Volg Jehovah na—Beoefen geregtigheid en regverdigheid
‘Ek is Jehovah, die Een wat liefderyke goedhartigheid, geregtigheid en regverdigheid op die aarde beoefen; want in hierdie dinge skep ek inderdaad behae.’—JEREMIA 9:24, NW.
1. Watter wonderlike hoop het Jehovah in die vooruitsig gestel?
JEHOVAH het beloof dat die dag sou aanbreek wanneer almal hom sal ken. Deur sy profeet Jesaja het hy gesê: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9). Wat ’n wonderlike vooruitsig is dit tog!
2. Wat sluit kennis van Jehovah in? Waarom?
2 Maar wat beteken dit om Jehovah te ken? Jehovah het aan Jeremia geopenbaar wat werklik van belang is: “Insig en kennis . . . van my, dat ek Jehovah is, die Een wat liefderyke goedhartigheid, geregtigheid en regverdigheid op die aarde beoefen; want in hierdie dinge skep ek inderdaad behae” (Jeremia 9:24, NW). Om Jehovah te ken, sluit dus in dat ons weet hoe hy geregtigheid en regverdigheid beoefen. As ons dan hierdie eienskappe aan die dag lê, sal hy behae in ons hê. Hoe kan ons dit doen? In sy Woord, die Bybel, het Jehovah ’n verslag bewaar van sy handelinge met onvolmaakte mense deur die eeue heen. Deur dit te bestudeer, kan ons Jehovah se weg van geregtigheid en regverdigheid leer ken en hom dus navolg.—Romeine 15:4.
Regverdig dog medelydend
3, 4. Waarom was Jehovah se vernietiging van Sodom en Gomorra geregverdig?
3 Die Goddelike oordeel oor Sodom en Gomorra is ’n uitstekende voorbeeld wat etlike aspekte van Jehovah se geregtigheid toelig. Jehovah het nie net die nodige straf toegedien nie, maar ook redding aan die verdienstelikes voorsien. Was die vernietiging van daardie stede werklik geregverdig? Abraham, wat blykbaar beperkte kennis van die omvang van Sodom se goddeloosheid gehad het, het eers nie so gedink nie. Jehovah het Abraham verseker dat hy daardie stad sou spaar selfs as net tien regverdige mense daarin gevind kon word. Dit is duidelik dat Jehovah se geregtigheid nooit oorhaastig of onbarmhartig toegepas word nie.—Genesis 18:20-32.
4 Die inspeksie deur die twee engele het onweerlegbare getuienis van Sodom se sedelike verdorwenheid voorsien. Toe die manne van die stad, “jonk en oud”, uitgevind het dat twee mans by Lot tuis is, het hulle sy huis aangeval met die doel om homoseksuele verkragting as ’n groep te pleeg. Hulle verdorwenheid het waarlik tot ’n lae peil gedaal! Jehovah se oordeel oor die stad was sonder enige twyfel regverdig.—Genesis 19:1-5, 24, 25.
5. Hoe het God Lot en sy gesin uit Sodom verlos?
5 Nadat die apostel Petrus die vernietiging van Sodom en Gomorra as ’n waarskuwende voorbeeld aangehaal het, het hy geskryf: “Jehovah [weet] hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos” (2 Petrus 2:6-9). Geregtigheid sou nie geskied het as regverdige Lot en sy gesin saam met die goddelose mense van Sodom vernietig is nie. Jehovah se engele het Lot dus teen die dreigende vernietiging gewaarsku. Toe Lot nog talm, het die engele weens ‘Jehovah se medelye’ hom, sy vrou en sy dogters aan die hand gegryp en hulle uit die stad gelei (Genesis 19:12-16, vgl. NW). Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah soortgelyke besorgdheid oor regverdiges in die naderende vernietiging van hierdie goddelose stelsel sal toon.
6. Waarom moet ons nie uitermate besorg wees oor die naderende vernietiging van die goddelose stelsel van dinge nie?
6 Hoewel die einde van hierdie stelsel ’n tyd sal wees “waarin die reg toegepas sal word”, bestaan daar geen rede vir ons om uitermate besorg te wees nie (Lukas 21:22). Die oordeel wat God by Armageddon gaan voltrek, sal heeltemal “regverdig” wees (Psalm 19:10). Soos Abraham geleer het, kan ons as mense volkome vertroue stel in Jehovah se geregtigheid, wat op ’n baie hoër vlak as ons s’n is. Abraham het gevra: “Gaan die Regter van die hele aarde nie doen wat reg is nie?” (Genesis 18:25, NW; vergelyk Job 34:10.) Of soos Jesaja dit gepas gestel het: “Wie leer [Jehovah] in die pad van geregtigheid?”—Jesaja 40:14, NW.
’n Regverdige daad om die mensdom te red
7. Watter verband is daar tussen God se geregtigheid en sy barmhartigheid?
7 God se geregtigheid word nie net geopenbaar in die manier waarop hy kwaaddoeners straf nie. Jehovah beskryf homself as “’n regverdige en reddende God” (Jesaja 45:21). Daar is klaarblyklik ’n noue verband tussen God se regverdigheid, of geregtigheid, en sy begeerte om die mensdom te bevry van die gevolge van sonde. The International Standard Bible Encyclopedia, 1982-uitgawe, se kommentaar oor hierdie teks wys daarop dat “God se geregtigheid op konkrete wyse probeer om Sy barmhartigheid te openbaar en Sy redding teweeg te bring”. Dit is nie dat God se geregtigheid met barmhartigheid getemper moet word nie, maar eerder dat barmhartigheid ’n blyk van God se geregtigheid is. God se voorsiening van ’n losprys vir die mensdom se redding is die treffendste voorbeeld van hierdie aspek van Goddelike geregtigheid.
8, 9. (a) Wat het die beskrywing “een regverdige daad” ingesluit? Waarom? (b) Wat vra Jehovah van ons terug?
8 Die losprys—die kosbare lewe van God se enigverwekte Seun, Jesus Christus—was ’n groot opoffering omdat Jehovah se standaarde universeel is en hy self daarby bly (Matteus 20:28). ’n Volmaakte lewe, dié van Adam, is verbeur; ’n volmaakte lewe was dus nodig om die lewe vir Adam se afstammelinge terug te koop (Romeine 5:19-21). Die apostel Paulus beskryf Jesus se weg van onkreukbaarheid, wat die betaling van die losprys ingesluit het, as “een regverdige daad” (Romeine 5:18, voetnoot in naslaanuitgawe). Waarom? Want uit Jehovah se standpunt was dit reg en regverdig om die mensdom los te koop, selfs al het dit ’n groot opoffering van hom geverg. Adam se nageslag was soos ’n “beskadigde riet”, wat God nie wou verbrysel nie, of soos ’n “smeulende vlaspit”, wat hy nie wou uitblus nie (Matteus 12:20). God het die vertroue gehad dat daar talle getroue manne en vroue uit Adam se afstammelinge sou kom.—Vergelyk Matteus 25:34.
9 Hoe moet ons reageer op hierdie allergrootste daad van liefde en geregtigheid? Een van die dinge wat Jehovah van ons terugvra, is dat ons ‘geregtigheid beoefen’ (Miga 6:8, NW). Hoe kan ons dit doen?
Soek geregtigheid, streef regverdigheid na
10. (a) Wat is een manier waarop ons geregtigheid beoefen? (b) Hoe kan ons eers God se regverdigheid soek?
10 Ons moet eerstens volgens God se sedelike standaarde lewe. Aangesien God se standaarde reg en regverdig is, beoefen ons geregtigheid as ons in ooreenstemming daarmee lewe. Dit is wat Jehovah van sy volk verwag. “Leer om goed te doen; soek [geregtigheid, NW]” het Jehovah vir die Israeliete gesê (Jesaja 1:17). Jesus het soortgelyke raad aan sy toehoorders in die Bergpredikasie gegee, toe hy hulle beveel het “om eers die koninkryk en [God se] regverdigheid te soek” (Matteus 6:33). Paulus het Timoteus aangemoedig om ‘na regverdigheid te streef’ (1 Timoteus 6:11). Wanneer ons in ooreenstemming met God se gedragstandaarde lewe en ons met die nuwe persoonlikheid beklee, streef ons na ware geregtigheid en regverdigheid (Efesiërs 4:23, 24). Met ander woorde, ons soek geregtigheid deur dinge op God se manier te doen.
11. Waarom en hoe moet ons daarteen stry dat sonde meester oor ons word?
11 Soos ons goed weet, is dit nie altyd maklik vir onvolmaakte mense om te doen wat reg en regverdig is nie (Romeine 7:14-20). Paulus het die Christene in Rome aangespoor om daarteen te stry dat sonde meester oor hulle word, sodat hulle hulle toegewyde liggame vir God kan aanbied as “wapens van regverdigheid”, wat nuttig vir God sal wees in die uitvoering van sy voorneme (Romeine 6:12-14). Ons kan eweneens deur gereelde studie en toepassing van God se Woord die “verstandsregulering van Jehovah” ons eie maak en ‘in regverdigheid gedissiplineer’ word.—Efesiërs 6:4; 2 Timoteus 3:16, 17.
12. Wat moet ons vermy as ons ander wil behandel soos ons wil hê dat Jehovah ons moet behandel?
12 Tweedens beoefen ons geregtigheid wanneer ons ander behandel soos ons wil hê dat Jehovah ons moet behandel. Dit is maklik om ’n dubbele standaard te hê—’n toegeeflike standaard vir onsself, maar ’n strenge vir ander. Ons maak geredelik verskonings vir ons eie tekortkominge, maar ons is gou om die foute van ander te kritiseer, wat heel moontlik geringer in vergelyking met ons s’n is. Jesus vra gepas: “Waarom kyk jy dan na die strooihalm in jou broer se oog, maar let nie op die balk in jou eie oog nie?” (Matteus 7:1-3). Ons moet nooit vergeet dat nie een van ons sou bestaan het as Jehovah ons foute krities beskou het nie (Psalm 130:3, 4). As Jehovah se geregtigheid hom toelaat om ons broers se swakhede oor die hoof te sien, wie is ons om hulle ongunstig te oordeel?—Romeine 14:4, 10.
13. Waarom voel ’n regverdige persoon verplig om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig?
13 Derdens openbaar ons Goddelike geregtigheid wanneer ons ywerig aan die predikingswerk deelneem. “Hou ’n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in jou mag is om dit te doen nie”, maan Jehovah ons (Spreuke 3:27). Dit sou nie reg wees om die lewegewende kennis wat God so mildelik aan ons gegee het vir onsself te hou nie. Baie mense verwerp weliswaar ons boodskap, maar so lank as wat God voortgaan om barmhartigheid aan hulle te bewys, moet ons gewillig aanhou om hulle die geleentheid te bied om ‘tot berou te kom’ (2 Petrus 3:9). En soos Jesus voel ons verheug wanneer ons iemand kan help om geregtigheid en regverdigheid te begin beoefen (Lukas 15:7). Dit is nou die gunstige tyd vir ons om ‘saad te saai in regverdigheid’.—Hosea 10:12, NW.
‘Vorste vir geregtigheid’
14. Watter rol speel ouer manne wat geregtigheid betref?
14 Ons almal moet in die weg van regverdigheid wandel, maar ouer manne in die Christengemeente het ’n spesiale verantwoordelikheid in hierdie opsig. Jesus se vorstelike heerskappy word ‘gesteun deur middel van geregtigheid en regverdigheid’. Gevolglik is Goddelike geregtigheid die standaard vir ouer manne (Jesaja 9:7, NW). Hulle hou in gedagte wat profeties beskryf word in Jesaja 32:1: “Kyk, ’n koning sal regeer in [regverdigheid, NW]; en die vorste sal heers [vir geregtigheid, NW].” As geesaangestelde opsieners, of ‘God se bestuurders’, moet ouer manne dinge op God se manier doen.—Titus 1:7.
15, 16. (a) Hoe volg ouer manne die getroue herder in Jesus se illustrasie na? (b) Hoe voel die ouer manne oor diegene wat geestelik verlore is?
15 Jesus het getoon dat Jehovah se geregtigheid medelydend, barmhartig en redelik is. Bowenal het hy probeer om diegene te help wat probleme gehad het en diegene “te soek en te red wat verlore was” (Lukas 19:10). Soos die herder in Jesus se illustrasie wat onvermoeid gesoek het totdat hy ’n verlore skaap gevind het, soek ouer manne ook na diegene wat geestelik afgedwaal het, en ouer manne probeer hulle teruglei na die kudde.—Matteus 18:12, 13.
16 Ouer manne veroordeel nie diegene wat ernstige sondes gepleeg het nie, maar probeer hulle eerder genees en tot berou lei, indien moontlik. Hulle is verheug wanneer hulle iemand kan help wat afgedwaal het. Dit maak hulle egter hartseer wanneer ’n oortreder nie berou toon nie. Dan vereis God se regverdige standaarde dat hulle die onberouvolle persoon uitsit. Selfs dan hoop hulle, soos die vader van die verlore seun, dat die oortreder eendag ‘tot besinning sal kom’ (Lukas 15:17, 18). Daarom neem ouer manne die inisiatief om sekere uitgesette persone te besoek en hulle te herinner aan hoe hulle na Jehovah se organisasie kan terugkeer.a
17. Watter doelwit het ouer manne wanneer hulle ’n geval van oortreding hanteer, en watter eienskap sal hulle help om daardie doelwit te bereik?
17 Ouer manne moet veral Jehovah se geregtigheid navolg wanneer hulle gevalle van oortreding hanteer. Sondaars ‘het na Jesus toe bly kom’ omdat hulle gevoel het dat hy hulle sou verstaan en sou help (Lukas 15:1; Matteus 9:12, 13). Jesus het natuurlik nie sonde vergoelik nie. Één maaltyd saam met Jesus het Saggeus, ’n berugte afperser, beweeg om berou te toon en te vergoed vir al die lyding wat hy ander veroorsaak het (Lukas 19:8-10). Vandag het ouer manne dieselfde doelwit tydens hulle regterlike verhore—om die oortreder tot berou te lei. As hulle soos Jesus genaakbaar is, sal baie oortreders dit makliker vind om hulle hulp te vra.
18. Wat sal ouer manne in staat stel om soos “’n toevlug teen die wind” te wees?
18 ’n Teer hart sal ouer manne help om Goddelike geregtigheid toe te pas wat nie hardvogtig of ongevoelig is nie. Dit is interessant dat Esra sy hart en nie net sy verstand voorberei het om die Israeliete geregtigheid te leer nie (Esra 7:10, NW). ’n Hart vol insig sal ouer manne in staat stel om die gepaste skriftuurlike beginsels toe te pas en die omstandighede van elke individu in aanmerking te neem. Toe Jesus die vrou met bloedvloeiing genees het, het hy getoon dat Jehovah se geregtigheid ’n begrip van die gees sowel as die letter van die wet behels (Lukas 8:43-48). Ouer manne wat geregtigheid met medelye toepas, kan soos “’n toevlug teen die wind” wees vir diegene wat deur hulle eie swakhede geteister word of wat aanslae verduur van hierdie goddelose stelsel waarin ons lewe.—Jesaja 32:2.
19. Hoe het ’n suster op die toepassing van Goddelike geregtigheid gereageer?
19 ’n Suster wat ’n ernstige sonde gepleeg het, het uit haar eie ondervinding geleer wat Goddelike geregtigheid beteken. “Om eerlik te wees, ek was bang om na die ouer manne te gaan”, erken sy. “Maar hulle het my met medelye en waardigheid behandel. Die ouer manne was soos vaders eerder as hardvogtige regters. Hulle het my gehelp om te verstaan dat Jehovah my nie sou verwerp as ek vasbeslote is om my weë te verander nie. Ek het self ondervind hoe hy ons soos ’n liefdevolle Vader dissiplineer. Ek kon my hart voor Jehovah uitstort, in die vertroue dat hy na my smekinge sou luister. As ek terugkyk, kan ek eerlikwaar sê dat daardie vergadering met die ouer manne sewe jaar gelede ’n seën van Jehovah was. Van toe af is my verhouding met hom baie sterker.”
Bewaar geregtigheid en doen wat regverdig is
20. Wat is die voordele daarvan om geregtigheid en regverdigheid te verstaan en dit te beoefen?
20 Gelukkig beteken Goddelike geregtigheid veel meer as net om aan elke mens te gee wat hy verdien. Jehovah se geregtigheid het hom beweeg om die ewige lewe te gee aan diegene wat geloof beoefen (Psalm 103:10; Romeine 5:15, 18). God handel met ons op hierdie manier omdat sy geregtigheid ons omstandighede in ag neem, en dit probeer ons eerder red as veroordeel. ’n Beter begrip van die omvang van Jehovah se geregtigheid laat ons inderdaad nader aan hom kom. En namate ons daarna streef om hierdie faset van sy persoonlikheid na te volg, sal óns lewe en dié van ander ryklik geseën wees. Ons strewe na geregtigheid sal nie ongemerk by ons hemelse Vader verbygaan nie. Jehovah beloof ons: “Bewaar geregtigheid en doen wat reg is. Want my redding is naby om te kom en my regverdigheid om geopenbaar te word. Gelukkig is die sterflike mens wat dit doen.”—Jesaja 56:1, 2, NW.
[Voetnoot]
Onthou jy?
◻ Wat leer die vernietiging van Sodom en Gomorra ons omtrent Jehovah se geregtigheid?
◻ Waarom is die losprys ’n uitmuntende blyk van God se geregtigheid en liefde?
◻ Wat is drie maniere waarop ons geregtigheid kan beoefen?
◻ Op watter besondere manier kan ouer manne Goddelike geregtigheid navolg?
[Prente op bladsy 15]
Ons openbaar Goddelike geregtigheid deur ons predikingswerk
[Prent op bladsy 16]
Wanneer ouer manne Goddelike geregtigheid openbaar, vind diegene met probleme dit makliker om hulle hulp te vra