Sagmoedigheid—’n Noodsaaklike Christelike eienskap
“Beklee julle [met] sagmoedigheid.”—KOLOSSENSE 3:12.
1. Wat maak sagmoedigheid ’n merkwaardige eienskap?
’N SAGTE klimaat is aangenaam en verkwikkend. So ook is ’n sagmoedige, of saggeaarde, persoon aangename geselskap. En tog kan ‘’n sagte tong die gebeente breek’, het die wyse koning Salomo gesê (Spreuke 25:15). Sagmoedigheid is ’n merkwaardige eienskap wat aangenaam en terselfdertyd kragtig is.
2, 3. Watter verband is daar tussen sagmoedigheid en heilige gees, en wat gaan ons in hierdie artikel bespreek?
2 Die apostel Paulus het sagmoedigheid ingesluit in sy lys van “die vrugte van die gees”, wat in Galasiërs 5:22, 23 gevind word. Die Griekse woord wat in vers 23 in die Nuwe Wêreld-vertaling met “sagmoedigheid” vertaal word, word dikwels in ander Bybelvertalings met “ootmoed” of “sagtheid” weergegee. Feit is dat dit moeilik is om ’n presiese ekwivalent vir hierdie Griekse woord in die meeste ander tale te vind omdat die oorspronklike woord nie ’n uiterlike sagtheid of ootmoedigheid beskryf nie, maar ’n innerlike sagmoedigheid en goedhartigheid; nie ’n persoon se gedrag nie, maar die toestand van sy verstand en hart.
3 Kom ons kyk na vier Bybelvoorbeelde om ons te help om die betekenis en waarde van sagmoedigheid beter te verstaan (Romeine 15:4). Sodoende sal ons nie net leer wat hierdie eienskap is nie, maar ook hoe dit aangekweek en in al ons handelinge geopenbaar kan word.
‘Van groot waarde in die oë van God’
4. Hoe weet ons dat Jehovah waarde aan sagmoedigheid heg?
4 Aangesien sagmoedigheid een van die vrugte van God se gees is, is dit logies dat daar ’n noue verband tussen hierdie eienskap en God se wonderlike persoonlikheid sal wees. Die apostel Petrus het geskryf dat ’n “stille en sagmoedige gees . . . in die oë van God van groot waarde is” (1 Petrus 3:4). Ja, sagmoedigheid is ’n godvrugtige eienskap; Jehovah heg groot waarde daaraan. Dit op sigself is beslis genoeg rede vir al God se knegte om sagmoedigheid aan te kweek. Maar hoe openbaar die almagtige God, die hoogste Gesag in die heelal, sagmoedigheid?
5. Watter vooruitsig het ons danksy Jehovah se sagmoedigheid?
5 Toe die eerste mensepaar, Adam en Eva, God se duidelike verbod oortree het en van die boom van die kennis van goed en kwaad geëet het, het hulle dit opsetlik gedoen (Genesis 2:16, 17). Daardie moedswillige daad van ongehoorsaamheid het tot sonde, die dood en vervreemding van God gelei, vir hulle sowel as hulle toekomstige nakomelinge (Romeine 5:12). Al was Jehovah se oordeel heeltemal geregverdig, het hy nie hardvogtig opgetree en die hele mensdom afgeskryf as geheel en al hopeloos en onredbaar nie (Psalm 130:3). Jehovah het eerder uit goedhartigheid en weens sy begeerte om nie streng of veeleisend te wees nie—blyke van sagmoedigheid—die middel voorsien waardeur die sondige mensdom hom kan nader en sy guns kan verkry. Ja, deur middel van die gawe van die losprysoffer van sy Seun, Jesus Christus, maak Jehovah dit vir ons moontlik om sy verhewe troon sonder vrees of angs te nader.—Romeine 6:23; Hebreërs 4:14-16; 1 Johannes 4:9, 10, 18.
6. Hoe het God se handelinge met Kain bewys gelewer van sagmoedigheid?
6 Lank voordat Jesus aarde toe gekom het, is Jehovah se sagmoedigheid geopenbaar toe Kain en Abel, Adam se seuns, offerandes aan God gebring het. Omdat Jehovah hulle hartstoestand gesien het, het hy Kain se offer verwerp, maar Abel en sy offer “gunstig aangesien”. God se gunstige beskouing van getroue Abel en sy offerande het ’n ongunstige reaksie by Kain uitgelok. “Kain het baie kwaad geword, en sy gesig het somber geword”, sê die Bybelverslag. Hoe het Jehovah gereageer? Het Kain se slegte gesindheid Jehovah vertoorn? Nee. Hy het Kain op sagmoedige wyse gevra waarom hy so kwaad was. Jehovah het selfs verduidelik wat Kain kon doen om “’n verheffing” te verkry (Genesis 4:3-7). Jehovah is waarlik die verpersoonliking van sagmoedigheid.—Eksodus 34:6.
Sagmoedigheid trek ander aan en is verkwikkend
7, 8. (a) Hoe kan ons van Jehovah se sagmoedigheid leer? (b) Wat openbaar die woorde van Matteus 11:27-29 omtrent Jehovah en Jesus?
7 Een van die beste maniere waarop ons van Jehovah se ongeëwenaarde eienskappe kan leer, is deur die lewe en bediening van Jesus Christus te bestudeer (Johannes 1:18; 14:6-9). Terwyl Jesus gedurende die tweede jaar van sy predikingsveldtog in Galilea was, het hy talle kragtige werke in Gorasin, Betsaida, Kapernaum en die omliggende gebied verrig. Maar die meeste mense was trots en onverskillig en het geweier om te glo. Hoe het Jesus gereageer? Hoewel hy hulle ferm herinner het aan die gevolge van hulle ongelowigheid, het die ellendige geestelike toestand van die ʽam ha·ʼaʹrets, die nederige, gewone mense onder hulle, hom tot innige jammerte beweeg.—Matteus 9:35, 36; 11:20-24.
8 Jesus se latere optrede het getoon dat hy ‘die Vader ten volle geken’ en nagevolg het. Jesus het hierdie hartlike uitnodiging tot die gewone mense gerig: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind.” Watter vertroosting en verkwikking moes hierdie woorde tog nie gebring het vir diegene wat vertrap en onderdruk is nie! Dit is selfs vandag vir ons verkwikkend. As ons ons opreg met sagmoedigheid beklee, sal ons onder dié wees “aan wie die Seun bereid is om [sy Vader] te openbaar”.—Matteus 11:27-29.
9. Watter eienskap hou verband met sagmoedigheid, en hoe is Jesus ’n goeie voorbeeld in hierdie opsig?
9 Daar is ’n noue verband tussen sagmoedigheid en nederigheid, of om “nederig van hart” te wees. Daarenteen lei trots tot selfverheffing en kan dit dikwels veroorsaak dat iemand ander mense op ’n hardvogtige en gevoellose manier behandel (Spreuke 16:18, 19). Jesus het regdeur sy aardse bediening nederigheid getoon. Selfs toe hy ses dae voor sy dood in Jerusalem ingery het en as Koning van die Jode begroet is, het Jesus grootliks van heersers van die wêreld verskil. Hy het Sagaria se Messiaanse profesie vervul: “Kyk! Jou Koning kom na jou toe, saggeaard, en hy sit op ’n esel, ja, op ’n jong hings, die vul van ’n pakdier” (Matteus 21:5; Sagaria 9:9). Die getroue profeet Daniël het ’n visioen gesien waarin Jehovah heersersgesag aan sy Seun oorgedra het. En tog het hy Jesus in ’n vroeëre profesie as “die geringste van die mensdom” beskryf. Sagmoedigheid en nederigheid gaan inderdaad hand aan hand.—Daniël 4:17; 7:13, 14.
10. Waarom kan ons sê dat Christelike sagmoedigheid nie op swakheid dui nie?
10 Die wonderlike sagmoedigheid wat Jehovah en Jesus openbaar, help ons om nader aan hulle te kom (Jakobus 4:8). Sagmoedigheid dui natuurlik nie op swakheid nie. Inteendeel! Jehovah, die almagtige God, openbaar ’n oorvloed van dinamiese energie en krag. Sy toorn ontvlam teen onregverdigheid (Jesaja 30:27; 40:26). Jesus was eweneens vasbeslote om nie ’n kompromis aan te gaan nie, selfs nie toe Satan die Duiwel hom aangeval het nie. Hy het geweier om die ongeoorloofde handelsgebruike van die godsdiensleiers van sy dag te duld (Matteus 4:1-11; 21:12, 13; Johannes 2:13-17). Tog het hy sagmoedig gebly toe hy met die tekortkominge van sy dissipels te doen gehad het, en hy het hulle swakhede geduldig verdra (Matteus 20:20-28). ’n Bybelgeleerde het sagmoedigheid gepas soos volg beskryf: “Agter die sagtheid is daar die krag van staal.” Laat ons dan hierdie Christelike eienskap—sagmoedigheid—openbaar.
Die sagmoedigste persoon van sy dag
11, 12. Wat het Moses se sagmoedigheid uitsonderlik gemaak as ons aan sy kinderjare dink?
11 Die derde voorbeeld wat ons gaan bespreek, is dié van Moses. Die Bybel beskryf hom as “die sagmoedigste van al die mense wat op die oppervlak van die aarde was” (Numeri 12:3). Hierdie beskrywing is onder Goddelike inspirasie opgeteken. Moses se uitsonderlike sagmoedigheid het hom ontvanklik gemaak vir Jehovah se leiding.
12 Moses se kinderjare was buitengewoon. Jehovah het verseker dat hierdie seun van getroue Hebreeuse ouers gedurende ’n tyd van verraad en moord behoue gebly het. Moses het sy vroeë jare in die sorg van sy moeder deurgebring, wat hom noukeurig van die ware God, Jehovah, geleer het. Later is Moses uit sy huis geneem om in ’n heeltemal ander milieu te lewe. “Moses [is] in al die wysheid van die Egiptenaars onderrig”, het die vroeë Christenmartelaar Stefanus gesê. “Trouens, [Moses] was kragtig in sy woorde en dade” (Handelinge 7:22). Sy geloof het na vore gekom toe hy al die onregte gesien het wat sy broers onder Farao se slawedrywers moes verduur. Omdat Moses ’n Egiptenaar doodgemaak het nadat hy gesien het hoe hy ’n Hebreër slaan, moes Moses uit Egipte na die land Midian vlug.—Eksodus 1:15, 16; 2:1-15; Hebreërs 11:24, 25.
13. Watter uitwerking het Moses se 40 jaar lange verblyf in Midian op hom gehad?
13 Op die ouderdom van 40 moes Moses in ’n wildernis vir homself sorg. In Midian het hy Rehuel se sewe dogters ontmoet en hulle gehelp om hulle vader se groot kudde water te gee. Toe die jong vroue by die huis kom, het hulle opgewonde vir Rehuel vertel dat “’n sekere Egiptenaar” hulle verlos het van die herders wat vir hulle probleme veroorsaak het. Op Rehuel se uitnodiging het Moses by die familie gebly. Die teëspoed wat hy ondervind het, het hom nie verbitterd gemaak nie; dit het ook nie voorkom dat hy geleer het om sy lewenswyse by sy nuwe omgewing aan te pas nie. Sy begeerte om Jehovah se wil te doen, het nooit afgeneem nie. Gedurende 40 lang jare, waartydens hy Rehuel se skape opgepas het, met Sippora getrou het en sy seuns grootgemaak het, het Moses die eienskap wat so kenmerkend van hom geword het, ontwikkel en verfyn. Ja, Moses het sagmoedigheid deur teëspoed geleer.—Eksodus 2:16-22; Handelinge 7:29, 30.
14. Beskryf ’n voorval gedurende Moses se leierskap van Israel wat sy sagmoedigheid getoon het.
14 Nadat Jehovah Moses as leier van die nasie Israel aangestel het, was sy sagmoedigheid steeds duidelik. ’n Jong man het vir Moses vertel dat Eldad en Medad as profete in die kamp optree—en dit terwyl hulle nie teenwoordig was toe Jehovah sy gees op die 70 ouer manne uitgestort het wat as Moses se helpers sou dien nie. Josua het gesê: “My heer Moses, belet hulle dit!” Moses het sagmoedig geantwoord: “Is jy jaloers oor my? Nee, ek wens dat Jehovah se hele volk profete was, want Jehovah sou sy gees op hulle plaas!” (Numeri 11:26-29). Sagmoedigheid het daardie gespanne situasie ontlont.
15. Waarom is Moses se voorbeeld navolgenswaardig al was hy onvolmaak?
15 Moses het blykbaar by een geleentheid nie sagmoedigheid aan die dag gelê nie. By Meriba, naby Kades, het hy nie Jehovah, die Een wat wonders verrig, verheerlik nie (Numeri 20:1, 9-13). Ja, Moses was onvolmaak, maar sy onwrikbare geloof het hom dwarsdeur sy lewe onderskraag, en sy uitsonderlike sagmoedigheid maak selfs vandag nog ’n indruk op ons.—Hebreërs 11:23-28.
Hardvogtigheid teenoor sagmoedigheid
16, 17. Watter waarskuwing vind ons in die verslag van Nabal en Abigail?
16 ’n Waarskuwende voorbeeld kom uit Dawid se tyd, kort ná die dood van God se profeet Samuel. Dit is van ’n egpaar, Nabal en sy vrou, Abigail. Hoe het hierdie twee tog van mekaar verskil! Terwyl Abigail “goeie oordeel aan die dag gelê” het, was haar man “hardvogtig en sleg in sy handelinge”. Toe Dawid se manne, wat Nabal se groot kuddes teen diewe help beskerm het, hom om kos en water gevra het, het Nabal onbeskof geweier om dit te gee. Met regverdige verontwaardiging het Dawid en ’n groep van sy manne hulle swaarde aangegord en teen Nabal opgetrek.—1 Samuel 25:2-13.
17 Toe Abigail hoor wat gebeur het, het sy gou brood, wyn, vleis en rosyne- en vyekoeke voorberei en uitgegaan om Dawid te ontmoet. “Op my, o my heer, is die oortreding”, het sy hom gesmeek. “Laat u slavin asseblief voor u ore spreek, en luister na die woorde van u slavin.” Abigail se sagmoedige versoek het Dawid se hart versag. Nadat Dawid na Abigail se verduideliking geluister het, het hy gesê: “Mag Jehovah, die God van Israel, geloof word, wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet! En mag jou verstandigheid geseënd wees, en mag jy geseënd wees wat my vandag daarvan weerhou het om bloedskuldig te word” (1 Samuel 25:18, 24, 32, 33). Nabal se hardvogtigheid het op die ou end tot sy dood gelei. Abigail se goeie eienskappe het haar uiteindelik die geluk laat smaak om Dawid se vrou te word. Haar sagmoedigheid is ’n voorbeeld vir almal wat Jehovah vandag dien.—1 Samuel 25:36-42.
Streef sagmoedigheid na
18, 19. (a) Watter veranderinge word duidelik namate ons ons met sagmoedigheid beklee? (b) Wat kan ons help om ’n doeltreffende selfondersoek te doen?
18 Sagmoedigheid is dus noodsaaklik. Dit beteken nie net dat ’n mens vriendelik optree nie; dit is ’n aantreklike eienskap wat deel vorm van ’n mens se geaardheid en ander verkwik. Ons was miskien in die verlede daaraan gewoond om op hardvogtige wyse te praat en onvriendelik op te tree. Maar toe ons Bybelwaarheid geleer het, het ons verander en vriendeliker en aangenamer mense geword. Paulus het van hierdie verandering gepraat toe hy mede-Christene aangespoor het: “Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid” (Kolossense 3:12). Die Bybel vergelyk hierdie verandering met dié van wrede wilde diere—wolwe, luiperds, leeus, bere en kobras—wat verander in vreedsame mak diere—lammers, boklammers, kalwers en koeie (Jesaja 11:6-9; 65:25). Hierdie persoonlikheidsveranderinge is so buitengewoon dat mense wat dit sien, hulle daaroor verwonder. Maar ons skryf hierdie veranderinge aan die werking van God se gees toe, want een van die werklik merkwaardige vrugte daarvan is sagmoedigheid.
19 Beteken dit dat ons, wanneer ons die nodige veranderinge gemaak en ons aan Jehovah toegewy het, nie meer daarna hoef te streef om sagmoedig te wees nie? Glad nie. Nuwe klere het immers voortdurende sorg nodig sodat dit altyd skoon en netjies lyk. As ons diep in God se Woord kyk en oor die voorbeelde daarin peins, help dit ons om opnuut en objektief na onsself te kyk. Wat bring die spieël van die geïnspireerde Woord van God aan die lig omtrent jou?—Jakobus 1:23-25.
20. Hoe kan ons daarin slaag om sagmoedigheid aan die dag te lê?
20 Geaardhede verskil van nature. Dit is vir party van God se knegte makliker om sagmoedigheid aan die dag te lê as vir ander. Alle Christene moet nietemin die vrugte van God se gees aankweek, met inbegrip van sagmoedigheid. Paulus het Timoteus liefdevol vermaan: “Streef . . . na regverdigheid, godvrugtige toegewydheid, geloof, liefde, volharding, sagmoedigheid” (1 Timoteus 6:11). Die woord ‘nastreef’ dui daarop dat inspanning nodig is. In een Bybelvertaling word hierdie vermaning weergegee met ‘rig jou hart op’ (New Testament in Modern English, deur J. B. Phillips). As jy jou inspan om oor die goeie voorbeelde in God se Woord te peins, kan hulle deel van jou word, soos iets wat ingeplant is. Hulle sal jou vorm en lei.—Jakobus 1:21.
21. (a) Waarom moet ons sagmoedigheid nastreef? (b) Wat sal in ons volgende artikel bespreek word?
21 Ons optrede teenoor ander toon hoe goed ons in hierdie opsig vaar. “Wie is wys en verstandig onder julle?” vra die dissipel Jakobus. “Laat hom uit sy goeie gedrag sy werke toon met ’n sagmoedigheid wat by wysheid behoort” (Jakobus 3:13). Hoe kan ons hierdie Christelike eienskap by die huis, in die Christelike bediening en in die gemeente openbaar? Die volgende artikel gee nuttige riglyne.
Ter hersiening
• Wat het jy oor sagmoedigheid geleer uit die voorbeeld van
• Jehovah?
• Jesus?
• Moses?
• Abigail?
• Waarom moet ons sagmoedigheid nastreef?
[Prent op bladsy 16]
Waarom het Jehovah Abel se offer gunstig aangesien?
[Prent op bladsy 17]
Jesus het getoon dat sagmoedigheid en nederigheid hand aan hand gaan
[Prent op bladsy 18]
Moses het ’n goeie voorbeeld van sagmoedigheid gestel