Die saad van Koninkrykswaarheid word gesaai
“Saai jou saad in die môre, en laat teen die aand jou hand nie rus nie.”—PREDIKER 11:6.
1. In watter sin saai Christene vandag saad?
LANDBOU het ’n baie belangrike rol in die eertydse Hebreeuse samelewing gespeel. Daarom het Jesus, wie sy hele lewe as ’n mens in die Beloofde Land deurgebring het, temas oor landbou in sy illustrasies ingesluit. Hy het byvoorbeeld die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk vergelyk met saad wat gesaai word (Matteus 13:1-9, 18-23; Lukas 8:5-15). Tot vandag toe nog is die belangrikste werk wat Christene doen, of ons nou in ’n landbougemeenskap woon of nie, om geestelike saad op dié manier te saai.
2. Hoe belangrik is ons predikingswerk, en wat is van die dinge wat vandag gedoen word om dit uit te voer?
2 Dit is ’n groot voorreg om in hierdie tyd van die einde Bybelwaarheid te saai. Romeine 10:14, 15 sit die belangrikheid van hierdie werk duidelik uiteen: “Hoe sal hulle hoor sonder dat iemand preek? En hoe sal hulle preek tensy hulle uitgestuur is? Net soos daar geskrywe staan: ‘Hoe lieflik is die voete van dié wat goeie nuus van goeie dinge bekend maak!’” Dit was nog nooit so belangrik om met ’n positiewe gesindheid voort te gaan om hierdie godgegewe opdrag uit te voer nie. Om dié rede is Jehovah se Getuies hart en siel besig met die druk en verspreiding van Bybels en Bybelstudiehulpe in 340 tale. Die voorbereiding van hierdie materiaal vereis dat meer as 18 000 vrywilligers by hulle hoofkwartier en by takkantore in verskillende lande dien. En bykans sesmiljoen Getuies neem deel aan die verspreiding van hierdie Bybellektuur oor die hele wêreld.
3. Wat word bereik deur die Koninkrykswaarheid wat gesaai word?
3 Wat is die vrugte van hierdie harde werk? Soos in die vroeë dae van die Christelike godsdiens neem baie mense vandag die waarheid aan (Handelinge 2:41, 46, 47). Maar nog belangriker as die groot getal pasgedoopte Koninkryksverkondigers is die feit dat hierdie groot getuienis bydra tot die heiliging van Jehovah se naam en tot sy regverdiging as die enigste ware God (Matteus 6:9). Verder verbeter ’n kennis van God se Woord die lewe van baie, en dit kan tot hulle redding lei.—Handelinge 13:47.
4. Hoe besorg was die apostels oor die mense vir wie hulle getuig het?
4 Die apostels was ten volle bewus van die lewegewende belang van die goeie nuus, en hulle het werklik omgegee vir die mense vir wie hulle getuig het. Dit is duidelik uit die woorde van die apostel Paulus, toe hy geskryf het: “Omdat ons dan ’n tere geneentheid vir julle het, het ons julle met graagte nie net die goeie nuus van God meegedeel nie, maar ook ons eie siele, want julle het by ons gelief geword” (1 Tessalonisense 2:8). Deur opreg oor mense besorg te wees, het Paulus en die ander apostels Jesus en die hemelse engele nagevolg, wat in groot mate by hierdie lewensreddende werk betrokke is. Kom ons kyk weer eens na die belangrike rol wat hierdie hemelse knegte van God daarin speel om die Koninkrykswaarheid te saai en sien hoe hulle voorbeeld ons aanmoedig om ons rol te vervul.
Jesus—die Saaier van Koninkrykswaarheid
5. Aan watter werk het Jesus hoofsaaklik sy tyd gewy terwyl hy op die aarde was?
5 Jesus, wat ’n volmaakte man was, het die mag gehad om op materiële gebied talle goeie dinge vir die mense van sy tyd te voorsien. Hy kon byvoorbeeld baie van die verkeerde mediese opvattings van sy tyd reggestel het of hy kon mense se insig in ander wetenskappe uitgebrei het. En tog het hy dit baie vroeg in sy bediening duidelik gestel dat sy opdrag was om die goeie nuus te verkondig (Lukas 4:17-21). En na aan die einde van sy bediening het hy verduidelik: “Hiervoor is ek gebore, en hiervoor het ek in die wêreld ingekom, om van die waarheid te getuig” (Johannes 18:37). Hy het dus sy tyd daaraan gewy om die saad van Koninkrykswaarheid te saai. Om sy tydgenote aangaande God en Sy voornemens te leer, was belangriker as enige ander onderrigting wat Jesus hulle kon gegee het.—Romeine 11:33-36.
6, 7. (a) Watter merkwaardige belofte het Jesus gemaak voordat hy na die hemel opgevaar het, en hoe vervul hy dit? (b) Watter uitwerking het Jesus se gesindheid teenoor die predikingswerk op jou as persoon?
6 Jesus het indirek na homself as die Saaier van Koninkrykswaarheid verwys (Johannes 4:35-38). Hy het by elke geleentheid die saad van die goeie nuus versprei. Selfs terwyl hy besig was om aan die folterpaal te sterf, het hy goeie nuus oor ’n toekomstige aardse paradys verkondig (Lukas 23:43). Daarbenewens het sy groot besorgdheid dat die goeie nuus verkondig moet word, nie met sy dood aan die folterpaal geëindig nie. Voordat hy na die hemel opgevaar het, het hy die apostels die opdrag gegee om aan te hou om die saad van Koninkrykswaarheid te saai en dissipels te maak. Toe het Jesus ’n merkwaardige belofte gemaak. Hy het gesê: “Kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge.”—Matteus 28:19, 20.
7 Met hierdie woorde het Jesus hom met ’n belofte verbind om die verkondiging van die goeie nuus te ondersteun, te rig en te beskerm “al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge”. Selfs tot vandag toe toon Jesus nog steeds persoonlike belangstelling in die evangelisasiewerk. Hy is ons Leier, en hy hou toesig oor die werk om Koninkrykswaarheid te saai (Matteus 23:10). As die Hoof van die Christengemeente is hy verantwoordelik teenoor Jehovah vir hierdie wêreldwye werk.—Efesiërs 1:22, 23; Kolossense 1:18.
Die engele maak die blye tyding bekend
8, 9. (a) Hoe het die engele opregte belangstelling in die mens se aangeleenthede getoon? (b) In watter sin kan daar gesê word dat ons ’n teaterskouspel vir die engele is?
8 Toe Jehovah die aarde geskep het, het die engele “saam gejubel en . . . gejuig” (Job 38:4-7). Sedertdien het hierdie hemelse skepsele getoon dat hulle intens belangstel in die mens se aangeleenthede. Jehovah het hulle gebruik om Goddelike verklarings aan mense oor te dra (Psalm 103:20). Dit is veral die geval met die verkondiging van die goeie nuus in ons tyd. In die openbaring wat aan die apostel Johannes gegee is, het hy ’n “engel in die middel van die hemel sien vlieg” wat “ewige goeie nuus gehad [het] om as blye tyding bekend te maak aan dié wat op die aarde woon, en aan elke nasie en stam en taal en volk, en hy het met ’n harde stem gesê: ‘Vrees God en gee hom heerlikheid, want die uur van die oordeel deur hom het aangebreek.’”—Openbaring 14:6, 7.
9 Die Bybel praat van die engele as “geeste vir openbare diens, wat uitgestuur word om te dien ten behoewe van dié wat redding gaan beërf” (Hebreërs 1:14). Terwyl die engele hulle toegewese take met gretigheid uitvoer, het hulle die geleentheid om ons en ons werk noukeurig dop te hou. Soos op ’n teaterverhoog reg in die openbaar, voer ons ons werk voor ’n hemelse gehoor uit (1 Korintiërs 4:9). Die gedagte dat ons nie alleen werk as saaiers van Koninkrykswaarheid nie, is inderdaad opwindend en stof tot nadenke!
Ons vervul ons rol met gretigheid
10. Hoe kan die praktiese raad in Prediker 11:6 op ons evangelisasiewerk toegepas word?
10 Waarom stel Jesus en die engele soveel belang in ons werk? Jesus het een rede gegee toe hy gesê het: ‘Ek sê vir julle, daar ontstaan vreugde onder die engele van God oor een sondaar wat berou het’ (Lukas 15:10). Ons toon daardie selfde opregte belangstelling in mense. Daarom doen ons ons bes om die saad van Koninkrykswaarheid oral te versprei. Die woorde van Prediker 11:6 kan op ons werk toegepas word. Daar spoor die Bybel ons aan: “Saai jou saad in die môre, en laat teen die aand jou hand nie rus nie; want jy weet nooit watter een sal geluk nie, hierdie of daardie, en of altwee saam goed sal wees nie.” Vir elke persoon wat ons boodskap aanneem, is daar dalk wel honderde of selfs duisende wat dit verwerp. Maar soos die engele is ons verheug wanneer selfs “een sondaar” die boodskap van redding aanneem.
11. Hoe doeltreffend kan die gebruik van Bybelpublikasies wees?
11 Heelwat is betrokke by die verkondiging van die goeie nuus. Een belangrike hulp in hierdie werk is die Bybellektuur wat deur Jehovah se Getuies gebruik word. In sekere opsigte is hierdie publikasies ook soos saad wat oral gesaai word. Ons weet nie waar dit sukses sal behaal nie. Soms kan ’n publikasie ’n paar eienaars hê voordat iemand dit lees. Jesus en die engele kan selfs in party gevalle sake so bestuur dat dit tot voordeel van regskapenes gebeur. Kyk na ’n paar ondervindinge wat toelig hoe Jehovah onverwagte en wonderlike resultate kan bewerkstellig deur lektuur te gebruik wat by mense gelaat is.
Die werk van die ware God
12. Hoe het ’n ou tydskrif ’n gesin gehelp om Jehovah te leer ken?
12 In 1953 het Robert, Lila en hulle kinders van ’n groot stad na ’n bouvallige ou plaashuis in die landelike gebied van Pennsilvanië, VSA, verhuis. Kort nadat hulle ingetrek het, het Robert besluit om die toegeboude deel onder ’n stel trappe in ’n badkamer te omskep. Nadat hy etlike planke verwyder het, het hy ontdek dat muise stukkies papier, leë okkerneutdoppe en ander stukkies rommel agter die muur gebêre het. Daar, tussen al die rommel, het ’n eksemplaar van die tydskrif The Golden Age gelê. Robert het veral belanggestel in ’n artikel oor die grootmaak van kinders. Hy was so beïndruk deur die duidelike Bybelse riglyne wat in die tydskrif gegee is dat hy vir Lila gesê het dat hulle by “die godsdiens van die Golden Age” gaan aansluit. Binne net ’n paar weke het Jehovah se Getuies na hulle deur gekom, maar Robert het vir hulle gesê dat sy gesin net belangstel in “die godsdiens van die Golden Age”. Die Getuies het verduidelik dat The Golden Age nou ’n nuwe titel het, naamlik die Ontwaak! Robert en Lila het die Bybel gereeld saam met die Getuies begin studeer, en hulle is later gedoop. Hulle het op hulle beurt saadjies van waarheid in hulle kinders gesaai en volop gemaai. Vandag is meer as 20 lede van hierdie gesin, insluitende al sewe kinders van Robert en Lila, gedoopte knegte van Jehovah God.
13. Wat het ’n egpaar in Puerto Rico se belangstelling in die Bybel gewek?
13 Ongeveer 40 jaar gelede het William en Ada, ’n egpaar van Puerto Rico, glad nie daarin belanggestel om die Bybel te studeer nie. Wanneer Jehovah se Getuies ook al aan hulle deur geklop het, het die egpaar gemaak of hulle nie by die huis is nie. Eendag het William na ’n skrootwerf gegaan om iets te koop wat hy nodig gehad het vir herstelwerk by die huis. Toe hy wegstap, het hy ’n lemmetjiegroen boek in ’n groot vullisblik sien lê. Dit was die boek Religie, wat in 1940 deur Jehovah se Getuies uitgegee is. William het die boek huis toe geneem en was verheug om van die verskil tussen valse en ware godsdiens te lees. Toe Jehovah se Getuies weer aan hulle deur geklop het, het William en Ada met graagte na hulle boodskap geluister en die Bybel saam met hulle begin studeer. ’n Paar maande later, in 1958, is hulle by die “Goddelike Wil”- Internasionale Byeenkoms gedoop. Sedertdien het hulle meer as 50 mense gehelp om ’n deel van ons Christenbroederskap te word.
14. Watter potensiaal het ons Bybellektuur, soos ’n ondervinding toelig?
14 Karl was maar 11 jaar oud en ietwat ondeund. Dit het vir hom gelyk of hy altyd in die moeilikheid beland het. Sy vader, ’n Duitse Metodiste predikant, het hom geleer dat slegte mense ná hulle dood in die hel brand. Karl was dus baie bang vir die hel. Eendag in 1917 het Karl ’n gedrukte blaadjie in die straat sien lê, en hy het dit opgetel. Terwyl hy dit gelees het, het sy oog geval op die vraag: “Wat is die hel?” Die blaadjie was ’n uitnodiging na ’n openbare lesing oor die hel, wat gehou is deur die Bybelstudente, wat vandag as Jehovah se Getuies bekend staan. Omtrent ’n jaar later, ná etlike Bybelstudiesessies, is Karl gedoop en het hy sodoende een van die Bybelstudente geword. In 1925 is hy genooi om by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies te werk—waar hy nog steeds dien. ’n Christelike loopbaan wat oor meer as agt dekades strek, het met ’n blaadjie in die straat begin.
15. Wat kan Jehovah doen, soos hy goedvind?
15 Dit is weliswaar nie moontlik vir mense om te bepaal of die engele regstreeks by hierdie ondervindinge betrokke was nie, en indien wel in watter mate. Maar ons moet nooit daaraan twyfel dat Jesus en die engele ’n daadwerklike rol in die predikingswerk speel en dat Jehovah sake kan rig soos hy goedvind nie. Hierdie en talle soortgelyke ondervindinge lig toe watter potensiaal ons lektuur kan hê om goeie resultate op te lewer nadat ons dit versprei het.
’n Skat is aan ons toevertrou
16. Wat kan ons uit die woorde van 2 Korintiërs 4:7 leer?
16 Die apostel Paulus het van ’n “skat in erdehouers” gepraat. Hierdie skat is die godgegewe opdrag om die predikingswerk te doen, en die erdehouers is die mense aan wie Jehovah hierdie skat toevertrou het. Aangesien hierdie mense onvolmaak en beperk is, sê Paulus verder dat hierdie opdrag aan hulle gegee is sodat “die krag wat bo die normale is God s’n kan wees en nie dié uit onsself nie” (2 Korintiërs 4:7). Ja, ons kan op Jehovah staatmaak om die krag te voorsien wat ons nodig het om die toegewese werk uit te voer.
17. Waarmee sal ons te kampe kry terwyl ons die saad van Koninkrykswaarheid saai, en waarom moet ons nietemin ’n positiewe gesindheid behou?
17 Ons moet dikwels opofferinge maak. Dit kan moeilik of ongerieflik wees om in party gebiede te werk. Daar is gebiede waar die meeste mense uiters onverskillig, selfs vyandig, voorkom. Baie moeite word dalk in sulke gebiede gedoen, sonder enige skynbare sukses. Maar geen moeite is te veel as soveel op die spel is nie. Onthou dat die saad wat jy saai nóú vir mense geluk kan gee sowel as die ewige lewe in die toekoms. Die woorde van Psalm 126:6 (NW) is al baie keer waar bewys: “Wie vir seker uitgaan, al is dit huilend, terwyl hy ’n sak vol saad dra, sal vir seker met vreugdegeroep inkom, terwyl hy sy gerwe dra.”
18. Hoe kan ons voortdurend op ons bediening let, en waarom moet ons?
18 Laat ons elke gepaste geleentheid aangryp om die saad van Koninkrykswaarheid oorvloedig te saai. Mag ons nooit vergeet nie dat Jehovah die saad laat groei, al plant en gooi ons dit nat (1 Korintiërs 3:6, 7). Maar net soos Jesus en die engele hulle deel van die werk verrig, verwag Jehovah van ons om ons bediening ten volle uit te voer (2 Timoteus 4:5). Mag ons voortdurend let op ons onderrigting, op ons gesindheid en op ons gretigheid in die bediening. Waarom? Paulus antwoord: “Deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister.”—1 Timoteus 4:16.
Wat het ons geleer?
• Op watter maniere lewer ons saaiwerk goeie resultate op?
• Hoe is Jesus Christus en die engele vandag betrokke by die evangelisasiewerk?
• Waarom moet ons as saaiers van Koninkrykswaarheid oorvloedig saai?
• Wat moet ons motiveer om te volhard as ons met onverskilligheid of vyandigheid in ons bediening te kampe kry?
[Prent op bladsy 15]
Soos boere in eertydse Israel versprei Christene vandag die saad van Koninkrykswaarheid oorvloedig
[Prent op bladsy 16, 17]
Jehovah se Getuies druk en versprei ’n groot verskeidenheid Bybelpublikasies in 340 tale