Lewe jy vir vandag of vir ’n ewige toekoms?
“Ons is in hierdie hoop gered.”—ROMEINE 8:24.
1. Wat was die lering van die Epikureërs, en hoe het daardie soort filosofie sommige Christene geraak?
DIE apostel Paulus het aan Christene in Korinte geskryf: “Hoe is dit dat party onder julle sê dat daar geen opstanding van die dooies is nie?” (1 Korintiërs 15:12). Die verderflike filosofie van die Griekse wysgeer Epikurus het klaarblyklik die eerste-eeuse Christene in ’n mate beïnvloed. Paulus het dus die aandag op die Epikuriese lering gevestig: “Laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf” (1 Korintiërs 15:32). Aangesien die filosoof se volgelinge enige hoop op ’n lewe ná die dood verwerp het, het hulle geglo dat vleeslike genietinge die enigste of vernaamste ding is waarom die lewe moet draai (Handelinge 17:18, 32). Epikuriese filosofie was egosentries, sinies en op die lange duur verlagend.
2. (a) Waarom was dit so gevaarlik om die opstanding te misken? (b) Hoe het Paulus die geloof van Christene in Korinte versterk?
2 Hierdie miskenning van die opstanding het diepgaande gevolge gehad. Paulus het geredeneer: “As daar werklik geen opstanding van die dooies is nie, is Christus ook nie opgewek nie. Maar as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking beslis tevergeefs en is ons geloof tevergeefs. . . . As ons net in hierdie lewe op Christus gehoop het, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense” (1 Korintiërs 15:13-19). Ja, sonder die hoop op ’n ewige toekoms sou die Christelike geloof “tevergeefs” gewees het. Dit sou sonder doel gewees het. Dit is dus geen wonder dat die Korintiese gemeente onder die invloed van hierdie heidense denkwyse ’n broeines van probleme geword het nie (1 Korintiërs 1:11; 5:1; 6:1; 11:20-22). Paulus het derhalwe hulle geloof in die opstanding probeer versterk. Deur van kragtige logika, skriftuurlike aanhalings en illustrasies gebruik te maak, het hy bo alle twyfel bewys dat die opstandingshoop nie ’n verdigsel was nie, maar ’n werklikheid wat beslis vervul sal word. Op grond hiervan kon hy sy medegelowiges aanspoor: “Word standvastig, onbeweeglik, terwyl julle altyd volop het om in die werk van die Here te doen, in die wete dat julle arbeid nie tevergeefs is in verband met die Here nie.”—1 Korintiërs 15:20-58.
“Hou aan waak”
3, 4. (a) Deur watter gevaarlike gesindheid sou party mense, volgens Petrus, gedurende die laaste dae oorheers word? (b) Waaraan moet ons ons voortdurend herinner?
3 Vandag het baie mense ’n pessimistiese lewe-vir-vandag-gesindheid (Efesiërs 2:2). Dit is soos die apostel Petrus voorspel het. Hy het gepraat van ‘spotters met hulle spotterny, wat sê: “Waar is sy beloofde teenwoordigheid dan? Van die dag af dat ons voorvaders ontslaap het, bly alles dan presies soos van die begin van die skepping af”’ (2 Petrus 3:3, 4). As ware aanbidders voor so ’n beskouing sou swig, kan hulle “onbedrywig of onvrugbaar” word (2 Petrus 1:8). Gelukkig is dit met die meeste van God se hedendaagse volk nie die geval nie.
4 Dit is nie verkeerd om in die komende einde van die huidige goddelose stelsel belang te stel nie. Dink aan die belangstelling wat Jesus se eie apostels hierin getoon het: “Here, herstel u in hierdie tyd die koninkryk vir Israel?” Jesus het geantwoord: “Dit is nie vir julle om kennis te verkry van die tye of tydperke wat die Vader onder sy eie jurisdiksie geplaas het nie” (Handelinge 1:6, 7). Daardie woorde bevat die kerngedagte van wat hy op die Olyfberg gesê het: “Julle weet nie op watter dag julle Here kom nie. . . . Die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie” (Matteus 24:42, 44). Ons moet ons voortdurend aan daardie raad herinner! Party kom dalk in die versoeking om die gesindheid te hê: ‘Miskien moet ek my pas net so bietjie verslap en dinge gemakliker opneem.’ Wat ’n fout sou dit tog nie wees nie! Kyk na die voorbeeld van Jakobus en Johannes, die “Seuns van die Donder”.—Markus 3:17.
5, 6. Watter lesse kan ons leer uit die voorbeeld van Jakobus en Johannes?
5 Ons weet dat Jakobus ’n baie ywerige apostel was (Lukas 9:51-55). Ná die stigting van die Christengemeente het hy ongetwyfeld ’n daadwerklike rol daarin gespeel. Maar toe Jakobus nog redelik jonk was, het Herodes Agrippa I hom om die lewe laat bring (Handelinge 12:1-3). Dink ons dat Jakobus, toe hy sien dat sy lewe onverwags eindig, hartseer gevoel het dat hy so ywerig was en hom in sy bediening ingespan het? Beslis nie! Hy was ongetwyfeld bly dat hy die beste jare van sy betreklike kort lewe aan Jehovah se diens gewy het. Nie een van ons weet op die oomblik of ons lewe dalk onverwags sal eindig nie. (Prediker 9:11; vergelyk Lukas 12:20, 21.) Dit is dus beslis verstandig om baie ywerig en bedrywig in Jehovah se diens te bly. Sodoende sal ons ons goeie naam by hom behou en voortgaan om met ons ewige toekoms voor oë te lewe.—Prediker 7:1.
6 Daar is ’n verwante les in verband met die apostel Johannes, wat teenwoordig was toe Jesus die kragtige aansporing gegee het: “Hou aan waak” (Matteus 25:13; Markus 13:37; Lukas 21:34-36). Johannes het dit ter harte geneem en het dekades lank met geesdrif gedien. Trouens, dit lyk of hy langer as al die ander apostels gelewe het. Het Johannes, toe hy op gevorderde leeftyd was en kon terugkyk op dekades van getroue diens, dit as ’n fout beskou, ’n lewe wat ’n verkeerde koers of geen balans gehad het nie? Hoegenaamd nie! Hy het nog steeds gretig na die toekoms uitgesien. Toe die verrese Jesus gesê het: “Ja; ek kom gou”, het Johannes onmiddellik geantwoord: “Amen! Kom, Here Jesus” (Openbaring 22:20). Johannes het beslis nie net vir die oomblik gelewe en na ’n rustige en kalm ‘normale lewe’ verlang nie. Hy was vasbeslote om met sy hele lewe en krag te bly dien, ongeag wanneer die Here ook al mag kom. Wat van ons?
Gronde vir geloof in die ewige lewe
7. (a) Hoe is die hoop op die ewige lewe “voor langdurige tye beloof”? (b) Hoe het Jesus lig gewerp op die hoop op die ewige lewe?
7 Wees verseker dat die hoop op die ewige lewe nie ’n mensgemaakte droom of fantasie is nie. Soos Titus 1:2 sê, is ons godvrugtige toegewydheid gegrond op “’n hoop op die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, voor langdurige tye beloof het”. Dit was God se oorspronklike voorneme vir alle gehoorsame mense om vir ewig te lewe (Genesis 1:28). Niks kan hierdie voorneme verydel nie, nie eens die opstand van Adam en Eva nie. Soos in Genesis 3:15 opgeteken staan, het God onmiddellik ’n “saad” beloof wat al die skade ongedaan sal maak wat die mensdom aangedoen is. Toe die “saad” of Messias, Jesus, gekom het, het hy die hoop op die ewige lewe een van sy grondleringe gemaak (Johannes 3:16; 6:47, 51; 10:28; 17:3). Deur sy volmaakte lewe as ’n losprys af te lê, het Christus die wetlike reg ontvang om die ewige lewe aan mense te skenk (Matteus 20:28). Party van sy dissipels, altesaam 144000, sal vir ewig in die hemel lewe (Openbaring 14:1-4). Sodoende sal party mense wat eens sterflik was hulle “met onsterflikheid beklee”!—1 Korintiërs 15:53.
8. (a) Wat is “onsterflikheid”, en waarom gee Jehovah dit aan die 144 000? (b) Watter hoop het Jesus vir die “ander skape” in die vooruitsig gestel?
8 “Onsterflikheid” beteken meer as om net nooit te sterf nie. Dit behels “die krag van ’n onvernietigbare lewe”. (Hebreërs 7:16; vergelyk Openbaring 20:6.) Maar wat bereik God deur so ’n merkwaardige gawe te gee? Dink aan Satan se uitdaging dat nie een van God se skepsele vertrou kon word nie (Job 1:9-11; 2:4, 5). Deur aan die 144 000 onsterflikheid te gee, toon God sy volkome vertroue in hierdie groep wat op so ’n uitsonderlike wyse ’n antwoord op Satan se uitdaging voorsien het. Maar wat van die res van die mensdom? Jesus het vir die eerste lede van hierdie “klein kuddetjie” Koninkrykserfgename gesê dat hulle “op trone [sal] sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 12:32; 22:30). Dit impliseer dat ander mense die ewige lewe op die aarde sal ontvang as onderdane van sy Koninkryk. Hoewel daar nie aan hierdie “ander skape” onsterflikheid gegee word nie, ontvang hulle wel “die ewige lewe” (Johannes 10:16; Matteus 25:46). Ewige lewe is dus die hoop van alle Christene. Dit is nie ’n fantasie nie, maar iets wat “God, wat nie kan lieg nie,” plegtig beloof het, en hy het met die kosbare bloed van Jesus daarvoor betaal.—Titus 1:2.
In die verre toekoms?
9, 10. Watter duidelike aanduidings is daar dat ons na aan die einde is?
9 Die apostel Paulus het voorspel dat ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ daarop sou dui dat ons ongetwyfeld “die laaste dae” bereik het. Besef ons nie dat Jehovah se dag om sy oordele aan hierdie goddelose wêreldstelsel te voltrek vinnig nader kom wanneer ons sien hoe die mensegemeenskap om ons besig is om in liefdeloosheid, gierigheid, selfbevrediging en goddeloosheid te verval nie? Sien ons nie, namate geweld en haat toeneem, die vervulling van Paulus se verdere woorde oral om ons nie: “Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger”? (2 Timoteus 3:1-5, 13). Party sal dalk optimisties “Vrede en veiligheid” uitroep, maar alle vooruitsigte op vrede sal in die niet verdwyn, want “skielike vernietiging [gaan] oombliklik oor hulle kom net soos die barenswee oor ’n swanger vrou; en hulle sal hoegenaamd nie ontkom nie”. Ons is nie in die duister gelaat oor die betekenis van ons tye nie. “Laat ons [dus] wakker en nugter van verstand bly.”—1 Tessalonisense 5:1-6.
10 Die Bybel toon voorts dat die laaste dae “’n kort tydperk” is. (Openbaring 12:12; vergelyk 17:10.) Die grootste deel van daardie “kort tydperk” het klaarblyklik reeds verstryk. Daniël se profesie beskryf byvoorbeeld noukeurig die konflik tussen “die koning van die Noorde” en “die koning van die Suide” wat tot in hierdie eeu voortgeduur het (Daniël 11:5, 6). Al wat nog vervul moet word, is die finale aanval van “die koning van die Noorde”, wat in Daniël 11:44, 45 beskryf word.—Sien Die Wagtoring van 1 Julie 1987 en 1 November 1993, vir ’n bespreking van hierdie profesie.
11. (a) In watter mate is Matteus 24:14 al vervul? (b) Wat toon Jesus se woorde in Matteus 10:23?
11 Daar is ook Jesus se voorspelling: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Vandag doen Jehovah se Getuies hulle werk in 233 lande, eilandgroepe en gebiede. Daar is weliswaar nog steeds ongedekte gebiede, en miskien sal ’n deur van geleentheid op Jehovah se bestemde tyd oopgaan (1 Korintiërs 16:9). Jesus se woorde in Matteus 10:23 is nietemin stof tot nadenke: “Julle sal hoegenaamd nie die kring van die stede van Israel voltooi voordat die Seun van die mens kom nie.” Hoewel die goeie nuus beslis oor die hele aarde verkondig sal word, sal ons nie persoonlik alle dele van die aarde met die Koninkryksboodskap bereik voordat Jesus as Skerpregter “kom” nie.
12. (a) Na watter ‘verseëling’ verwys Openbaring 7:3? (b) Wat is die betekenis van die vermindering in die getal gesalfdes op die aarde?
12 Beskou die teks in Openbaring 7:1, 3, wat sê dat die “vier winde” van vernietiging teruggehou word “tot ná ons die slawe van ons God op hulle voorkoppe verseël het”. Dit verwys nie na die aanvanklike verseëling wat plaasvind wanneer diegene van die 144000 die hemelse roeping ontvang nie (Efesiërs 1:13). Dit verwys na die finale verseëling, wanneer hulle onherroeplik as beproefde en getroue “slawe van ons God” geïdentifiseer word. Die getal ware gesalfde seuns van God wat nog op die aarde is, het grootliks verminder. Daarbenewens sê die Bybel duidelik dat dit “weens die uitverkorenes” is dat die eerste fase van die groot verdrukking “verkort” sal word (Matteus 24:21, 22). Die meeste van diegene wat bely dat hulle gesalfdes is, is taamlik bejaard. Is dit nie nog ’n aanduiding dat die einde baie naby is nie?
’n Getroue wag
13, 14. Watter verantwoordelikheid het die wagklas?
13 Intussen sal dit verstandig van ons wees om ag te slaan op die riglyne wat die ‘getroue slaaf’ gee (Matteus 24:45). Die hedendaagse “slaaf” dien al meer as honderd jaar getrou as ’n “wag” (Esegiël 3:17-21). Die Wagtoring van 15 Maart 1984 het verduidelik: “Hierdie wag kyk hoe gebeure op aarde ontwikkel ter vervulling van Bybelprofesie, laat ’n waarskuwing hoor aangaande die naderende ‘groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het’ nie en verkondig ‘goeie nuus van iets beters’.”—Matteus 24:21, AB; Jesaja 52:7.
14 Hou in gedagte: Dit is ’n wag se werk om presies “wat hy sien” uit te roep (Jesaja 21:6-8). In Bybeltye het ’n wag ’n waarskuwing laat hoor selfs wanneer die potensiële gevaar te ver was om duidelik geïdentifiseer te word (2 Konings 9:17, 18). Destyds is daar ongetwyfeld ook vals alarms gegee. Maar ’n goeie wag sou nie uit vrees vir verleentheid swyg nie. Hoe sou jy voel as jou huis aan die brand was en die brandweermanne nie opdaag nie omdat hulle dink dat dit dalk ’n vals alarm is? Nee, ons verwag dat sulke manne vinnig moet reageer op enige teken van gevaar! Die wagklas het eweneens waarskuwings gerig wanneer omstandighede dit nodig laat blyk het.
15, 16. (a) Waarom word aanpassings in ons begrip van profesieë gemaak? (b) Wat kan ons leer by getroue knegte van God wat ’n verkeerde begrip van sekere profesieë gehad het?
15 Namate gebeure plaasgevind het, het ons begrip van profesieë egter helderder geword. Die geskiedenis toon dat Goddelike profesieë selde, indien ooit, voor die vervulling daarvan ten volle verstaan is. God het vir Abram gesê presies hoe lank sy saad “vreemdelinge sal wees in ’n land wat aan hulle nie behoort nie”, naamlik 400 jaar (Genesis 15:13). Maar Moses het hom voor die tyd as verlosser aangebied.—Handelinge 7:23-30.
16 Beskou ook die Messiaanse profesieë. As ons nou daarna kyk, is dit vir ons baie duidelik dat die Messias se dood en opstanding voorspel is (Jesaja 53:8-10). Maar Jesus se eie dissipels het dit nie verstaan nie (Matteus 16:21-23). Hulle het nie begryp dat Daniël 7:13, 14 gedurende Christus se toekomstige pa·rou·siʹa, of “teenwoordigheid”, vervul sou word nie (Matteus 24:3). Hulle was dus bykans 2000 jaar te vroeg in hulle berekening toe hulle vir Jesus gevra het: “Here, herstel u in hierdie tyd die koninkryk vir Israel?” (Handelinge 1:6). Selfs nadat die Christengemeente goed gevestig was, het verkeerde opvattings en valse verwagtings bly kop uitsteek (2 Tessalonisense 2:1, 2). Hoewel party soms verkeerde beskouings gehad het, het Jehovah ongetwyfeld die werk van daardie eerste-eeuse gelowiges geseën!
17. Hoe behoort ons aanpassings in ons begrip van die Skrif te beskou?
17 Die hedendaagse wagklas moes eweneens hulle beskouings van tyd tot tyd regstel. Maar kan enigeen twyfel aan die feit dat Jehovah die ‘getroue slaaf’ geseën het? En is die meeste veranderings wat aangebring is nie buitendien redelik klein wanneer dit in hulle verband gesien word nie? Ons basiese begrip van die Bybel het nie verander nie. Ons oortuiging dat ons in die laaste dae lewe, is sterker as ooit!
Lewe vir ’n ewige toekoms
18. Waarom moet ons dit vermy om net vir vandag te lewe?
18 Die wêreld sê dalk: ‘Laat ons eet en drink, want môre sterf ons’, maar dit moet nie ons gesindheid wees nie. Waarom tevergeefs strewe na watter plesier jy ook al nou uit die lewe kan kry terwyl jy vir ’n ewige toekoms kan werk? Daardie hoop, hetsy op onsterflike lewe in die hemel of die ewige lewe op die aarde, is nie ’n droom of ’n fantasie nie. Dit is ’n werklikheid wat die God “wat nie kan lieg nie”, beloof het (Titus 1:2). Daar is oorweldigende getuienis dat die verwesenliking van ons hoop ophande is! “Die oorblywende tyd is kort.”—1 Korintiërs 7:29.
19, 20. (a) Hoe beskou Jehovah die opofferinge wat ons ter wille van die Koninkryk gedoen het? (b) Waarom moet ons met die ewigheid in die vooruitsig lewe?
19 Hierdie stelsel bestaan weliswaar al langer as wat baie gedink het dit sou. Enkeles voel dalk nou dat hulle miskien nie sekere opofferinge sou gedoen het as hulle dit vroeër geweet het nie. Maar ’n mens moet nie spyt daaroor wees nie. Om opofferinge te doen, is per slot van sake ’n wesenlike deel daarvan om ’n Christen te wees. Christene ‘verloën hulleself’ (Matteus 16:24). Ons moet nooit voel dat ons pogings om God te behaag tevergeefs was nie. Jesus het beloof: “Niemand het huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of landerye ter wille van my en ter wille van die goeie nuus verlaat nie, of hy sal nou in hierdie tydperk honderdvoudig kry . . . en in die komende stelsel van dinge, die ewige lewe” (Markus 10:29, 30). Hoe belangrik sal jou werk, huis of bankrekening duisend jaar van nou af lyk? En tog sal die opofferinge wat jy vir Jehovah gedoen het nog ’n miljoen jaar van nou af—selfs ’n miljard jaar van nou af—betekenisvol wees! “Want God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet . . . nie.”—Hebreërs 6:10.
20 Laat ons derhalwe met die ewigheid in die vooruitsig lewe en ons oë gerig hou, “nie op die dinge wat gesien word nie, maar op die dinge wat nie gesien word nie. Want die dinge wat gesien word, is tydelik, maar die dinge wat nie gesien word nie, is ewig” (2 Korintiërs 4:18). Die profeet Habakuk het geskryf: “Die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie” (Habakuk 2:3). Hoe word die manier waarop ons ons persoonlike en gesinsverantwoordelikhede nakom, geraak deur die feit dat ons ‘wag op’ die einde? Ons volgende artikel sal hierdie kwessies bespreek.
Gedagtes vir hersiening
◻ Hoe is enkeles vandag geraak deur die oënskynlike versuim van die einde van hierdie stelsel van dinge om te kom?
◻ Wat is die grondslag vir ons hoop op die ewige lewe?
◻ Hoe moet ons opofferinge beskou wat ons ter wille van Koninkryksbelange gedoen het?
[Prent op bladsy 15]
Die wêreldwye predikingswerk moet voltooi word voor die einde kom