Die Here se Aandmaal het groot betekenis vir jou
HET die Here se Aandmaal groot en blywende betekenis vir jou? Om uit te vind, moet ons eers bepaal watter betekenis Jesus Christus self aan hierdie belangrike gebeurtenis geheg het.
Op die aand van 14 Nisan 33 G.J. het Jesus saam met sy 12 apostels in ’n bovertrek in Jerusalem vergader om die jaarlikse Pasga te vier. Nadat hulle die Pasgamaal geëet het, het die verraaier Judas die vertrek verlaat om Jesus te gaan verraai (Johannes 13:21, 26-30). Met die oorblywende 11 apostels daar, het Jesus “die Here se aandmaal” ingestel (1 Korintiërs 11:20). Dit word ook die Gedenkmaal genoem, aangesien Jesus sy volgelinge die opdrag gegee het: “Doen dit ter herdenking aan my.” Dit is die enigste gebeurtenis wat Christene beveel is om te herdenk.—1 Korintiërs 11:24, The Jerusalem Bible.
Volgens Webster se woordeboek is ’n herdenking iets wat help “om ’n herinnering te bewaar” of “wat ’n herinnering lewend hou”. Op baie plekke rig mense ’n monument op of sit hulle ’n spesiale dag opsy ter herdenking of viering van iemand of iets wat belangrik is. In hierdie geval het Jesus ’n gedenkmaal ingestel—’n maal wat as herinnering sou dien, wat sy dissipels sou help om die gedagtenis te bewaar van die uiters belangrike gebeure van daardie betekenisvolle dag. Hierdie gedenkmaal sou waarnemers in toekomstige geslagte herinner aan die diepgaande betekenis van wat Jesus daardie aand gedoen het, veral van die simbole wat hy gebruik het. Watter simbole, of embleme, het Jesus gebruik, en wat beteken dit? Kom ons ondersoek die Bybelverslag van wat daardie aand in 33 G.J. plaasgevind het.
Heilige simbole
“Hy [het] ’n brood geneem, gedank, dit gebreek en dit vir hulle gegee en gesê: ‘Dit beteken my liggaam, wat vir julle gegee sal word. Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen.’”—Lukas 22:19.
Toe Jesus die brood geneem en gesê het “dit beteken my liggaam”, het hy getoon dat die ongesuurde brood ’n voorstelling, of simbool, was van sy eie sondelose vleeslike liggaam, wat hy gegee het “vir die lewe van die wêreld” (Johannes 6:51). Hoewel party Bybelvertalings sê “dit is [Grieks, es·tinʹ] my liggaam”, beteken hierdie werkwoord, volgens Thayer se Greek-English Lexicon of the New Testament, dikwels “aandui, beteken, te kenne gee”. Dit dra die gedagte oor van voorstel of simboliseer.—Matteus 26:26, voetnoot in NW.
Dieselfde het gegeld vir die beker wyn. Jesus het gesê: “Hierdie beker beteken die nuwe verbond kragtens my bloed, wat vir julle uitgestort sal word.”—Lukas 22:20.
In Matteus se verslag het Jesus aangaande die beker gesê: “Dit beteken my ‘bloed van die verbond’, wat vir baie uitgestort sal word tot vergifnis van sondes” (Matteus 26:28). Jesus het die wyn in die beker as ’n voorstelling, of simbool, van sy bloed gebruik. Sy vergote bloed sou die grondslag van “’n nuwe verbond” vir geesgesalfde dissipels wees, wat as konings en priesters saam met hom in die hemel sou regeer.—Jeremia 31:31-33; Johannes 14:2, 3; 2 Korintiërs 5:5; Openbaring 1:5, 6; 5:9, 10; 20:4, 6.
Die wyn in die beker dien ook as ’n herinnering dat Jesus se vergote bloed die grondslag voorsien het vir “vergifnis van sondes”, wat dit moontlik sou maak vir dié wat die embleme gebruik, om hemelse lewe as mede-erfgename met Christus te ontvang. Dit is te verstane dat diegene met hierdie hemelse roeping—’n beperkte getal—die enigstes is wat van die brood en die wyn by die Gedenkmaal gebruik.—Lukas 12:32; Efesiërs 1:13, 14; Hebreërs 9:22; 1 Petrus 1:3, 4.
Maar wat van al daardie volgelinge van Jesus wat nie deel van die nuwe verbond is nie? Hulle is die Here se “ander skape”, wat daarna uitsien om ewige lewe op ’n paradysaarde te geniet, nie om saam met Christus in die hemel te regeer nie (Johannes 10:16; Lukas 23:43; Openbaring 21:3, 4). As “’n groot skare” getroue Christene wat ‘dag en nag heilige diens aan God verrig’, is hulle verheug om as dankbare waarnemers by die Here se Aandmaal te wees. Deur hulle woorde en dade sê hulle as ’t ware: “Redding is ons verskuldig aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam.”—Openbaring 7:9, 10, 14, 15.
Hoe dikwels?
“Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen.”—Lukas 22:19.
Hoe dikwels moet die Gedenkmaal gevier word om die herinnering aan Christus se dood te bewaar? Jesus het nie spesifiek gesê nie. Maar aangesien hy die Here se Aandmaal op 14 Nisan ingestel het, die aand waarop die Israeliete jaarliks die Pasga gevier het, is dit duidelik dat Jesus wou hê dat die Gedenkmaal op dieselfde manier gevier moes word. Soos die Israeliete jaarliks hulle bevryding uit slawerny in Egipte gevier het, herdenk Christene jaarliks hulle bevryding van slawerny aan sonde en die dood.—Eksodus 12:11, 17; Romeine 5:20, 21.
Die idee van ’n jaarlikse viering om ’n belangrike gebeurtenis te herdenk, is beslis nie vreemd nie. Dink byvoorbeeld aan wanneer ’n egpaar hulle huweliksherdenking vier of wanneer ’n land ’n belangrike gebeurtenis in hulle geskiedenis herdenk. Die herdenking vind gewoonlik een keer per jaar op die dag van daardie gebeurtenis plaas. Dit is interessant dat talle verklaarde Christene eeue ná Christus se dood Quartodecimane genoem is, wat “Veertienders” beteken, omdat hulle Jesus se dood een keer per jaar op 14 Nisan herdenk het.
Eenvoudig maar betekenisvol
Die apostel Paulus het verduidelik dat die viering van die Here se Aandmaal Jesus se dissipels in staat sou stel om “aan [te hou] om die dood van die Here te verkondig” (1 Korintiërs 11:26). Hierdie herdenking sou dus die aandag vestig op die uiters belangrike rol wat Jesus, deur sy dood, in die vervulling van God se voorneme gespeel het.
Deur sy getrouheid tot die dood het Jesus Christus bevestig dat Jehovah God ’n wyse en liefdevolle Skepper asook ’n regverdige Soewerein is. In teenstelling met Satan se bewerings en anders as Adam het Jesus bewys dat dit wel vir die mens moontlik is om getrou aan God te bly, selfs onder baie groot druk.—Job 2:4, 5.
Die Here se Aandmaal laat ons ook altyd met waardering dink aan Jesus se selfopofferende liefde. Ten spyte van hewige beproewinge het Jesus volkome gehoorsaam aan sy Vader gebly. Hy kon sodoende sy eie volmaakte menselewe aanbied om die ontsaglike koste van Adam se sonde te dek. Soos Jesus self verduidelik het, het hy gekom “om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Gevolglik kan almal wat geloof in Jesus beoefen, vergifnis van sondes verkry en die ewige lewe ontvang in ooreenstemming met Jehovah se oorspronklike voorneme vir die mensdom.—Romeine 5:6, 8, 12, 18, 19; 6:23; 1 Timoteus 2:5, 6.a
Dit alles beklemtoon ook Jehovah se oorvloedige goedheid en onverdiende goedhartigheid om voorsiening te maak vir die mensdom se redding. Die Bybel sê: “Hierdeur is die liefde van God in ons geval openbaar gemaak, want God het sy enigverwekte Seun in die wêreld uitgestuur sodat ons deur hom die lewe kan verkry. Hierin lê die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat hy ons liefgehad en sy Seun uitgestuur het as ’n soenoffer vir ons sondes.”—1 Johannes 4:9, 10.
Ja, wat ’n wonderlike viering is die Gedenkmaal tog! Eenvoudig en prakties genoeg om wêreldwyd onder baie verskillende omstandighede herdenk te word, en tog simbolies genoeg om oor ’n lang tydperk ’n betekenisvolle herinnering te bly.
Wat dit vir jou beteken
Die offerdood van ons Here Jesus Christus het ’n ontsaglike opoffering van hom sowel as sy Vader Jehovah geverg. As ’n volmaakte mens het Jesus nie soos ons almal die dood oorgeërf nie (Romeine 5:12; Hebreërs 7:26). Hy kon vir ewig gelewe het. Sy lewe kon nie van hom weggeneem word nie, selfs nie met geweld nie, tensy hy dit toegelaat het. Hy het gesê: “Geen mens het [my lewe] van my weggeneem nie, maar ek doen op eie inisiatief afstand daarvan.”—Johannes 10:18.
Jesus het nietemin sy volmaakte menselewe gewillig opgeoffer om “deur sy dood die een tot niet te maak wat die vermoë het om die dood te veroorsaak, dit is die Duiwel; en om almal te bevry wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank aan slawerny onderworpe was” (Hebreërs 2:14, 15). Christus se selfopofferende liefde blyk ook duidelik uit die soort dood waaraan hy hom onderwerp het. Hy was deeglik bewus van die manier waarop hy sou ly en sterf.—Matteus 17:22; 20:17-19.
Die Gedenkmaal herinner ons ook aan ons hemelse Vader, Jehovah, se allergrootste blyk van liefde. Hoe verskriklik moes dit tog vir hom gewees het, die Een wat “baie teer in geneentheid en medelydend is”, om die “sterk uitroepe en trane” van Jesus in die tuin van Getsemane te hoor en te sien, asook die sadistiese geseling, die wrede marteling aan die folterpaal en die stadige, pynlike dood wat hy gesterf het (Jakobus 5:11, voetnoot in NW; Hebreërs 5:7; Johannes 3:16; 1 Johannes 4:7, 8). Selfs nou, eeue later, is die blote gedagte daaraan vir baie mense pynlik.
Om te dink dat Jehovah God en Jesus Christus so ’n hoë prys vir ons as sondaars betaal het! (Romeine 3:23). Elke dag kom ons te staan voor die pynlike werklikheid van ons sondige natuur en ons onvolmaakthede. Maar op grond van geloof in Jesus se losprysoffer kan ons God om vergifnis smeek (1 Johannes 2:1, 2). Dit maak dit vir ons moontlik om God met vrymoedigheid van spraak te nader en ’n skoon gewete te hê (Hebreërs 4:14-16; 9:13, 14). Wat meer is, ons kan die vooruitsig hê om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe (Johannes 17:3; Openbaring 21:3, 4). Hierdie en baie ander seëninge is die gevolg van Jesus se grootste daad van selfopoffering.
Toon waardering vir die Here se Aandmaal
Die Here se Aandmaal is ongetwyfeld ’n wonderlike bewys van “die allesoortreffende onverdiende goedhartigheid van God”. En Jehovah God se voorsiening van die losprysoffer—wat deur Jesus se selfopofferende liefde moontlik gemaak is—is inderdaad sy “onbeskryflike vrye gawe” (2 Korintiërs 9:14, 15). Wek hierdie blyke van God se goedheid deur Jesus Christus nie in jou ’n diep en blywende gevoel van dankbaarheid en waardering nie?
Ons is vol vertroue dat dit wel die geval is. Ons nooi jou dus hartlik uit om saam met Jehovah se Getuies te vergader om die herdenking van Jesus se dood te vier. Vanjaar sal die Gedenkmaal op Woensdag, 16 April, ná sononder gehou word. Jehovah se Getuies in jou omgewing sal met graagte vir jou sê presies waar en wanneer hierdie allerbelangrikste gebeurtenis gehou sal word.
[Voetnoot]
a Sien gerus die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, uitgegee deur Jehovah se Getuies, vir ’n breedvoeriger bespreking van die losprys.
[Venster/Prente op bladsy 6]
“DIT IS MY LIGGAAM” OF “DIT BETEKEN MY LIGGAAM” WATTER EEN?
Toe Jesus gesê het: “Ek is die deur” en: “Ek is die ware wingerdstok”, het niemand gedink dat hy ’n letterlike deur of ’n letterlike wingerdstok is nie (Johannes 10:7; 15:1). En wanneer The New Jerusalem Bible Jesus se woorde soos volg aanhaal: “Hierdie beker is die nuwe verbond”, kom ons ook nie tot die slotsom dat die beker letterlik die nuwe verbond was nie. Toe hy dus gesê het dat die brood sy liggaam “is”, het hy ongetwyfeld bedoel dat die brood sy liggaam beteken, of voorstel. Daarom sê die Charles B. Williams-vertaling: “Dit verteenwoordig my liggaam.”—Lukas 22:19, 20.
[Prent op bladsy 5]
Die ongesuurde brood en die wyn is gepaste simbole van Jesus se sondelose liggaam en sy vergote bloed
[Prent op bladsy 7]
Die Gedenkmaal is ’n herinnering aan die groot liefde wat Jehovah God en Jesus Christus betoon het