Jehovah—die bron van ware geregtigheid en regverdigheid
“Die Rots, volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid‚ by wie daar geen onreg is nie.”—DEUTERONOMIUM 32:4, NW.
1. Waarom het ons ’n inherente behoefte aan geregtigheid?
NET soos ons almal ’n natuurlike behoefte aan liefde het, wil ons almal graag regverdig behandel word. Dit is soos die Amerikaanse staatsman Thomas Jefferson geskryf het: “[Geregtigheid] is iets ingeskape en aangebore, . . . net soveel deel van ons samestelling as om te voel, te sien of te hoor.” Dit is nie verbasend nie, aangesien Jehovah ons na sy beeld geskep het (Genesis 1:26). Trouens, hy het ons eienskappe gegee wat sy persoonlikheid weerspieël, waarvan een geregtigheid is. Daarom het ons ’n inherente behoefte aan geregtigheid en begeer ons om in ’n wêreld van ware geregtigheid en regverdigheid te lewe.
2. Hoe belangrik is geregtigheid vir Jehovah, en waarom moet ons die betekenis van Goddelike geregtigheid verstaan?
2 Die Bybel verseker ons aangaande Jehovah: “Al sy weë is geregtigheid” (Deuteronomium 32:4, NW). Maar in ’n wêreld vol ongeregtigheid is dit nie maklik om die betekenis van Goddelike geregtigheid te verstaan nie. Deur die bladsye van God se Woord kan ons egter onderskei hoe God geregtigheid toepas, en ons kan selfs groter waardering vir God se wonderlike weë opbou (Romeine 11:33). Dit is belangrik om te verstaan wat geregtigheid in die Bybelse sin beteken, aangesien ons begrip van geregtigheid heel moontlik deur menslike idees beïnvloed is. Uit ’n menslike oogpunt word geregtigheid dalk as bloot ’n onpartydige toepassing van die regsorde beskou. Of soos die filosoof Francis Bacon geskryf het: “Geregtigheid beteken om elke mens te gee wat hy verdien.” Jehovah se geregtigheid behels egter veel meer.
Jehovah se geregtigheid is verkwikkend
3. Wat leer ons deur te kyk na die woorde wat in die oorspronklike tale in die Bybel gebruik word vir geregtigheid en regverdigheid?
3 Die omvang van God se geregtigheid kan beter verstaan word as ons kyk na hoe die woorde in die oorspronklike tale in die Bybel gebruik word.a Dit is interessant dat daar in die Skrif nie ’n noemenswaardige verskil tussen geregtigheid en regverdigheid is nie. Trouens, die Hebreeuse woorde word soms as parallelle uitdrukkings gebruik, soos ons in Amos 5:24 (NW) sien, waar Jehovah sy volk vermaan: “Laat geregtigheid voortrol net soos water, en regverdigheid soos ’n standhoudende stroom.” Daarbenewens verskyn die woorde “geregtigheid en regverdigheid” etlike kere saam vir klem.—Psalm 33:5, NW; Jesaja 33:5, NW; Jeremia 33:15, NW; Esegiël 18:21, NW; 45:9, NW.
4. Wat beteken dit om geregtigheid te beoefen, en wat is die hoogste standaard van geregtigheid?
4 Watter gevoel word deur hierdie Hebreeuse en Griekse woorde oorgedra? Om geregtigheid in die skriftuurlike sin te beoefen, beteken om te doen wat reg en onpartydig is. Aangesien Jehovah die een is wat sedewette en -beginsels, of wat reg en onpartydig is, vasstel, is die manier waarop Jehovah dinge doen die hoogste standaard van geregtigheid. Die Theological Wordbook of the Old Testament verduidelik dat die Hebreeuse woord wat met regverdigheid (tseʹdheq) weergegee word “na ’n etiese, sedelike standaard verwys, en in die O[u] T[estament] is daardie standaard natuurlik die natuur en wil van God”. Die manier waarop God dus sy beginsels toepas, en veral die manier waarop hy met onvolmaakte mense handel, openbaar die werklike betekenis van ware geregtigheid en regverdigheid.
5. Watter eienskappe gaan hand aan hand met God se geregtigheid?
5 Die Skrif toon duidelik dat Goddelike geregtigheid eerder verkwikkend as ongevoelig en ontoegeeflik is. Dawid het gesing: “Die HERE het die reg [“geregtigheid”, NW] lief en sal sy gunsgenote nie verlaat nie” (Psalm 37:28). God se geregtigheid beweeg hom om getrouheid en medelye teenoor sy knegte te bewys. Goddelike geregtigheid neem ons behoeftes en onvolmaakthede in ag (Psalm 103:14). Dit beteken nie dat God goddeloosheid vergoelik nie, want dit sou ongeregtigheid aanmoedig (1 Samuel 3:12, 13; Prediker 8:11). Jehovah het aan Moses verduidelik dat Hy ’n “barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou” is. Hoewel God gewillig is om sondes en oortredinge te vergewe, sal hy nie diegene wat straf verdien ongestraf laat bly nie.—Exodus 34:6, 7.
6. Hoe handel Jehovah met sy aardse kinders?
6 Wanneer ons peins oor hoe Jehovah geregtigheid beoefen, moet ons nie aan hom dink as ’n hardvogtige regter wat net daarin belangstel om oortreders te vonnis nie. Inteendeel, ons behoort aan hom te dink as ’n liefdevolle maar ferm vader wat altyd op die bes moontlike manier met sy kinders handel. “HERE, U is ons Vader”, het die profeet Jesaja gesê (Jesaja 64:8). As ’n regverdige Vader hou Jehovah fermheid vir wat reg is in ewewig met tere medelye teenoor sy aardse kinders, wat hulp of vergifnis nodig het weens hulle moeilike omstandighede of vleeslike swakhede.—Psalm 103:6, 10, 13.
Geregtigheid word duidelik gemaak
7. (a) Wat leer ons omtrent Goddelike geregtigheid uit Jesaja se profesie? (b) Watter rol het Jesus daarin gespeel om die nasies aangaande geregtigheid te leer?
7 Die medelydende aard van Jehovah se geregtigheid is na vore gebring met die koms van die Messias. Jesus het mense geleer wat Goddelike geregtigheid is en in ooreenstemming daarmee gelewe, soos deur die profeet Jesaja voorspel is. God se geregtigheid sluit ongetwyfeld in dat mense wat vertrap is met teerheid behandel moet word. Hulle is dus nie onherstelbaar geknak nie. Jesus, Jehovah se “kneg”, het na die aarde gekom om hierdie aspek van God se geregtigheid “aan die nasies duidelik [te] maak”. Hy het dit bowenal gedoen deur ons ’n lewende voorbeeld te gee van wat Goddelike geregtigheid beteken. As die “regverdige spruit” van koning Dawid het Jesus nie geskroom om ‘geregtigheid te soek en gou in regverdigheid te wees’ nie.—Jesaja 16:5, NW; 42:1-4; Matteus 12:18-21; Jeremia 33:14, 15, vgl. NW.
8. Waarom was daar nie ’n duidelike begrip van ware geregtigheid en regverdigheid in die eerste eeu nie?
8 Dit was veral in die eerste eeu G.J. nodig dat die aard van Jehovah se geregtigheid duidelik gemaak moes word. Die Joodse oudstes en godsdiensleiers—die skrifgeleerdes, die Fariseërs en ander—het ’n verwronge beskouing van geregtigheid en regverdigheid verkondig en dit in hulle lewe weerspieël. Gevolglik het die gewone mense, wat dit onmoontlik gevind het om volgens die vereistes te leef wat deur die skrifgeleerdes en Fariseërs neergelê is, waarskynlik gedink dat God se regverdigheid heeltemal buite hulle bereik was (Matteus 23:4; Lukas 11:46). Jesus het getoon dat dit nie die geval was nie. Hy het sy dissipels uit daardie gewone mense gekies, en hy het hulle God se regverdige standaarde geleer.—Matteus 9:36; 11:28-30.
9, 10. (a) Hoe het die skrifgeleerdes en Fariseërs hulle regverdigheid probeer bewys? (b) Hoe en waarom het Jesus getoon dat die gebruike van die skrifgeleerdes en Fariseërs tevergeefs was?
9 Die Fariseërs het daarenteen na geleenthede gesoek om hulle “regverdigheid” te vertoon deur in die openbaar te bid of bydraes te gee (Matteus 6:1-6). Hulle het ook hulle regverdigheid probeer bewys deur tallose wette en voorskrifte na te kom—waarvan baie deur hulle self neergelê is. Sulke pogings het daartoe gelei dat hulle “die geregtigheid en die liefde vir God oor die hoof [gesien het]” (Lukas 11:42). Van buite het hulle dalk regverdig gelyk, maar binne-in was hulle ‘vol wetteloosheid’, of onregverdigheid (Matteus 23:28). Kortom, hulle het werklik bitter min omtrent God se regverdigheid geweet.
10 Om dié rede het Jesus sy volgelinge gewaarsku: “As julle regverdigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, [sal] julle hoegenaamd nie in die koninkryk van die hemele . . . ingaan nie” (Matteus 5:20). Die skerp teenstelling tussen die Goddelike geregtigheid waarvan Jesus ’n toonbeeld was en die bekrompe eiegeregtigheid van die skrifgeleerdes en Fariseërs was die oorsaak van herhaalde konfrontasies tussen hulle.
Goddelike geregtigheid versus verwronge geregtigheid
11. (a) Waarom het die Fariseërs Jesus oor genesing op die Sabbat uitgevra? (b) Wat het Jesus se antwoord geopenbaar?
11 Gedurende Jesus se bediening in Galilea in die lente van die jaar 31 G.J. het hy ’n man met ’n verdorde hand in ’n sinagoge gesien. Aangesien dit ’n Sabbat was, het die Fariseërs Jesus gevra: “Is dit geoorloof om op die sabbat te genees?” In plaas van opreg besorg te wees oor hierdie arme man se lyding, het hulle ’n rede gesoek om Jesus te veroordeel, soos hulle vraag getoon het. Geen wonder Jesus was bedroef oor hulle ongevoelige harte nie! Hy het die Fariseërs toe vinnig met ’n soortgelyke vraag geantwoord: “Is dit op die sabbat geoorloof om ’n goeie daad te doen?” Toe hulle stilbly, het Jesus sy eie vraag beantwoord deur hulle te vra of hulle nie ’n skaap wat op die Sabbat in ’n gat geval het, sal red nie.b “Hoeveel meer is ’n mens tog werd as ’n skaap!” was Jesus se onweerlegbare, logiese redenasie. “Dit is dus geoorloof [of reg] om iets goeds op die sabbat te doen”, het hy afgesluit. God se geregtigheid moet nooit deur menslike tradisies beperk word nie. Nadat hy daardie punt duidelik gestel het, het Jesus voortgegaan en die man se hand genees.—Matteus 12:9-13 ; Markus 3:1-5.
12, 13. (a) Hoe het Jesus in teenstelling met die skrifgeleerdes en Fariseërs getoon dat hy graag sondaars wou help? (b) Wat is die verskil tussen Goddelike geregtigheid en eiegeregtigheid?
12 As die Fariseërs nie veel omgegee het vir diegene met liggaamlike gebreke nie, het hulle selfs minder omgegee vir diegene wat geestelik verarm was. Hulle verwronge beskouing van regverdigheid het daartoe gelei dat hulle belastinggaarders en sondaars geïgnoreer en verag het (Johannes 7:49). Nietemin het baie van hierdie mense gunstig op Jesus se onderrigting gereageer, omdat hulle ongetwyfeld kon aanvoel dat hy hulle graag wou help en hulle nie wou veroordeel nie (Matteus 21:31; Lukas 15:1). Die Fariseërs het egter neergesien op Jesus se pogings om diegene gesond te maak wat geestelik siek was. “Hierdie man verwelkom sondaars en eet saam met hulle”, het hulle verwytend gebrom (Lukas 15:2). In antwoord op hulle aantyging het Jesus weer ’n herderlike illustrasie gebruik. Net soos ’n herder verheug is wanneer hy ’n verlore skaap vind, so is die engele in die hemel verheug wanneer ’n sondaar berou toon (Lukas 15:3-7). Jesus was self verheug toe hy Saggeus kon help om berou te toon oor sy vorige sondige lewenswandel. “Die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was”, het hy gesê.—Lukas 19:8-10.
13 Hierdie konfrontasies toon duidelik die verskil tussen Goddelike geregtigheid, wat probeer genees en red, en eiegeregtigheid, wat die minderheid probeer verhoog en die meerderheid veroordeel. Leë rituele en mensgemaakte tradisies het tot die skrifgeleerdes en Fariseërs se aanmatigende en verwaande houding gelei, maar Jesus het gepas daarop gewys dat hulle “die gewigtiger sake van die Wet verontagsaam [het], naamlik geregtigheid en barmhartigheid en getrouheid” (Matteus 23:23). Mag ons Jesus navolg deur ware geregtigheid te beoefen in alles wat ons doen en ook oppas vir die strik van eiegeregtigheid.
14. Hoe toon een van Jesus se wonderwerke dat Goddelike geregtigheid ’n persoon se omstandighede in ag neem?
14 Hoewel Jesus die eiemagtige reëls van die Fariseërs geïgnoreer het, het hy wel die Mosaiese Wet onderhou (Matteus 5:17, 18). En tog het hy nie toegelaat dat die letter van daardie regverdige Wet die beginsels daarvan oorheers nie. Toe ’n vrou wat 12 jaar lank aan bloedvloeiing gely het sy kleed aangeraak het en genees is, het Jesus vir haar gesê: “Dogter, jou geloof het jou gesond gemaak; gaan heen in vrede” (Lukas 8:43-48). Jesus se simpatieke woorde het bevestig dat God se geregtigheid haar omstandighede in ag geneem het. Hoewel sy seremonieel onrein was en dus tegnies gesproke die Mosaïese Wet oortree het deur tussen die skare te wees, het haar geloof verdien om beloon te word.—Levitikus 15:25-27; vergelyk Romeine 9:30-33.
Regverdigheid is vir almal
15, 16. (a) Wat leer Jesus se illustrasie van die barmhartige Samaritaan ons oor geregtigheid? (b) Waarom moet ons dit vermy om “alte regverdig” te wees?
15 Benewens die feit dat Jesus die medelydende aard van Goddelike geregtigheid beklemtoon het, het hy ook sy dissipels geleer dat dit alle mense moet insluit. Dit was Jehovah se wil vir hom om ‘geregtigheid vir die nasies voort te bring’ (Jesaja 42:1, NW). Dit was die punt van een van Jesus se bekendste illustrasies, dié van die barmhartige Samaritaan. Die illustrasie was ’n antwoord op ’n vraag wat geopper is deur ’n man wat vertroud was met die Wet en wat “wou bewys dat hy regverdig is”. “Wie is dan my naaste?” het hy gevra, waarskynlik omdat hy graag sy verantwoordelikheid teenoor sy naaste tot Jode wou beperk. Die Samaritaan in Jesus se illustrasie het Goddelike regverdigheid aan die dag gelê, want hy was gewillig om sy tyd en geld daaraan te bestee om ’n vreemdeling van ’n ander nasie te help. Jesus het sy illustrasie afgesluit deur die man wat die vraag geopper het aan te raai: “Doen jy net so” (Lukas 10:25-37). As ons eweneens goed doen aan alle mense ongeag wat hulle rasse- of etniese agtergrond is, sal ons God se geregtigheid navolg.—Handelinge 10:34, 35.
16 Daarenteen herinner die voorbeeld van die skrifgeleerdes en Fariseërs ons daaraan dat ons nie “alte regverdig” moet wees as ons Goddelike geregtigheid wil beoefen nie (Prediker 7:16). As ons ander probeer beïndruk deur ’n spoggerige vertoon van regverdigheid of te veel waarde aan mensgemaakte reëls heg, sal ons nie God se goedkeuring wegdra nie.—Matteus 6:1.
17. Waarom is dit so belangrik vir ons om Goddelike geregtigheid aan die dag te lê?
17 Een rede waarom Jesus die aard van God se geregtigheid aan die nasies duidelik gemaak het, is sodat al sy dissipels kon leer om hierdie eienskap aan die dag te lê. Waarom is dit so belangrik? Die Skrif vermaan ons om ‘navolgers van God te word’, en al God se weë is geregtigheid (Efesiërs 5:1). Miga 6:8 (NW) verduidelik eweneens dat een van Jehovah se vereistes is dat ons ‘geregtigheid beoefen’ terwyl ons met ons God wandel. Verder herinner Sefanja 2:2, 3 (NW) ons daaraan dat ons ‘regverdigheid moet soek’ voor die dag van Jehovah se toorn aanbreek, as ons gedurende daardie dag verberg wil word.
18. Watter vrae sal in die volgende artikel beantwoord word?
18 Hierdie kritieke laaste dae is derhalwe ’n “besonder aanneemlike tyd” om geregtigheid te beoefen (2 Korintiërs 6:2). Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah ons sal seën as ons, soos Job, ons ‘met regverdigheid beklee’ en ‘geregtigheid ons moulose oorkleed’ maak (Job 29:14, NW). Hoe sal geloof in Jehovah se geregtigheid ons help om met vertroue na die toekoms te kyk? En hoe beskerm Goddelike geregtigheid ons geestelik terwyl ons die regverdige “nuwe aarde” verwag? (2 Petrus 3:13) Die volgende artikel sal hierdie vrae beantwoord.
[Voetnote]
a In die Hebreeuse Geskrifte word drie hoofwoorde gebruik. Een hiervan (misj·patʹ) word dikwels met “geregtigheid” vertaal. Die ander twee (tseʹdheq en die verwante woord tsedha·qahʹ) word in die meeste gevalle met “regverdigheid” weergegee. Die Griekse woord wat met “regverdigheid” vertaal word (di·kai·o·suʹne), word gedefinieer as die “vermoë om regverdig of met geregtigheid op te tree”.
b Jesus het ’n goeie voorbeeld gekies, aangesien die mondelinge wet van die Jode hulle spesifiek toegelaat het om ’n dier wat op die Sabbat in gevaar was te help. By verskeie ander geleenthede het hulle hom met hierdie selfde geskil gekonfronteer, naamlik of dit geoorloof was om op die Sabbat te genees.—Lukas 13:10-17; 14:1-6; Johannes 9:13-16.
Kan jy verduidelik?
◻ Wat is die betekenis van Goddelike geregtigheid?
◻ Hoe het Jesus die nasies geregtigheid geleer?
◻ Waarom was die regverdigheid van die Fariseërs verwronge?
◻ Waarom moet ons geregtigheid beoefen?
[Prent op bladsy 8]
Jesus het die omvang van Goddelike geregtigheid duidelik gemaak