Verkondig die goeie nuus met gretigheid
“Gloei van die gees. Dien Jehovah as slawe.”—ROMEINE 12:11.
1, 2. Watter gesindheid probeer Christene as verkondigers van die goeie nuus handhaaf?
’N JONG man is opgewonde oor ’n nuwe werk. Op sy eerste dag by die werk wag hy gretig om sy werkgewer se instruksies te ontvang. Hy sien uit na sy eerste taak en neem dit baie ernstig op. Hy is gretig om sy bes te doen.
2 Ons as Christene kan onsself eweneens as nuwe werkers beskou. Aangesien ons hoop om vir ewig te lewe, kan daar gesê word dat ons so pas vir Jehovah begin werk het. Ons Skepper het ongetwyfeld baie take vir ons in gedagte wat ons tot in alle ewigheid besig sal hou. Maar die heel eerste opdrag wat ons ontvang het, is om die goeie nuus van sy Koninkryk bekend te maak (1 Tessalonisense 2:4). Hoe voel ons oor hierdie toewysing wat God ons gegee het? Soos die jong man, wil ons dit na die beste van ons vermoë uitvoer, met ywer, met vreugde—ja, met gretigheid!
3. Wat is nodig om as ’n bedienaar van die goeie nuus sukses te behaal?
3 Dit kan wel ’n uitdaging wees om so ’n positiewe gesindheid te handhaaf. Benewens ons bediening het ons baie ander verantwoordelikhede, waarvan sommige ons fisies en emosioneel kan uitput. Oor die algemeen kry ons dit reg om hierna om te sien terwyl ons nog genoeg aandag aan die bediening wy. Dit kan nogtans ’n voortdurende stryd wees (Markus 8:34). Jesus het beklemtoon dat ons sukses as Christene kragtige inspanning sou verg.—Lukas 13:24.
4. Watter uitwerking kan ons daaglikse sorge op ons geestelike uitkyk hê?
4 Aangesien ons soveel het om te doen, is dit maklik om soms oorweldig of belas te voel. Die “sorge van die lewe” kan ons ywer en waardering vir teokratiese bedrywighede verstik (Lukas 21:34, 35; Markus 4:18, 19). Weens ons onvolmaakte menslike natuur verlaat ons dalk ‘die liefde wat ons eers gehad het’ (Openbaring 2:1-4). Sekere aspekte van ons diens aan Jehovah kan soos ’n alledaagse roetine word. Hoe voorsien die Bybel die nodige aanmoediging sodat ons ons ywer vir die bediening kan behou?
Soos “’n brandende vuur” in ons harte
5, 6. Hoe het die apostel Paulus sy voorreg beskou om die predikingswerk te doen?
5 Die bediening wat Jehovah aan ons toevertrou het, is veels te kosbaar om toe te laat dat dit iets alledaags word. Die apostel Paulus het die verkondiging van die goeie nuus as ’n baie groot voorreg beskou, en hy het nie gedink dat hy waardig was om daarmee toevertrou te word nie. Hy het gesê: “Aan my, iemand wat geringer is as die geringste van alle heiliges, is hierdie onverdiende goedhartigheid gegee, sodat ek die goeie nuus oor die onpeilbare rykdom van die Christus aan die nasies bekend sou maak en mense sou laat sien hoe die heilige geheim uitgevoer word, wat van die onbepaalde verlede af verborge was in God, wat alles geskep het.”—Efesiërs 3:8, 9.
6 Paulus se positiewe gesindheid teenoor sy bediening is ’n uitstekende voorbeeld vir ons. In sy brief aan die Romeine het hy gesê: ‘Van my kant is daar die gretigheid om die goeie nuus bekend te maak.’ Hy het hom nie geskaam oor die goeie nuus nie (Romeine 1:15, 16). Hy het die regte gesindheid gehad en was gretig om sy bediening uit te voer.
7. Waarteen het Paulus in sy brief aan die Romeine gewaarsku?
7 Die apostel Paulus het besef hoe belangrik dit is om ywerig te bly, en daarom het hy die Christene in Rome aangespoor: “Moenie traag wees in julle bedrywighede nie. Gloei van die gees. Dien Jehovah as slawe” (Romeine 12:11). Die Griekse woord wat met “traag” vertaal word, het die gedagte van “luiheid, slapheid”. Al is ons dalk nie werklik traag in ons bediening nie, moet ons almal let op enige vroeë simptome van geestelike luiheid en gepaste veranderinge in ons gesindheid aanbring as ons bewus word van sulke simptome in onsself.—Spreuke 22:3.
8. (a) Wat het soos “’n brandende vuur” in Jeremia se hart geword, en waarom? (b) Watter les kan ons uit Jeremia se ondervinding leer?
8 God se gees kan ons ook help wanneer ons mismoedig is. Die profeet Jeremia het eenkeer byvoorbeeld mismoedig gevoel, en hy het dit oorweeg om op te hou profeteer. Hy het selfs van Jehovah gesê: “Ek sal aan Hom nie dink nie en in sy Naam nie meer spreek nie.” Was dit ’n bewys dat Jeremia geestelik baie swak was? Nee. Trouens, Jeremia se sterk geestelike toestand, sy liefde vir Jehovah en sy ywer vir die waarheid het hom die krag gegee om aan te hou profeteer. Hy verduidelik: “In my hart [het die woord van Jehovah geword] soos ’n brandende vuur, opgesluit in my gebeente. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie” (Jeremia 20:9). Dit is natuurlik vir getroue knegte van God om van tyd tot tyd mismoedig te voel. Maar wanneer hulle tot Jehovah bid vir hulp, sal hy hulle hart lees en vryelik aan hulle sy heilige gees gee as hulle, soos Jeremia, sy woord in hulle hart het.—Lukas 11:9-13; Handelinge 15:8.
“Moenie die vuur van die gees blus nie”
9. Wat kan die werking van die heilige gees ten behoewe van ons verhinder?
9 Die apostel Paulus het die Tessalonisense vermaan: “Moenie die vuur van die gees blus nie” (1 Tessalonisense 5:19). Ja, dade en gesindhede wat in stryd met godvrugtige beginsels is, kan die werking van die heilige gees ten behoewe van ons verhinder (Efesiërs 4:30). Christene het vandag die toewysing om die goeie nuus te verkondig. Ons het groot respek vir hierdie voorreg. Dit verbaas ons nie dat ons predikingswerk geminag word deur diegene wat God nie ken nie. Maar wanneer ’n Christen sy bediening doelbewus verwaarloos, kan dit daartoe lei dat die vuur van God se motiverende gees geblus word.
10. (a) Hoe kan die beskouing van mense ons beïnvloed? (b) Watter verhewe beskouing van ons bediening word in 2 Korintiërs 2:17 beskryf?
10 Party mense wat nie ’n deel van die Christengemeente is nie, beskou dalk ons bediening as die blote verspreiding van lektuur. Ander kan verkeerdelik dink dat ons net van huis tot huis gaan om donasies te kry. As ons toelaat dat sulke negatiewe beskouings ons gesindheid beïnvloed, kan dit maak dat ons predikingswerk nie so doeltreffend is nie. Pleks van toe te laat dat sulke denke ons beïnvloed, moet ons die beskouing handhaaf wat Jehovah en Jesus van ons bediening het. Die apostel Paulus het daardie verhewe beskouing só beskryf: “Ons smous nie soos baie mense met die woord van God nie, maar as uit opregtheid, ja, as van God af gestuur, ten aanskoue van God, in geselskap van Christus, spreek ons.”—2 Korintiërs 2:17.
11. Wat het die eerste Christene in staat gestel om selfs tydens vervolging ywerig te bly, en watter uitwerking moet hulle voorbeeld op ons hê?
11 Kort ná Jesus se dood het sy dissipels in Jerusalem ’n tyd van vervolging verduur. Hulle is gedreig en beveel om hulle predikingswerk te staak. Maar die Bybel sê dat hulle ‘met die heilige gees vervul is en die woord van God met vrymoedigheid gespreek het’ (Handelinge 4:17, 21, 31). Paulus se woorde aan Timoteus ’n paar jaar later toon die positiewe gesindheid wat Christene moet behou. Paulus het gesê: “God het ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag en van liefde en van gesonde verstand. Moet jou dus nie skaam oor die getuienis aangaande ons Here nie, en ook nie oor my, ’n gevangene ter wille van hom nie, maar dra jou deel in die lyding van kwaad vir die goeie nuus ooreenkomstig die krag van God.”—2 Timoteus 1:7, 8.
Wat is ons aan ons medemens verskuldig?
12. Wat is die hoofrede waarom ons die goeie nuus verkondig?
12 As ons die regte gesindheid teenoor ons bediening wil hê, moet ons die regte beweegrede hê. Waarom doen ons die predikingswerk? Die hoofrede sien ons in die woorde van die psalmis: “U gunsgenote prys U [Jehovah]. Hulle maak melding van die heerlikheid van u koninkryk en spreek van u mag, om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk” (Psalm 145:10-12). Ja, ons doen die predikingswerk om Jehovah in die openbaar te loof en om sy naam voor die hele mensdom te heilig. Al luister min mense na ons, bring dit lof aan Jehovah as ons die boodskap van redding getrou verkondig.
13. Wat beweeg ons om ander van die hoop op redding te vertel?
13 Ons doen ook die predikingswerk uit liefde vir mense en om bloedskuld te vermy (Esegiël 33:8; Markus 6:34). Dit hou verband met die woorde van Paulus toe hy van diegene buite die Christengemeente gesê het: “Teenoor Grieke sowel as Barbare, teenoor wyses sowel as onverstandiges is ek ’n skuldenaar” (Romeine 1:14). Paulus het gevoel dat hy dit aan mense verskuldig is om die goeie nuus aan hulle bekend te maak, aangesien dit God se wil is dat “alle soorte mense gered moet word” (1 Timoteus 2:4). Vandag is ons net so lief vir ons medemens en voel ons dieselfde verpligting teenoor hulle. Jehovah se liefde vir die mensdom het hom beweeg om sy Seun na die aarde te stuur om vir hulle te sterf (Johannes 3:16). Dit was ’n groot opoffering. Ons volg Jehovah se liefde na wanneer ons ons tyd gebruik en ons inspan om ander te vertel van die goeie nuus van redding wat op Jesus se offerande gegrond is.
14. Hoe beskryf die Bybel die wêreld buite die Christengemeente?
14 Jehovah se Getuies beskou hulle medemens as potensiële lede van die Christenbroederskap. Ons moet met vrymoedigheid getuig, maar ons vrymoedigheid lei nie tot konfrontasie nie. Die Bybel gebruik nou wel sterk uitdrukkings wanneer dit van die wêreld in die geheel praat. Die woord “wêreld” self word op ’n negatiewe manier deur Paulus gebruik waar hy van “die wysheid van hierdie wêreld” en “wêreldse begeertes” praat (1 Korintiërs 3:19; Titus 2:12). Paulus het Christene in Efese ook daaraan herinner dat hulle geestelik “dood” was toe hulle “volgens die stelsel van dinge van hierdie wêreld” gewandel het (Efesiërs 2:1-3). Hierdie en ander soortgelyke stellings is in ooreenstemming met die apostel Johannes se woorde: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose.”—1 Johannes 5:19.
15. Wat doen ons nie met betrekking tot individue buite die Christengemeente nie, en waarom nie?
15 Onthou egter dat sulke stellings verwys na die wêreld in sy geheel wat van God vervreemd is, en nie na individue nie. Christene eien hulle nie die reg toe om vooraf te oordeel hoe iemand op die predikingswerk sal reageer nie. Hulle het geen grondslag waarvolgens hulle enige persoon as ’n bok kan beskryf nie. Dit berus nie by ons om te sê wat die uitslag sal wees wanneer Jesus kom om “die skape” van “die bokke” te skei nie (Matteus 25:31-46). Jesus is die aangestelde regter; ons is nie. Daarbenewens het ondervinding al getoon dat party mense wat selfs diep verval het in die ergste soort gedrag, die Bybelboodskap aangeneem, verander en Christene geword het wat ’n skoon lewe lei. Gevolglik huiwer ons nie om met hulle oor die Koninkrykshoop te praat as die geleentheid hom voordoen nie, hoewel ons nie met sekere persone assosieer nie. Die Skrif praat van sekere individue wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe gehad het” al was hulle nog ongelowiges. Hulle het later gelowiges geword (Handelinge 13:48). Ons moet dus vir mense getuig—en soms telkemale—voordat ons sal kan bepaal of hulle die regte gesindheid het. Met dít in gedagte behandel ons diegene wat nog nie die boodskap van redding aangeneem het nie met “sagmoedigheid” en “diep respek”, in die hoop dat party van hulle dalk nog gunstig op die boodskap van lewe sal reageer.—2 Timoteus 2:25; 1 Petrus 3:15.
16. Wat is een rede waarom ons die “onderrigkuns” wil ontwikkel?
16 As ons vaardighede as onderrigters ontwikkel, sal dit ons gretiger maak om die goeie nuus te verkondig. Ter toeligting: ’n Opwindende wedstryd of sport sal dalk oninteressant wees vir iemand wat nie weet hoe om dit te speel nie. Maar iemand wat dit goed speel, geniet dit. Christene wat die “onderrigkuns” ontwikkel, vergroot eweneens hulle vreugde in die bediening (2 Timoteus 4:2; Titus 1:9). Paulus het hierdie raad aan Timoteus gegee: “Doen jou uiterste bes om jou goedgekeur voor God te stel, as ’n werker wat hom oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer” (2 Timoteus 2:15). Hoe kan ons ons vaardighede as onderrigters ontwikkel?
17. Hoe kan ons ‘’n verlange ontwikkel’ na Bybelkennis, en hoe sal hierdie kennis ons in ons bediening help?
17 Een manier is deur meer juiste kennis in te neem. Die apostel Petrus moedig ons aan: “Ontwikkel soos pasgebore kindertjies ’n verlange na die onvervalste melk wat tot die woord behoort, sodat julle daardeur tot redding kan groei” (1 Petrus 2:2). ’n Gesonde baba verlang instinktief na melk. Maar ’n Christen sal dalk “’n verlange” na Bybelkennis moet “ontwikkel”. Hy kan dit doen deur goeie studie- en leesgewoontes aan te kweek (Spreuke 2:1-6). Inspanning en selfdissipline is nodig as ons bekwame onderrigters van God se Woord wil word, maar sulke pogings word beloon. Die vreugde wat dit ons verskaf om God se Woord te ondersoek, sal ons laat gloei van God se gees, gretig om met ander te praat oor die dinge wat ons leer.
18. Hoe kan Christelike vergaderinge ons toerus om die woord van die waarheid reg te hanteer?
18 Christelike vergaderinge is ook ’n belangrike voorsiening waardeur ons gehelp word om God se Woord op bekwame wyse te gebruik. Wanneer Bybeltekste gedurende openbare toesprake en ander skriftuurlike besprekings gelees word, sal dit goed wees as ons in ons eie Bybel volg. Dit is verstandig om aandagtig na vergaderingdele te luister, onder andere dié wat spesifiek oor ons predikingswerk handel. Ons moet nooit die waarde van demonstrasies onderskat en miskien toelaat dat ons gedagtes dwaal nie. Weer eens is selfdissipline en konsentrasie nodig (1 Timoteus 4:16). Christelike vergaderinge bou ons geloof op, help ons om ’n verlange na God se Woord te ontwikkel en lei ons op om gretige verkondigers van die goeie nuus te wees.
Ons kan op Jehovah se ondersteuning staatmaak
19. Waarom is dit noodsaaklik om gereeld aan die predikingswerk deel te neem?
19 Christene wat “gloei van die gees” en wat gretig is om die goeie nuus te verkondig, probeer gereeld aan die bediening deelneem (Efesiërs 5:15, 16). Omstandighede verskil weliswaar, en nie almal kan ewe veel tyd aan hierdie lewensreddende werk wy nie (Galasiërs 6:4, 5). Maar wat dalk belangriker is as die aantal ure wat ons aan die predikingswerk bestee, is hoe dikwels ons met ander oor ons hoop praat (2 Timoteus 4:1, 2). Hoe meer ons vir ander getuig, hoe meer sal ons die belangrikheid van hierdie werk besef (Romeine 10:14, 15). Ons ontferming en medelye sal toeneem namate ons gereeld in aanraking kom met opregte mense wat sug en steun en wat geen hoop het nie.—Esegiël 9:4; Romeine 8:22.
20, 21. (a) Watter werk moet ons nog doen? (b) Hoe ondersteun Jehovah ons pogings?
20 Jehovah het aan ons die goeie nuus toevertrou. Dit is die eerste opdrag wat ons van hom as sy “medewerkers” ontvang (1 Korintiërs 3:6-9). Ons is gretig om hierdie godgegewe verantwoordelikheid met ons hele siel, na die beste van ons vermoë, na te kom (Markus 12:30; Romeine 12:1). In die wêreld is daar nog baie mense met die regte gesindheid wat na die waarheid honger. Daar is baie werk om te doen, maar ons kan op Jehovah se ondersteuning staatmaak terwyl ons ons bediening ten volle uitvoer.—2 Timoteus 4:5.
21 Jehovah gee ons sy gees en hy rus ons toe met “die swaard van die gees”, God se Woord. Met sy hulp kan ons ons mond “met vrymoedigheid van spraak [open om] die heilige geheim van die goeie nuus bekend te maak” (Efesiërs 6:17-20). Mag daar van ons gesê word wat die apostel Paulus aan die Christene in Tessalonika geskryf het: “Die goeie nuus wat ons verkondig, [het] nie met woorde alleen tot julle gekom . . . nie, maar ook met krag en met heilige gees en sterk oortuiging” (1 Tessalonisense 1:5). Ja, laat ons die goeie nuus met gretigheid verkondig!
’n Kort hersiening
• Wat kan weens die sorge van die lewe met ons ywer in die bediening gebeur?
• In watter opsig moet ons begeerte om die goeie nuus te verkondig soos “’n brandende vuur” in ons hart wees?
• Watter negatiewe gesindhede ten opsigte van die bediening moet ons vermy?
• Hoe moet ons mense oor die algemeen beskou wat nie dieselfde oortuigings as ons het nie?
• Hoe help Jehovah ons om ons ywer in die predikingswerk te behou?
[Prente op bladsy 9]
Christene volg die ywer van Paulus en Jeremia na
[Prente op bladsy 10]
Ons gretigheid in die bediening word deur ons liefde vir God en ons medemens aangedryf