Bly streng by die Goddelike leer
“Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”—SPREUKE 3:5, 6.
1. Hoe word ons, soos nog nooit tevore nie, aan menslike kennis blootgestel?
DAAR is tans sowat 9 000 dagblaaie in sirkulasie regoor die wêreld. Jaarliks word ongeveer 200 000 nuwe boeke in die Verenigde State alleen gepubliseer. Volgens een skatting was daar teen Maart 1998 ongeveer 275 miljoen webblaaie op die Internet. Hierdie syfer styg na bewering met 20 miljoen webblaaie per maand. Mense het, soos nog nooit tevore nie, toegang tot inligting oor byna enige onderwerp. Hoewel hierdie situasie positiewe aspekte het, het hierdie oormaat inligting al tot probleme gelei.
2. Watter probleme kan toegang tot ’n oormaat inligting tot gevolg hê?
2 Party mense het verslaaf geraak aan inligting; hulle probeer gedurig ’n onversadigbare begeerte bevredig om op hoogte van sake te wees terwyl hulle belangriker dinge verwaarloos. Ander verkry net ’n bietjie kennis oor ingewikkelde kennisvelde en beskou hulleself dan as deskundiges op die gebied. Hulle neem dalk uiters belangrike besluite op grond van hierdie beperkte insig, terwyl dit hulleself of ander kan skaad. En ’n gevaar wat altyd bestaan, is om aan valse of onakkurate inligting blootgestel te word. Daar is dikwels geen betroubare manier om te bevestig dat die stortvloed inligting akkuraat en gebalanseerd is nie.
3. Watter waarskuwings vind ons in die Bybel omtrent die strewe na menslike wysheid?
3 Nuuskierigheid is al lank ’n karaktertrek van mense. Mense het reeds in koning Salomo se tyd besef watter gevare dit kan inhou om te veel tyd te verkwis deur nuttelose of selfs skadelike inligting in te win. Hy het gesê: “Wees gewaarsku; aan baie boeke maak kom geen einde nie, en baie studie is vermoeiing van die vlees” (Prediker 12:12). Eeue later het die apostel Paulus aan Timoteus geskryf: “Bewaar die pand wat aan jou toevertrou is en keer jou af van die leë praatjies wat skend wat heilig is en van die teenstrydighede van die valslik so genoemde ‘kennis’. Deur met sulke kennis te pronk, het party van die geloof afgewyk” (1 Timoteus 6:20, 21). Ja, Christene van vandag moet dit vermy om hulle onnodig aan skadelike idees bloot te stel.
4. Wat is een manier waarop ons ons vertroue op Jehovah en sy leringe openbaar?
4 Dit is ook goed as Jehovah se volk op die woorde van Spreuke 3:5, 6 ag slaan: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” Vertroue op Jehovah sluit in dat ons enige idee verwerp wat strydig met God se Woord is, of dit nou uit ons eie redenasies of uit dié van ons medemens voortspruit. Om onsself geestelik te beskerm, is dit noodsaaklik dat ons ons waarnemingsvermoëns oefen sodat ons skadelike inligting kan identifiseer en dit kan vermy (Hebreërs 5:14). Kom ons bespreek ’n paar bronne van sulke inligting.
’n Wêreld in die mag van Satan
5. Wat is een bron van skadelike idees, en wie sit daaragter?
5 Die sekulêre wêreld is ’n vrugbare teelaarde vir skadelike idees (1 Korintiërs 3:19). Jesus Christus het in verband met sy dissipels tot God gebid: “Ek versoek u nie om hulle uit die wêreld weg te neem nie, maar om oor hulle te waak weens die bose” (Johannes 17:15). Jesus se versoek dat sy dissipels teen “die bose” beskerm moes word, het die invloed erken wat Satan op die wêreld het. Die feit dat ons Christene is, beskerm ons nie outomaties teen die slegte invloede van hierdie wêreld nie. Johannes het geskryf: “Ons weet dat ons ons oorsprong by God het, maar die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Veral gedurende hierdie finale deel van die laaste dae is dit te verwagte dat Satan en sy demone seker sal maak dat daar ’n oorvloed skadelike inligting in die wêreld is.
6. Hoe kan die vermaaklikheidswêreld ’n mens op sedelike gebied minder gevoelig maak?
6 Ons kan ook verwag dat van hierdie skadelike inligting onskadelik sal lyk (2 Korintiërs 11:14). Dink byvoorbeeld aan die vermaaklikheidswêreld, met sy TV-programme, rolprente, musiek, boeke en tydskrifte. Baie stem saam dat sekere vorme van vermaak in al hoe meer gevalle verdorwe gebruike, soos onsedelikheid, geweld en dwelmmisbruik, aanmoedig. Wanneer gehore vir die eerste keer blootgestel word aan ’n vorm van vermaak wat ’n nuwe vlak van verdorwenheid bereik, is hulle dalk geskok. Maar wanneer ’n mens herhaaldelik daaraan blootgestel word, kan dit jou minder gevoelig maak. Ons moet nooit vermaak wat skadelike idees bevorder as aanvaarbaar of as onskadelik beskou nie.—Psalm 119:37, NW.
7. Watter soort menslike wysheid kan ons vertroue in die Bybel ondermyn?
7 Kyk na ’n ander bron van potensieel skadelike inligting—die stortvloed idees wat deur party wetenskaplikes en geleerdes gepubliseer word wat die Bybel se egtheid betwis. (Vergelyk Jakobus 3:15.) Sulke materiaal verskyn dikwels in bekende tydskrifte en gewilde boeke, en dit kan vertroue in die Bybel ondermyn. Party mense skep behae daarin om die gesag van God se Woord met eindelose bespiegelings te verswak. ’n Soortgelyke gevaar het in die dae van die apostels bestaan, soos die apostel Paulus se woorde duidelik toon: “Pas op: miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense, volgens die elementêre dinge van die wêreld en nie volgens Christus nie.”—Kolossense 2:8.
Vyande van die waarheid
8, 9. Hoe word afvalligheid vandag geopenbaar?
8 Afvalliges kan ook ’n gevaar vir ons geestelikheid inhou. Die apostel Paulus het voorspel dat daar afvalligheid onder verklaarde Christene te voorskyn sou kom (Handelinge 20:29, 30; 2 Tessalonisense 2:3). Ná die dood van die apostels is sy woorde vervul, want ’n groot afvalligheid het tot die ontstaan van die Christendom gelei. Vandag vind daar nie ’n groot afvalligheid onder God se volk plaas nie. Maar ’n paar persone het hulle van ons afgeskei, en sommige van hulle is daarop uit om Jehovah se Getuies te belaster deur leuens en valse inligting omtrent hulle te versprei. ’n Paar van hulle werk saam met ander groepe in georganiseerde verset teen rein aanbidding. Sodoende skaar hulle hulle aan die kant van die heel eerste afvallige, Satan.
9 Party afvalliges maak al hoe meer gebruik van verskillende vorme van massakommunikasie, insluitende die Internet, om valse inligting oor Jehovah se Getuies te versprei. Wanneer opregte persone dan navorsing oor ons opvattings doen, kan hulle op afvallige propaganda afkom. Selfs sommige Getuies het hulle onbewus aan hierdie skadelike materiaal blootgestel. Daarbenewens neem afvalliges soms deel aan televisie- of radioprogramme. Wat is, in die lig hiervan, die verstandige weg om te volg?
10. Wat is die verstandige manier om op afvallige propaganda te reageer?
10 Die apostel Johannes het Christene die opdrag gegee om nie afvalliges in hulle huis te verwelkom nie. Hy het geskryf: “As iemand na julle toe kom en nie hierdie leer bring nie, moet julle hom nooit in julle huise ontvang of hom groet nie. Want wie hom groet, is ’n deelgenoot in sy goddelose werke” (2 Johannes 10, 11). As ons alle kontak met hierdie teenstanders vermy, sal dit ons teen hulle verdorwe denke beskerm. As ons ons deur middel van die verskillende moderne kommunikasiemiddele aan afvallige leringe blootstel, is dit net so skadelik as om die afvallige self in ons huis te ontvang. Ons moet nooit toelaat dat ons deur nuuskierigheid so ’n rampspoedige weg volg nie!—Spreuke 22:3.
In die gemeente
11, 12. (a) Wat was ’n bron van skadelike idees in die eerste-eeuse gemeente? (b) Hoe het party Christene nagelaat om streng by die Goddelike leer te bly?
11 Kyk nou na nog ’n moontlike bron van skadelike idees. Hoewel ’n toegewyde Christen dalk nie bedoel om onwaarhede te verkondig nie, kweek hy moontlik die gewoonte aan om te praat sonder om te dink (Spreuke 12:18). Weens onvolmaaktheid sondig ons almal soms met ons tong (Spreuke 10:19; Jakobus 3:8). In die apostel Paulus se dag was daar klaarblyklik sommige in die gemeente wat nie hulle tong beheer het nie en by nietige woordestryde betrokke geraak het (1 Timoteus 2:8). Daar was ander wat te veel van hulle eie menings gedink het en selfs so ver gegaan het as om die gesag van Paulus te betwis (2 Korintiërs 10:10-12). So ’n gees het tot onnodige botsings gelei.
12 Hierdie onenighede het soms “heftige redetwiste oor nietighede” tot gevolg gehad wat die vrede van die gemeente versteur het (1 Timoteus 6:5; Galasiërs 5:15). Paulus het aangaande mense wat hierdie twiste veroorsaak het, geskryf: “As iemand ’n ander leer verkondig en nie instem met gesonde woorde, dié van ons Here Jesus Christus, of met die leer wat met godvrugtige toegewydheid strook nie, is hy opgeblase van trots en verstaan hy niks, maar is hy verstandelik siek ten opsigte van twisvrae en debatte oor woorde. Uit hierdie dinge spruit afguns, twis, smadende taal, goddelose vermoedens.”—1 Timoteus 6:3, 4.
13. Hoe het die meeste Christene in die eerste eeu opgetree?
13 Gelukkig was die meeste Christene in die tyd van die apostels getrou en het hulle toegespits gebly op die werk om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Hulle was besig om “na wese en weduwees in hulle verdrukking om te sien” en het hulleself “sonder vlek van die wêreld” bewaar, en hulle het nie hulle tyd met nuttelose woordestryde verkwis nie (Jakobus 1:27). Hulle het “slegte omgang” selfs in die Christengemeente vermy sodat hulle hulle geestelikheid kon bewaar.—1 Korintiërs 15:33; 2 Timoteus 2:20, 21.
14. Hoe kan doodgewone gesprekke in skadelike argumente ontaard as ons nie versigtig is nie?
14 Die situasies wat in paragraaf 11 beskryf word, is eweneens vandag nie kenmerkend van die gemeentes van Jehovah se Getuies nie. Maar dit sal nog steeds goed wees as ons in gedagte kan hou dat sulke nuttelose woordestryde wel kan plaasvind. Dit is natuurlik normaal om oor Bybelverslae te gesels of te wonder oor sekere aspekte van die beloofde nuwe wêreld wat nog nie aan ons geopenbaar is nie. En daar is niks daarmee verkeerd om gedagtes oor persoonlike sake te wissel nie, soos oor kleredrag en persoonsversorging of die keuse van vermaak. Maar as ons dogmaties oor ons menings raak en aanstoot neem wanneer ander nie met ons saamstem nie, kan die gemeente verdeeld raak oor nietige kwessies. Wat met onskadelike praatjies begin het, kan inderdaad skadelik word.
Ons moet ons pand bewaar
15. In watter mate kan die “leringe van demone” ons geestelik skade berokken, en watter raad kry ons in die Skrif?
15 Die apostel Paulus waarsku: “Die geïnspireerde uiting sê . . . uitdruklik dat party in latere tydperke van die geloof sal wegval en aandag sal skenk aan misleidende geïnspireerde uitinge en leringe van demone” (1 Timoteus 4:1). Ja, skadelike idees hou ’n wesenlike gevaar in. Dit is te verstane dat Paulus sy geliefde vriend Timoteus gesmeek het: “O Timoteus, bewaar die pand wat aan jou toevertrou is en keer jou af van die leë praatjies wat skend wat heilig is en van die teenstrydighede van die valslik so genoemde ‘kennis’. Deur met sulke kennis te pronk, het party van die geloof afgewyk.”—1 Timoteus 6:20, 21.
16, 17. Wat het God aan ons toevertrou, en hoe moet ons dit bewaar?
16 Hoe kan ons vandag by hierdie liefdevolle waarskuwing baat vind? Timoteus het ’n pand ontvang—iets kosbaars waarna hy moes kyk en wat hy moes bewaar. Wat was dit? Paulus verduidelik: “Hou voortdurend vas aan die patroon van gesonde woorde wat jy van my gehoor het, met die geloof en liefde wat in verband met Christus Jesus is. Bewaar hierdie voortreflike pand deur die heilige gees wat in ons woon” (2 Timoteus 1:13, 14). Ja, Timoteus se pand het die “gesonde woorde”, “die leer wat met godvrugtige toegewydheid strook”, ingesluit (1 Timoteus 6:3). In ooreenstemming met hierdie woorde is Christene vandag vasbeslote om hulle geloof en die hele versameling waarhede wat aan hulle toevertrou is te bewaar.
17 Om daardie pand te bewaar, sluit in dat ons goeie Bybelstudiegewoontes aankweek en volhou met gebed, terwyl ons “aan almal goed doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is” (Galasiërs 6:10; Romeine 12:11-17). Paulus gee die verdere aansporing: “Streef . . . na regverdigheid, godvrugtige toegewydheid, geloof, liefde, volharding, saggeaardheid. Stry die voortreflike stryd van die geloof, kry ’n stewige houvas op die ewige lewe waartoe jy geroep is en waaroor jy die voortreflike openbare bekendmaking voor baie getuies afgelê het” (1 Timoteus 6:11, 12). Paulus gebruik frases soos “stry die voortreflike stryd” en “kry ’n stewige houvas”, wat duidelik toon dat ons aktiewe en vasbeslote weerstand moet bied teen geestelik skadelike invloede.
Onderskeidingsvermoë is nodig
18. Hoe kan ons Christelike balans handhaaf wat sekulêre inligting betref?
18 Onderskeidingsvermoë is natuurlik nodig om die voortreflike stryd van die geloof te stry (Spreuke 2:11, NW; Filippense 1:9). Dit sal byvoorbeeld onredelik wees om alle sekulêre inligting te wantrou (Filippense 4:5; Jakobus 3:17). Nie alle menslike idees is in stryd met God se Woord nie. Jesus het gesinspeel op die feit dat siek mense die hulp nodig het van ’n bekwame geneesheer—’n sekulêre beroep (Lukas 5:31). Al was mediese behandeling in Jesus se tyd dalk betreklik primitief, het hy erken dat ’n mens in sekere mate baat kan vind by ’n geneesheer se hulp. Christene van vandag handhaaf balans wat sekulêre inligting betref, maar hulle stel hulle nie bloot aan enigiets wat vir hulle geestelik skadelik kan wees nie.
19, 20. (a) Hoe tree ouer manne met onderskeidingsvermoë op wanneer hulle diegene help wat oor onwyse dinge praat? (b) Wat doen die gemeente met diegene wat aanhou om valse leringe te bevorder?
19 Dit is ook noodsaaklik vir ouer manne om onderskeidingsvermoë aan die dag te lê wanneer hulle diegene moet help wat oor onwyse dinge praat (2 Timoteus 2:7). Soms kan gemeentelede gewikkel raak in twiste oor nietighede en bespiegelings. Om die eenheid van die gemeente te bewaar, moet die ouer manne vinnig aandag gee aan sulke probleme. Terselfdertyd moet hulle dit vermy om verkeerde beweegredes aan hulle broers toe te skryf en hulle oorhaastig as afvalliges te beskou.
20 Paulus het die gees beskryf waarin hulp gegee moet word. Hy het gesê: “Broers, selfs al begaan iemand die een of ander misstap voordat hy daarvan bewus is, moet julle wat geestelike bekwaamhede het so iemand in ’n gees van sagmoedigheid probeer reghelp” (Galasiërs 6:1). Judas het spesifiek gepraat van Christene wat met twyfelgedagtes worstel, en geskryf: “Hou . . . aan om barmhartigheid te bewys aan party wat twyfel; red hulle deur hulle uit die vuur te ruk” (Judas 22, 23). Maar as iemand ná herhaalde vermanings aanhou om valse leringe te bevorder, sal die ouer manne natuurlik daadwerklik moet optree om die gemeente te beskerm.—1 Timoteus 1:20; Titus 3:10, 11.
Ons moet ons verstand met lofwaardige dinge vul
21, 22. Waarin moet ons selektief wees, en waarmee moet ons ons verstand vul?
21 Die Christengemeente vermy skadelike woorde wat “soos gangreen versprei” (2 Timoteus 2:16, 17; Titus 3:9). Dit is die geval hetsy hierdie woorde die gevolg is van misleidende sekulêre “wysheid”, die propaganda van afvalliges of onverskillige praatjies in die gemeente. Hoewel ’n gesonde begeerte om nuwe dinge te leer van nut kan wees, kan onbeheerste nuuskierigheid ons aan skadelike idees blootstel. Ons is nie onkundig omtrent Satan se planne nie (2 Korintiërs 2:11). Ons weet dat hy groot moeite doen om ons aandag af te lei sodat ons minder in ons diens aan God kan doen.
22 Laat ons as voortreflike bedienaars streng by die Goddelike leer bly (1 Timoteus 4:6). Mag ons ons tyd verstandig gebruik deur selektief te wees in ons keuse van inligting wat ons inneem. Dan sal Sataniese propaganda ons nie maklik ons ewewig laat verloor nie. Ja, laat ons aanhou om alles te bedink “wat waar is, alles wat van ernstige belang is, alles wat regverdig is, alles wat kuis is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, watter deug daar ook al is en watter lofwaardige saak daar ook al is”. As ons ons hart en verstand met sulke dinge vul, sal die God van vrede met ons wees.—Filippense 4:8, 9.
Wat het ons geleer?
• Hoe kan wêreldse wysheid ’n gevaar vir ons geestelikheid inhou?
• Wat kan ons doen om onsself teen skadelike inligting van afvalliges te beskerm?
• Watter soort spraak moet in die gemeente vermy word?
• Hoe moet Christene balans handhaaf wanneer hulle met vandag se oormaat inligting te doen het?
[Prent op bladsy 9]
Talle gewilde tydskrifte en boeke is strydig met ons Christelike waardes
[Prent op bladsy 10]
Christene kan gedagtes wissel sonder om dogmaties te word