Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 10/15 bl. 8-13
  • Jerusalem—“die stad van die groot Koning”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jerusalem—“die stad van die groot Koning”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die plek van “Jehovah se troon”
  • Van vrede tot verwoesting
  • Teëgestaan deur heidense bure
  • Die Messias verskyn!
  • Afskaduwings van blywende vrede
  • Jerusalem—’n rede “om bly te wees”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Aardse Jerusalem in teenstelling met hemelse Jerusalem
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • “Juig vir ewig”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • God se belofte oor sy wêreldregering is betroubaar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 10/15 bl. 8-13

Jerusalem—“die stad van die groot Koning”

“Moet glad nie sweer . . . by Jerusalem nie, omdat dit die stad van die groot Koning is.”—MATTEUS 5:34, 35.

1, 2. Waaroor wonder party mense dalk in verband met Jerusalem?

JERUSALEM—die blote naam wek sterk gevoelens by mense van verskillende godsdienste. Trouens, nie een van ons kan hierdie antieke stad ignoreer nie, aangesien dit dikwels in die nuus gemeld word. Maar ongelukkig toon baie verslae dat Jerusalem nie altyd ’n plek van vrede is nie.

2 Dit laat dalk ’n moeilike vraag by party Bybellesers ontstaan. In die verlede was Jerusalem se verkorte naam Salem, wat “vrede” beteken (Genesis 14:18; Psalm 76:3; Hebreërs 7:1, 2). Daarom wonder jy miskien: ‘Waarom was daar in onlangse dekades so ’n gebrek aan vrede in ’n stad met hierdie naam?’

3. Waar kan ons betroubare inligting aangaande Jerusalem vind?

3 Om daardie vraag te beantwoord, moet ons ver in die geskiedenis teruggaan en meer aangaande die Jerusalem van die ou tyd leer. Maar party dink dalk: ‘Ons het nie tyd om eertydse geskiedenis te bestudeer nie.’ Juiste kennis van Jerusalem se vroeë geskiedenis is nietemin nuttig vir ons almal. Die Bybel sê vir ons waarom met hierdie woorde: “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê” (Romeine 15:4). Bybelkennis van Jerusalem kan ons vertroosting—ja, en die hoop op vrede gee, nie net in daardie stad nie, maar regoor die wêreld.

Die plek van “Jehovah se troon”

4, 5. Hoe het Dawid gehelp om Jerusalem ’n sleutelrol in die verwesenliking van God se voorneme te laat speel?

4 In die 11de eeu v.G.J. het Jerusalem wêreldbekend geword as die hoofstad van ’n nasie wat veilig en vreedsaam was. Jehovah God het die jong man Dawid as koning oor daardie eertydse nasie—Israel—laat salf. Aangesien Jerusalem die regeringsetel was, het Dawid en sy koninklike nakomelinge op “die troon van die koningskap van Jehovah”, of “Jehovah se troon”, gesit.—1 Kronieke 28:5, NW; 29:23, NW.

5 Die godvresende man Dawid—’n Israeliet van die stam van Juda—het die afgodiese Jebusiete verslaan en Jerusalem ingeneem. Die stad het toe slegs ’n heuwel beslaan wat Sion genoem is, maar daardie naam het sinoniem geword met Jerusalem self. Mettertyd het Dawid die ark van God se verbond met Israel na Jerusalem laat verskuif, waar dit in ’n tent gehou is. God het jare vroeër met sy profeet Moses vanuit ’n wolk bo daardie heilige Ark gepraat (Exodus 25:1, 21, 22; Levitikus 16:2; 1 Kronieke 15:1-3). Die Ark het God se teenwoordigheid afgebeeld, want Jehovah was die ware Koning van Israel. Daar kon dus in ’n tweeledige sin gesê word dat Jehovah God vanuit die stad Jerusalem regeer het.

6. Wat het Jehovah aangaande Dawid en Jerusalem belowe?

6 Jehovah het aan Dawid belowe dat die koninkryk van sy koningshuis, wat deur Sion, of Jerusalem, verteenwoordig is, nie sou eindig nie. Dit het beteken dat ’n nakomeling van Dawid die reg sou erf om vir ewig as God se Gesalfde—die Messias, of Christus—te heers (Psalm 132:11-14; Lukas 1:31-33).a Die Bybel toon ook dat hierdie permanente erfgenaam van “Jehovah se troon” oor al die nasies sal heers, nie net oor Jerusalem nie.—Psalm 2:6-8; Daniël 7:13, 14.

7. Hoe het koning Dawid rein aanbidding bevorder?

7 Pogings om God se gesalfde, koning Dawid, te onttroon, het misluk. Vyandige nasies is eerder onderwerp, en die grense van die Beloofde Land is uitgebrei tot die punt wat God daarvoor vasgestel het. Dawid het hierdie situasie gebruik om rein aanbidding te bevorder. En baie van Dawid se psalms loof Jehovah as die ware Koning in Sion.—2 Samuel 8:1-15; Psalm 9:2, 12; 24:1, 3, 7-10; 65:2, 3; 68:2, 25, 30; 110:1, 2; 122:1-4.

8, 9. Hoe het rein aanbidding in Jerusalem onder die bewind van koning Salomo uitgebrei?

8 Tydens die bewind van Dawid se seun Salomo het die aanbidding van Jehovah nuwe hoogtes bereik. Salomo het Jerusalem noordwaarts uitgebrei om die heuwel Moria (die ligging van die hedendaagse Rotskoepel) in te sluit. Hy was bevoorreg om op hierdie hoërliggende gebied ’n luisterryke tempel tot Jehovah se eer te bou. Die verbondsark is in die Allerheiligste van daardie tempel geplaas.—1 Konings 6:1-38.

9 Die nasie Israel het vrede geniet terwyl hulle die aanbidding van Jehovah, waarvan die middelpunt in Jerusalem was, heelhartig ondersteun het. Die Skrif gee ’n pragtige beskrywing van hierdie situasie en sê: “Juda en Israel was talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte; hulle het geëet en gedrink en was bly. . . . En [Salomo het] vrede gehad aan alle kante rondom; sodat Juda en Israel veilig gewoon het, elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom.”—1 Konings 4:20, 24, 25.

10, 11. Hoe bevestig die argeologie wat die Bybel oor Jerusalem tydens Salomo se bewind sê?

10 Argeologiese vondste bevestig hierdie verslag van Salomo se voorspoedige bewind. In sy boek The Archaeology of the Land of Israel sê professor Yohanan Aharoni: “Die rykdom wat uit alle oorde na die koninklike hof ingestroom het, en die florerende handel . . . het ’n vinnige en merkbare omwenteling in elke faset van materiële ontwikkeling meegebring. . . . Die verandering in materiële ontwikkeling . . . is nie net in weeldeartikels waarneembaar nie, maar veral ook in die pottebakkerskuns. . . . Die kwaliteit van die erdewerk en oonddroging het ongelooflik verbeter.”

11 Jerry M. Landay het insgelyks geskryf: “Onder Salomo se bewind het die Israeliete in drie dekades materieel verder ontwikkel as gedurende die voorafgaande tweehonderd jaar. In Salomoniese rotslae tref ons die oorblyfsels aan van imposante geboue, groot stede met enorme mure, die uitbreiding van woonbuurte met deeglik geboude komplekse van die welgesteldes se wonings, ’n betekenisvolle sprong in die tegniese bekwaamheid van die pottebakker en sy vervaardigingsprosesse. Ons vind ook die oorblyfsels van artefakte van goedere wat in verafgeleë plekke gemaak is, tekens van lewendige internasionale handel.”—The House of David.

Van vrede tot verwoesting

12, 13. Hoe het dit gebeur dat ware aanbidding nie meer in Jerusalem bevorder is nie?

12 Die vrede en voorspoed van Jerusalem, die stad waar Jehovah se heiligdom geleë was, was ’n gepaste onderwerp vir gebed. Dawid het geskryf: “Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe! Mag daar vrede wees in jou skanse, rus in jou paleise! Ter wille van my broers en my vriende wil ek spreek: Vrede in jou!” (Psalm 122:6-8). Hoewel Salomo bevoorreg was om die luisterryke tempel in daardie vreedsame stad te bou, het hy uiteindelik met baie heidense vrouens getrou. In sy latere jare het hulle hom verlei om die aanbidding van valse gode van daardie tyd te bevorder. Hierdie afvalligheid het ’n verderflike invloed op die hele nasie gehad en die nasie en sy inwoners van ware vrede beroof.—1 Konings 11:1-8; 14:21-24.

13 Vroeg in die bewind van Salomo se seun Rehabeam het tien stamme in opstand gekom en die noordelike koninkryk van Israel gevorm. As gevolg van hulle afgodsaanbidding het God toegelaat dat daardie koninkryk deur die Assiriërs verower word (1 Konings 12:16-30). Die suidelike tweestammeryk van Juda se setel was nog steeds in Jerusalem. Maar hulle het ook mettertyd van rein aanbidding afgedwaal, en daarom het God toegelaat dat die opstandige stad in 607 v.G.J. deur die Babiloniërs vernietig word. Joodse ballinge het 70 jaar lank in Babilon as gevangenes weggekwyn. Hulle is daarna, deur God se barmhartigheid, toegelaat om na Jerusalem terug te keer en ware aanbidding te herstel.—2 Kronieke 36:15-21.

14, 15. Hoe het Jerusalem ná die Babiloniese ballingskap weer ’n sleutelrol begin speel, maar met watter verandering?

14 Ná 70 jaar van verlatenheid moes die verwoeste geboue toegegroei gewees het met onkruid. Jerusalem se muur was stukkend en het groot gate gehad waar daar voorheen poorte en versterkingstorings was. Maar die Jode wat teruggekeer het, het moed geskep. Hulle het ’n altaar op die terrein van die ou tempel gebou en daaglikse offerandes aan Jehovah begin offer.

15 Dit was ’n belowende begin, maar daardie herstelde Jerusalem sou nooit weer die hoofstad van ’n koninkryk wees met ’n nakomeling van koning Dawid op die troon nie. In plaas daarvan het ’n goewerneur wat deur Babilon se veroweraars aangestel is oor die Jode geheers, en hulle moes belasting aan hulle Persiese meesters betaal (Nehemia 9:34-37). Hoewel Jerusalem “vertrap” was, was dit nog steeds die enigste stad in die hele wêreld wat Jehovah God se spesiale guns geniet het (Lukas 21:24). As die middelpunt van rein aanbidding het dit ook God se reg verteenwoordig om deur ’n nakomeling van koning Dawid sy soewereiniteit oor die aarde uit te oefen.

Teëgestaan deur heidense bure

16. Waarom het die Jode wat van Babilon teruggekeer het die herstelwerk van Jerusalem gestaak?

16 Dit het die Jode wat uit ballingskap na Jerusalem teruggekeer het nie lank geneem om die fondament van ’n nuwe tempel te lê nie. Maar naburige beoefenaars van valse godsdiens het ’n lasterlike brief na die Persiese koning Artasasta gestuur en gesê dat die Jode in opstand sou kom. Artasasta het gevolglik verdere bouwerk in Jerusalem verbied. Jy sou waarskynlik, as jy destyds daar gewoon het, gewonder het wat die toekoms vir die stad inhou. Die uiteinde was dat die Jode die tempelbouwerk gestaak het en diep betrokke geraak het by hulle eie materiële strewes.—Esra 4:11-24; Haggai 1:2-6.

17, 18. Hoe het Jehovah toegesien dat Jerusalem herbou word?

17 Sowat 17 jaar ná hulle terugkeer, het God die profete Haggai en Sagaria verwek om die denke van sy volk reg te stel. Die Jode is tot berou beweeg en het weer met die herbouing van die tempel begin. Intussen het Darius die koning van Persië geword. Hy het koning Kores se bevel bevestig dat Jerusalem se tempel herbou moes word. Darius het ’n brief aan die Jode se bure gestuur en hulle beveel om ‘ver van Jerusalem af te bly’ en om finansiële ondersteuning uit die koning se belasting te voorsien, sodat die bouwerk voltooi kon word.—Esra 6:1-13.

18 Die Jode het die tempel in die 22ste jaar van hulle terugkeer voltooi. Dit is verstaanbaar dat hierdie mylpaal iets was wat met groot blydskap gevier is. Maar ’n groot deel van Jerusalem en sy mure was nog in puin. Die stad het “in die dae van Nehemia, die goewerneur, en van die priester Esra, die skrifgeleerde” die nodige aandag gekry (Nehemia 12:26, 27). Jerusalem was klaarblyklik teen die einde van die vyfde eeu v.G.J. heeltemal herbou as ’n belangrike stad van die antieke wêreld.

Die Messias verskyn!

19. Hoe het die Messias Jerusalem se unieke status erken?

19 Maar kom ons slaan ’n paar eeue oor, en laat ons kyk na ’n gebeurtenis van universele belang, die geboorte van Jesus Christus. Jehovah God se engel het vir Jesus se maagdelike moeder gesê: “Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee, . . . en daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie” (Lukas 1:32, 33). Jare later het Jesus sy bekende Bergpredikasie gehou. By hierdie geleentheid het hy aanmoediging en raad oor baie onderwerpe gegee. Hy het sy toehoorders byvoorbeeld aangespoor om hulle geloftes teenoor God na te kom, maar om versigtig te wees om nie sommer ligtelik ’n eed af te lê nie. Jesus het gesê: “Julle het . . . gehoor dat daar vir dié van die ou tyd gesê is: ‘Jy mag nie sweer sonder om dienooreenkomstig te handel nie, maar jy moet jou geloftes aan Jehovah betaal.’ Ek sê egter vir julle: Moet glad nie sweer nie, nie by die hemel nie, omdat dit God se troon is; ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad van die groot Koning is” (Matteus 5:33-35). Dit is opmerkenswaardig dat Jesus Jerusalem se unieke status—wat daardie stad eeue lank geniet het—erken het. Ja, dit was “die stad van die groot Koning”, Jehovah God.

20, 21. Watter ingrypende verandering was daar in die gesindheid van baie van Jerusalem se inwoners?

20 Na aan die einde van Jesus se aardse lewe het hy hom aan Jerusalem se inwoners as hulle behoorlik aangestelde Koning aangebied. In reaksie op daardie opwindende gebeurtenis het talle vreugdevol uitgeroep: “Geseënd is hy wat in Jehovah se naam kom! Geseënd is die komende koninkryk van ons vader Dawid!”—Markus 11:1-10; Johannes 12:12-15.

21 Maar nie eers ’n week later nie het die skares toegelaat dat Jerusalem se godsdiensleiers hulle teen Jesus draai. Hy het gewaarsku dat die stad Jerusalem en die hele nasie hulle begunstigde posisie voor God sou verloor (Matteus 21:23, 33-45; 22:1-7). Jesus het byvoorbeeld gesê: “Jerusalem, Jerusalem, wat die profete doodmaak en dié stenig wat na haar gestuur is—hoe dikwels wou ek jou kinders bymekaarmaak, soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak! Maar julle wou nie. Kyk! Julle huis word vir julle verlate agtergelaat” (Matteus 23:37, 38). Tydens die Pasga van 33 G.J. het Jesus se teenstanders hom ten onregte buite Jerusalem laat teregstel. Jehovah het nietemin sy Gesalfde opgewek en hom met onsterflike geeslewe in die hemelse Sion verheerlik, ’n prestasie waarby ons almal kan baat vind.—Handelinge 2:32-36.

22. Waarop was baie van die verwysings na Jerusalem ná Jesus se dood van toepassing?

22 Van daardie tyd af is die meeste onvervulde profesieë oor Sion, of Jerusalem, blykbaar op hemelse reëlings of op Jesus se gesalfde volgelinge van toepassing (Psalm 2:6-8; 110:1-4; Jesaja 2:2-4; 65:17, 18; Sagaria 12:3; 14:12, 16, 17). ’n Aantal verwysings na “Jerusalem” of “Sion” wat ná Jesus se dood geskryf is, het duidelik ’n figuurlike betekenis en is nie op die letterlike stad of ligging van toepassing nie (Galasiërs 4:26; Hebreërs 12:22; 1 Petrus 2:6; Openbaring 3:12; 14:1; 21:2, 10). Daar is finaal in 70 G.J. bewys dat Jerusalem nie meer “die stad van die groot Koning” was nie toe Romeinse leërs dit verwoes het, soos Daniël en Jesus Christus geprofeteer het (Daniël 9:26; Lukas 19:41-44). Nóg Bybelskrywers nóg Jesus self het voorspel dat aardse Jerusalem later tot sy vroeëre posisie van spesiale guns voor Jehovah God herstel sou word.—Galasiërs 4:25; Hebreërs 13:14.

Afskaduwings van blywende vrede

23. Waarom moet ons nog steeds in Jerusalem belangstel?

23 Noudat ons aardse Jerusalem se vroeë geskiedenis hersien het, kan ons nie ontken dat die stad die betekenis van sy naam—“besitting [of fondament] van tweevoudige vrede”—tydens koning Salomo se vreedsame bewind gestand gedoen het nie. Maar dit was slegs ’n voorskou van die vrede en voorspoed wat binnekort geniet sal word deur liefhebbers van God wat op ’n aarde sal woon wat in ’n paradys omskep sal word.—Lukas 23:43.

24. Wat kan ons leer uit die toestande wat tydens Salomo se bewind geheers het?

24 Die 72ste Psalm weerspieël die toestande wat tydens koning Salomo se bewind geheers het. Maar daardie pragtige lied is profeties van die seëninge wat die mensdom onder die hemelse heerskappy van die Messias, Jesus Christus, sal geniet. Oor hom het die psalmis gesing: “In sy dae sal die regverdige bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie. . . . Hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë. Mag daar volheid van koring wees in die land, op die top van die berge.”—Psalm 72:7, 8, 12-14, 16.

25. Waarom moet ons meer omtrent Jerusalem wil leer?

25 Watter vertroosting en hoop bied daardie woorde tog vir liefhebbers van God in Jerusalem en op enige ander plek op aarde! Jy kan onder diegene wees wat wêreldwye vrede onder die Messiaanse Koninkryk van God sal geniet. Kennis van Jerusalem se verlede kan ons help om God se voorneme met die mensdom te verstaan. Die volgende artikels sal gebeure bespreek wat in die sewende en agtste dekade ná die Jode se terugkeer uit Babiloniese ballingskap plaasgevind het. Dit vertroos almal wat Jehovah God, die Groot Koning, op aanneemlike wyse wil aanbid.

[Voetnoot]

a Die titels “Messias” (wat ontleen is aan ’n Hebreeuse woord) en “Christus” (uit Grieks) beteken albei “Gesalfde”.

Onthou jy?

◻ Hoe het Jerusalem die plek van “Jehovah se troon” geword?

◻ Watter belangrike rol het Salomo in die bevordering van ware aanbidding gespeel?

◻ Hoe weet ons dat Jerusalem nie meer die middelpunt van Jehovah se aanbidding is nie?

◻ Waarom wil ons graag meer omtrent Jerusalem leer?

[Prent op bladsy 10]

Die Stad van Dawid was op ’n suidelike rant geleë, maar Salomo het die stad noordwaarts uitgebrei en die tempel gebou

[Erkenning]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Foto-erkenning op bladsy 8]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel