“Skep moed! Ek het die wêreld oorwin”
DIE dag van Jesus se dood—die 14de dag van die Joodse maand Nisan—het op Donderdag, 31 Maart 33 G.J., met sononder begin. Daardie aand het Jesus en sy apostels in ’n bovertrek van ’n huis in Jerusalem bymekaargekom om die Pasga te vier. Terwyl hy hom voorberei het “om uit hierdie wêreld na die Vader toe te gaan”, het Jesus getoon dat hy sy apostels tot die einde toe liefgehad het (Johannes 13:1). Hoe? Deur hulle pragtige lesse te leer en hulle sodoende voor te berei op wat voorgelê het.
In die loop van die aand het Jesus vir sy dissipels gesê: “Skep moed! Ek het die wêreld oorwin” (Johannes 16:33). Wat het hy met daardie treffende stelling bedoel? Onder andere dit: ‘Die goddeloosheid in die wêreld het my nie verbitterd laat raak of my laat wraak neem nie. Ek het nie toegelaat dat die wêreld my vorm nie. Dit kan ook in julle geval waar wees.’ Wat Jesus sy getroue apostels in daardie laaste ure van sy aardse lewe geleer het, sou hulle help om ook die wêreld te oorwin.
Wie kan ontken dat goddeloosheid vandag hoogty vier in die wêreld? Hoe reageer ons op ongeregtigheid en sinlose geweld? Raak ons verbitterd of kom ons in die versoeking om kwaad vir kwaad te vergeld? Hoe word ons beïnvloed deur die sedelike verdorwenheid om ons? Voeg hierby ons menslike onvolmaakthede en sondige neigings en ons het ’n stryd wat ons op twee fronte moet veg: teen die goddelose wêreld om ons en teen die slegte neigings in ons. Kan ons werklik hoop dat ons sonder God se hulp sal oorwin? Hoe kan ons sy hulp ontvang? Watter eienskappe moet ons aankweek sodat ons vleeslike neigings kan weerstaan? Vir antwoorde hierop kan ons kyk na wat Jesus sy geliefde dissipels die laaste dag van sy lewe op aarde geleer het.
Oorwin trots deur nederigheid
Neem byvoorbeeld die probleem om trots, of hoogmoedig, te wees. Die Bybel sê in verband hiermee: “Trots kom voor ’n ineenstorting en ’n hoogmoedige gees voor struikeling” (Spreuke 16:18). Die Skrif maan ons ook: “As iemand dink dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, bedrieg hy sy eie verstand” (Galasiërs 6:3). Ja, trots is vernietigend en bedrieglik. Ons tree wys op as ons “selfverheffing en trots” haat.—Spreuke 8:13.
Het Jesus se apostels ’n probleem met selfverheffing en trots gehad? By ten minste een geleentheid het hulle onder mekaar gestry oor wie die grootste is (Markus 9:33-37). Op ’n ander keer het Jakobus en Johannes vername posisies in die Koninkryk gevra (Markus 10:35-45). Jesus wou graag sy dissipels help om van hierdie neiging ontslae te raak. Terwyl hulle dus die Pasgamaal geëet het, het hy opgestaan, ’n handdoek om hom vasgemaak en sy dissipels se voete begin was. Hy het geen twyfel gelaat oor die les wat hy wou hê hulle moes leer nie. “As ek dan, hoewel Here en Leermeester, julle voete gewas het”, het Jesus gesê, “behoort julle ook mekaar se voete te was” (Johannes 13:14). Trots moet vervang word deur die teenoorgestelde eienskap—nederigheid.
Dit is egter nie maklik om trots te oorwin nie. Later daardie aand, nadat Jesus Judas Iskariot uitgestuur het wat op die punt was om hom te verraai, het ’n hewige woordewisseling onder die 11 apostels ontstaan. Waaroor? Oor wie van hulle blykbaar die grootste was! Jesus het hulle nie berispe nie, maar weer eens geduldig beklemtoon hoe belangrik dit is om ander te dien. Hy het gesê: “Die konings van die nasies speel oor hulle baas, en dié wat oor hulle gesag voer, word Weldoeners genoem. Julle moet egter nie so wees nie. Maar laat hy wat die grootste onder julle is, soos die jongste word, en die een wat as die vernaamste optree, soos die een wat dien.” Toe het hy hulle aan sy eie voorbeeld herinner en bygevoeg: “Ek is in julle midde soos die een wat bedien.”—Lukas 22:24-27.
Het die apostels die punt gesnap? Klaarblyklik het hulle. Jare later het die apostel Petrus geskryf: “Julle [moet] almal eensgesind wees, meegevoel betoon, broederlike geneentheid en tere medelye hê, nederig van verstand wees” (1 Petrus 3:8). Hoe belangrik is dit tog dat ons ook trots deur nederigheid oorwin! Ons sal verstandig wees as ons nie betrokke raak by die najaging van roem, mag of status nie. “God staan die hoogmoediges teë”, sê die Bybel, “maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges” (Jakobus 4:6). ’n Wyse ou spreuk sê iets soortgelyks: “Die gevolg van nederigheid en die vrees van Jehovah is rykdom en heerlikheid en die lewe.”—Spreuke 22:4.
Oorwin haat—Hoe?
Kom ons beskou nog ’n eienskap wat algemeen in die wêreld is—haat. Of dit nou veroorsaak word deur vrees, onkunde, vooroordeel, onderdrukking, ongeregtigheid, nasionalisme, stamtrots of rassisme, dit lyk of haat oral om ons is (2 Timoteus 3:1-4). Haat was ook algemeen in Jesus se dag. Belastinggaarders was gehate uitgeworpenes in die Joodse gemeenskap. Die Jode het niks met die Samaritane te doen gehad nie (Johannes 4:9). En heidene, of nie-Jode, is ook deur die Jode verag. Maar die manier van aanbidding wat Jesus ingestel het, sou uiteindelik mense van alle nasies insluit (Handelinge 10:34, 35; Galasiërs 3:28). Hy het dus liefdevol iets nuuts vir sy dissipels gegee.
Jesus het gesê: “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.” Hulle moes leer om hierdie liefde te openbaar, want hy het voorts gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34, 35). Dit was ’n nuwe gebod in die sin dat dit verder gestrek het as die gebod om “jou naaste [lief te hê] soos jouself” (Levitikus 19:18). Hoe so? Jesus het verduidelik deur te sê: “Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos ek julle liefgehad het. Niemand het groter liefde as dít nie, dat iemand van sy siel afstand doen ten behoewe van sy vriende” (Johannes 15:12, 13). Hulle moes bereid wees om selfs hulle lewe vir mekaar en vir ander op te offer.
Hoe kan onvolmaakte mense venynige haat uit hulle lewe verdryf? Deur dit met selfopofferende liefde te vervang. Miljoene opregte mense van alle etniese, kulturele, godsdienstige en politieke agtergronde doen presies dit. Hulle word nou almal deel van een verenigde gemeenskap waar daar geen haat is nie—die wêreldwye broederskap van Jehovah se Getuies. Hulle neem die geïnspireerde woorde van die apostel Johannes ter harte: “Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar, en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie” (1 Johannes 3:15). Ware Christene weier nie net om aan enige gewapende konflik deel te neem nie, maar hulle doen ook hulle bes om liefde teenoor mekaar te betoon.
Watter geestesgesindheid moet ons egter hê teenoor diegene wat nie ons medegelowiges is nie en wat dalk toon dat hulle ons haat? Toe Jesus aan die folterpaal gehang het, het hy gebid ten behoewe van diegene wat hom tereggestel het en gesê: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Lukas 23:34). Toe manne uit haat die dissipel Stefanus gestenig het, was sy laaste woorde: “Jehovah, reken hulle hierdie sonde nie toe nie” (Handelinge 7:60). Jesus en Stefanus wou selfs vir diegene wat hulle gehaat het, die beste hê. Daar was geen verbittering in hulle harte nie. “Laat ons . . . aan almal goed doen”, vermaan die Bybel ons.—Galasiërs 6:10.
‘’n Helper vir ewig’
In die loop van die vergadering met sy 11 getroue apostels het Jesus hulle ingelig dat hy binnekort nie meer in die vlees saam met hulle sou wees nie (Johannes 14:28; 16:28). Maar hy het hulle verseker: “Ek sal die Vader versoek, en hy sal julle ’n ander helper gee om vir ewig by julle te wees” (Johannes 14:16). Die beloofde helper is God se heilige gees. Dit sou hulle die diep dinge van die Skrif leer en hulle herinner aan wat Jesus hulle gedurende sy aardse bediening geleer het.—Johannes 14:26.
Hoe kan die heilige gees ons vandag help? Wel, die Bybel is God se geïnspireerde Woord. Die manne wat gebruik is om profesieë uit te spreek en die Bybel te skryf, is “deur heilige gees meegevoer” (2 Petrus 1:20, 21; 2 Timoteus 3:16). As ons die Skrif bestudeer en toepas wat ons leer, gee dit ons kennis, wysheid, begrip, insig, onderskeidingsvermoë en denkvermoë. Is ons dan nie beter toegerus om die druk van die goddelose wêreld te weerstaan nie?
Daar is nog ’n opsig waarin die heilige gees ’n helper is. God se heilige gees is ’n positiewe krag wat diegene onder die invloed daarvan in staat stel om godvrugtige eienskappe aan die dag te lê. “Die vrugte van die gees . . . is liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing”, sê die Bybel. Is dit nie juis die eienskappe wat ons nodig het om vleeslike neigings tot onsedelikheid, twis, jaloesie, vlae van toorn, en dies meer te oorwin nie?—Galasiërs 5:19-23.
Deur op God se gees te vertrou, kan ons ook “krag wat bo die normale is” ontvang om enige probleem of bekommernis die hoof te bied (2 Korintiërs 4:7). Hoewel die heilige gees dalk nie beproewinge of versoekings verwyder nie, kan dit ons beslis help om dit te verduur (1 Korintiërs 10:13). “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee”, het die apostel Paulus geskryf (Filippense 4:13). God gee sulke krag deur middel van sy heilige gees. Hoe dankbaar kan ons tog wees vir die heilige gees! Dit is belowe aan diegene wat ‘Jesus liefhet en sy gebooie hou’.—Johannes 14:15.
‘Bly in my liefde’
Jesus het op sy laaste aand as ’n mens ook vir sy apostels gesê: “Hy wat my gebooie het en hulle bewaar, dit is hy wat my liefhet. En hy wat my liefhet, hóm sal my Vader liefhê” (Johannes 14:21). ‘Bly in my liefde’, het hy hulle gemaan (Johannes 15:9). Hoe help dit ons in ons stryd teen ons sondige neigings en teen die goddelose wêreld as ons in die liefde van die Vader en van die Seun bly?
Wel, kan ons werklik slegte neigings beheers as ons nie kragtige motivering het om dit te doen nie? Watter groter dryfkrag kan daar wees as die begeerte om ’n goeie verhouding met Jehovah God en sy Seun te hê? Ernesto*, ’n jong man wat hard moes stry om weg te breek van die onsedelike lewe wat hy sedert sy vroeë tienerjare gelei het, verduidelik: “Ek wou God graag behaag, en ek het uit die Bybel geleer dat hy nie my lewenswyse goedkeur nie. Daarom het ek besluit om te verander, om God se riglyne te volg. Elke dag moes ek teen negatiewe, vuil gedagtes stry wat steeds my verstand binnegestroom het. Maar ek was vasbeslote om hierdie stryd te wen, en ek het God onophoudelik gevra om my te help. Ná twee jaar was die ergste verby, hoewel ek steeds streng met myself is.”
Wat die stryd teen die wêreld om ons betref, kan ons kyk na Jesus se laaste gebed voordat hulle daardie bovertrek in Jerusalem verlaat het. Hy het ten behoewe van sy dissipels tot sy Vader gebid en gevra: “Ek versoek u nie om hulle uit die wêreld weg te neem nie, maar om oor hulle te waak weens die bose. Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie” (Johannes 17:15, 16). Hoe bemoedigend tog! Jehovah waak oor diegene wat hy liefhet en versterk hulle terwyl hulle afgeskeie van die wêreld bly.
‘Beoefen geloof’
As ons Jesus se gebooie bewaar, sal dit ons inderdaad help om te oorwin in ons stryd teen die goddelose wêreld en ons sondige neigings. Hoewel sulke oorwinnings belangrik is, kan dit nie die wêreld of oorgeërfde sonde uit die weg ruim nie. Maar ons hoef nie mismoedig te voel nie.
“Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte”, sê die Bybel, “maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:17). Jesus het sy lewe gegee sodat “elkeen wat geloof in hom beoefen”, van sonde en die dood gered kan word (Johannes 3:16). Namate ons kennis van God se wil en voornemens dus toeneem, moet ons Jesus se raad ter harte neem: “Beoefen geloof in God, beoefen geloof ook in my.”—Johannes 14:1.
[Voetnoot]
Die naam is verander.
[Prent op bladsy 6, 7]
‘Bly in my liefde’, het Jesus sy apostels gemaan
[Prent op bladsy 7]
Vryheid van sonde en die gevolge daarvan sal binnekort ’n werklikheid wees