‘Volg my voortdurend’
“Tot hierdie weg is julle geroep, want ook Christus het vir julle gely en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg.”—1 PETRUS 2:21.
1, 2. Waarom is Jesus se volmaakte voorbeeld as onderrigter nie te verhewe vir ons om na te volg nie?
JESUS CHRISTUS was verreweg die grootste Onderrigter wat nog op die aarde gelewe het. Hy was ook volmaak en het nooit gesondig gedurende sy hele lewe as ’n mens nie (1 Petrus 2:22). Beteken dit egter dat Jesus se voorbeeld as onderrigter te verhewe is vir ons as onvolmaakte mense om dit na te volg? Glad nie.
2 Soos ons in die vorige artikel gesien het, het liefde die grondslag van Jesus se onderrigting gevorm. En liefde is iets wat ons almal kan aankweek. God se Woord spoor ons dikwels aan om in ons liefde vir ander toe te neem en te verbeter (Filippense 1:9; Kolossense 3:14). Jehovah verwag nooit van sy skepsele wat hulle nie kan doen nie. Trouens, aangesien ‘God liefde is’ en ons na sy beeld gemaak het, kan daar gesê word dat ons gemaak is om liefde te betoon (1 Johannes 4:8; Genesis 1:27). Wanneer ons dus die apostel Petrus se woorde lees wat in ons temateks opgeteken is, kan ons seker wees dat dit nie buite ons bereik is nie. Ons kán Christus se voetstappe noukeurig volg. Trouens, ons kan Jesus se eie opdrag gehoorsaam: ‘Volg my voortdurend’ (Lukas 9:23). Kom ons kyk hoe ons die liefde kan navolg wat Christus getoon het, eerstens vir die waarhede wat hy ander geleer het en tweedens vir die mense wat hy geleer het.
Bou liefde op vir die waarhede wat ons leer
3. Waarom vind party dit moeilik om te studeer, maar watter aansporing vind ons in Spreuke 2:1-5?
3 As ons lief wil wees vir die waarhede wat ons aan ander leer, moet ons self daarvoor lief wees om hierdie waarhede te leer. In vandag se wêreld is dit nie altyd maklik om daardie soort liefde aan te kweek nie. Faktore soos onvoldoende skoolopleiding en slegte gewoontes wat mense gedurende hulle jeug aanleer, veroorsaak dat baie ’n permanente hekel in studie kry. Dit is egter belangrik dat ons van Jehovah leer. Spreuke 2:1-5 sê: “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie as ’n skat by jou bewaar, sodat jy met jou oor aandag kan skenk aan wysheid, sodat jy jou hart kan neig tot onderskeidingsvermoë; as jy bowendien na begrip roep en na onderskeidingsvermoë jou stem verhef, as jy daarna bly soek soos na silwer en dit bly naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van Jehovah verstaan, en jy sal die kennis van God vind.”
4. Wat beteken dit om ons hart te “neig”, en watter beskouing sal ons help om dit te doen?
4 Let op dat ons in verse 1 tot 4 herhaaldelik aangespoor word om ons in te span om nie net ‘aan te neem’ en ‘as ’n skat te bewaar’ nie, maar ook om te “bly soek” en te “bly naspeur”. Maar wat moet ons beweeg om dit alles te doen? Wel, let op die frase ‘neig jou hart tot onderskeidingsvermoë’. Een naslaanwerk sê dat hierdie aansporing “nie net ’n beroep om aandag is nie; dit is ’n versoek om ’n sekere gesindheid: ’n gretige ontvanklikheid ten opsigte van die leringe”. En wat kan ons ontvanklik en gretig maak om dit wat Jehovah ons leer, ons eie te maak? Ons beskouing daarvan. Ons moet “die kennis van God” as “silwer” en as “verborge skatte” beskou.
5, 6. (a) Wat kan met verloop van tyd gebeur, en hoe kan ons voorkom dat dit gebeur? (b) Waarom moet ons aanhou om die skat van kennis wat ons in die Bybel gevind het, te vergroot?
5 Dit is nie moeilik om so ’n beskouing aan te kweek nie. Die “kennis van God” wat jy byvoorbeeld al ingeneem het, sluit waarskynlik die waarheid in dat dit Jehovah se voorneme is dat getroue mense vir ewig in die Paradys op aarde lewe (Psalm 37:28, 29). Toe jy daardie waarheid vir die eerste keer geleer het, het jy dit ongetwyfeld as ’n kosbare skat beskou, as kennis wat jou verstand en hart met hoop en vreugde vervul het. Wat van nou? Het jou waardering vir jou skat met verloop van tyd afgeneem? Probeer dan twee dinge doen. Eerstens, hernieu jou waardering, dit wil sê, herinner jou gereeld aan die redes waarom elke waarheid wat Jehovah jou geleer het, selfs dié wat jy al jare gelede geleer het, vir jou kosbaar is.
6 Tweedens, hou aan om jou skat te vergroot. Sou jy byvoorbeeld, as jy ’n kosbare edelsteen uitgrawe, dit net in jou sak steek en dan doodluiters wegstap? Of sou jy verder grawe om te sien of daar nog is? God se Woord is vol kosbare waarhede. Ongeag hoeveel jy al gevind het, jy kan nog meer vind (Romeine 11:33). Wanneer jy ’n kosbare waarheid ontdek, vra jou af: ‘Waarom is dit kosbaar? Gee dit my dieper insig in Jehovah se persoonlikheid of sy voornemens? Gee dit my praktiese leiding wat my kan help om in Jesus se voetstappe te volg?’ As jy oor sulke vrae peins, sal dit jou help om jou liefde te vergroot vir die waarhede wat Jehovah jou leer.
Liefde vir die waarhede wat ons ander leer
7, 8. Wat is ’n paar maniere waarop ons aan ander kan toon dat ons die waarhede liefhet wat ons uit die Bybel geleer het? Gee ’n voorbeeld.
7 Hoe kan ons, wanneer ons ander leer, toon dat ons lief is vir die waarhede wat ons uit God se Woord geleer het? Ons volg Jesus se voorbeeld na deur ten volle op die Bybel te vertrou in ons predikings- en onderrigtingswerk. In onlangse tye is God se volk regoor die wêreld aangespoor om meer gebruik te maak van die Bybel in hulle openbare bediening. Wanneer jy hierdie wenk toepas, kan jy na maniere soek om aan die huisbewoner te toon dat jy self waardering het vir die dinge wat jy vir hom uit die Bybel wys.—Matteus 13:52.
8 Byvoorbeeld, kort ná verlede jaar se terreuraanval in die stad New York het een Christensuster Psalm 46:1, 11 gelees vir mense wat sy in haar bediening ontmoet het. Sy het mense eers gevra hoe dit nou ná die tragedie met hulle gaan. Sy het mooi na hulle antwoord geluister, gesimpatiseer, en dan gesê: “Kan ek vir jou ’n teks lees wat my regtig gedurende hierdie moeilike tyd vertroos het?” Baie min het geweier, en talle goeie gesprekke het gevolg. Wanneer hierdie suster met jongmense praat, sê sy dikwels: “Ek leer mense nou al 50 jaar lank van die Bybel, en weet jy wat? Ek het nog nooit ’n probleem teëgekom wat hierdie boek nie kan help oplos nie.” As ons ’n opregte, entoesiastiese benadering gebruik, toon ons aan mense dat ons die dinge wat ons uit God se Woord geleer het, waardeer en liefhet.—Psalm 119:97, 105.
9, 10. Waarom is dit belangrik om die Bybel te gebruik wanneer jy vrae oor ons oortuigings beantwoord?
9 Wanneer mense ons oor ons oortuigings uitvra, het ons ’n gulde geleentheid om te wys dat ons God se Woord liefhet. In navolging van Jesus se voorbeeld baseer ons nie ons antwoorde bloot op ons eie idees nie (Spreuke 3:5, 6). Ons gebruik eerder die Bybel om ’n antwoord te gee. Is jy bang dat iemand jou dalk ’n vraag sal vra wat jy nie kan beantwoord nie? Kyk na twee positiewe stappe wat jy kan neem.
10 Doen wat jy kan om voorbereid te wees. Die apostel Petrus het geskryf: “Heilig die Christus as Here in julle harte, en wees altyd gereed om julle te verdedig voor elkeen wat van julle ’n rede vir die hoop in julle eis, maar doen dit met sagmoedigheid en diep respek” (1 Petrus 3:15). Is jy gereed om jou oortuigings te verdedig? As iemand byvoorbeeld wil weet waarom jy nie aan die een of ander onskriftuurlike gebruik deelneem nie, moet jy nie net tevrede wees om te sê: “Dit is teen my geloof” nie. So ’n antwoord kan dit laat klink of jy toelaat dat ander vir jou besluit en dat jy dus seker aan ’n kultus behoort. Dit is dalk beter om iets soos die volgende te sê: “God se Woord, die Bybel, verbied dit” of: “Dit sal my God mishaag.” Gee dan ’n redelike verduideliking van waarom jy so sê.—Romeine 12:1.
11. Watter navorsingshulp kan ons help om gereed te wees om vrae oor die waarhede in God se Woord te beantwoord?
11 As jy onvoorbereid voel, kan jy gerus tyd opsy sit om die boek Redenering uit die Skrif te bestudeer.a Kies ’n paar onderwerpe waaroor jy dink mense moontlik vrae sal vra en memoriseer ’n paar skriftuurlike gedagtes. Hou jou Redenering-boek en jou Bybel byderhand, en moenie aarsel om albei te gebruik nie. Verduidelik dat jy ’n navorsingshulp het wat jy graag gebruik om die Bybel se antwoorde op vrae te kry.
12. Wat kan ons sê as ons nie die antwoord op ’n Bybelvraag ken nie?
12 Probeer om jou nie onnodig te kwel nie. Geen onvolmaakte mens het al die antwoorde nie. Wanneer jy dus ’n Bybelvraag gevra word wat jy nie kan beantwoord nie, kan jy altyd iets soos die volgende sê: “Dankie dat jy so ’n interessante vraag vra. Om eerlik te wees, ek ken nie die antwoord nie, maar ek is seker die Bybel sal ’n antwoord hieroor gee. Ek geniet dit om navorsing in die Bybel te doen. Ek sal dus navorsing oor jou vraag gaan doen en terugkom.” So ’n eerlike, beskeie benadering sal heel moontlik die weg baan vir verdere besprekings.—Spreuke 11:2.
Liefde vir die mense wat ons onderrig
13. Waarom moet ons ’n positiewe beskouing behou van diegene vir wie ons getuig?
13 Jesus het liefde getoon vir die mense wat hy geleer het. Hoe kan ons hom in hierdie opsig navolg? Ons moet nooit ’n ongevoelige gesindheid teenoor die mense om ons ontwikkel nie. “Die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” kom weliswaar al hoe nader, en baie van die duisendmiljoene mense op aarde sal vernietig word (Openbaring 16:14; Jeremia 25:33). Maar ons weet nie wie sal lewe en wie sal sterf nie. Daardie oordeel sal in die toekoms voltrek word, en Jehovah het Jesus Christus aangestel om dit te doen. Totdat daardie oordeel voltrek word, beskou ons elke individu as ’n potensiële kneg van Jehovah.—Matteus 19:24-26; 25:31-33; Handelinge 17:31.
14. (a) Hoe kan ons onsself ondersoek om uit te vind of ons empatie vir mense het? (b) Op watter praktiese maniere kan ons empatie en persoonlike belangstelling in ander toon?
14 Soos Jesus probeer ons dus empatie vir mense hê. Ons kan ons afvra: ‘Het ek empatie vir mense wat mislei is deur die slinkse leuens en bedrog van hierdie wêreld se godsdiens-, politieke en kommersiële elemente? Wanneer dit lyk of hulle onverskillig staan teenoor die boodskap wat ons na hulle bring, probeer ek verstaan waarom hulle so voel? Hou ek in gedagte dat ek, of ander wat Jehovah nou getrou dien, eens op ’n tyd dieselfde gevoel het? Het ek my benadering daarvolgens aangepas? Of het ek klaar besluit dat daar geen hoop vir hierdie mense is nie?’ (Openbaring 12:9). Wanneer mense ons opregte empatie aanvoel, is hulle meer geneig om op ons boodskap te reageer (1 Petrus 3:8). Empatie kan ons ook beweeg om meer belangstelling te toon in die mense wat ons in ons bediening ontmoet. Ons kan hulle vrae en bekommernisse in gedagte hou. Wanneer ons teruggaan, kan ons toon dat ons oor hulle opmerkings tydens die vorige besoek nagedink het. En as hulle op daardie oomblik dringend hulp nodig het, kan ons moontlik praktiese hulp gee.
15. Waarom moet ons na die goeie in mense soek, en hoe kan ons dit doen?
15 Soos Jesus soek ons na die goeie in mense. ’n Enkelouer wend dalk ’n bewonderenswaardige poging aan om haar kinders groot te maak. ’n Man werk hard om sy gesin te onderhou. ’n Bejaarde persoon toon belangstelling in geestelike sake. Merk ons sulke dinge op in die mense wat ons ontmoet, en prys ons hulle daarvoor? Wanneer ons dit doen, lê ons klem op die dinge wat ons in gemeen het, en dit kan vir ons die geleentheid gee om oor die Koninkryk te getuig.—Handelinge 26:2, 3.
Nederigheid noodsaaklik om liefde te betoon
16. Waarom is dit belangrik om diegene vir wie ons getuig altyd met sagmoedigheid en respek te behandel?
16 Liefde vir die mense wat ons onderrig, sal ons beweeg om op die Bybel se wyse waarskuwing ag te slaan: “Kennis maak opgeblase, maar liefde bou op” (1 Korintiërs 8:1). Jesus het baie kennis gehad, maar hy het nooit op mense neergesien nie. Terwyl jy dus vir ander van jou oortuigings vertel, moet jy ’n stryerige stemtoon of ’n meerderwaardige houding vermy. Ons doelwit is om mense se harte te bereik en hulle aan te trek na die waarhede waarvoor ons so lief is (Kolossense 4:6). Onthou, toe Petrus Christene aangespoor het om gereed te wees om hulle te verdedig, het hy die herinnering ingesluit dat ons dit “met sagmoedigheid en diep respek” moet doen (1 Petrus 3:15). As ons mense met sagmoedigheid en respek behandel, is die kanse groter dat ons hulle sal aantrek na die God wat ons dien.
17, 18. (a) Hoe moet ons reageer wanneer mense krities oor ons kwalifikasies as bedienaars is? (b) Waarom is ’n kennis van die ou Bybeltale nie noodsaaklik vir Bybelstudente nie?
17 Ons hoef mense glad nie met ons kennis of opvoeding te beïndruk nie. As party in julle gebied weier om te luister na persone wat nie sekere universiteitsgrade of titels het nie, moet jy nie toelaat dat hulle gesindheid jou ontmoedig nie. Jesus het hom glad nie gesteur aan die beswaar dat hy nie die hoogaangeskrewe rabbynse skole van sy tyd bygewoon het nie; hy het hom ook nie deur die algemene gesindhede laat beïnvloed en mense met sy uitgebreide kennis probeer beïndruk nie.—Johannes 7:15.
18 Nederigheid en liefde is vir Christenbedienaars baie belangriker as enige sekulêre geleerdheid. Die Groot Onderrigter, Jehovah, bekwaam ons vir die bediening (2 Korintiërs 3:5, 6). En ongeag wat party van die Christendom se geestelikes sê, ons hoef nie die ou Bybeltale te bestudeer om onderrigters van God se Woord te word nie. Jehovah het die Bybel geïnspireer sodat dit so duidelik en verstaanbaar geskryf is dat feitlik enigiemand die kosbare waarhede daarin kan begryp. Daardie waarhede bly onveranderd selfs wanneer dit in honderde tale vertaal word. ’n Kennis van ou tale is dus nie noodsaaklik nie, al is dit soms nuttig. Daarbenewens kan trots weens taalvermoëns ’n mens ’n eienskap laat verloor wat vir ware Christene noodsaaklik is—bereidwilligheid om geleer te word.—1 Timoteus 6:4.
19. In watter sin is ons Christelike bediening ’n diens?
19 Dit ly geen twyfel dat ons Christelike bediening ’n werk is wat ’n nederige gesindheid vereis nie. Ons stel ons gereeld bloot aan teenstand, onverskilligheid, selfs vervolging (Johannes 15:20). Maar deur ons bediening getrou uit te voer, verrig ons ’n noodsaaklike diens. As ons aanhou om ander nederig te dien deur hierdie werk te doen, volg ons die liefde na wat Jesus Christus vir mense getoon het. Dink hieraan: As ons vir duisend onverskillige mense of teenstanders moet getuig om een skaapgeaarde persoon te vind, sou dit dan nie die moeite werd wees nie? Beslis! Deur dus te volhard in die werk en nooit tou op te gooi nie, dien ons getrou die skaapgeaardes wat ons nog moet bereik. Jehovah en Jesus sal ongetwyfeld seker maak dat daar nog baie van hierdie kosbare mense gevind en gehelp word voordat die einde kom.—Haggai 2:7.
20. Wat is ’n paar maniere waarop ons ander deur ons voorbeeld kan leer?
20 Om ander deur ons voorbeeld te leer, is nog ’n manier waarop ons ons gewilligheid toon om ander te dien. Ons wil mense byvoorbeeld leer dat die beste, bevredigendste lewenswyse wat daar kan wees, is om Jehovah, “die gelukkige God”, te dien (1 Timoteus 1:11). Kan hulle sien dat ons gelukkig en tevrede is wanneer hulle na ons gedrag kyk en sien hoe ons ons bure, skoolmaats en werksmaats behandel? Ons leer ons Bybelstudente ook dat die Christengemeente ’n oase van liefde in ’n koue, wrede wêreld is. Kan ons studente duidelik sien dat ons almal in die gemeente liefhet en hard werk om die vrede met ander te bewaar?—1 Petrus 4:8.
21, 22. (a) ’n Selfondersoek met betrekking tot ons bediening kan ons aanspoor om watter geleenthede aan te gryp? (b) Wat sal in artikels in die volgende nommer van Die Wagtoring bespreek word?
21 ’n Bereidwillige gesindheid ten opsigte van ons bediening kan ons soms beweeg om onsself te ondersoek. So ’n eerlike selfondersoek help talle om te besef dat hulle hulle diens kan uitbrei deur die voltydse bediening te betree of deur na ’n gebied te trek waar hulp nodig is. Ander het besluit om ’n ander taal te leer sodat hulle ’n groeiende immigrantegemeenskap in hulle eie gebied kan dien. As jy die geleentheid het om so iets te doen, moet jy dit sorgvuldig en biddend oorweeg. ’n Lewe van diens bring groot vreugde, bevrediging en gemoedsrus.—Prediker 5:12.
22 Laat ons dan op elke moontlike manier aanhou om Jesus Christus na te volg deur ons liefde te vergroot vir die waarhede wat ons aan ander leer en vir die mense wat ons onderrig. As ons liefde in hierdie twee opsigte aankweek en openbaar, sal dit ons help om ’n goeie fondament as onderrigters in navolging van Christus te lê. Maar hoe kan ons op daardie fondament voortbou? In die volgende nommer van Die Wagtoring sal ’n reeks artikels ’n paar van die spesifieke onderrigmetodes bespreek wat Jesus gebruik het.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Hoe sal jy antwoord?
• Watter versekering het ons dat Jesus se voorbeeld as ’n onderrigter nie te verhewe is vir ons om dit na te volg nie?
• Hoe kan ons toon dat ons die waarhede liefhet wat ons uit die Bybel geleer het?
• Waarom is dit belangrik dat ons nederig bly terwyl ons in kennis toeneem?
• Wat is van die maniere waarop ons liefde kan toon vir die mense wat ons probeer onderrig?
[Prente op bladsy 16]
Doen wat jy kan om voorbereid te wees
[Prente op bladsy 16, 17]
As jy die “kennis van God” as ’n skat bewaar, sal jy die Bybel op bekwame wyse kan gebruik
[Prent op bladsy 18]
Ons toon ons liefde vir mense wanneer ons die goeie nuus aan hulle bekend maak