Beveel jy jou aan by ander?
‘Ek gee nie om wat ander mense dink nie!’ Jy het dalk al hierdie woorde ewe manhaftig gesê wanneer jy kwaad of gefrustreerd was. Maar wanneer jy eers ’n bietjie afgekoel het, het jy dalk ’n bietjie bekommerd geraak. Waarom? Omdat dit vir die meeste van ons wel saak maak wat ander van ons dink.
TROUENS, ons behoort ander se gevoelens in ag te neem. Ons as Christene, geordende bedienaars van Jehovah God, moet veral opreg besorg wees oor hoe ander ons beskou. Ons is per slot van rekening ‘’n teaterskouspel vir die wêreld’ (1 Korintiërs 4:9). In 2 Korintiërs 6:3, 4 vind ons die apostel Paulus se goeie raad: “In geen opsig gee ons enige aanleiding tot struikeling nie, sodat daar nie met ons bediening foutgevind sal word nie; maar in elke opsig beveel ons ons as God se bedienaars aan.”
Maar wat beteken dit dat ons ons by ander moet aanbeveel? Beteken dit dat ons onsself moet verhoog of buitensporige aandag op onsself of op ons vermoëns moet vestig? Nee. Maar dit beteken wel dat ons 1 Petrus 2:12 moet toepas: “Handhaaf voortreflike gedrag onder die nasies, sodat hulle, . . . as gevolg van julle voortreflike werke waarvan hulle ooggetuies is, God . . . sal verheerlik.” Christene beveel hulle aan deur hulle gedrag vir hulle te laat getuig! Uiteindelik strek dit nie ons nie, maar God tot eer. Ons kan nietemin ook persoonlik daarby baat vind as ons ons by ander aanbeveel. Kom ons kyk na drie gebiede waarop dit in ons geval waar kan wees.
As ’n potensiële huweliksmaat
Neem byvoorbeeld die huwelik. Dit is ’n gawe van Jehovah God, die een “aan wie elke familie in die hemel en op die aarde sy naam te danke het” (Efesiërs 3:15). Miskien wil jy graag eendag trou. Indien wel, in watter mate beveel jy jou aan as ’n potensiële huweliksmaat? Ja, watter reputasie het jy opgebou as ’n ongetroude Christenman of -vrou?
Vir gesinne in party lande is dit iets baie belangriks. Wanneer twee persone in Ghana byvoorbeeld met mekaar wil trou, is dit die tradisie dat die voornemende paartjie hulle ouers daarvan vertel. Die ouers sal op hulle beurt ander familielede in kennis stel. Die man se gesin sal dan uitvind wat die vrou se reputasie in die buurt is. Wanneer die ouers oortuig is dat die vrou geskik is vir hulle seun, sal hulle die vrou se gesin inlig oor hulle seun se begeerte om met hulle dogter te trou. Die vrou se gesin sal dan uitvind wat die man se reputasie is voordat hulle tot die huwelik instem. ’n Spreuk in Ghana lui dus: “Vra dié wat behoort te weet voor jy trou.”
Wat van Westerse lande, waar mense oor die algemeen toegelaat word om hulle eie huweliksmaat te kies? Selfs hier sal ’n ryp Christenman of -vrou verstandig optree deur die eerlike aanbeveling te kry van diegene wat die potensiële maat goed ken, soos ouers of ryp vriende. Volgens die boek Die geheim van gesinsgeluk kan ’n jong vrou vra: “‘Wat is hierdie man se reputasie? Wie is sy vriende? Openbaar hy selfbeheersing? Hoe behandel hy bejaardes? Uit watter soort gesin kom hy? Hoe kom hy met hulle oor die weg? Wat is sy siening van geld? Misbruik hy sterk drank? Is hy buierig, selfs gewelddadig? Watter gemeentelike verantwoordelikhede het hy, en hoe kom hy dit na? Kan ek diep respek vir hom hê?’—Levitikus 19:32; Spreuke 22:29; 31:23; Efesiërs 5:3-5, 33; 1 Timoteus 5:8; 6:10; Titus 2:6, 7.”a
’n Man sal eweneens wil uitvind omtrent ’n Christenvrou met wie hy wil trou. Volgens die Bybel het Boas sulke belangstelling getoon in Rut, die vrou met wie hy later getrou het. Toe Rut gevra het: “Waarom het ek genade in u oë gevind, dat u in my belang stel alhoewel ek ’n vreemdeling is?” het Boas gesê: “Aan my is alles omstandig vertel wat jy . . . gedoen het” (Rut 2:10-12). Ja, Boas het nie net self gesien dat Rut ’n lojale, toegewyde en hardwerkende vrou is nie, maar ander het ook goed van haar gepraat.
Jou gedrag sal eweneens in ’n mate bepaal of ander jou as ’n geskikte huweliksmaat beskou of nie. Presies hoe beveel jy jou by ander aan in hierdie opsig?
As ’n werknemer
Nog ’n gebied waar jy daarby baat kan vind as jy goeie gedrag handhaaf, is by die werk. Daar is dalk groot mededinging om betrekkings. Werknemers wat die reputasie het dat hulle nie onderdanig is nie, dat hulle gereeld laat kom en oneerlik is, word dikwels afgedank. Maatskappye betaal dalk ook ervare werknemers af om koste te besnoei. Wanneer werkloses na nuwe werk soek, sal hulle moontlik vind dat maatskappye by hulle vorige werkgewers sal uitvind wat hulle werkgewoontes, gesindheid en ondervinding is. Baie Christene het hulleself met welslae by werkgewers aanbeveel weens hulle eerbiedige gedrag, beskeie kleredrag, vriendelike geaardheid en voortreflike Christelike eienskappe.
Eerlikheid is so ’n eienskap—een wat talle werkgewers baie belangrik ag. Soos die apostel Paulus wil “ons ons in alles eerlik . . . gedra” (Hebreërs 13:18). By een mynmaatskappy in Ghana was daar ’n probleem met diefstal. Die voorman by die behandelingsaanleg, ’n Getuie, het sy werk behou terwyl ander afgedank is. Waarom? Die bestuur het deur die jare heen sy eerlikheid gesien. Hulle het hom ook geken as iemand wat hard werk en eerbied vir gesag het. Ja, sy onberispelike gedrag het hom sy werk laat behou!
Wat kan ’n Christen nog doen om hom in die arbeidsmark aan te beveel? Leer om vaardig te wees in watter werk jy ook al gegee word om te doen (Spreuke 22:29). Wees vlytig en pligsgetrou in jou werk (Spreuke 10:4; 13:4). Behandel jou werkgewer en werkopsiener met respek (Efesiërs 6:5). Stiptelikheid, eerlikheid, vaardigheid en harde werk is eienskappe wat werkgewers hoog op prys stel, en hierdie eienskappe kan jou help om werk te kry selfs wanneer werk skaars is.
Gemeentelike voorregte
Nou meer as ooit tevore is ryp manne nodig wat die leiding in die Christengemeente kan neem. Waarom? Jesaja het geprofeteer: “Maak die plek van jou tent wyd, en laat hulle die doeke van jou tentwonings oopspan” (Jesaja 54:2). Ter vervulling van hierdie profesie word Jehovah se wêreldwye gemeente al hoe groter.
As jy dus ’n Christenman is, hoe kan jy jou aanbeveel as iemand wat bekwaam is om aangestel te word om in die gemeente te dien? Dink aan die voorbeeld van die jong man Timoteus. Lukas sê dat Timoteus “gunstig vermeld [is] deur die broers in Listra en Ikonium”. Ja, deur sy goeie gedrag het hierdie jong man hom by ander in twee verskillende stede aanbeveel. Paulus het Timoteus dus genooi om saam met hom aan die reisende werk deel te neem.—Handelinge 16:1-4.
Hoe kan ’n man vandag op ’n gepaste, godvrugtige wyse “na ’n opsienersamp streef”? Beslis nie deur stemme te werf om aangestel te word nie, maar deur die geestelike eienskappe aan te kweek wat nodig is vir hierdie verantwoordelikhede (1 Timoteus 3:1-10, 12, 13; Titus 1:5-9). Hy kan ook toon dat ‘hy ’n voortreflike werk begeer’ deur ’n volle aandeel aan die predikings- en dissipelmaakwerk te hê (Matteus 24:14; 28:19, 20). Diegene wat hulle as verantwoordelike Christenmanne aanbeveel, stel opreg belang in die welstand van hulle geestelike broers. Hulle volg die raad van die apostel Paulus: “Deel met die heiliges na gelang van hulle behoeftes. Volg die weg van gasvryheid” (Romeine 12:13). Deur sulke dinge te doen, kan ’n Christenman hom werklik ‘as ’n bedienaar van God aanbeveel’.
Te alle tye
Om ons by ander aan te beveel, beteken nie dat ons sal voorgee wat ons nie is nie of dat ons “mensebehaers” sal word nie (Efesiërs 6:6). Dit beteken in werklikheid dat ons ons by ons Skepper, Jehovah God, aanbeveel deur nougeset sy wette en beginsels te volg. As jy jou geestelikheid opbou en jou verhouding met Jehovah God versterk, sal ander sien dat jy jou gesinslede, werksmaats en mede-Christene beter behandel. Hulle sal ook jou bestendigheid en balans, jou goeie oordeelsvermoë, jou vermoë om verantwoordelikhede te hanteer en jou nederigheid raaksien. Dit sal maak dat hulle jou liefhet en respekteer en, nog belangriker, jy sal die goedkeuring van Jehovah God verkry omdat jy jou by ander aanbeveel!
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 19]
Baie ouers tree verstandig op deur uit te vind wat die reputasie is van die persoon met wie hulle seun of dogter wil trou
[Prent op bladsy 20]
’n Broer beveel hom aan vir diensvoorregte deur bedagsaam teenoor ander te wees