Iemand gee werklik om
DUISENDE mense toon dat hulle werklik omgee. Hulle het nie die ongevoelige, selfsugtige beskouing dat die probleme van ander hulle glad nie aangaan nie. Hulle doen eerder alles in hulle vermoë—stel soms selfs hulle eie lewe in gevaar—om lyding te verlig. Dit is ’n ontsaglike taak, wat bemoeilik word deur kragtige magte buite hulle beheer.
Faktore soos hebsug, politieke intrige, oorloë en natuurrampe kan selfs “die mees weldeurdagte en vasbeslote pogings om honger uit die weg te ruim”, dwarsboom, sê ’n bystandswerker. Om honger uit die weg te ruim, is net een van die baie probleme waarmee besorgde mense te kampe het. Hulle bestry ook dinge soos siekte, armoede, onregverdigheid en die ontsaglike lyding wat deur oorlog veroorsaak word. Maar wen hulle?
Die bestuurshoof van een bystandsvereniging het gesê dat diegene wat sulke “weldeurdagte en vasbeslote pogings” aanwend om honger en pyn te verlig soos die barmhartige Samaritaan is wat in Jesus Christus se illustrasie beskryf word (Lukas 10:29-37). Maar ondanks alles wat hulle doen, het hy gesê, word die aantal slagoffers net meer. Hy het dus gevra: “Wat moet die barmhartige Samaritaan doen as hy etlike jare lank elke dag dieselfde roete volg en elke week nog ’n slagoffer van rowers langs die pad kry?”
Dit sou maklik wees om toe te gee aan wat al beskryf is as ‘die dodelike siekte van gewermoegheid’ en eenvoudig uit frustrasie moed op te gee. Maar diegene wat werklik omgee, verdien lof, want hulle gee nie moed op nie (Galasiërs 6:9, 10). ’n Man wat aan Brittanje se Jewish Telegraph geskryf het, het Jehovah se Getuies byvoorbeeld geprys, aangesien hulle gedurende die Nazi-tydperk in Duitsland “duisende Jode gehelp het om die ellendes van Auschwitz te oorleef”. “Toe kos skaars was”, het die skrywer gesê, “het hulle hulle brood met ons [Joodse] broers en susters gedeel!” Die Getuies het bly doen wat hulle kon met die middele wat hulle gehad het.
En tog is die werklikheid: ongeag hoeveel brood daar gedeel word, dit sal nie menslike lyding heeltemal beëindig nie. Ons wil glad nie hiermee enigiets wat medelydende mense gedoen het, geringag nie. Enige daad wat lyding werklik verminder, is die moeite werd. Daardie Getuies het die pyn van hulle medegevangenes ietwat verlig, en Nazisme is uiteindelik tot niet gemaak. Maar die wêreldstelsel wat sulke verdrukking veroorsaak, bestaan nog steeds, en daar is nog baie mense wat nie omgee nie. Trouens, daar is “’n geslag waarvan die tande swaarde is, waarvan die gebit messe is, om die ellendiges uit die land te verteer en die behoeftiges onder die mensdom uit” (Spreuke 30:14). Jy wonder waarskynlik waarom dit die geval is.
Waarom is daar armoede en verdrukking?
Jesus Christus het eenkeer gesê: “Julle het die armes altyd by julle, en wanneer julle ook al wil, kan julle altyd aan hulle goed doen” (Markus 14:7). Het Jesus bedoel dat armoede en verdrukking nooit sou eindig nie? Het hy, soos party mense, geglo dat sulke lyding deel uitmaak van ’n plan van God om diegene wat medelydend is die geleentheid te gee om te toon hoeveel hulle omgee? Nee! Jesus het dit nie geglo nie. Hy het bloot getoon dat armoede ’n deel van die lewe sou wees so lank as wat hierdie stelsel van dinge bestaan. Maar Jesus het ook dít geweet: Dit was nie sy hemelse Vader se oorspronklike voorneme om sulke toestande op die aarde te hê nie.
Jehovah God het die aarde geskep om ’n paradys te wees, nie ’n plek wat deur armoede, onregverdigheid en verdrukking geteister word nie. Hy het getoon hoeveel hy vir die mensdom omgee deur wonderlike voorsienings te maak wat tot die genot in die lewe sou bydra. Dink selfs net aan die naam van die tuin waarin ons eerste ouers, Adam en Eva, geplaas is! Dit is Eden genoem, wat “Plesier” beteken (Genesis 2:8, 9). Jehovah het mense nie beperk tot net die allernodigste om in die een of ander saai, onderdrukkende omgewing aan die lewe te bly nie. Toe Jehovah sy skeppingswerke voltooi het, het hy gekyk na wat hy gemaak het en verklaar dat dit “baie goed” was.—Genesis 1:31.
Waarom is armoede, verdrukking en ander oorsake van lyding dan vandag so algemeen regoor die wêreld? Die huidige goddelose stelsel van dinge bestaan omdat ons eerste ouers besluit het om teen God in opstand te kom (Genesis 3:1-5). Dit het die geskil laat ontstaan of dit vir God reg was om gehoorsaamheid van sy skepsele te vereis. Jehovah het Adam se nakomelinge dus ’n beperkte tyd van onafhanklikheid toegelaat. God het nog steeds omgegee wat van die mensdom sou word. Hy het voorsiening gemaak om al die skade wat die gevolg van daardie opstand teen hom was ongedaan te maak. En Jehovah gaan binnekort armoede en verdrukking—om die waarheid te sê, alle lyding—beëindig.—Efesiërs 1:8-10.
’n Probleem wat mense nie kan oplos nie
Gedurende die eeue sedert die mens se skepping het die mensdom al hoe verder van Jehovah se standaarde af wegbeweeg (Deuteronomium 32:4, 5). En terwyl mense voortgaan om God se wette en beginsels te verwerp, veg hulle teen mekaar en “die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk” (Prediker 8:9). Alle pogings om ’n waarlik regverdige gemeenskap te bewerkstellig, wat vry is van alles wat die lydende volksmassa teister, word verydel deur die selfsug van diegene wat dinge eerder op hulle eie manier wil doen as om hulle aan God se soewereiniteit te onderwerp.
Daar is nog ’n probleem—een wat baie dalk as bygelowige onsin sal afmaak. Die aanstigter van die opstand teen God probeer mense nog steeds oorhaal om slegte dade te doen en selfsugtig te wees. Hy is Satan die Duiwel, en Jesus Christus het hom “die heerser van hierdie wêreld” genoem (Johannes 12:31; 14:30; 2 Korintiërs 4:4; 1 Johannes 5:19). In die openbaring wat aan die apostel Johannes gegee is, word Satan as die oorheersende oorsaak van weë geïdentifiseer—die een wat “die hele bewoonde aarde mislei”.—Openbaring 12:9-12.
Al gee party mense ook hoe baie om vir hulle medemens, hulle sal nooit van Satan die Duiwel ontslae kan raak of hierdie stelsel met sy toenemende aantal slagoffers kan verander nie. Wat is dan nodig om die mensdom se probleme op te los? Die oplossing is nie bloot iemand wat omgee nie. Daar is ’n behoefte aan iemand wat die begeerte en die mag het om van Satan en sy hele onregverdige stelsel ontslae te raak.
“Laat u wil geskied . . . op die aarde”
God belowe om hierdie goddelose stelsel van dinge te vernietig. Hy het die begeerte sowel as die mag wat nodig is om dit te doen (Psalm 147:5, 6; Jesaja 40:25-31). In die profetiese Bybelboek Daniël word daar voorspel: “Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44). Jesus Christus het hierdie blywende en welwillende hemelse regering in gedagte gehad toe hy sy dissipels geleer het om God in gebed te vra: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matteus 6:9, 10.
Jehovah sal sulke gebede verhoor omdat hy werklik vir die mensdom omgee. Volgens die profetiese woorde van Psalm 72 sal God sy Seun, Jesus Christus, die gesag gee om blywende verligting te bring vir die behoeftiges, die ellendiges en die verdruktes wat Jesus se heerskappy ondersteun. Die geïnspireerde psalmis het dus gesing: “Hy [God se Messiaanse Koning] sal aan die ellendiges van die volk reg verskaf, die kinders van die behoeftige verlos en die verdrukker verbrysel. . . . Hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.”—Psalm 72:4, 12-14.
In ’n visioen wat op ons dag betrekking het, het die apostel Johannes “’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde” gesien, ’n heeltemal nuwe stelsel van dinge wat deur God tot stand gebring word. Wat ’n seën tog vir die lydende mensdom! Johannes het voorspel wat Jehovah gaan doen en geskryf: “Ek [het] ’n harde stem van die troon af hoor sê: ‘Kyk! Die tent van God is by die mense, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.’ En die Een wat op die troon sit, het gesê: ‘Kyk! Ek maak alles nuut.’ Ook sê hy: ‘Skryf, want hierdie woorde is betroubaar en waaragtig.’”—Openbaring 21:1-5.
Ja, ons kan hierdie woorde glo, want hulle is betroubaar en waaragtig. Jehovah sal binnekort optree om armoede, honger, verdrukking, siekte en alle onregverdigheid van die aarde af te verwyder. Soos hierdie tydskrif al dikwels uit die Skrif getoon het, is daar ’n oorvloed van bewyse dat ons in die tyd lewe wanneer hierdie beloftes vervul gaan word. God se beloofde nuwe wêreld is op hande! (2 Petrus 3:13). Jehovah gaan binnekort “die dood vir ewig vernietig” en “die trane van alle aangesigte afvee”.—Jesaja 25:8.
Maar intussen kan ons bly wees dat daar selfs nou mense is wat waarlik omgee. ’n Groter rede tot blydskap is die feit dat Jehovah God self werklik omgee. Hy gaan binnekort alle verdrukking en lyding uit die weg ruim.
Jy kan jou volle vertroue in Jehovah se beloftes stel. Sy kneg Josua het beslis. Hy het sonder enige voorbehoud vir God se eertydse volk gesê: “Julle moet erken met jul hele hart en met jul hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat die HERE julle God oor julle gespreek het, onvervuld gebly het nie; alles het vir julle uitgekom, nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie” (Josua 23:14). Terwyl die huidige stelsel van dinge nog bestaan, moet jy derhalwe nie toelaat dat die beproewinge waarvoor jy moontlik te staan sal kom jou onderkry nie. Werp al jou sorge op Jehovah, want hy gee werklik om.—1 Petrus 5:7.
[Prente op bladsy 7]
In God se beloofde nuwe wêreld sal die aarde vry wees van armoede, verdrukking, siekte en onregverdigheid