Gee ag op God se profetiese woord vir ons dag
“Let op, mensekind, want die gesig sien op die tyd van die einde.”—DANIËL 8:17.
1. Wat wil Jehovah hê dat alle mense omtrent ons tyd moet weet?
JEHOVAH hou nie kennis van die toekoms vir homself nie. Hy is eerder die Openbaarder van geheime. Trouens, hy wil hê dat ons almal moet weet dat ons diep in “die tyd van die einde” is. Hoe noodsaaklik is hierdie nuus tog vir die sesmiljard mense wat nou op die aarde lewe!
2. Waarom is mense besorg oor die mensdom se toekoms?
2 Is dit enigsins verbasend dat hierdie wêreld na aan sy einde is? Die mens kan op die maan loop, maar in baie plekke kan hy nie sonder vrees in die strate van hierdie planeet loop nie. Hy kan ’n huis van allerhande moderne geriewe voorsien, maar hy kan niks doen aan al die gesinne wat verbrokkel nie. En hy kan die inligtingseeu tot stand bring, maar hy kan mense nie leer om in vrede met mekaar saam te leef nie. Hierdie mislukkings staaf die oorvloedige getuienis uit die Skrif dat ons in die tyd van die einde lewe.
3. Wanneer is die woorde “die tyd van die einde” vir die eerste keer op die aarde gebruik?
3 Hierdie treffende woorde—“die tyd van die einde”—is 2 600 jaar gelede vir die eerste keer hier op die aarde deur die engel Gabriël gebruik. ’n Vreesbevange profeet van God het Gabriël hoor sê: “Let op, mensekind, want die gesig sien op die tyd van die einde.”—Daniël 8:17.
Dit is nou “die tyd van die einde”!
4. Op watter ander maniere verwys die Bybel na die tyd van die einde?
4 Uitdrukkings soos “die tyd van die einde” en “die bepaalde tyd van die einde” kom ses keer in die boek Daniël voor (Daniël 8:17, 19; 11:35, 40; 12:4, 9). Dit het betrekking op “die laaste dae”, wat deur die apostel Paulus voorspel is (2 Timoteus 3:1-5). Jesus Christus het na hierdie tydperk as sy “teenwoordigheid” as gekroonde Koning in die hemel verwys.—Matteus 24:37-39.
5, 6. Wie het gedurende die tyd van die einde die Bybel “deursoek”, en met watter gevolg?
5 Daniël 12:4 sê: “En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.” Baie van wat Daniël geskryf het, is eeue lank geheim gehou en verseël sodat mense dit nie kon verstaan nie. Maar wat van vandag?
6 In hierdie tyd van die einde het talle getroue Christene God se Woord, die Bybel, “deursoek”. Met watter gevolg? Jehovah het hulle pogings geseën en ware kennis het vermeerder. Gesalfde Getuies van Jehovah is byvoorbeeld geseën met insig, wat hulle gehelp het om te verstaan dat Jesus Christus in 1914 in die hemel Koning geword het. In ooreenstemming met die apostel se woorde wat in 2 Petrus 1:19-21 opgeteken staan, skenk hierdie gesalfdes en hulle lojale metgeselle ‘aandag aan die profetiese woord’ en is hulle heeltemal seker dat dit nou die tyd van die einde is.
7. Wat is van die verslae wat die boek Daniël uniek maak?
7 Die boek Daniël is in ’n hele paar opsigte uniek. Daarin dreig ’n koning om sy wyse manne tereg te stel omdat hulle nie sy eienaardige droom kan bekend maak of uitlê nie, maar God se profeet los die raaisel op. Drie jong manne wat weier om ’n toringhoë beeld te aanbid, word in ’n geweldige warm vuuroond gegooi, en tog kom hulle heeltemal ongedeerd daaruit. Gedurende ’n feesmaal sien honderde mense ’n hand wat raaiselagtige woorde op ’n paleismuur skryf. Bose samesweerders laat ’n bejaarde man in ’n leeukuil gooi, maar hy kom sonder ’n skrapie aan hom daar uit. Vier diere word in ’n visioen gesien, en hulle profetiese betekenis strek tot in die tyd van die einde.
8, 9. Hoe kan ons, veral nou in die tyd van die einde, by die boek Daniël baat vind?
8 Die boek Daniël het klaarblyklik twee fasette wat grootliks van mekaar verskil. Die een is verhalend, die ander profeties. Albei kan ons geloof versterk. Die verhale toon aan ons dat Jehovah God diegene seën wat hulle onkreukbaarheid teenoor hom handhaaf. En die profetiese gedeeltes versterk ons geloof omdat dit toon dat Jehovah die verloop van die geskiedenis honderde—selfs duisende—jare voor die tyd kan voorspel.
9 Etlike profesieë wat deur Daniël opgeteken is, vestig die aandag op God se Koninkryk. Wanneer ons die vervulling van hierdie profesieë sien, word ons geloof versterk, en so ook ons oortuiging dat ons in die tyd van die einde lewe. Maar party kritici val Daniël aan en sê dat die profesieë in die boek wat sy naam dra in werklikheid opgeteken is ná die gebeure plaasgevind het waardeur hulle skynbaar vervul is. As sulke bewerings waar is, sal dit ernstige vrae laat ontstaan oor wat die boek Daniël oor die tyd van die einde voorspel het. Skeptici bevraagteken ook die verhale in die boek. Kom ons stel dus ondersoek in.
’n Boek in die soeklig!
10. Waarvan word die boek Daniël beskuldig?
10 Stel jou voor jy is in ’n hof om na ’n hofsaak te luister. Die aanklaer hou vol dat die aangeklaagde aan bedrog skuldig is. Wel, die boek Daniël word aangebied as ’n betroubare werk wat geskryf is deur ’n Hebreeuse profeet wat gedurende die sewende en sesde eeu v.G.J. gelewe het. Maar kritici hou vol dat die boek ’n bedrogspul is. Kom ons kyk dus eers of die verhalende gedeelte van die boek met die feite van die geskiedenis ooreenstem.
11, 12. Wat het geword van die aantyging dat Belsasar bloot ’n denkbeeldige karakter was?
11 Kom ons kyk byvoorbeeld na die geval van ’n koning wat skynbaar nie bestaan het nie. Daniël hoofstuk 5 toon dat Belsasar as koning in Babilon geheers het toe daardie stad in 539 v.G.J. tot ’n val gebring is. Kritici het hierdie punt betwis, want Belsasar se naam het nêrens anders as in die Bybel voorgekom nie. Eertydse geskiedskrywers het eerder Nabonidus as die laaste Babiloniese koning geïdentifiseer.
12 In 1854 is daar egter ’n paar klein kleisilindertjies in die ruïnes van die antieke Babiloniese stad Ur, in wat nou Irak is, opgegrawe. Hierdie spykerskrifdokumente het ’n gebed ingesluit waarin koning Nabonidus praat van “Bel-sar-ussur, my oudste seun”. Selfs die kritici moes erken: Dit was die Belsasar van die boek Daniël. Die koning wat skynbaar nie bestaan het nie, het dus wel bestaan, maar was toe net nog nie bekend in sekulêre bronne nie. Dit is net een van baie bewyse dat die geskrifte van Daniël werklik eg is. Sulke getuienis toon dat die boek Daniël beslis ’n deel van God se Woord is en nou, in die tyd van die einde, ons noulettende aandag verdien.
13, 14. Wie was Nebukadnesar, en watter valse god het hy veral aanbid?
13 In die boek Daniël is profesieë oor die opmars van die wêreldmoondhede en die dade van party van hulle heersers opgeteken. Een van die heersers kan beskryf word as ’n kryger wat ’n ryk gebou het. As die kroonprins van Babilon het hy en sy leër die magte van die Egiptiese farao Nego by Karkemis verpletter. Maar ’n boodskap het die seëvierende Babiloniese prins gedwing om die laaste opruimingsoperasies aan sy generaals oor te laat. Toe hy hoor dat sy vader, Nabopolassar, gesterf het, het hierdie jong man met die naam Nebukadnesar die troon in 624 v.G.J. bestyg. Gedurende sy heerskappy van 43 jaar het hy ’n ryk opgebou wat gebiede ingesluit het wat vroeër onder die beheer van Assirië was, en hy het sy gebied tot in Sirië en Palestina tot by die grens van Egipte uitgebrei.
14 Nebukadnesar het veral Mardoek, die hoofgod van Babilon, aanbid. Die koning het Mardoek die eer vir al sy verowerings gegee. In Babilon het Nebukadnesar die tempels van Mardoek en van talle ander Babiloniese gode gebou en versier. Die beeld van goud wat hierdie Babiloniese koning in die dal Dura opgerig het, was moontlik aan Mardoek gewy (Daniël 3:1, 2). En Nebukadnesar het blykbaar grootliks van waarsêery gebruik gemaak wanneer hy militêre besluite geneem het.
15, 16. Wat het Nebukadnesar vir Babilon gedoen, en wat het gebeur toe hy oor die grootheid daarvan gespog het?
15 Deur Babilon se enorme dubbele mure te voltooi waarmee sy vader begin het, het Nebukadnesar die hoofstad skynbaar onverowerbaar gemaak. Om sy Mediese koningin tevrede te stel, wat na die heuwels en woude van haar vaderland terugverlang het, het Nebukadnesar blykbaar die hangende tuine—een van die sewe wonders van die antieke wêreld—aangelê. Hy het Babilon die grootste ommuurde stad van daardie tyd gemaak. En hoe trots was hy tog op daardie setel van valse aanbidding!
16 ‘Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het nie?’ het Nebukadnesar eendag gespog. Maar Daniël 4:30-36 sê dat die koning kranksinnig geword het ‘terwyl die woord nog in sy mond was’. Hy was sewe jaar lank onbevoeg om te heers en het plante geëet, net soos Daniël voorspel het. Daarna is sy koninkryk aan hom teruggegee. Weet jy wat die profetiese betekenis hiervan is? Kan jy verduidelik hoe die grotere vervulling hiervan ons tot in die tyd van die einde bring?
Die profetiese gedeeltes
17. Hoe sal jy die profetiese droom beskryf wat God Nebukadnesar laat kry het in die tweede jaar van sy bewind as wêreldheerser?
17 Kom ons kyk nou na die profetiese gedeeltes in die boek Daniël. Gedurende die tweede jaar van Nebukadnesar se bewind as wêreldheerser in Bybelprofesie (606/605 v.G.J.) het God hom ’n skrikwekkende droom laat kry. Volgens Daniël hoofstuk 2 was die droom van ’n ontsaglike beeld met ’n hoof van goud, bors en arms van silwer, buik en lendene van koper, bene van yster en voete van yster gemeng met klei. Wat het die verskillende dele van die beeld verteenwoordig?
18. Wat het die hoof van goud, die bors en arms van silwer en die buik en lendene van koper van die beeld in die droom afgebeeld?
18 God se profeet het vir Nebukadnesar gesê: “U, o koning, . . . ú is die hoof van goud” (Daniël 2:37, 38). Nebukadnesar het aan die hoof gestaan van ’n dinastie wat oor die Babiloniese Ryk geheers het. Dit is deur Medo-Persië tot ’n val gebring, wat deur die beeld se bors en arms van silwer afgebeeld is. Daarna het die Griekse Ryk gevolg, wat deur die buik en lendene van koper verteenwoordig is. Hoe het daardie wêreldmoondheid ontstaan?
19, 20. Wie was Aleksander die Grote, en watter rol het hy daarin gespeel om Griekeland ’n wêreldmoondheid te maak?
19 In die vierde eeu v.G.J. het ’n jong man ’n betekenisvolle rol in die vervulling van Daniël se profesie gespeel. Hy is in 356 v.G.J. gebore, en die wêreld het hom later Aleksander die Grote genoem. Toe sy vader, Filippus, in 336 v.G.J. vermoor is, het die 20-jarige Aleksander die troon van Masedonië geërf.
20 Vroeg in Mei 334 v.G.J. het Aleksander ’n veroweringsveldtog onderneem. Hy het ’n klein maar doeltreffende leër van 30 000 voetsoldate en 5 000 berede soldate gehad. By die Granikosrivier in die noordwestelike deel van Klein-Asië (nou Turkye), het Aleksander in 334 v.G.J. sy eerste veldslag teen die Perse gewen. Teen 326 v.G.J. het hierdie meedoënlose veroweraar hulle onderwerp en ooswaarts tot by die Indusrivier, vandag in Pakistan, gegaan. Maar Aleksander het sy laaste stryd in Babilon verloor. Op 13 Junie 323 v.G.J., toe hy maar 32 jaar en 8 maande oud was, het hy voor die grootste vyand, die dood, geswig (1 Korintiërs 15:55). Maar as gevolg van sy verowerings het Griekeland ’n wêreldmoondheid geword, soos in Daniël se profesie voorspel is.
21. Benewens die Romeinse Ryk, watter ander wêreldmoondheid is deur die ysterbene van die beeld in die droom afgebeeld?
21 Wat is deur die ontsaglike beeld se bene van yster afgebeeld? Wel, dit was Rome, wat soos yster was en die Griekse Ryk fyngestamp en vergruis het. Die Romeine het geen respek getoon vir God se Koninkryk wat deur Jesus Christus verkondig is nie en het Jesus in 33 G.J. aan ’n folterpaal tereggestel. In ’n poging om die ware Christelike godsdiens te vergruis, het Rome Jesus se dissipels vervolg. Maar die ysterbene van die beeld in Nebukadnesar se droom het nie net die Romeinse Ryk afgebeeld nie, maar ook die politieke uitgroeisel daarvan—die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid.
22. Hoe help die beeld in die droom ons om te sien dat ons diep in die tyd van die einde is?
22 ’n Noukeurige studie toon dat ons diep in die tyd van die einde is, want ons het by die voete van yster en klei van die beeld in die droom gekom. Party hedendaagse regerings is soos yster, oftewel outoritêr, terwyl ander soos klei is. Ondanks die bros aard van klei, waaruit “die nageslag van die mensdom” gemaak is, moes ysteragtige regeringsvorme die gewone mense toelaat om ’n seggenskap te hê in die regerings wat oor hulle heers (Daniël 2:43, NW; Job 10:9, NW). Maar daar kan natuurlik geen samehorigheid wees tussen outoritêre heerskappy en die gewone mense nie—net soos yster en klei nie aan mekaar kan vaskleef nie. Maar God se Koninkryk gaan binnekort ’n einde maak aan hierdie wêreld wat so polities versplinter is.—Daniël 2:44.
23. Hoe sal jy die droomgesig en gesigte beskryf wat Daniël in die eerste jaar van Belsasar se heerskappy gehad het?
23 Die 7de hoofstuk van Daniël se aangrypende profesie bring ons ook tot in die tyd van die einde. Hierdie hoofstuk vertel van ’n gebeurtenis gedurende die eerste jaar van die Babiloniese koning Belsasar. Daniël, wat toe al in sy sewentigerjare was, het ‘’n droomgesig en gesigte van sy hoof op sy bed’ gesien. Hoe bang het hierdie visioene hom tog gemaak! “Kyk”, roep hy uit. “Die vier winde van die hemel het die groot see in beroering gebring; en vier groot diere het uit die see opgeklim, die een verskillend van die ander” (Daniël 7:1-8, 15). Hoe uitsonderlik is hierdie diere tog! Die eerste een is ’n gevleuelde leeu, en die tweede lyk soos ’n beer. Daarna kom ’n luiperd met vier vlerke en vier koppe! Die buitengewone sterk vierde dier het groot ystertande en tien horings. Tussen sy tien horings kom ‘’n horinkie’ op wat “oë soos mens-oë” het en “’n mond wat groot dinge spreek”. Inderdaad vreeswekkende diere!
24. Wat sien Daniël in die hemel, volgens Daniël 7:9-14, en waarna wys hierdie visioen?
24 Daniël sien vervolgens visioene van wat in die hemel plaasvind (Daniël 7:9-14). Hy sien hoe “die Oue van dae”, Jehovah God, as Regter op ’n glorieryke troon sit. ‘Daar is duisend maal duisende wat Hom dien, en tienduisend maal tienduisende wat voor hom staan.’ God veroordeel die diere, neem die heerskappy van hulle af weg en vernietig die vierde dier. Ewigdurende heerskappy oor “al die volke en nasies en tale” word aan iemand “soos die Seun van ’n mens” gegee. Dit wys na die tyd van die einde en na 1914, toe die Seun van die mens, Jesus Christus, as koning gekroon is.
25, 26. Watter vrae kan ontstaan wanneer ons die boek Daniël lees, en watter publikasie kan ons help om dit te beantwoord?
25 Diegene wat die boek Daniël lees, sal beslis vrae hê. Byvoorbeeld: Wat word deur die vier diere van Daniël hoofstuk 7 afgebeeld? Wat is die verklaring van die profetiese “sewentig sewetalle [“weke”, NW]” wat in Daniël 9:24-27 genoem word? Wat van Daniël hoofstuk 11 en die profetiese stryd tussen “die koning van die Noorde” en die “koning van die Suide”? Wat kan ons in die tyd van die einde van hierdie konings verwag?
26 Jehovah het sy gesalfde knegte op aarde, wat in Daniël 7:18 “die heiliges van die Allerhoogste” genoem word, insig in hierdie sake gegee. Daarbenewens het “die getroue en verstandige slaaf” voorsiening gemaak dat ons verdere insig in die geïnspireerde geskrifte van die profeet Daniël kan kry (Matteus 24:45). Dit is nou beskikbaar deur middel van die boek Gee ag op Daniël se profesie! wat onlangs vrygestel is. Hierdie pragtig geïllustreerde publikasie met 320 bladsye dek die hele boek Daniël. Dit bespreek elke geloofversterkende profesie en elke verhaal wat deur die geliefde profeet Daniël opgeteken is.
Van groot waarde vir ons dag
27, 28. (a) Wat is waar omtrent die vervulling van profesieë in die boek Daniël? (b) In watter tydperk lewe ons, en wat moet ons doen?
27 Dink aan hierdie belangrike punt: Buiten ’n paar besonderhede is al die profesieë in die boek Daniël vervul. Ons sien byvoorbeeld reeds die wêreldsituasie wat deur die voete van die beeld in die droom van Daniël hoofstuk 2 afgebeeld is. Die bande om die boomstomp van Daniël hoofstuk 4 is verwyder toe die Messiaanse Koning, Jesus Christus, in 1914 op die troon geplaas is. Ja, soos in Daniël hoofstuk 7 voorspel is, het die Oue van dae toe heerskappy aan die Seun van die mens gegee.—Daniël 7:13, 14; Matteus 16:27–17:9.
28 Die 2 300 dae van Daniël hoofstuk 8 sowel as die 1 290 dae en die 1 335 dae van hoofstuk 12 is almal al verstreke. ’n Studie van Daniël hoofstuk 11 toon dat die stryd tussen “die koning van die Noorde” en “die koning van die Suide” sy finale stadium bereik het. Dit alles dra by tot die skriftuurlike getuienis dat ons diep in die tyd van die einde lewe. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen met die oog op die unieke tyd waarin ons lewe? Ons moet ongetwyfeld ag gee op Jehovah God se profetiese woord.
Hoe sal jy antwoord?
• Wat wil God hê dat alle mense omtrent ons tyd moet weet?
• Hoe kan die boek Daniël ons geloof versterk?
• Hoe het die beeld in Nebukadnesar se droom gelyk, en wat het die dele daarvan voorgestel?
• Wat is opmerkenswaardig omtrent die vervulling van profesieë wat in die boek Daniël gevind word?