Jongmense—Maak julle geestelik vooruitgang?
“AL HET ek Christelike vergaderinge bygewoon, het ek geen sterk begeerte gehad om Jehovah te dien nie”, sê Hideo as hy terugdink aan sy vroeë hoërskooljare. “Ek het my dikwels verbeel dat ek gewild is by my klasmaats en dat ek in die straat af stap met ’n meisie aan my sy. Ek het geen spesifieke doelwitte gehad nie, en ek het geen begeerte gehad om geestelik vooruitgang te maak nie.” Soos Hideo lyk dit of baie jongmense bloot voortdryf, met geen begeerte om enige lonende doelwitte te bereik of enige vooruitgang te maak nie.
As jy jonk is, raak jy waarskynlik opgewonde wanneer jy aan sport deelneem of ’n stokperdjie beoefen. Maar jy voel dalk nie so wanneer dit by geestelike bedrywighede kom nie. Is dit moontlik om opgewonde te raak oor geestelike doelwitte? Dink aan hierdie woorde van die psalmis: “Die herinnering van Jehovah is betroubaar; dit maak die onervarene wys. . . . Die gebod van Jehovah is rein; dit laat die oë straal” (Psalm 19:7, 8). God se Woord kan “die onervarene” rig sodat hy wys optree, ‘dit kan sy oë laat straal’. Ja, jy kan opgewonde en geesdriftig oor geestelike dinge raak. Maar wat is nodig om so te voel? Waar moet jy begin?
Wees gemotiveerd om God te dien
Eerstens moet jy gemotiveerd wees. Neem die geval van jong koning Josia van Juda. Toe die boek van Jehovah se Wet in die tempel ontdek is, het Josia dit laat voorlees, en hy is diep getref deur wat hy gehoor het. Gevolglik het “Josia al die verfoeilike dinge verwyder uit al die landstreke wat aan die kinders van Israel behoort het” (2 Kronieke 34:14-21, 33). Omdat Josia God se Woord gelees het, is hy beweeg om meer te doen om rein aanbidding te bevorder.
Jy kan ook ’n begeerte ontwikkel om Jehovah te dien as jy die Bybel gereeld lees en peins oor wat jy lees. Dit is wat Hideo gemotiveer het. Hy het goed bevriend geraak met ’n ouer pionier, ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies. Die pionier was ’n ywerige student van die Bybel en het die dinge wat hy daarin geleer het, in sy lewe probeer toepas. Hideo was grootliks aangemoedig deur die pionier se voorbeeld en het ook ’n pionier geword en ’n sterk begeerte ontwikkel om God en ander mense te dien. Sy geestelike vooruitgang het tot ’n doelgerigte lewe gelei.
Daaglikse Bybellees kan jongmense motiveer. Takahiro verduidelik: “As ek ooit in die bed geklim en besef het dat ek nog nie my Bybellees vir die dag gedoen het nie, het ek opgestaan en dit gedoen. As gevolg daarvan het ek gevoel dat Jehovah my lei. Daaglikse Bybellees het grootliks bygedra tot my geestelike vooruitgang. Ek was vasbeslote om ’n groter aandeel aan Jehovah se diens te hê en het dus ’n gewone pionier geword kort nadat ek klaar was met skool. En ek geniet dit baie.”
Wat benewens Bybellees kan jou begeerte om Jehovah te loof, help versterk? Tomohiro het Bybelwaarheid by sy moeder geleer. Hy sê: “Dit was eers toe ek 19 was en die boek Die lewe hét ’n doel noukeurig bestudeer het, dat ek diep getref is deur Jehovah se liefde en Jesus se losprysoffer. Daardie waardering vir God se liefde het my beweeg om meer in Jehovah se diens te doen (2 Korintiërs 5:14, 15). Soos Tomohiro word baie jongmense aangespoor om geestelik vooruitgang te maak wanneer hulle ’n ywerige persoonlike studie van die Bybel doen.
Maar sê nou jy het steeds nie ’n hartgrondige begeerte om Jehovah te dien nie? Is daar iemand wat jy kan vra om jou te help? Die apostel Paulus het geskryf: “Want dit is God wat . . . in julle werk sodat julle kan wil sowel as werk” (Filippense 2:13). As jy tot Jehovah bid vir hulp, sal hy sy heilige gees vryelik aan jou gee, wat jou sal versterk om nie net te “werk” nie, maar ook te “wil”. Dit beteken dat God se heilige gees jou begeerte sal vergroot om jou bes in Jehovah se diens te doen en jou sal help om geestelik te groei. Vertrou dus op Jehovah se krag en versterk jou hart!
Stel persoonlike doelwitte
As jy vasbeslote is om Jehovah in groter mate te dien, moet jy persoonlike doelwitte stel om geestelik vooruitgang te maak. Mana, ’n jong Christenmeisie, het gesê: “Dit het my baie gehelp om doelwitte te stel. Sodoende het ek nie agteruitgegaan nie, maar kon ek moedig vooruitgaan. Met my doelwitte in gedagte het ek ernstig tot Jehovah gebid vir leiding, en ek kon vooruitgang maak omdat ek doelgerig was.”
Jou doelwitte moet realisties en bereikbaar wees. ’n Redelike doelwit kan wees om elke dag ’n hoofstuk in die Bybel te lees. Jy kan ook ’n navorsingsprojek begin. Om dit toe te lig met iets wat in Engels beskikbaar is: Jy kan die eienskappe van Jehovah bestudeer wat in die lys onder die onderhofie “Qualities by Name” aangegee word, onder die inskrywing “Jehovah” in die Watch Tower Publications Index. Daar is omtrent 40 inskrywings wat jy kan naslaan, en die navorsing sal jou ongetwyfeld nader aan Jehovah bring en jou aanspoor om meer vir hom te doen. (Soortgelyke inligting kan in die nuwe boek, Kom nader aan Jehovah, gevind word.) Ander bereikbare doelwitte sluit in om ten minste een antwoord te gee by elke Christelike vergadering wat gehoordeelname vereis, om ten minste een lid van die gemeente by elke vergadering beter te leer ken en om nie een dag te laat verbygaan sonder om tot Jehovah te bid en met ander oor hom te praat nie.
As jy nog nie by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit het nie, is dit ’n goeie doelwit vir jou. Neem jy deel aan die openbare bediening? Indien nie, wil jy dalk daarna streef om ’n ongedoopte verkondiger te word. Die volgende stap sal natuurlik wees om ernstig na te dink oor jou verhouding met Jehovah en jou aan hom toe te wy. Baie jongmense probeer hulle toewyding naleef deur die voltydse bediening te betree.
Hoewel dit goed is om doelwitte in die lewe te hê, moet jy waak teen ’n mededingende gees. Jy sal meer vreugde put uit wat jy doen as jy jou nie met ander vergelyk nie.—Galasiërs 5:26; 6:4.
Miskien voel jy onervare en vind jy dit moeilik om redelike doelwitte te stel. Volg dan hierdie Bybelraad: “Neig jou oor en hoor die woorde van die wyses” (Spreuke 22:17). Vra jou ouers of ander ryp Christene om jou te help. Ouers en ander moet natuurlik redelik en aanmoedigend hierin wees. As jongmense voel dat hulle onder druk is om doelwitte na te streef wat ander vir hulle stel, kan dit hulle van hulle vreugde beroof en selfs die doel daarvan verydel. Dit het met een meisie gebeur, wat gesê het: “My ouers het die een doelwit na die ander vir my gestel, soos om by die Teokratiese Bedieningskool aan te sluit, aan velddiens deel te neem, my te laat doop en ’n pionier te word. Ek het my werklik ingespan om elke doelwit te bereik. Wanneer ek wel ’n doelwit bereik het, het my ouers my nie geprys nie, maar eerder vir my ’n ander doelwit gegee om na te streef. Gevolglik het ek altyd gevoel dat ek onder druk was om doelwitte te bereik. Ek was uitgeput en het geen bevrediging ervaar nie.” Wat was die probleem? Dit was alles goeie doelwitte, maar dit was nie haar doelwitte nie. Om sukses te hê, moet jy beweeg voel om jou eie doelwit te stel!
Dink aan Jesus Christus. Toe hy na die aarde toe gekom het, het hy geweet wat sy Vader, Jehovah, van hom verwag. Om Jehovah se wil te doen, was nie net vir Jesus ’n doelwit nie, maar ’n sending wat uitgevoer moes word. Hoe het Jesus sy toewysing beskou? Hy het gesê: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:34). Jesus het behae daarin geskep om Jehovah se wil uit te voer en het aan sy Vader se verwagtinge voldoen. Dit was vir Jesus soos voedsel—dit het hom genot en voldoening verskaf om die werk te volbring wat hom opgedra is (Hebreërs 10:5-10). Jy kan ook geluk vind as jy werklik gemotiveerd is om te doen wat jou ouers jou aanspoor om te doen.
Moenie ophou om te doen wat goed is nie
As jy eers ’n doelwit in gedagte het, moet jy jou inspan om dit te bereik. Galasiërs 6:9 sê: “Laat ons . . . nie ophou om te doen wat goed is nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie moeg word nie.” Moenie net op jou eie krag of vermoëns staatmaak nie. Daar gaan ongetwyfeld struikelblokke wees en jy sal soms vir ’n rukkie voel dat jy misluk het. Maar die Bybel verseker ons: “Slaan ag op [God] in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak” (Spreuke 3:6). Jehovah sal jou onderskraag as jy jou inspan om jou geestelike doelwitte te bereik.
Ja, as jy die begeerte ontwikkel om Jehovah te dien en geestelike doelwitte nastreef, sal “jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees” (1 Timoteus 4:15). Dan sal jy ’n sinvolle lewe in God se diens geniet.
[Prent op bladsy 9]
As jy die Bybel lees en peins oor wat jy lees, sal dit jou beweeg om Jehovah te dien
[Prent op bladsy 10]
Jesus het aan sy Vader se verwagtinge voldoen