Waarom moet ons redelik wees in ons verwagtinge?
WANNEER ons drome bewaarheid en ons begeertes vervul word, gee dit ons ’n gevoel van tevredenheid. Maar baie van ons drome en verwagtinge word weliswaar nie verwesenlik nie. Herhaalde teleurstellings in die lewe kan ons geïrriteerd met onsself en selfs met ander laat voel. ’n Wyse man het gepas opgemerk: “’n Uitgestelde hoop maak die hart siek.”—Spreuke 13:12.
Wat is ’n paar faktore wat tot gevoelens van teleurstelling kan lei? Hoe kan ons daaraan werk om redelik in ons verwagtinge te wees? En waarom is dit vir ons voordelig as ons dit doen?
Verwagtinge en teleurstellings
Die lewe is vandag so gejaag, en hoe harder ons probeer om by te bly, hoe meer lyk dit of ons agterraak. Die eise wat aan ons tyd en energie gestel word, hou eenvoudig nie op nie, en wanneer ons nie bereik wat ons graag sou wou nie, is ons dalk geneig om onsself te verwyt. Ons kan selfs begin dink dat ons ander in die steek laat. Cynthia, ’n getroude vrou en moeder wat die druk van ouerskap ken, sê: “Die gevoel dat ek nie konsekwent is met my kinders se dissipline en dat ek hulle nie behoorlik oplei nie, frustreer my.” Stephanie, ’n tiener, sê oor haar skoolopleiding: “Ek het nie genoeg tyd om alles te doen wat ek wil doen nie, en dit maak my ongeduldig.”
Onredelik hoë verwagtinge kan maklik tot perfeksionisme oorgaan, en dit kan baie frustrerend wees. Ben, ’n jong getroude man, erken: “Wanneer ek my optrede, denke of gevoelens ondersoek, sien ek altyd hoe dit beter kon gewees het. Ek strewe gedurig na volmaaktheid, en dit lei tot ongeduld, frustrasie en teleurstelling.” Gail, ’n getroude Christenvrou, sê: “Perfeksionistiese denke laat geen ruimte vir mislukking nie. Ons wil superma’s en supervrouens wees. Ons moet produktief wees om gelukkig te wees, en daarom irriteer dit ons as ons ons verniet ingespan het.”
Nog ’n faktor wat tot persoonlike teleurstelling kan lei, is verswakkende gesondheid en bejaardheid. As ons nie meer so goed kan rondbeweeg en soveel energie het nie, laat dit ons beperkings groter lyk en dra dit by tot frustrasie. “Ek het ongeduldig met myself geraak omdat ek nie dinge kon doen wat so maklik en so natuurlik was voordat ek siek geword het nie”, erken Elizabeth.
Die voorgaande gee ’n mens ’n idee van watter dinge tot gevoelens van teleurstelling kan lei. En as dit nie beheer word nie, kan sulke gevoelens ons selfs laat glo dat ander ons nie waardeer nie. Watter positiewe stappe kan ons dus neem om teleurstellings te oorkom en redelike verwagtinge te koester?
Maniere om redelike verwagtinge te koester
Onthou eerstens dat Jehovah redelik en simpatiek is. Psalm 103:14 herinner ons hieraan: “Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.” Aangesien Jehovah weet wat ons vermoëns en beperkings is, verwag hy van ons net wat ons kan gee. En wat hy wel van ons vra, is om “beskeie te wandel met [ons] God”.—Miga 6:8, NW.
Jehovah spoor ons ook aan om hom in gebed te nader (Romeine 12:12; 1 Tessalonisense 5:17). Maar hoe help dit ons? Gebed help ons om bestendig en gebalanseerd in ons denke te wees. ’n Hartgrondige gebed is ’n erkenning dat ons hulp nodig het—dit is ’n teken van beskeidenheid en nederigheid. Jehovah is gretig om ons gebede te verhoor deur ons sy heilige gees te gee, en liefde, goedhartigheid, goedheid en selfbeheersing is vrugte daarvan (Lukas 11:13; Galasiërs 5:22, 23). Gebed verlig ook kommer en frustrasie. Uit gebed “put ’n mens vertroosting soos jy van geen ander bron kry nie”, sê Elizabeth. Kevin stem hiermee saam: “Ek bid vir ’n kalm hart en ’n helder verstand sodat ek ’n probleem die hoof kan bied. Jehovah laat my nooit in die steek nie.” Die apostel Paulus het geweet hoe waardevol gebed is. Daarom het hy aanbeveel: “Laat julle versoeke . . . by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Filippense 4:6, 7). Ja, kommunikasie met Jehovah help ons beslis om redelike verwagtinge van onsself en ander te koester.
Soms het ons egter onmiddellike gerusstelling nodig. ’n Woord op die regte tyd is goed. ’n Vertroulike gesprek met ’n ryp vriend wat ons kan vertrou, kan ons help om die rede waarom ons teleurgesteld of bekommerd voel uit ’n nuwe oogpunt te beskou (Spreuke 15:23; 17:17; 27:9). Jongmense wat met frustrasies worstel, vind dat hulle gehelp word om balans te vind as hulle hulle ouers om raad vra. Kandi sê vol waardering: “Die liefdevolle leiding van my ouers het my gehelp om meer redelik en gebalanseerd asook ’n aangenamer mens te wees.” Ja, die herinnering in Spreuke 1:8, 9 is baie tydig: “My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; want dit is ’n lieflike krans vir jou hoof en sierlike kettings vir jou hals.”
Die gevolge van perfeksionistiese denke word goed opgesom deur hierdie spreekwoord: “Om te verwag dat die lewe by ons vereistes moet aanpas, is om frustrasie uit te lok.” ’n Verandering in denke is nodig om dit te vermy. Nederigheid en beskeidenheid—’n realistiese beskouing van ons beperkings—sal ons beslis gebalanseerde en redelike verwagtinge laat koester. Romeine 12:3 waarsku ons gepas “om nie meer van [onsself] te dink as wat dit nodig is om te dink nie”. Daarbenewens moedig Filippense 2:3 ons aan om ootmoedig te wees en ander hoër as onsself te ag.
Elizabeth, wat vroeër genoem is, was ongeduldig met haarself weens haar siekte. Sy het tyd nodig gehad om Jehovah se beskouing van sake te kry en vertroos te word deur die wete dat hy nie ons diens vergeet nie. Colin kan weens ’n aftakelende siekte nie rondbeweeg nie. Hy het aanvanklik gevoel dat sy bediening amper niks werd is in vergelyking met wat hy gedoen het toe hy nog gesond was nie. Nadat hy oor tekste soos 2 Korintiërs 8:12 gepeins het, was hy in staat om hierdie gevoelens af te skud. Hierdie vers sê: “As die bereidheid eerste daar is, is dit veral aanneemlik volgens wat ’n mens het, nie volgens wat ’n mens nie het nie.” “Hoewel ek veel minder het om te gee”, sê Colin, “kan ek darem nog gee, en dít is aanneemlik vir Jehovah.” In Hebreërs 6:10 word ons hieraan herinner: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het . . . nie.”
Hoe kan ons dan bepaal of ons verwagtinge redelik is? Vra jou af: ‘Strook my verwagtinge met God se verwagtinge?’ Galasiërs 6:4 sê: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot verblyding hê, en nie in vergelyking met die ander persoon nie.” Onthou dat Jesus gesê het: “My juk is sag en my vrag is lig.” Ja, as Christene het ons wel ’n juk wat ons moet dra, maar dit is “sag” en “lig”, en Jesus het belowe dat dit verkwikkend sal wees as ons leer om dit reg te dra.—Matteus 11:28-30.
Redelike verwagtinge bring voordele mee
Dit het beslis onmiddellike sowel as blywende voordele as ons na die raad van God se Woord luister en dit toepas terwyl ons daaraan werk om redelike verwagtinge te koester. Om maar een ding te noem, dit het ’n goeie uitwerking op ons fisiese gesondheid. Jennifer, wat by Jehovah se herinneringe baat gevind het, erken: “Ek het meer energie en lewenslus.” Spreuke 4:21, 22 spoor ons gepas aan om met ons oë en hart ag te gee op die woorde van Jehovah, “want hulle is die lewe vir die wat hulle vind, en ’n genesing vir hulle hele liggaam”.
Nog ’n voordeel is dat dit goed is vir ons geestes- en emosionele gesondheid. “Wanneer ek my verstand en hart toeganklik maak vir God se Woord, vind ek altyd dat ek gelukkiger is”, sê Theresa. Ons sal weliswaar nog steeds teleurstellings in die lewe ondervind. Maar ons sal dit makliker kan verwerk. “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom”, spoor Jakobus 4:8 ons aan. Jehovah belowe ook dat hy ons sal versterk om uitdagings in die lewe die hoof te bied en ons met vrede sal seën.—Psalm 29:11.
As ons redelike verwagtinge het, help dit ons om geestelik stabiel te bly. Dit is ook ’n seën. Ons kan die belangriker dinge in die lewe duidelik voor oë hou (Filippense 1:10). Ons doelwitte is dan realisties en bereikbaar, wat groter vreugde en tevredenheid meebring. Ons sal meer gewillig wees om ons op Jehovah te verlaat, want ons weet dat hy die beste oplossing vir sake sal gee. “Verneder julle dan onder die magtige hand van God, sodat hy julle op die bestemde tyd kan verhef”, sê Petrus (1 Petrus 5:6). Wat kan voordeliger wees as om deur Jehovah geëer te word?
[Prente op bladsy 31]
As ons leer om redelike verwagtinge te koester, kan dit ons help om frustrasies en teleurstellings die hoof te bied