‘God, waarom het u dit toegelaat?’
RICARDO onthou nog hoe hy saam met sy vrou, Maria, in die dokter se spreekkamer gesit het.a Nie een van hulle het die moed gehad om die uitslag van Maria se jongste mediese toetse te lees nie. Toe het Ricardo die koevert oopgemaak, en hulle het hulle oë vlugtig oor die mediese taal in die verslag laat gaan. Hulle het die woord “kanker” gesien, en albei het begin huil toe die volle implikasie van daardie woord hulle tref.
“Die dokter was baie gaaf”, sê Ricardo, “maar hy het natuurlik die erns van die situasie besef, want hy het vir ons bly sê dat ons op God moet vertrou.”
Voordat Maria bestraling begin ontvang het, het haar dokter opgemerk dat haar regtervoet onwillekeurig beweeg. Verdere toetse het aan die lig gebring dat die kanker na haar brein versprei het. Ná net ’n week se behandeling, is die bestraling gestaak. Maria het in ’n koma gegaan en twee maande later gesterf. “Ek was bly dat haar lyding verby was”, verduidelik Ricardo, “maar ek het haar soveel gemis dat ek begin wens het ek kon ook sterf. Ek het dikwels vir God gevra: ‘Waarom het u toegelaat dat dit gebeur?’”
Tragedies laat baie vrae ontstaan
Soos Ricardo word tallose mense regoor die wêreld gedwing om die werklikheid van lyding onder die oë te sien. Dit is dikwels die onskuldiges wat ly. Dink aan die verskriklike hartseer wat veroorsaak word deur die eindelose gewapende konflikte wat die mensdom teister. Of dink aan die pyn van al die slagoffers van verkragting, kindermolestering, gesinsgeweld en ander euwels waaraan mense hulle skuldig maak. Dit lyk of daar deur die geskiedenis heen geen perke was aan die onregte en pyn wat manne en vroue bereid was om mekaar aan te doen nie (Prediker 4:1-3). Dan is daar ook die benoudheid van slagoffers van natuurrampe of van mense wat aan emosionele, geestes- en fisiese siektes ly. Dit is geen wonder nie dat baie vra: “Waarom laat God hierdie lyding toe?”
Selfs vir godsdienstige mense is dit nooit maklik om lyding te verduur nie. Jy wonder dalk ook waarom ’n liefdevolle, almagtige God enigsins menselyding toelaat. ’n Bevredigende en betroubare antwoord op hierdie verwarrende vraag is noodsaaklik vir ons gemoedsrus en ons verhouding met God. Die Bybel voorsien so ’n antwoord. Lees gerus in die volgende artikel wat dit hieroor sê.
[Voetnoot]
a Van die name is verander.
[Prente op bladsy 3]
Die dokter het vir ons bly sê dat ons op God moet vertrou