Moet my kind skool toe gaan?
KAN jy jou indink hoe dit sou gewees het as jy nie die woorde op hierdie bladsy kon lees nie? Sê nou jy kon nie jou land se amptelike taal praat nie? Gestel jy kon nie op ’n wêreldkaart wys waar jou land is nie. Tallose kinders sal in hierdie einste situasie grootword. Wat van jou kind?
Moet jou kind skool toe gaan? In baie lande is laer- en hoërskoolopleiding verpligtend en dikwels gratis. Die Konvensie oor die Regte van die Kind beskou skoolopleiding as ’n fundamentele reg. So ook die Universele Verklaring van Menseregte. Maar in party lande is skoolopleiding dalk nie gratis nie en kan dit ’n finansiële las vir ouers wees. Kom ons beskou die saak deur die oë van Christenouers wat graag wil hê dat hulle kinders geletterd moet wees, hetsy deur formele skoolopleiding of op ’n ander manier.
Bybelvoorbeelde van geletterdheid
Die meeste van God se knegte wat in die Bybel gemeld word, kon lees en skryf. Jesus se apostels Petrus en Johannes was Joodse vissermanne wat Bybelboeke in Grieks geskryf het, nie in hulle Galilese dialek nie.a Hulle ouers het blykbaar seker gemaak dat hulle kinders ’n basiese opvoeding ontvang. Ander Bybelskrywers in ’n soortgelyke situasie was onder meer die herder Dawid, die landarbeider Amos en Jesus se halfbroer Judas, wat waarskynlik ’n timmerman was.
Die man Job kon lees en skryf, en die Bybelboek wat sy naam dra, toon dat hy ’n kennis van wetenskap gehad het. Hy het dalk ook letterkundige vermoëns gehad, want sy stellings wat in die boek Job aangehaal word, is in digterlike styl. Verder weet ons dat die vroeë Christene geletterd was omdat aantekeninge, wat moontlik hulle skriftuurlike aantekeninge was, al op potskerwe gevind is.
Opvoeding belangrik vir Christene
Alle Christene moet toeneem in Bybelkennis as hulle God wil behaag (Filippense 1:9-11; 1 Tessalonisense 4:1). As hulle ywerig gebruik maak van die Skrif en Bybelstudiehulpe, kan dit hulle help om geestelike vooruitgang te maak. Aangesien God sy geskrewe Woord voorsien het, verwag hy van sy aanbidders om so goed as moontlik te kan lees. As die Bybel met begrip gelees word, is dit makliker om die raad daarin toe te pas. Daar is natuurlik dele wat ons meer as een keer sal moet lees sodat ons die punte deeglik kan begryp en daaroor kan peins.—Psalm 119:104; 143:5; Spreuke 4:7.
Elke jaar ontvang Jehovah se volk honderde bladsye met nuttige leesstof wat onder toesig van “die getroue en verstandige slaaf” voorberei word (Matteus 24:45-47). Hierdie lektuur bespreek onderwerpe soos die gesinslewe, gebruike, godsdiens, die wetenskap en baie ander onderwerpe. Nog belangriker, dit bevat skriftuurlike raad oor geestelike sake. As jou kinders nie kan lees nie, sal hulle uiters noodsaaklike inligting ontneem word.
Dit is belangrik om die geskiedenis van die mensdom te leer, aangesien dit ons help om te verstaan waarom ons God se Koninkryk nodig het. Dit is ook goed om ’n basiese kennis van aardrykskunde te hê. Die Bybel praat van baie plekke, soos Israel, Egipte en Griekeland. Weet jou kind waar om dit op ’n wêreldkaart te vind? Weet hy waar sy eie land op die kaart is? As iemand nie ’n kaart kan lees nie, beperk dit selfs sy vermoë om sy bediening in ’n toegewese gebied uit te voer.—2 Timoteus 4:5.
Voorregte in die gemeente
Christen- ouer manne en bedieningsknegte het baie verantwoordelikhede wat vereis dat hulle moet lees. Daar is byvoorbeeld dele wat hulle vir gemeentelike vergaderinge moet voorberei. Daar moet verslag gehou word van die lektuurvoorraad en bydraes. Sonder ’n basiese geleerdheid sal iemand dit baie moeilik vind om goed na hierdie verantwoordelikhede om te sien.
Vrywillige werkers dien by Bethelhuise regoor die wêreld. As hierdie vrywilligers goed wil kommunikeer en hulle pligte wil nakom, soos om lektuur te vertaal en masjinerie reg te maak, moet hulle kan lees en skryf in die amptelike taal van die land waarin hulle woon. As jou kinders ooit sulke voorregte wil geniet, is ’n basiese opvoeding gewoonlik ’n vereiste. Wat is van die ander praktiese redes waarom jou kind skool toe moet gaan?
Armoede en bygelowigheid
Mense wat in armoede lewe, kan in sekere omstandighede feitlik hulpeloos wees. Maar in ander gevalle kan ’n redelike opvoeding ons en ons kinders dalk help om onnodige lyding te vermy. Baie min ongeletterde mense slaag daarin om ’n redelike bestaan te maak. Kinders en selfs ouers sterf soms omdat ’n karige inkomste dit vir hulle onmoontlik maak om mediese hulp te verkry. Ondervoeding en swak behuising is dikwels die lot van mense wat min of geen skoolopleiding het nie. Opvoeding of ten minste die vermoë om te lees en skryf, kan in ’n mate hiermee help.
Geletterdheid maak mense ook minder bygelowig. Bygelowe is natuurlik algemeen onder geletterde sowel as ongeletterde mense. Maar ongeletterdes kan makliker deur ander bedrieg en uitgebuit word omdat hulle nie die lektuur kan lees wat sulke bedrog aan die kaak stel nie. Daarom is hulle geneig om meer bygelowig te wees en te glo dat ’n spiritistiese geneser wonderdadige genesings kan verrig.—Deuteronomium 18:10-12; Openbaring 21:8.
Opvoeding nie net om werk te kry nie
Baie meen dat die hoofdoel van opvoeding is om geld te verdien. Maar party geletterde mense is werkloos of hulle verdien nie genoeg om in hulle basiese behoeftes te voorsien nie. Sommige ouers kan dus redeneer dat dit geen voordeel inhou om ’n kind skool toe te stuur nie. Maar skoolopleiding berei iemand nie net voor om geld te verdien nie; dit rus kinders toe vir die lewe oor die algemeen (Prediker 7:12). As ’n mens die amptelike taal van die land waarin jy woon, kan praat, lees en skryf, word kommunikasie met mediese personeel, burgerlike owerhede of bankpersoneel makliker, selfs alledaags, eerder as iets waarvoor jy vrees.
Op party plekke word ongeletterde kinders na iemand geneem om as vakleerlinge in messelwerk, vissery, naaldwerk of ’n ander ambag opgelei te word. Dit is goed om ’n ambag te leer, maar as hierdie kinders nooit skool bygewoon het nie, sal hulle moontlik nooit leer om reg te lees en skryf nie. As hulle egter eers ’n basiese opvoeding kry en dan ’n ambag leer, is die kanse kleiner dat hulle uitgebuit sal word en sal hulle ’n bevredigender lewe kan lei.
Jesus van Nasaret was ’n timmerman en was blykbaar ’n vakleerling van sy pleegvader, Josef (Matteus 13:55; Markus 6:3). Jesus was ook geletterd, want selfs op die ouderdom van 12 kon hy betekenisvolle besprekings met geleerde manne by die tempel hê (Lukas 2:46, 47). In Jesus se geval het die feit dat hy ’n ambag geleer het, nie inbreuk gemaak op ander vorme van opvoeding nie.
Moet dogters ook ’n opvoeding kry?
Ouers stuur soms hulle seuns skool toe maar nie hulle dogters nie. Miskien meen party ouers dat ’n opvoeding vir hulle dogters te duur is en glo hulle dat meisies van groter waarde vir hulle moeder is as hulle heeldag by die huis bly. Maar ongeletterdheid sal ’n dogter benadeel. ’n Publikasie van die Verenigde Nasies-kinderfonds (UNICEF) sê: “Studies bewys keer op keer dat ’n opvoeding vir meisies een van die beste maniere is om uit die greep van armoede los te breek” (Poverty and Children: Lessons of the 90s for Least Developed Countries). Geletterde meisies is beter toegerus vir die lewe en neem wyser besluite, tot voordeel van almal in die gesin.
Volgens ’n studie oor die kindersterftesyfer in Benin, Wes-Afrika, verloor ongeletterde moeders as ’n groep 167 uit 1 000 kinders onder die ouderdom van vyf, terwyl vroue met ’n hoërskoolopleiding 38 verloor. UNICEF kom tot dié slotsom: “Die opvoedingsvlak is derhalwe ’n bepalende faktor in die kindersterftesyfer in Benin, soos dit regoor die wêreld die geval is.” Dit kan dus heelwat voordele inhou as jou dogters ’n opvoeding kry.
Is lees-en-skryfklasse genoeg?
Waar nodig, hou Jehovah se Getuies lees-en-skryfklasse vir gemeentelede wat nie kan lees nie.b Hierdie nuttige voorsiening help mense om te leer lees, gewoonlik in hulle plaaslike taal. Is dit ’n voldoende plaasvervanger vir ’n skoolopleiding? Moet daar van die gemeente verwag word om jou kinders van ’n opvoeding te voorsien as gewone skole wel beskikbaar is?
Hoewel lees-en-skryfklasse ’n liefdevolle reëling in die gemeentes van Jehovah se Getuies is, is dit bedoel vir volwassenes wat nooit die voorreg as kinders gehad het om skool toe te gaan nie. Hulle ouers was moontlik nie bewus van hoe belangrik skoolopleiding is nie of daar was geen skole beskikbaar nie. Hierdie persone kan gehelp word deur lees-en-skryfklasse by te woon wat in gemeentes gehou word. Maar hierdie klasse is nie ’n plaasvervanger vir gewone skoolopleiding nie en is nie bedoel om ’n basiese opvoeding te voorsien nie. Vakke soos wetenskap, wiskunde en geskiedenis word nie in hierdie lees-en-skryfklasse gedek nie. Maar dit word dalk wel deur die gewone skoolleerplan gedek.
In Afrika word lees-en-skryfklasse meestal in stamtale gehou en minder dikwels in ’n land se amptelike taal. Maar skoolopleiding is gewoonlik in die amptelike taal. Dit hou bykomende voordele vir kinders in omdat meer boeke en ’n verskeidenheid ander leesstof in die amptelike taal beskikbaar is. Hoewel die lees-en-skryfklasse van die gemeente ’n kind se skoolopleiding kan aanvul, kan hierdie klasse dit nie vervang nie. Moet jou kinders dan nie, as dit moontlik is, skoolopleiding ontvang nie?
’n Ouer se verantwoordelikheid
Manne wat die leiding neem om in die geestelike behoeftes van die gemeente te voorsien, moet voorbeeldige Christene wees. Hulle moet “goeie leiding” aan hulle huisgesin en kinders gee (1 Timoteus 3:4, 12). “Goeie leiding” sou insluit dat hulle alles in hulle vermoë doen om hulle kinders te help om nie in die toekoms ’n agterstand te hê nie.
God het ’n groot verantwoordelikheid aan Christenouers gegee. Hulle moet hulle kinders oplei volgens sy Woord en hulle help om ‘kennis lief te hê’ (Spreuke 12:1; 22:6; Efesiërs 6:4). Die apostel Paulus het geskryf: “Ja, as iemand vir sy eie mense, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige” (1 Timoteus 5:8). Ons moet ook sorg dat ons kinders ’n behoorlike opvoeding kry.
’n Skoolstelsel kan soms nie ’n goeie opvoeding voorsien nie omdat die skool oorvol is, daar ’n gebrek aan fondse is of dalk ongelukkige, swak betaalde onderwysers het. Daarom is dit belangrik dat ouers ’n daadwerklike belangstelling toon in wat hulle kinders op skool leer. Dit is verstandig om die onderwysers te leer ken, veral aan die begin van elke kwartaal, en selfs hulle raad te vra oor hoe die kinders beter kan vaar. Dit sal onderwysers laat voel dat hulle waardeer word en hulle motiveer om ’n groter poging aan te wend om in die kinders se opvoedkundige behoeftes te voorsien.
Skoolopleiding is ’n noodsaaklike deel van ’n kind se ontwikkeling. “Die wyses bewaar kennis as ’n skat”, sê Spreuke 10:14. Dit is veral waar van Bybelkennis. Jehovah se volk—jonk en oud—moet soveel kennis as moontlik hê om ander geestelik te help en ‘om hulle goedgekeur voor God te stel as werkers wat hulle oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer’ (2 Timoteus 2:15; 1 Timoteus 4:15). Moet jou kinders dus skool toe gaan? Jy sal ongetwyfeld tot die slotsom kom dat hulle moet, hoewel baie sal afhang van wat prakties in julle land is. Maar Christenouers moet hierdie belangriker vraag kan beantwoord: ‘Moet my kinders ’n goeie opvoeding kry?’ Ongeag waar jy woon, stem jy nie saam dat die antwoord ’n besliste ja moet wees nie?
[Voetnote]
a Hulle moedertaal was óf ’n Galilese dialek van Aramees óf die een of ander Hebreeuse dialek. Sien Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsye 144-6, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Venster/Prent op bladsy 12, 13]
As Dit Onmoontlik Is Om Skool Te Gaan
Dit is in sommige situasies onmoontlik om skool te gaan. Die tydskrif Refugees berig byvoorbeeld dat net 1 uit 5 kinders in vlugtelingkampe kan skoolgaan. In party gevalle veroorsaak stakings dat skole vir lang tye sluit. Skole is moontlik te ver of daar is dalk geen skole in ’n sekere gebied nie. Die vervolging van Christene kan daartoe lei dat kinders uit die skool gesit word.
Hoe kan jy jou kinders in sulke omstandighede help? Wat kan jy doen as jy ’n paar kinders het en in ’n gebied woon waar dit te duur vir hulle almal is om skool te gaan? Wel, kan jy dit bekostig om een of twee van jou kinders skool toe te stuur sonder dat dit hulle geestelik in gevaar sal stel? Indien wel, kan hulle moontlik help om jou ander kinders te leer wat hulle op skool leer.
Party lande het ’n stelsel wat tuisonderrigting genoem word.c In hierdie reëling gebruik een van die ouers gewoonlik ’n paar uur elke dag om die kind te onderrig. In patriargale tye het ouers hulle kinders met groot sukses onderrig. Dit was blykbaar weens goeie ouerlike opleiding dat Jakob se seun Josef op ’n jong ouderdom as toesighouer kon dien.
’n Kurrikulum, of leerplan, is dalk moeilik bekombaar in plekke soos ’n vlugtelingkamp, maar ouers kan moontlik lektuur wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, as grondslag vir hulle onderrigting gebruik. Byvoorbeeld, My boek met Bybelverhale kan nuttig wees om jong kinders te leer. Die tydskrif Ontwaak! bevat artikels oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe. Die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? kan gebruik word om wetenskaplike onderwerpe te leer. Die Yearbook of Jehovah’s Witnesses het ’n klein wêreldkaart en bespreek die lewenswyse en predikingsbedrywighede in verskeie lande.
Dit hou groot voordele in as die onderrigting goed voorberei word en by die kind se vlak van begrip aangepas word. As hulle aanhou lees en leer, sal hulle makliker aanpas by die gewone skoolopleiding indien dit beskikbaar word. Met inisiatief en inspanning kan jy jou kinders help om ’n goeie opvoeding te kry. Hoe lonend kan dit tog wees!
[Voetnoot]
c Sien die artikel “Tuisonderrigting—Is dit vir jou?” in die Ontwaak! van 8 April 1993, bladsye 9-12.
[Prent]
Wat kan gedoen word as jy woon waar jou kinders nie ’n skool kan bywoon nie?