“Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom”
Voor en ná—Haar lewe het verander
HOE onaangenaam en sinloos het die lewe tog vir Matsepang geword! Sy was ’n jong meisie in Lesotho, ’n land in die hartjie van Suid-Afrika. Matsepang is as ’n Katoliek grootgemaak. Maar pleks dat sy gehelp is om nader aan God te kom, is sy jare lank deur nonne misbruik wat haar met geld omgekoop het om onsedelike dade te pleeg.
Gevolglik was Matsepang teleurgesteld in godsdiens en kon sy nie aanvaar dat daar ’n liefdevolle Skepper is wat werklik vir sy menseskepping omgee nie. Omdat sy so min liefde ontvang het en misbruik is, het Matsepang diep emosionele letsels gehad en gevoel dat sy absoluut niks werd is nie. Sy het baie gewelddadig en aggressief geword. Dit het tot kriminele gedrag gelei.
Matsepang het later ’n lid geword van ’n bende wat mense op treine beroof het. Sy is in hegtenis geneem en na ’n tronk in Suid-Afrika gestuur. Later is sy na haar tuisland, Lesotho, teruggestuur waar sy ’n lewe van misdaad, drankmisbruik, geweld en onsedelikheid voortgesit het.
Toe Matsepang ’n laagtepunt in haar lewe bereik het, het sy tot God gebid vir hulp. Sy het belowe: “God, as ek bly lewe, sal ek alles in my vermoë doen om u te dien.”
Kort daarna het sendelinge van Jehovah se Getuies haar genader. Hulle het aangebied om die Bybel saam met haar te studeer. Uit haar studie het sy besef dat God nie ongevoelig of liefdeloos is nie. Trouens, sy het besef dat Satan, “die vader van die leuen”, listige en bedrieglike taktiek gebruik om party mense te laat voel dat hulle niks werd is nie en hulle te laat glo dat Jehovah hulle nooit sal kan liefhê nie.—Johannes 8:44; Efesiërs 6:11.
Hoe vertroostend was dit daarenteen vir Matsepang om te leer dat ons wel ’n gesonde selfrespek kan hê as ons berou het oor ons sondige verlede, God om vergifnis vra en daarna streef om hom te behaag! Sy is gehelp om te verstaan dat “God . . . groter as ons hart” is en dat sy siening van ons dalk heeltemal verskil van hoe ons onsself sien.—1 Johannes 3:19, 20.
Matsepang was verheug om hierdie woorde van die psalmis Dawid te lees: “Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy” (Psalm 34:18). As een van daardie “verbryseldes van gees” het sy tot die besef gekom dat Jehovah nie sy knegte verlaat nie, selfs as party van hulle neerslagtig word en onbelangrik voel. Dit het haar hart geroer toe sy geleer het dat God vir al sy skape sorg en hulle deur moeilike tye onderskraag (Psalm 55:22; 1 Petrus 5:6, 7). Sy is veral geraak deur die woorde: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.”—Jakobus 4:8.
Die krag van God se Woord, die Bybel, het gou duidelik geword in Matsepang se lewe. Sy het Christelike vergaderinge gereeld begin bywoon en het haar onskriftuurlike gebruike laat vaar. Die gevolg? Sy voel nie meer dat sy nie God se liefde en guns waardig is nie. Sedert sy as een van Jehovah se Getuies gedoop is, het sy as ’n verkondiger van die goeie nuus van die Koninkryk al duisende ure aan die Christelike bediening bestee. Ondanks die letsels van die verlede lei Matsepang nou ’n gelukkige en sinvolle lewe. Wat ’n treffende bewys is dit tog van die Bybel se krag om lewens te verbeter!—Hebreërs 4:12.
[Lokteks op bladsy 9]
“God, as ek bly lewe, sal ek alles in my vermoë doen om u te dien”
[Venster op bladsy 9]
Die krag van Bybelbeginsels
Slagoffers van mishandeling is al deur Bybelbeginsels soos die volgende vertroos:
“Toe my verontrustende gedagtes binne-in my baie geword het, het u [God se] vertroostinge my siel begin streel” (Psalm 94:19). Die “vertroostinge” van Jehovah wat ons in sy Woord vind, is baie bemoedigend. As ons dit in gedagte hou wanneer ons peins en bid, help dit om verontrustende gedagtes te verdryf en bou dit vertroue in God as ’n simpatieke Vriend op.
“Hy [Jehovah] genees die gebrokenes van hart en verbind hulle pynlike plekke” (Psalm 147:3). As ons Jehovah se barmhartigheid waardeer, asook sy voorsiening om ons sondes deur middel van Jesus se losprysoffer te bedek, kan ons God met vertroue nader sonder om daarna nog in ons hart te voel dat hy ons veroordeel. Dit kan ongeëwenaarde vertroosting en gemoedsrus bied.
“Geen mens kan na my [Jesus Christus] toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie; en ek sal hom in die laaste dag opwek” (Johannes 6:44). Deur sy heilige gees en die Koninkrykspredikingswerk trek Jehovah ons persoonlik na sy Seun toe en gee hy ons die hoop op ewige lewe.