Hulle het Jehovah se wil gedoen
Die grootste mens verrig ’n nederige taak
JESUS het geweet dat sy laaste ure saam met sy apostels kosbaar sou wees. Kort voor lank sou hy in hegtenis geneem word, en sy geloof sou meer as ooit tevore getoets word. Jesus was ook bewus van die groot seëninge wat voorgelê het. Hy sou binnekort tot die regterhand van God verhef word en “die naam gegee [word] wat bo elke ander naam is, sodat in die naam van Jesus elke knie sou buig van dié in die hemel en dié op die aarde en dié onder die grond”.—Filippense 2:9, 10.
Tog het Jesus nie weens kommer oor sy naderende dood of gretigheid om sy beloofde beloning te ontvang die behoeftes van sy apostels oor die hoof gesien nie. Hy het “hulle tot die einde toe liefgehad”, het Johannes later in sy Evangelie geskryf (Johannes 13:1). En in hierdie kritieke laaste ure van sy lewe as ’n volmaakte mens het Jesus sy apostels ’n baie belangrike les geleer.
’n Les in nederigheid
Die apostels was saam met Jesus in ’n bovertrek in Jerusalem om die Pasga te vier. Jesus het hulle al voorheen hoor stry oor wie die grootste onder hulle is (Matteus 18:1; Markus 9:33, 34). Hy het hierdie saak met hulle bespreek en hulle sienswyse probeer regstel (Lukas 9:46). Maar hierdie keer het Jesus daardie lesse beklemtoon deur ’n ander benadering te gebruik. Hy het besluit om nie net met hulle oor nederigheid te praat nie, maar om dit te demonstreer.
Jesus het “van die aandmaal opgestaan en sy boklere eenkant gesit”, skryf Johannes. “Hy het ’n handdoek geneem en om hom gegord. Daarna het hy water in ’n kom gegooi en begin om die voete van die dissipels te was en hulle af te droog met die handdoek wat om hom gegord was.”—Johannes 13:4, 5.
In die warm klimaat van die eertydse Midde-Ooste het mense gewoonlik oop sandale gedra terwyl hulle op stowwerige paaie geloop het. Wanneer hulle die huis van gewone mense binnegegaan het, is hulle deur ’n gasheer begroet wat komme en water voorsien het sodat hulle hulle voete kon was. In welgestelder huise het ’n slaaf hierdie taak verrig om ander se voete te was.—Rigters 19:21; 1 Samuel 25:40-42.
Toe Jesus en sy apostels in die bovertrek was, was hulle niemand se gaste nie. Daar was nie ’n gasheer om komme te voorsien nie, en daar was geen slawe om hulle voete te was nie. Toe Jesus hulle voete begin was, is die apostels in ’n ongemaklike situasie geplaas. Hier het die Een wat die grootste onder hulle was die nederigste taak verrig!
Aanvanklik het Petrus geweier dat Jesus sy voete was. Maar Jesus het vir hom gesê: “Tensy ek jou was, het jy geen deel met my nie.” Nadat Jesus al die apostels se voete gewas het, het hy gesê: “Weet julle wat ek aan julle gedoen het? Julle spreek my aan as ‘Leermeester’ en ‘Here’, en julle sê dit met reg, want ek is dit. As ek dan, hoewel Here en Leermeester, julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Want ek het die voorbeeld vir julle gestel, dat julle, net soos ek aan julle gedoen het, ook moet doen.”—Johannes 13:6-15.
Jesus het nie ’n ritueel om voete te was, ingestel nie. Hy het eerder sy apostels gehelp om ’n nuwe gesindheid aan te kweek—om nederig te wees en gewillig om die nederigste taak ter wille van hulle broers te verrig. Hulle het klaarblyklik die punt gesnap. Kyk na wat jare later gebeur het toe die kwessie van die besnydenis ontstaan het. Hoewel “’n groot geredetwis” plaasgevind het, het diegene wat teenwoordig was goeie orde gehandhaaf en op eerbiedige wyse na mekaar se beskouings geluister. Daarbenewens lyk dit of die een wat die vergadering gelei het die dissipel Jakobus was—en nie, soos ons dalk sou verwag het, een van die apostels nie, aangesien hulle teenwoordig was. Hierdie besonderheid in die verslag in Handelinge toon dat die apostels al goeie vordering gemaak het wat nederigheid betref.—Handelinge 15:6-29.
’n Les vir ons
Jesus het vir ons ’n kragtige les in nederigheid geleer deur die voete van sy dissipels te was. Ja, Christene moenie dink dat hulle so belangrik is dat ander hulle altyd moet dien nie, en hulle moet ook nie posisies van eer en aansien najaag nie. Hulle moet eerder die voorbeeld volg van Jesus, wat “gekom het, nie om gedien te word nie, maar om te dien en om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Ja, volgelinge van Jesus moet bereid wees om die nederigste take vir mekaar te verrig.
Petrus het tereg geskryf: “Omgord julle julle almal met ootmoed teenoor mekaar, want God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges” (1 Petrus 5:5). Die Griekse woord vir “omgord” is afgelei van die woord wat “’n slaaf se voorskoot” beteken, waaronder ’n los kledingstuk opgebind is. Het Petrus moontlik gesinspeel op wat Jesus gedoen het toe hy hom met ’n handdoek omgord en die voete van sy apostels gewas het? Dit kan nie met sekerheid gesê word nie. Jesus se nederige taak het nietemin ’n onuitwisbare indruk op Petrus se hart gemaak, net soos dit ’n onuitwisbare indruk moet maak op die hart van almal wat Christus se volgelinge wil wees.—Kolossense 3:12-14.