’n Werk wat “beslis respek afdwing”
DIE apostel Petrus het sy mede-Christene vermaan: “Handhaaf voortreflike gedrag onder die nasies, sodat hulle, in die aangeleentheid waarin hulle teen julle spreek as boosdoeners, as gevolg van julle voortreflike werke waarvan hulle ooggetuies is, God . . . sal verheerlik” (1 Petrus 2:12). Jehovah se Getuies in Italië openbaar al baie jare sulke voortreflike gedrag in die openbaar. In die gees van Jesus se opdrag om die goeie nuus ‘van die dakke af te verkondig’, doen hulle al hulle Christelike werk in die openbaar, waar almal hulle kan sien (Matteus 10:27; Johannes 18:20). Toe ’n Italiaanse prokureur en ’n priester beskuldigings gepubliseer het dat Jehovah se Getuies “’n pseudogodsdienstige sekte” is en hulle oor dieselfde kam geskeer het as “geheime organisasies wat mense verstrik”, het die Getuies gevolglik besluit om regstappe te doen weens die lasterlike opmerkings.
Met die eerste verhoor het die hof beslis dat die prokureur en die priester geen wet oortree het nie. Maar op 17 Julie 1997 het Venesië se Appèlhof die eerste hof se besluit verwerp en albei verweerders skuldig bevind. Die Appèlhof het gesê: “Albei die gepubliseerde artikels wat ter sprake is, het uitdrukkings en sinsnedes bevat wat die reputasie van die lede van die godsdiens van ‘Jehovah se Getuies’ beslis kan benadeel. Dit wil voorkom asof die bedoeling van die artikels is om die lede daarvan by die publiek in onguns te bring.” Die hof het gesê dat die artikels “nie neerkom op die geoorloofde uitoefening van die reg op verslaggewing en kritiek nie”. Die hof het die twee lasteraars beboet en hulle ook beveel om al die hofkoste te betaal, waaronder al die Getuies se regskoste vir albei sake.
In sy geskrewe uitspraak het Venesië se Appèlhof gesê: “Slegs deur al die regte wat deur die [Italiaanse] Grondwet gewaarborg word in ewewig te hou en te beskerm, is dit moontlik om vorme van onverdraagsaamheid en godsdiensfanatisme te verhoed.” Die beslissing erken dat die bedrywighede van Jehovah se Getuies nie geheim of pseudogodsdienstig is nie. “Om die Getuies saam met geheime organisasies te klassifiseer”, het die hof gesê, “respekteer nie eers die maatstaf van geskiedkundige waarheid nie, aangesien die godsdiens in baie stede beoefen word en die grootskaalse werk van sy lede om bekeerlinge te soek, veral op Sondae en ander vakansiedae, welbekend is en beslis respek afdwing vir hulle pogings, ongeag wat ’n mens van die leerstellings dink wat hulle verkondig.” Die naam wat Jehovah se Getuies in Italië het vir hulle ywerige predikingswerk en voorbeeldige gedrag het dus gehelp om vooroordeel teen hulle uit die weg te ruim.—Matteus 5:14-16; 1 Petrus 2:15.