Stel geloof in God se profetiese woord!
“Die profetiese woord [is] vir ons vaster gemaak.”—2 PETRUS 1:19.
1, 2. Wat is die eerste profesie wat ooit opgeteken is, en wat is een van die vrae wat dit laat ontstaan het?
JEHOVAH was die Oorsprong van die eerste profesie wat ooit opgeteken is. Nadat Adam en Eva gesondig het, het God vir die slang gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt” (Genesis 3:1-7, 14, 15). Hierdie profetiese woorde is eers eeue later ten volle verstaan.
2 Hierdie eerste profesie het ware hoop vir die sondige mensdom gebied. Die Skrif het Satan die Duiwel later as “die oorspronklike slang” geïdentifiseer (Openbaring 12:9). Maar wie sou God se beloofde Saad wees?
Wie die Saad is
3. Hoe het Abel geloof in die eerste profesie beoefen?
3 In teenstelling met sy vader het die godvrugtige man Abel geloof in die eerste profesie beoefen. Abel het klaarblyklik besef dat bloed uitgestort moes word om sonde te bedek. Geloof het hom gevolglik beweeg om ’n diereoffer te bring wat vir God aanneemlik was (Genesis 4:2-4). Maar die identiteit van die beloofde Saad het ’n raaisel gebly.
4. Watter belofte het God aan Abraham gegee, en wat het dit omtrent die beloofde Saad getoon?
4 Ongeveer 2 000 jaar nadat Abel gelewe het, het Jehovah aan die aartsvader Abraham hierdie profetiese belofte gegee: ‘Ek sal jou gewis seën en ek sal jou saad gewis vermeerder soos die sterre van die hemel. En deur middel van jou saad sal al die nasies van die aarde hulleself gewis seën’ (Genesis 22:17, 18, NW). Hierdie woorde het Abraham met die vervulling van die eerste profesie verbind. Dit het getoon dat die Saad deur wie Satan se werke tot niet gemaak sou word deur die geslagslyn van Abraham sou kom (1 Johannes 3:8). “Weens die belofte van God het [Abraham] nie in ongeloof gewankel nie”, en dieselfde geld vir ander voor-Christelike getuies van Jehovah wat “nie die vervulling van die belofte verkry [het] nie” (Romeine 4:20, 21; Hebreërs 11:39). Hulle het eerder hulle geloof in God se profetiese woord behou.
5. In wie is God se belofte van die Saad vervul, en waarom is dit jou antwoord?
5 Die apostel Paulus het God se beloofde Saad geïdentifiseer toe hy geskryf het: “Die beloftes [is] aan Abraham en aan sy saad gedoen. Dit sê nie: ‘En aan sade’, soos in die geval van baie nie, maar soos in die geval van een: ‘En aan jou saad’, wat Christus is” (Galasiërs 3:16). Die Saad deur wie die nasies hulleself sou seën, het nie al Abraham se afstammelinge ingesluit nie. Die mensdom sou nie deur middel van nakomelinge van sy seun Ismael en van sy seuns by Ketura geseën word nie. Die Saad deur wie die mensdom geseën sou word, sou deur sy seun Isak en sy kleinseun Jakob kom (Genesis 21:12; 25:23, 31-34; 27:18-29, 37; 28:14). Jakob het getoon dat “volke” aan Silo van die stam Juda gehoorsaam sou wees, maar die Saad is later tot Dawid se geslagslyn beperk (Genesis 49:10; 2 Samuel 7:12-16). Eerste-eeuse Jode het verwag dat een persoon as die Messias, of Christus, sou kom (Johannes 7:41, 42). En God se profesie van die Saad is in sy Seun, Jesus Christus, vervul.
Die Messias verskyn!
6. (a) Hoe moet ons die profesie van die 70 weke verstaan? (b) Wanneer en hoe het Jesus ‘’n einde gemaak aan sonde’?
6 Die profeet Daniël het ’n noodsaaklike Messiaanse profesie opgeteken. In die eerste jaar van Darius die Meder het hy besef dat die tydperk van 70 jaar waartydens Jerusalem woes sou lê amper verstreke was (Jeremia 29:10; Daniël 9:1-4). Terwyl Daniël gebid het, het die engel Gabriël gekom en aan hom geopenbaar dat ‘sewentig weke vasgestel is om ’n einde te maak aan sonde’. Die Messias sou in die middel van die 70ste week doodgemaak word. “Sewentig weke van jare” het in 455 v.G.J. begin toe die Persiese koning Artasasta ‘die woord laat uitgaan het om Jerusalem te herbou’ (Daniël 9:20-27, Moffatt; Nehemia 2:1-8). Die Messias sou ná 7 weke plus 62 weke kom. Hierdie 483 jaar het van 455 v.G.J. tot 29 G.J. gestrek, toe Jesus gedoop is en God hom as die Messias, of Christus, gesalf het (Lukas 3:21, 22). Jesus het ‘’n einde gemaak aan sonde’ deur in 33 G.J. sy lewe as ’n losprys te gee (Markus 10:45). Watter goeie redes tog vir geloof in God se profetiese woord!a
7. Gebruik die tekste om te toon hoe Jesus Messiaanse profesieë vervul het.
7 Geloof in God se profetiese woord stel ons in staat om die Messias te identifiseer. Van die talle Messiaanse profesieë wat in die Hebreeuse Geskrifte opgeteken staan, is daar baie wat direk op Jesus toegepas is deur skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte. Ter toeligting: Jesus is in Betlehem uit ’n maagd gebore (Jesaja 7:14; Miga 5:1; Matteus 1:18-23; Lukas 2:4-11). Hy is uit Egipte geroep, en klein kindertjies is ná sy geboorte doodgemaak (Jeremia 31:15; Hosea 11:1; Matteus 2:13-18). Jesus het ons siektes gedra (Jesaja 53:4, NW; Matteus 8:16, 17). Soos voorspel is, het hy Jerusalem op die vul van ’n esel binnegegaan (Sagaria 9:9; Johannes 12:12-15). Die psalmis se woorde is vervul nadat Jesus aan ’n folterpaal gehang is, toe soldate sy klere onder mekaar verdeel het en die lot oor sy onderkleed gewerp het (Psalm 22:19; Johannes 19:23, 24). Die feit dat Jesus se bene nie gebreek is nie en dat hy deurboor is, het ook profesieë vervul (Psalm 34:21; Sagaria 12:10; Johannes 19:33-37). Dit is maar ’n paar voorbeelde van Messiaanse profesieë wat deur goddelik geïnspireerde Bybelskrywers op Jesus toegepas is.b
Verwelkom die Messiaanse Koning!
8. Wie is die Oue van dae, en hoe is die profesie in Daniël 7:9-14 vervul?
8 In die eerste jaar van die Babiloniese koning Belsasar het Jehovah vir sy profeet Daniël ’n droom en merkwaardige visioene gegee. Die profeet het eers vier groot diere gesien. God se engel het hulle as “vier konings” geïdentifiseer, wat toon dat hulle opeenvolgende wêreldmoondhede voorgestel het (Daniël 7:1-8, 17). Daniël het toe gesien hoe Jehovah, die “Oue van dae”, op sy glorieryke troon sit. Hy veroordeel die diere, neem die heerskappy van hulle af weg en vernietig die vierde dier. Ewigdurende heerskappy oor “die volke en nasies en tale” is toe aan iemand “soos die Seun van ’n mens” gegee (Daniël 7:9-14). Wat ’n wonderlike profesie, en dit het betrekking op “die Seun van die mens”, Jesus Christus, wat in die jaar 1914 in die hemel as koning gekroon is!—Matteus 16:13.
9, 10. (a) Waarna het die verskillende dele van die beeld in die droom verwys? (b) Hoe sal jy die vervulling van Daniël 2:44 verduidelik?
9 Daniël het geweet dat God ‘konings afsit en konings aanstel’ (Daniël 2:21). Met geloof in Jehovah, die “Openbaarder van geheime”, het die profeet die betekenis van die Babiloniese koning Nebukadnesar se droom van ’n ontsaglike beeld verklaar. Die verskillende dele daarvan het na die opkoms en ondergang van wêreldmoondhede soos Babilon, Medo-Persië, Griekeland en Rome verwys. God het Daniël ook gebruik om wêreldgebeure tot op ons tyd en selfs verder aan te voorspel.—Daniël 2:24-30, NW.
10 “In die dae van dié konings”, het die profesie gesê, “sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44). Toe “die vasgestelde tye van die nasies” in 1914 geëindig het, het God die hemelse Koninkryk onder Christus opgerig (Lukas 21:24; Openbaring 12:1-5). Deur Goddelike krag het die “klip”, die Messiaanse Koninkryk, daarna uit die “berg” van God se universele soewereiniteit losgeraak. By Armageddon sal daardie klip die beeld tref en dit tot poeier vergruis. Die Messiaanse Koninkryk sal vir ewig bestaan, soos ’n goewermentele berg wat sy invloed oor “die hele aarde” uitoefen.—Daniël 2:35, 45; Openbaring 16:14, 16.c
11. Waarvan was Jesus se gedaanteverandering ’n voorskou, en watter uitwerking het daardie visioen op Petrus gehad?
11 Met sy Koninkryksheerskappy in gedagte het Jesus vir sy dissipels gesê: “Daar [is] party van dié . . . wat hier staan wat glad nie die dood sal smaak voordat hulle eers die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie” (Matteus 16:28). Ses dae later het Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes saam na ’n hoë berg geneem waar hy voor hulle van gedaante verander het. Terwyl ’n helder wolk die apostels oorskadu het, het God verklaar: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het; luister na hom” (Matteus 17:1-9; Markus 9:1-9). Wat ’n wonderlike voorskou van Christus se Koninkryksheerlikheid! Dit is geen wonder dat Petrus met verwysing na daardie indrukwekkende visioen gesê het nie: “Gevolglik is die profetiese woord vir ons vaster gemaak.”—2 Petrus 1:16-19.d
12. Waarom is dit veral nou die tyd om geloof in God se profetiese woord te stel?
12 “Die profetiese woord” sluit klaarblyklik nie net profesieë oor die Messias in die Hebreeuse Geskrifte in nie, maar ook Jesus se woorde dat hy “met krag en groot heerlikheid” sal kom (Matteus 24:30). Die gedaanteverandering het die profetiese woord oor Christus se glorieryke koms in Koninkryksmag bevestig. Sy openbaring in heerlikheid sal binnekort vernietiging vir die ongelowiges beteken en seëninge vir diegene wat geloof beoefen (2 Tessalonisense 1:6-10). Die vervulling van Bybelprofesieë bewys dat ons nou in “die laaste dae” lewe (2 Timoteus 3:1-5, 16, 17; Matteus 24:3-14). As Jehovah se Hoofskerpregter is Migael, wat Jesus Christus is, gereed om tydens die “groot verdrukking” ’n einde te maak aan hierdie goddelose stelsel van dinge (Matteus 24:21; Daniël 12:1). Dit is beslis nou die tyd om te toon dat ons geloof in God se profetiese woord stel.
Behou geloof in God se profetiese woord
13. Wat kan ons help om ons liefde vir God te behou en ons geloof in sy woord lewendig te hou?
13 Ons was beslis opgewonde toe ons vir die eerste keer van die vervullings van God se profetiese woord geleer het. Maar het ons geloof sedertdien afgeneem en ons liefde verkoel? Mag ons nooit soos die Christene in Efese word wat ‘die liefde wat hulle eers gehad het, verlaat het’ nie (Openbaring 2:1-4). Ongeag hoe lank ons Jehovah al dien, dit kan met ons gebeur as ons nie ‘aanhou om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek’ sodat ons skatte in die hemel kan opgaar nie (Matteus 6:19-21, 31-33). As ons die Bybel pligsgetrou bestudeer, gereeld aan Christelike vergaderinge deelneem en ywerig in die Koninkrykspredikingswerk is, sal dit ons help om ons liefde vir Jehovah, vir sy Seun en vir die Skrif te behou (Psalm 119:105; Markus 13:10; Hebreërs 10:24, 25). En dit sal ons help om ons geloof in God se woord lewendig te hou.—Psalm 106:12, NW.
14. Hoe word gesalfde Christene beloon vir hulle geloof in Jehovah se profetiese woord?
14 Net soos God se profetiese woord in die verlede vervul is, kan ons vertroue hê in wat dit vir die toekoms voorspel. Christus se teenwoordigheid in Koninkryksheerlikheid is byvoorbeeld nou ’n werklikheid, en gesalfde Christene wat tot in die dood getrou was, het die vervulling van die profetiese belofte ondervind: “Aan hom wat oorwin, sal ek gee om van die boom van die lewe te eet, wat in die paradys van God is” (Openbaring 2:7, 10; 1 Tessalonisense 4:14-17). Jesus gee aan hierdie oorwinnaars die voorreg om “van die boom van die lewe te eet” in die hemelse “paradys van God”. Met hulle opstanding en deur middel van Jesus Christus verkry hulle onsterflikheid en onverderflikheid van Jehovah, “die Koning van die ewigheid, onverderflik, onsigbaar, die enigste God” (1 Timoteus 1:17; 1 Korintiërs 15:50-54; 2 Timoteus 1:10). Wat ’n wonderlike beloning vir hulle ewige liefde vir God en hulle onwrikbare geloof in sy profetiese woord!
15. Wie vorm die fondament van die “nuwe aarde”, en wie is hulle metgeselle?
15 Kort nadat getroue gesalfdes wat gesterf het in die hemelse “paradys van God” opgewek is, is die oorblyfsel van geestelike Israel op aarde uit “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, bevry (Openbaring 14:8; Galasiërs 6:16). Op hulle as fondament is die bouwerk aan die “nuwe aarde” begin (Openbaring 21:1). “’n Land” is sodoende voortgebring, en dit is opgebou tot ’n geestelike paradys wat vandag regoor die aarde floreer (Jesaja 66:8). Die menigtes skaapgeaarde metgeselle van geestelike Israel stroom nou, “aan die einde van die dae”, daarin.—Jesaja 2:2-4; Sagaria 8:23; Johannes 10:16; Openbaring 7:9.
Die mensdom se toekoms word in God se profetiese woord voorspel
16. Watter vooruitsigte het lojale ondersteuners van die gesalfdes?
16 Watter vooruitsigte het lojale ondersteuners van die gesalfdes? Hulle stel ook geloof in God se profetiese woord, en hulle hoop is om die aardse Paradys te beërf (Lukas 23:39-43). Daar sal hulle van ’n lewensonderhoudende “rivier van water van die lewe” drink en genees word deur “die blare van die bome” wat langs die rivier geplant is (Openbaring 22:1, 2). Mag jy, as jy so ’n wonderlike hoop het, aanhou om jou innige liefde vir Jehovah en geloof in sy profetiese woord te openbaar. Mag jy onder diegene wees wat die eindelose geluk van ewige lewe op die Paradysaarde smaak.
17. Watter seëninge sal lewe in die aardse Paradys insluit?
17 Onvolmaakte mense kan nie werklik die lewe in die komende aardse Paradys beskryf nie, maar God se profetiese woord gee ons insig in die seëninge wat op die gehoorsame mensdom wag. Wanneer God se Koninkryk die enigste regering is en sy wil op die aarde geskied soos in die hemel, sal geen wrede mens—óf dier—enige “kwaad doen of verderf aanrig” nie (Jesaja 11:9; Matteus 6:9, 10). Die ootmoediges sal die aarde bewoon, en hulle sal “hulle verlustig oor groot vrede” (Psalm 37:11). Daar sal nie meer mense wees wat honger ly nie, want daar sal “volheid van koring wees in die land, op die top van die berge” (Psalm 72:16). Geen trane van droefheid sal meer gestort word nie. Siekte sal iets van die verlede wees, en selfs die dood sal daar nie meer wees nie (Jesaja 33:24; Openbaring 21:4). Kan jy jou dit voorstel—geen dokters, geen medisyne, geen hospitale of sielsieke-inrigtings, geen begrafnisse nie. Watter wonderlike vooruitsigte tog!
18. (a) Watter versekering is aan Daniël gegee? (b) Wat sal Daniël se “deel” wees?
18 Selfs die mensdom se gemeenskaplike graf sal leeggemaak word wanneer die dooies opgewek sal word. Die regverdige man Job het daardie hoop gehad (Job 14:14, 15). En so ook die profeet Daniël, want Jehovah se engel het hom die bemoedigende versekering gegee: “En jy, gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming [“deel”, NW] aan die einde van die dae” (Daniël 12:13). Daniël het God tot sy dood toe getrou gedien. Nou rus hy in die graf, maar hy sal “opstaan” tydens “die opstanding van die regverdiges” gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy (Lukas 14:14). Wat sal Daniël se “deel” wees? Wel, in sy vervulling in die Paradys, dui Esegiël se profesie daarop dat Jehovah se hele volk ’n plek sal hê, en dat selfs die grond op ’n regverdige en ordelike manier verdeel sal word (Esegiël 47:13–48:35). Daniël sal dus ’n plek in die Paradys hê, maar sy deel daar sluit meer as net grond in. Dit sal sy plek in Jehovah se voorneme insluit.
19. Wat word van jou vereis as jy in die aardse Paradys wil lewe?
19 Wat van jou en jou deel? As jy geloof stel in God se Woord, die Bybel, smag jy heel waarskynlik na die lewe in die aardse Paradys. Jy sien jou moontlik al daar, waar jy die talle seëninge geniet, na die aarde omsien en dié wat dood was met vreugde terugverwelkom. Die Paradys is per slot van rekening waar die mensdom hoort. God het die eerste mensepaar geskep om in so ’n plek te woon (Genesis 2:7-9). En hy wil hê dat gehoorsame mense vir ewig in die Paradys moet lewe. Sal jy in ooreenstemming met die Skrif optree sodat jy een van die duisendmiljoene kan wees wat uiteindelik op die Paradysaarde sal woon? Jy kán daar wees as jy ons hemelse Vader, Jehovah, waarlik liefhet en onwankelbare geloof in God se profetiese woord stel.
[Voetnote]
a Sien hoofstuk 11 van Gee ag op Daniël se profesie! en “Seventy Weeks” in Insight on the Scriptures, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
b Sien “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”, bladsye 343-4, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
d Sien die artikel met die titel “Gee ag op God se profetiese woord”, in Die Wagtoring van 1 April 2000.
Hoe sal jy antwoord?
• Wat was die eerste profesie, en wie was die beloofde Saad?
• Wat is party van die Messiaanse profesieë wat in Jesus vervul is?
• Hoe sal Daniël 2:44, 45 vervul word?
• Na watter toekoms vir gehoorsame mense wys God se profetiese woord?
[Prent op bladsy 18]
Wil jy graag in die aardse Paradys lewe?