Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 4/15 bl. 8-11
  • ’n Besonder aangename predikingskampanje

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Besonder aangename predikingskampanje
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • ’n Gewillige gees
  • Ouer verkondigers neem deel
  • Bemoedigende reaksie
  • Teenstand neem af
  • “’n Wonderlike ondervinding”
  • ’n Vreugdevolle oes
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 4/15 bl. 8-11

’n Besonder aangename predikingskampanje

“Die son bak op die aarde neer. Dit voel of die bergpaadjie geen einde het nie. Nadat ons verskeie hindernisse moes oorkom, bereik ons uiteindelik ons eindbestemming: die mees afgeleë dorpie. Moegheid verander in vreugde wanneer ons aan die eerste deur klop en hartlik ontvang word. Teen die einde van die dag het ons al die lektuur versprei wat ons saamgebring het en verskeie Bybelstudies begin. Die mense is gretig om te leer. Ons moet nou vertrek, maar ons belowe om terug te kom.”

SULKE ondervindinge is algemeen onder een groep pionierbedienaars in Mexiko. Hulle is vasbeslote om die opdrag van Jesus Christus aan sy dissipels ywerig uit te voer: “Julle sal getuies van my wees . . . tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Handelinge 1:8). In Mexiko word spesiale predikingskampanjes—wat pionierroetes genoem word—georganiseer om gebiede te bereik wat nie aan ’n gemeente toegeken is nie en gevolglik nie die goeie nuus van God se Koninkryk gereeld hoor nie. Gewoonlik is dit verafgeleë of moeilik bereikbare gebiede. Hulp word ook verleen aan afgesonderde gemeentes wat ’n groot gebied het om te dek.

Om vas te stel watter dele van die land deur die pionierroetes gedek moet word, kyk die takkantoor van Jehovah se Getuies na die behoeftes in die gebied.a Nadat dit gedoen is, word groepe spesiale pioniers gestuur om in die gebied te werk. Hulle word voorsien van voertuie wat geskik is vir die slegte grondpaaie. Die voertuie word ook gebruik as stoorplek vir die lektuur en soms as slaapplek.

’n Gewillige gees

Sedert Oktober 1996 is ander verkondigers van die goeie nuus genooi om saam met die spesiale pioniers aan hierdie bedrywigheid deel te neem. Koninkryksverkondigers sowel as gewone pioniers wat gewillig is om te dien waar daar hulp nodig is, neem op verskillende stadiums aan die kampanje deel. Party word na gemeentes op die roete gestuur sodat hulle in daardie gebied kan werk en die belangstelling wat gevind word, verder kan kweek. Talle jong verkondigers en pioniers het hierdie uitnodiging aanvaar en is geseën met baie aanmoedigende ondervindinge.

Byvoorbeeld, Abimael, ’n jong Christen wat ’n goed betaalde werk by ’n selfoonmaatskappy gehad het, het besluit om aan die predikingsbedrywighede in daardie verafgeleë gebiede deel te neem. Toe sy werkgewers hoor dat hy wil bedank, het hulle hom bevordering en ’n verhoging aangebied. Sy werksmaats het druk op hom uitgeoefen en volgehou dat dit ’n unieke geleentheid is en dat hy dwaas sou wees om dit nie te aanvaar nie. Maar Abimael was vasbeslote om die spesiale predikingskampanje drie maande lank te ondersteun. Hy het sy diens daar soveel geniet dat hy besluit het om vir ’n onbepaalde tyd in ’n afgesonderde gemeente te bly waar baie meer Koninkryksverkondigers nodig is. Hy het nou ’n beskeie werk en het geleer om sy lewe eenvoudig te hou.

Nog ’n voorbeeld is dié van Julissa, wat 22 uur per bus moes reis om by haar toewysing uit te kom. Op die laaste skof van haar reis het sy die laaste bus van die dag verpas. Maar daar het ’n bakkie gestaan wat werkers vervoer het. Julissa het die moed bymekaargeskraap en hulle gevra of sy kan saamry. Dit is te verstane dat sy ietwat senuweeagtig was, want sy was die enigste vrou tussen al die mans. Toe sy vir ’n jong man begin getuig, het sy uitgevind dat hy een van Jehovah se Getuies is! “En dis nie al nie”, vertel Julissa, “die bestuurder van die bakkie was ’n ouer man in die gemeente waarheen ek toegewys is!”

Ouer verkondigers neem deel

Hierdie bedrywigheid is egter nie net vir die jonges nie. Adela, ’n ouer suster, wou nog altyd meer tyd aan die predikingswerk wy. Sy het die geleentheid gekry toe sy genooi is om aan hierdie spesiale predikingskampanje deel te neem. Sy vertel: “Ek het my toewysing soveel geniet dat ek die ouer manne in die gemeente gevra het of ek onbepaald kon aanbly. Ek voel gelukkig, want al is ek ouer, kan Jehovah my nog steeds gebruik.”

Martha, wat 60 jaar oud is, is ook deur waardering vir Jehovah en liefde vir haar medemens beweeg om aan die kampanje deel te neem. Toe sy sien dat die groot afstande en die moeilike terrein van die gebied dit vir haar groep onmoontlik maak om al die mense te bereik, het sy vir die pioniers ’n motor gekoop om te gebruik. Hierdie suster se bydrae het dit moontlik gemaak om ’n groter gebied te dek en Bybelwaarheid aan meer mense te verkondig.

Bemoedigende reaksie

Die doelwit van diegene wat aan hierdie spesiale predikingskampanjes deelneem, is om ‘dissipels te maak’. Uitstekende resultate is hiermee behaal. Mense in afgesonderde gebiede het lewegewende waarhede uit die Bybel ontvang (Matteus 28:19, 20). Baie Bybelstudies is begin. Verkondigers wat in die omgewing woon of in die gebied agtergebly het, besoek nou hierdie mense. In party gevalle is groepe verkondigers georganiseer en in ander gevalle is klein gemeentes selfs gestig.

Magdaleno en sy metgeselle het van openbare vervoer gebruik gemaak om te kom by die afgesonderde gebied waarheen hulle toegewys is. Op pad soontoe het hulle die geleentheid gebruik om vir die bestuurder te getuig. “Hierdie man het ons vertel dat Getuies die vorige week na sy huis toe gekom het terwyl hy weg was. Met sy tuiskoms het sy gesin hom vertel wat hulle gehoor het. Ons het vir hom gesê dat ons nie van daardie geweste was nie, maar van verskeie state in die land kom om hierdie spesiale predikingskampanje te ondersteun en dat elkeen sy reiskoste self dek. Die bestuurder was beïndruk en het gesê dat hy en sy gesin daardie selfde week nog die Bybel sal begin studeer. Hy het selfs tot die werk bygedra deur ons nie vir die reis te laat betaal nie.”

Magdaleno was ook baie beïndruk deur die reaksie van die mense van die Chiapas-berge. “Ek en my vrou het die Koninkryksboodskap verkondig aan ’n groep van 26 jongmense wat aan die Presbiteriaanse Kerk behoort. Hulle almal het ’n halfuur lank aandagtig geluister. Hulle het hulle Bybels uitgehaal, en ons het hulle ’n deeglike getuienis oor Jehovah se voornemens gegee. Die meeste van die mense het hulle eie Bybel in die Tzeltal-taal.” ’n Aantal progressiewe Bybelstudies is begin.

Teenstand neem af

’n Sekere gemeenskap in die Chiapas is meer as twee jaar lank nie met die Bybelboodskap besoek nie omdat party van die mense daar ons werk teëgestaan het. Teresa, ’n voltydse evangeliedienaar, het opgemerk dat party van die Getuies huiwerig was om in daardie dorpie te getuig. “Tot almal se verbasing was die mense gewillig om te luister. Toe ons klaar velddiens gedoen het, het dit baie hard begin reën. Ons het skuiling gesoek en by die huis van ’n gasvrye man met die naam Sebastián gekom, wat ons ingenooi het sodat ons uit die reën kon kom. Toe ons binne was, het ek hom gevra of iemand hom al besoek het. Hy het nee gesê, en ek het vir hom begin getuig en ’n Bybelstudie in die boek Kennis wat tot die ewige lewe leib begin. Toe ons klaar was, het Sebastián ons met trane in sy oë gesmeek om terug te kom om met hom te studeer.”

’n Ander groep pioniers wat die Chiapas besoek het, vertel: “Met Jehovah se hulp het ons goeie resultate gehad. In die eerste week het ons 27 studies begin; in die tweede week het ons die mense genooi om na ons video The Bible—Its Power in Your Life te kom kyk. Sestig mense het gekom. Almal het dit baie geniet. Aan die einde van ons besoek het ons voorgestel dat ’n Bybelstudiegroep begin word. En op die ou end is twee studiegroepe in hierdie dorpie gevorm.

“Nadat ons al die gebiede wat aan ons toegeken is, gedek het, het ons teruggekeer na die dorpie om die belangstellendes aan te moedig en te sien hoe dit gaan met die Bybelstudiegroepe wat gevorm is. Ons het hulle na ’n openbare toespraak en die Wagtoring-studie genooi. Maar daar was nêrens ’n plek wat groot genoeg was vir die vergaderinge nie. Die persoon wat sy huis vir die studiegroep beskikbaar gestel het, het na sy agterplaas gewys en gesê: ‘Die vergaderinge kan in die agterplaas gehou word.’”

Daardie naweek het die besoekende pioniers en die belangstellendes ywerig kom help om die agterplaas reg te kry sodat dit vir die vergaderinge gebruik kon word. Daar was 103 mense by die eerste vergadering. Tans word 40 Bybelstudies in daardie dorpie gehou.

“’n Wonderlike ondervinding”

Benewens die uitstekende resultate wat hulle in die predikingswerk gehad het, het dié wat aan hierdie evangelisasiewerk deelgeneem het, self grootliks daarby baat gevind. María, ’n jong pionier wat aan een van hierdie kampanjes deelgeneem het, beskryf haar gevoelens soos volg: “Dit was om twee redes ’n wonderlike ondervinding. My vreugde in die predikingswerk het toegeneem en my verhouding met Jehovah het hegter geword. Toe ons eenkeer ’n berg uitgeklim het, was ons doodmoeg. Nadat ons Jehovah gevra het om ons te help, het ons die waarheid van Jesaja 40:29-31 ervaar: ‘Dié wat op Jehovah hoop, sal nuwe krag kry.’ Ons het by ons bestemming aangekom en studies gehou met mense wat ons baie gasvry ontvang het.”

’n Ander jong pionier, die 17-jarige Claudia, sê: “Dit het my baie goedgedoen. Ek het geleer om meer bedrewe in die bediening te wees, wat my baie vreugde verskaf het, en dit het daartoe gelei dat ek geestelike doelwitte stel. Ek het ook geestelik meer volwasse geword. By die huis het my ma alles vir my gedoen. Nou, met die ondervinding wat ek opgedoen het, het ek verantwoordeliker geword. Ek was byvoorbeeld altyd baie kieskeurig wat my kos betref. Maar noudat ek by ander omstandighede moes aanpas, kla ek nie meer oor kos nie. Hierdie kampanje het my gehelp om hegte vriendskappe te sluit. Ons deel alles wat ons het en help mekaar.”

’n Vreugdevolle oes

Watter vrugte het hierdie spesiale poging afgewerp? Vroeg in 2002 was daar al sowat 28 300 pioniers wat op hierdie pionierroetes gegaan het. Hulle het meer as 140 000 Bybelstudies gehou en meer as tweemiljoen uur aan die predikingswerk gewy. Om mense te help om Bybelwaarheid te leer, het hulle omtrent 121 000 boeke en bykans 730 000 tydskrifte versprei. Dit is nie ongewoon vir sommige pioniers om 20 of meer Bybelstudies te hou nie.

Diegene teenoor wie hierdie goedhartigheid betoon is, is opreg dankbaar vir die spesiale poging wat aangewend is om hulle met die Bybelboodskap te bereik. Al is hulle arm, dring baie daarop aan om vir die verkondigers ’n bydrae te gee. ’n Behoeftige 70-jarige vrou gee altyd iets vir die pioniers wat haar besoek. As hulle dit nie wil neem nie, is sy in trane. ’n Gesin wat baie arm is, sê vir die voltydse evangeliedienaars dat die hen spesiaal vir hulle ’n paar eiers gelê het en dring daarop aan dat hulle die eiers vat.

Wat egter van groter belang is, is dat hierdie opregte mense hartgrondige waardering vir geestelike dinge toon. Een jong vrou loop byvoorbeeld, op haar eie, drie en ’n half uur om by Christelike vergaderinge uit te kom, en sy woon al die vergaderinge by. ’n Bejaarde belangstellende het, ten spyte van probleme met haar knieë, twee uur lank gereis om Bybelonderrig tydens die kringopsiener se besoek te ontvang. Party wat ongeletterd was, wou leer lees en skryf sodat hulle meer by Bybelonderrig kon baat vind. Hulle pogings is ryklik geseën.

In die boek Handelinge beskryf Lukas ’n visioen wat die apostel Paulus gesien het: “Daar het ’n sekere Masedoniese man gestaan en hom gesoebat en gesê: ‘Kom oor na Masedonië en help ons.’” Paulus het gewillig gegaan. Vandag het baie met dieselfde gees gereageer en was hulle bereid om na die verafgeleë gebiede van Mexiko te gaan om die goeie nuus “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” te verkondig.—Handelinge 1:8; 16:9, 10.

[Voetnote]

a In ’n onlangse jaar is meer as 8 persent van die gebied in Mexiko nie gereeld deur gemeentes van Jehovah se Getuies gedek nie. Dit beteken dat daar meer as 8 200- 000 mense in afgesonderde gebiede woon wat moeilik is om met die predikingswerk te bereik.

b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 9]

Baie Mexikaanse Getuies het aan spesiale predikingskampanjes deelgeneem

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel