 miljoen kinders regoor die wêreld [elke jaar] gedwing om kinderprostitute te word, word hulle vir seksdoeleindes verhandel en verkoop en word hulle in die vervaardiging van kinderpornografie gebruik.” Homoseksualiteit is ook algemeen, en party politici en godsdiensleiers neem die voortou daarin om dit as ’n “alternatiewe lewenswyse” te bevorder.

Verwerp die wêreld se verdorwenhede

16. Watter standpunt neem Jehovah se Getuies in wat geslagsedelikheid betref?

16 Jehovah se Getuies sluit nie aan by die hordes wat permissiewe standaarde van geslagsedelikheid goedkeur nie. Titus 2:11, 12 sê: “Die onverdiende goedhartigheid van God wat redding tot alle soorte mense bring, is geopenbaar en onderrig ons om goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp en om met gesonde verstand en regverdigheid en godvrugtige toegewydheid te midde van hierdie teenswoordige stelsel van dinge te lewe.” Ja, ons ontwikkel ’n diepe haat, ’n afsku, van verdorwenhede soos voorhuwelikse geslagsomgang, egbreuk en homoseksualiteit (Romeine 12:9; Efesiërs 5:3-5).b Paulus het hierdie vermaning gegee: “Laat elkeen wat die naam van Jehovah noem, afstand doen van onregverdigheid.”—2 Timoteus 2:19.

17. Hoe beskou ware Christene die gebruik van sterk drank?

17 Ware Christene verwerp die wêreld se beskouing oor skynbaar geringe verdorwenhede. Vandag beskou baie mense byvoorbeeld alkoholmisbruik met wrange humor. Maar Jehovah se volk slaan ag op die raad in Efesiërs 5:18: “Moenie dronk word van wyn, waarin daar losbandigheid is nie, maar word voortdurend met gees vervul.” As ’n Christen besluit om drank te gebruik, doen hy dit met matigheid.—Spreuke 23:29-32.

18. Hoe rig Bybelbeginsels Jehovah se knegte in die wyse waarop hulle gesinslede behandel?

18 As Jehovah se knegte verwerp ons ook die beskouing van sommige in die wêreld dat dit aanvaarbare gedrag is om op jou huweliksmaat en kinders te skreeu of hulle met kwetsende woorde uit te skel. Omdat Christenmans en -vrouens vasbeslote is om ’n weg van deug te volg, werk hulle saam om Paulus se raad toe te pas: “Laat alle kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word, saam met alle slegtheid. Maar word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik net soos God julle ook deur Christus vryelik vergewe het.”—Efesiërs 4:31, 32.

19. Hoe algemeen is verdorwenheid in die sakewêreld?

19 Oneerlikheid, bedrog, leuentaal, genadelose saketaktiek en stelery is ook vandag algemeen. ’n Artikel in die saketydskrif CFO berig: “’n Opname onder 4000 werkers . . . het bevind dat 31 persent van die respondente gedurende die vorige jaar getuies van ‘ernstige wangedrag’ was.” Hierdie wangedrag het leuentaal, die vervalsing van verslae, seksuele teistering en diefstal ingesluit. As ons sedelik rein in Jehovah se oë wil bly, moet ons sulke gedrag vermy en eerlik wees in ons saketransaksies.—Miga 6:10, 11.

20. Waarom moet Christene vry van “die liefde vir geld” wees?

20 Let op wat met ’n man gebeur het wat gemeen het dat hy meer tyd sou hê om aan God se diens te wy indien hy ’n slag slaan in ’n finansiële spekulasieskema. Hy het ander in ’n beleggingskema betrek deur hulle verwagte winste grootliks te oordryf. Toe dit nie verwesenlik is nie, het hy so desperaat geword om die groot verliese te dek dat hy geld wat aan hom toevertrou is, gesteel het. As gevolg van sy dade en onberouvolle gesindheid is hy uit die Christengemeente gesit. Die Bybel se waarskuwing is inderdaad waar: “Dié wat egter vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort. Want die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge, en deur hierdie liefde na te streef, is party van die geloof af op ’n dwaalspoor gebring en het hulle hulleself oral met baie pyne deurboor.”—1 Timoteus 6:9, 10.

21. Watter soort gedrag is algemeen onder mense met mag in die wêreld, maar hoe moet diegene in verantwoordelike posisies in die Christengemeente hulle gedra?

21 Wêreldse mense met mag en aansien het dikwels ’n gebrek aan deug en bewys die waarheid van die spreekwoord: ‘Mag verderf’ (Prediker 8:9). In party lande is omkopery en ander vorme van korrupsie ’n lewenswyse onder regters, polisiemanne en politici. Diegene wat die leiding in die Christengemeente neem, moet egter deugsaam wees en nie oor ander baasspeel nie (Lukas 22:25, 26). Ouer manne, sowel as bedieningsknegte, dien nie “uit liefde vir oneerlike gewin” nie. Hulle moet bestand wees teen enige pogings om hulle oordeel te verdraai of te beïnvloed deur die moontlikheid om persoonlik verryk te word.—1 Petrus 5:2; Exodus 23:8; Spreuke 17:23; 1 Timoteus 5:21.

22. Wat sal die volgende artikel bespreek?

22 Die oorgrote meerderheid Christene bied die uitdaging wat ons vandag het om deug in ons verdorwe wêreld te behou suksesvol die hoof. Maar deug behels meer as om bloot goddeloosheid te vermy. Die volgende artikel sal bespreek wat dit werklik behels om deug aan te kweek.

[Voetnote]

a Sien die reeks “Beskerm jou kinders!” wat in die Ontwaak! van 8 Oktober 1993 verskyn het.

b Diegene wat hulle in die verlede aan homoseksualiteit skuldig gemaak het, kan veranderinge in hulle gedrag aanbring, net soos party in die eerste eeu gedoen het (1 Korintiërs 6:11). Nuttige inligting het in die Ontwaak! van 22 Maart 1995, bladsye 21-3, verskyn.

Punte ter hersiening

◻ Waarom het Jehovah die vernietiging van die Kanaäniete gelas?

◻ Watter verdorwenhede was algemeen in die eerste eeu, en hoe het Christene in so ’n milieu gevaar?

◻ Watter bewyse is daar dat sedelikheid sedert 1914 wêreldwyd afgeneem het?

◻ Watter algemene verdorwenhede moet Jehovah se volk verwerp?

[Prent op bladsy 9]

Die eerste-eeuse Christene was deugsaam, selfs al het hulle in ’n verdorwe wêreld gelewe

[Prent op bladsy 10]

Verdorwenheid het selfs rekenaarnetwerke binnegedring wat baie jongmense en ander toegang tot pornografiese materiaal gee

[Prent op bladsy 12]

Christene moet deug behou deur nie die oneerlike taktiek van ander na te volg nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel