Vertroosting vir dié wat ly
DEUR die eeue heen het die vraag oor waarom God lyding toelaat, baie filosowe en teoloë laat kopkrap. Aangesien God almagtig is, beweer baie mense dat hy in werklikheid vir lyding verantwoordelik moet wees. Die skrywer van The Clementine Homilies, ’n apokriewe werk uit die tweede eeu, het gesê dat God met albei hande oor die wêreld heers. Met sy “linkerhand”, die Duiwel, veroorsaak hy lyding en ellende, en met sy “regterhand”, Jesus, red en seën hy.
Ander, wat nie kan aanvaar dat God lyding kan toelaat nie, selfs al veroorsaak hy dit nie, verkies om te ontken dat lyding bestaan. “Boosheid is net ’n illusie, en dit het geen vaste grondslag nie”, het Mary Baker Eddy geskryf. “As sonde, siekte en die dood gesien word as dinge wat nie werklik bestaan nie, sal dit verdwyn.”—Science and Health With Key to the Scriptures.
Weens die tragiese gebeure in die geskiedenis, veral van die Eerste Wêreldoorlog af tot in ons dag, het baie tot die slotsom gekom dat God eenvoudig nie in staat is om lyding te voorkom nie. “Die Slagting het, na my mening, dit onmoontlik gemaak om almag as ’n gepaste eienskap van God te beskou”, het die Joodse geleerde David Wolf Silverman geskryf. “Om God enigsins te kan verstaan”, het hy bygevoeg, “moet Sy goedheid met die bestaan van boosheid versoen kan word, en dit geld net as Hy nie almagtig is nie.”
Maar bewerings dat God op die een of ander wyse vir lyding verantwoordelik is, dat hy nie in staat is om dit te voorkom nie of dat lyding maar net iets is wat in ons verbeelding bestaan, bied bitter min vertroosting vir dié wat ly. En nog belangriker, sulke opvattings is heeltemal in stryd met die beskrywing wat die Bybel van God gee, naamlik dat hy regverdig, dinamies en liefdevol is (Job 34:10, 12; Jeremia 32:17; 1 Johannes 4:8). Wat sê die Bybel dus oor die rede waarom lyding toegelaat word?
Hoe het lyding begin?
God het die mens nie geskep om te ly nie. Inteendeel, hy het vir die eerste mensepaar, Adam en Eva, ’n volmaakte verstand en liggaam gegee, ’n pragtige tuin as ’n tuiste vir hulle voorberei en vir hulle sinvolle, bevredigende werk gegee (Genesis 1:27, 28, 31; 2:8). Maar hulle toekomstige geluk het daarvan afgehang dat hulle God se heerskappy erken sowel as sy reg om te besluit wat goed en wat kwaad is. Daardie Goddelike reg is voorgestel deur ’n boom wat “die boom van die kennis van goed en kwaad” genoem is (Genesis 2:17). Adam en Eva sou toon dat hulle aan God onderworpe is as hulle sy bevel gehoorsaam om nie van daardie boom te eet nie.a
Ongelukkig het Adam en Eva God nie gehoorsaam nie. ’n Opstandige geesskepsel, wat later as Satan die Duiwel geïdentifiseer is, het Eva oortuig dat dit nie vir haar voordelig sou wees om God te gehoorsaam nie. Trouens, God het haar glo iets ontneem wat uiters begeerlik is: onafhanklikheid, die reg om self te besluit wat goed en wat kwaad is. Satan het beweer dat ‘haar oë sekerlik geopen sou word en sy sekerlik soos God sou word deur goed en kwaad te ken’ as sy van die boom eet (Genesis 3:1-6; Openbaring 12:9). Eva is verlei deur die vooruitsig om onafhanklik te wees en het van die verbode vrug geëet, en Adam het kort daarna dieselfde gedoen.
Daardie selfde dag het Adam en Eva die gevolge van hulle opstand begin ondervind. Omdat hulle God se heerskappy verwerp het, het hulle die beskerming en seëninge verbeur wat onderworpenheid aan God hulle gebied het. God het hulle uit die Paradys verdryf en vir Adam gesê: “Vervloek is die grond weens jou. Met pyn sal jy die opbrengs daarvan eet al die dae van jou lewe. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy na die grond terugkeer” (Genesis 3:17, 19). Adam en Eva sou toe siekte, pyn, ouderdom en die dood moes verduur. Lyding het deel van die mens se lewe geword.—Genesis 5:29.
Die geskil word besleg
Iemand vra dalk: ‘Kon God nie Adam en Eva se sonde maar net oorgesien het nie?’ Nee, want dit sou eerbied vir sy gesag nog verder ondermyn het, wat tot toekomstige opstand aanleiding kon gee en selfs groter lyding sou veroorsaak (Prediker 8:11). Wat meer is, as God daardie ongehoorsaamheid verskoon het, sou dit hom medepligtig gemaak het aan verkeerde dade. Die Bybelskrywer Moses herinner ons: “Die Rots, volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie; regverdig en reg is hy” (Deuteronomium 32:4). Om getrou te wees aan homself, moes God Adam en Eva die gevolge van hulle ongehoorsaamheid laat dra.
Waarom het God nie onmiddellik die eerste mensepaar tesame met Satan, die onsigbare aanstigter van hulle opstand, vernietig nie? Hy het die mag gehad om dit te doen. Adam en Eva sou dan nie nakomelinge gehad het wat lyding en die dood sou erf nie. So ’n vertoning van Goddelike mag sou egter nie die regmatigheid van God se gesag oor sy intelligente skepsele bewys het nie. En as Adam en Eva kinderloos gesterf het, sou dit beteken het dat God se voorneme om die aarde met hulle volmaakte nakomelinge te vul, misluk het (Genesis 1:28). En “God is nie soos die mens nie . . . Wat hy ook al beloof, doen hy; hy spreek, en dit word gedoen.”—Numeri 23:19, Today’s English Version.
In sy volmaakte wysheid het Jehovah God besluit om die opstand ’n beperkte tyd te laat voortduur. Die opstandelinge sou voldoende geleentheid hê om die gevolge van onafhanklikheid van God te ervaar. Die geskiedenis sou buite alle twyfel bewys dat die mensdom God se leiding nodig het en dat God se heerskappy verhewe is bo dié van die mens of van Satan. Terselfdertyd het God stappe geneem om te verseker dat sy oorspronklike voorneme met die aarde vervul sou word. Hy het beloof dat ’n “saad”, of “nakomeling”, sou kom wat ‘Satan se kop sal vermorsel’ en eens en vir altyd ’n einde aan sy opstand en die skadelike gevolge daarvan sal maak.—Genesis 3:15, voetnoot in NW.
Jesus Christus was daardie beloofde Saad. In 1 Johannes 3:8 lees ons dat “die Seun van God openbaar gemaak [is] om die werke van die Duiwel te verbreek”. Hy het dit gedoen deur sy volmaakte menselewe af te lê en die losprys te betaal om Adam se kinders van oorgeërfde sonde en die dood los te koop (Johannes 1:29; 1 Timoteus 2:5, 6). Diegene wat werklik geloof in Jesus se offerande beoefen, word permanente verligting van lyding belowe (Johannes 3:16; Openbaring 7:17). Wanneer sal dit gebeur?
’n Einde aan lyding
Die verwerping van God se gesag het ongekende lyding tot gevolg gehad. Dit is dus gepas dat God sy gesag op ’n spesiale manier uitoefen om ’n einde aan menselyding te maak en sy oorspronklike voorneme met die aarde te verwesenlik. Jesus het melding gemaak van hierdie Goddelike reëling toe hy sy volgelinge leer bid het: “Ons Vader in die hemele, . . . laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matteus 6:9, 10.
Die tyd dat God mense toegelaat het om met hulle eie regerings te eksperimenteer, gaan binnekort tot ’n einde kom. Ter vervulling van Bybelprofesieë is sy Koninkryk in 1914 in die hemele opgerig met Jesus Christus as Koning.b Dit gaan binnekort alle menseregerings verbrysel en daar ’n einde aan maak.—Daniël 2:44.
Gedurende sy kort aardse bediening het Jesus ons ’n voorskou gegee van die seëninge wat die herstel van Goddelike heerskappy vir die mensdom inhou. Die Evangelies lewer bewys dat Jesus medelye betoon het met mense wat arm was en teenoor wie daar gediskrimineer is. Hy het die siekes gesond gemaak, mense gevoed wat honger was en die dooies opgewek. Selfs die natuurkragte het sy stem gehoorsaam (Matteus 11:5; Markus 4:37-39; Lukas 9:11-16). Stel jou net voor wat Jesus tot stand sal bring wanneer hy die reinigende uitwerking van sy losprysoffer tot voordeel van alle gehoorsame mense aanwend! Die Bybel belowe dat God, deur middel van Christus se heerskappy, “elke traan van [die mensdom se] oë [sal] afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie”.—Openbaring 21:4.
Vertroosting vir dié wat ly
Hoe hartverblydend is dit tog om te weet dat ons liefdevolle en almagtige God, Jehovah, vir ons omgee en dat hy binnekort verligting vir die mensdom gaan bring! Gewoonlik is iemand wat ernstig siek is, gewillig om behandeling te ontvang wat hom sal genees, selfs al is dit baie pynlik. Die wete dat God se manier om sake te hanteer, ewige seëninge vir ons gaan meebring, kan ons eweneens onderskraag, ongeag voor watter tydelike probleme ons te staan kom.
Ricardo, wat in die vorige artikel gemeld is, het geleer om vertroosting te put uit die Bybel se beloftes. “Ná my vrou se dood het ek ’n sterk begeerte gehad om my af te sonder”, sê hy, “maar ek het gou besef dat dit nie my vrou sou terugbring nie en dat dit my emosionele toestand net sou vererger.” Ricardo het eerder by sy roetine gebly om Christelike vergaderinge by te woon en ander van die Bybel se boodskap te vertel. “Toe ek Jehovah se liefdevolle steun ondervind en opmerk hoe hy my gebede selfs in verband met klein dingetjies verhoor, het dit my nader aan hom laat kom”, sê Ricardo. “Hierdie bewustheid van God se liefde het my in staat gestel om die grootste beproewing waarvoor ek nog ooit te staan gekom het, die hoof te bied.” Hy erken: “Ek mis my vrou nog steeds ontsettend baie, maar ek glo nou vas dat niks wat Jehovah toelaat om te gebeur, ons blywende skade kan berokken nie.”
Smag jy, soos Ricardo en miljoene ander, na die tyd wanneer die lyding wat die mensdom tans ondervind, ‘nie onthou sal word nie en ook nie in die hart sal opkom nie’? (Jesaja 65:17). Jy kan verseker wees dat die seëninge van God se Koninkryk binne jou bereik is as jy die Bybel se raad volg: “Soek Jehovah terwyl hy gevind kan word. Roep hom aan terwyl hy naby is.”—Jesaja 55:6.
As jy dit wil doen, moet jy dit ’n prioriteit in jou lewe maak om God se Woord te lees en noukeurig te bestudeer. Neem kennis in van God sowel as die een wat hy uitgestuur het, Jesus Christus. Streef daarna om in ooreenstemming met God se standaarde te lewe en toon sodoende dat jy gewillig is om jou aan sy soewereiniteit te onderwerp. So ’n weg sal nou vir jou groter geluk meebring, ten spyte van enige toetse waarvoor jy te staan kom. En in die toekoms sal jy die lewe kan geniet in ’n wêreld sonder lyding.—Johannes 17:3.
[Voetnote]
a In sy voetnoot by Genesis 2:17 beskryf The Jerusalem Bible “die kennis van goed en kwaad” as “die mag om te besluit . . . wat goed en wat kwaad is en om in ooreenstemming daarmee op te tree, ’n aanspraak op volkome sedelike onafhanklikheid waardeur die mens weier om sy status as ’n geskape wese te erken”. Dit voeg by: “Die eerste sonde was ’n aanval op God se soewereiniteit.”
b Sien hoofstukke 10 en 11 van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, uitgegee deur Jehovah se Getuies, vir ’n uitvoerige bespreking van Bybelprofesieë oor 1914.
[Venster op bladsy 6, 7]
HOE KAN ONS LYDING DIE HOOF BIED?
‘Werp al julle sorge op God’ (1 Petrus 5:7). Dit is natuurlik om verward, kwaad en verlate te voel wanneer ons lyding verduur of sien hoe iemand wat ons liefhet, ly. Maar ons kan daarvan seker wees dat Jehovah ons gevoelens verstaan (Eksodus 3:7; Jesaja 63:9). Soos getroue manne van ouds kan ons ons hart voor hom uitstort en sê waaroor ons ons kwel of bekommer (Eksodus 5:22; Job 10:1-3; Jeremia 14:19; Habakuk 1:13). Hy sal ons beproewinge moontlik nie wonderdadig wegneem nie, maar in antwoord op ons opregte gebede kan hy ons die wysheid en krag gee om dit te verduur.—Jakobus 1:5, 6.
“Moenie verbaas wees oor die pynlike beproewing waaronder julle ly, asof iets vreemds met julle gebeur nie” (1 Petrus 4:12, New International Version). Hier praat Petrus van vervolging, maar sy woorde is net soveel van toepassing op enige lyding wat ’n gelowige dalk verduur. Mense ly weens ontbering, siekte en die dood van geliefdes. Die Bybel sê dat “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” almal tref (Prediker 9:11). Dié dinge is vandag deel van die mens se lewe. Hierdie wete sal ons help om opgewasse te wees teen lyding en teëspoed wanneer dit ons tref (1 Petrus 5:9). As ons bowenal die versekering in gedagte hou dat “die oë van Jehovah . . . op die regverdiges [is], en sy ore . . . tot hulle hulpgeroep”, sal dit ’n bron van vertroosting wees.—Psalm 34:15; Spreuke 15:3; 1 Petrus 3:12.
“Verbly julle in die hoop” (Romeine 12:12). Moenie tob oor verlore geluk nie, maar peins eerder oor God se belofte om ’n einde aan alle lyding te maak (Prediker 7:10). Hierdie gegronde hoop sal ons beskerm soos ’n helm ons kop beskerm. Hoop versag die aanslae van die lewe en help om te verseker dat ons verstandelike, emosionele of geestelike gesondheid nie permanent daardeur geskaad word nie.—1 Tessalonisense 5:8.
[Prent op bladsy 5]
Adam en Eva het God se heerskappy verwerp
[Prent op bladsy 7]
God beloof ’n wêreld sonder lyding