Staan in volkomenheid en met vaste oortuiging
‘Kyk! Die groot skare!’
DIT was ’n onderwerp waaroor Jehovah se knegte dekades lank gewonder het. Hulle het lank probeer om die skriftuurlike verduideliking daarvoor te kry. Die onderwerp het tot baie besprekings gelei. Maar die Bybelse antwoord is uiteindelik gevind, en dit het die gehoor by ’n byeenkoms in Washington, DC, in 1935, baie opgewonde gemaak.
Die hele bespreking het gedraai om die vrae: Wat is die identiteit van die “groot menigte” (AB), of “groot skare” (Nuwe Wêreld-vertaling), wat in Openbaring 7:9 gemeld word? Sou hierdie groep gelowiges hemel toe gaan?
’n Vraag wat al lank bestaan het
Van die tyd van die apostel Johannes af tot ons dag toe het Christene gewonder oor die identiteit van die “groot menigte”. Die Bybelstudente het die groot skare as ’n sekondêre hemelse klas beskou, ’n groep wat kennis van Bybelwaarheid gehad het, maar nie veel gedoen het om dit bekend te maak nie.
Daar was egter sekeres onder dié wat met die gesalfde Christene omgegaan het, wat baie ywerig in die predikingswerk geword het. Hulle het geen begeerte gehad om hemel toe te gaan nie. Trouens, hulle hoop was in ooreenstemming met die openbare toespraak “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie”, wat van 1918 tot 1922 deur Jehovah se volk gehou is. Hierdie individue sou met ewige lewe op die aarde geseën word.
The Watch Tower van 15 Oktober 1923 het Jesus se gelykenis van die skape en die bokke bespreek en gesê: “Skape beeld al die mense van die nasies af, nie geesverwekte mense nie, maar dié wat tot regverdigheid geneig is, wat Jesus Christus verstandelik erken as die Here en wat uitsien na en hoop op ’n beter tyd onder sy heerskappy.”—Matteus 25:31-46.
Nog flitse van lig
In 1931 het Regverdiging, Boek Een, Esegiël hoofstuk 9 bespreek en diegene wat op die voorhoof gemerk is vir redding aan die einde van die wêreld, as die skape van Jesus se gelykenis geïdentifiseer. Regverdiging, Boek Drie (wat in 1932 in Engels uitgegee is), het die regskape gesindheid van die nie-Israelitiese man Jonadab beskryf, wat by Israel se gesalfde koning Jehu op sy strydwa geklim en saamgegaan het om Jehu se ywer in die teregstelling van valse aanbidders te aanskou (2 Konings 10:15-28). Die boek het gesê: “Jonadab het daardie klas mense afgebeeld of voorafgeskadu wat nou op die aarde is [en wat] dit nie met Satan se organisasie eens is nie, wat hulle standpunt aan die kant van regverdigheid inneem en diegene is wat die Here gedurende die tyd van Armageddon sal bewaar, deur daardie moeilikheid heen sal neem en die ewige lewe op die aarde sal gee. Hulle maak die ‘skape’-klas uit.”
In 1934 het The Watchtower verduidelik dat Christene met ’n aardse hoop hulle aan Jehovah moet toewy en gedoop moet word. Die lig aangaande hierdie aardse klas het inderdaad al hoe helderder geskyn!—Spreuke 4:18.
’n Helder flits van begrip
Die begrip van Openbaring 7:9-17 sou spoedig baie duidelik word (Psalm 97:11). The Watchtower het die hoop uitgespreek dat ’n byeenkoms wat vir 30 Mei tot 3 Junie 1935 in Washington, DC, VSA, gereël is, “’n ware vertroosting en voordeel” sou wees vir diegene wat deur Jonadab afgebeeld is. En dit was inderdaad die geval!
In ’n besielende toespraak oor “Die groot menigte”, waartydens sowat 20 000 byeenkomsgangers toegespreek is, het J. F. Rutherford skriftuurlike bewyse voorgelê dat die hedendaagse “ander skape” dieselfde is as daardie “groot skare” van Openbaring 7:9 (Johannes 10:16). Met die klimaks van hierdie toespraak het die spreker gevra: “Sal almal wat die hoop koester om vir ewig op die aarde te lewe, asseblief opstaan?” Toe ’n groot deel van die gehoor opstaan, het broer Rutherford gesê: “Kyk! Die groot menigte!” Daar was ’n stilte, gevolg deur ’n harde gejuig. Die volgende dag is 840 nuwe Getuies van Jehovah gedoop, waarvan die meeste bely het dat hulle lede van die groot menigte is.
Hulle teenwoordigheid—duidelik sigbaar
Voor 1935 het al hoe meer mense wat gunstig op die Bybelboodskap gereageer en die goeie nuus ywerig verkondig het, die begeerte gehad om vir ewig op die Paradysaarde te lewe. Hulle wou glad nie hemel toe gaan nie, want God het nie vir hulle die hoop op hemelse lewe gegee nie. Die feit dat hulle hulle met die groot skare ander skape vereenselwig het, het aangedui dat die roeping van die 144 000 gesalfde Christene teen 1935 feitlik voltooi was.—Openbaring 7:4.
Toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het Satan die Duiwel alles in sy vermoë gedoen om die insameling van diegene wat die groot skare uitmaak, teë te werk. Die Koninkrykspredikingswerk is in baie lande beperk. Gedurende daardie donker dae en kort voor sy dood in Januarie 1942 het J. F. Rutherford gesê: “Dit lyk asof die ‘groot menigte’ tog nie so groot gaan wees nie.”
Maar vanweë God se seën het sake anders verloop. Die gesalfdes en hulle metgeselle, die ander skape, het ‘in volkomenheid en met vaste oortuiging gestaan’ en voortgegaan om die opdrag uit te voer om dissipels te maak (Kolossense 4:12; Matteus 24:14; 28:19, 20). Teen 1946 was daar 176 456 Getuies van Jehovah wat wêreldwyd die predikingswerk gedoen het—waarvan die meeste van hulle lede was van die groot skare. In die jaar 2000 het meer as 6 000 000 Getuies in 235 lande Jehovah getrou gedien—waarlik ’n groot skare! En hierdie syfer bly styg.