Jongmense wat Jehovah se hart bly maak
Hierdie studieartikels is spesiaal vir die jongmense onder Jehovah se Getuies voorberei. Ons moedig die jonges dus aan om hierdie materiaal noukeurig te bestudeer en ’n goeie deelname te hê wanneer dit by die gemeentelike Wagtoring-studie bespreek word.
“Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee.”—SPREUKE 27:11.
1, 2. (a) Beteken blote aangetrokkenheid tot die dinge van die wêreld dat jy nie uitgeknip is om ’n Christen te wees nie? Verduidelik (Romeine 7:21). (b) Wat leer jy uit Asaf se voorbeeld? (Sien venster, bladsy 13.)
GESTEL jy wil vir jou klere koop. Terwyl jy soek, sien jy ’n kledingstuk waarvan jy onmiddellik hou. Die kleur en styl lyk net reg vir jou, en volgens die prys is dit beslis ’n winskopie. Maar dan bekyk jy dit van naderby. Tot jou verbasing sien jy dat die materiaal aan die kante uitgerafel en swak aanmekaargestik is. Hoewel die kledingstuk mooi lyk, is dit van swak gehalte. Sal jy jou geld aan so ’n minderwaardige produk bestee?
2 Vergelyk dit met ’n situasie waarvoor jy as ’n jong Christen te staan kan kom. Met die eerste oogopslag lyk die dinge van die wêreld—soos daardie kledingstuk—miskien baie aantreklik. Byvoorbeeld, jou skoolmaats gaan dalk na opwindende partytjies, gebruik dwelms, drink en het romantiese verhoudings vir die pret asook voorhuwelikse seks. Trek so ’n lewenstyl jou soms aan? Wens jy dat jy net ’n mate van hulle sogenaamde vryheid kan hê? Indien wel, moet jy nie vinnig tot die slotsom kom dat jy ’n slegte mens is en eenvoudig nie uitgeknip is om ’n Christen te wees nie. Die Bybel erken immers dat die wêreld ’n sterk aantrekkingskrag kan hê—selfs vir iemand wat God wil behaag.—2 Timoteus 4:10.
3. (a) Waarom is dit vrugteloos om die dinge van die wêreld na te streef? (b) Hoe beskryf een Christen die vergeefsheid van wêreldse strewes?
3 Bekyk hierdie dinge nou van naderby soos jy sou doen met ’n kledingstuk wat jy wil koop. Vra jou af: ‘Van watter “gehalte” is hierdie stelsel van dinge? Is dit goed of swak aanmekaargesit?’ Die Bybel sê: “Die wêreld gaan verby” (1 Johannes 2:17). Enige genot wat ’n mens uit die wêreld put, sou hoogstens tydelik wees. Boonop kom goddelose gedrag ’n mens duur te staan. Dit is beslis geen winskoop nie. Een Christen praat van “die pyn” wat sy moes verduur “as gevolg van ’n onverstandige jeug”, en sê: “Die wêreld lyk dalk betowerend en aanloklik. En hulle wil hê jy moet glo dat jy hulle soort plesier sonder pyn kan geniet. Maar dit is eenvoudig onmoontlik. Die wêreld sal jou gebruik, en wanneer hulle met jou klaar is, sal hulle jou weggooi.”a Waarom sou jy jou jeug op so ’n minderwaardige lewenswyse verkwis?
Beskerming teen “die bose”
4, 5. (a) Wat het Jesus kort voor sy dood vir Jehovah in gebed gevra? (b) Waarom was dit ’n gepaste versoek?
4 Omdat jongmense onder Jehovah se Getuies besef dat hierdie stelsel van dinge hulle niks kan bied nie, probeer hulle vriendskap met hierdie wêreld vermy (Jakobus 4:4). Is jy een van hierdie getroue jongmense? Dan moet jy geprys word. Dit is weliswaar nie maklik om portuurdruk te weerstaan en opvallend anders te wees nie, maar jy het hulp.
5 Kort voor sy dood het Jesus gebid dat Jehovah oor sy dissipels moet “waak weens die bose” (Johannes 17:15). Jesus het hierdie versoek met goeie rede gedoen. Hy het geweet dat dit nie vir sy volgelinge, ongeag hulle ouderdom, maklik sou wees om hulle onkreukbaarheid te handhaaf nie. Waarom nie? Soos Jesus erken het, sou sy dissipels onder andere met ’n kragtige, onsigbare vyand te doen hê—“die bose”, Satan die Duiwel. Die Bybel sê dat hierdie bose geesskepsel ‘rondloop soos ’n brullende leeu en daarop uit is om iemand te verslind’.—1 Petrus 5:8.
6. Hoe weet ons dat Satan glad nie jammer voel vir jongmense nie?
6 Deur die geskiedenis heen het Satan sadistiese genot daaruit geput om verskriklike wreedhede oor mense te bring. Dink aan die verskriklike rampspoed wat Satan oor Job en sy familie gebring het (Job 1:13-19; 2:7). Miskien kan jy aan nuusgebeure in jou leeftyd dink wat die stempel van Satan se gewelddadige gees dra. Die Duiwel is op soek na prooi, en in sy begeerte om mense te verslind, betoon hy geen genade aan jongmense nie. Aan die begin van die eerste eeu G.J. het Herodes byvoorbeeld ’n plan uitgevoer om al die seuntjies in Betlehem van twee jaar en jonger dood te maak (Matteus 2:16). Dit was waarskynlik Satan wat Herodes daartoe beweeg het—alles in ’n poging om ontslae te raak van die kind wat eendag God se beloofde Messias sou word en God se oordeel aan Satan sou voltrek! (Genesis 3:15). Dit is duidelik dat Satan glad nie jammer voel vir jongmense nie. Sy enigste oogmerk is om soveel mense moontlik te verslind. Dit is veral nou die geval, want Satan is uit die hemel na die aarde neergewerp en “het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydjie het”.—Openbaring 12:9, 12.
7. (a) Watter skerp teenstelling vorm Jehovah met Satan? (b) Hoe voel Jehovah daaroor dat jy die lewe geniet?
7 In skerp teenstelling met Satan, wat “groot toorn” het, het Jehovah “tere medelye” (Lukas 1:78). Hy is die verpersoonliking van liefde. Trouens, hierdie wonderlike eienskap is so kenmerkend van ons Skepper dat die Bybel sê: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Wat ’n verskil is daar tog tussen die god van hierdie stelsel van dinge en die God wat jy die voorreg het om te aanbid! Terwyl Satan daarop uit is om mense te verslind, ‘wil Jehovah nie hê dat enigeen vernietig moet word nie’ (2 Petrus 3:9). Hy beskou elke menselewe as kosbaar—ook joune. Wanneer Jehovah jou in sy Woord aanspoor om geen deel van die wêreld te wees nie, probeer hy jou nie alle genot in die lewe ontneem of jou vryheid beperk nie (Johannes 15:19). Inteendeel, hy waak oor jou weens die bose. Jou hemelse Vader wil hê dat jy iets baie beters moet geniet as die kortstondige genietinge van hierdie wêreld. Sy begeerte is dat jy “die werklike lewe” moet verkry—ewige lewe op ’n paradysaarde (1 Timoteus 6:17-19). Jehovah wil hê dat jy suksesvol moet wees, en hy spoor jou aan sodat jy daardie doelwit kan bereik (1 Timoteus 2:4). Daarbenewens rig Jehovah ’n spesiale uitnodiging aan jou. Wat is dit?
“Maak my hart bly”
8, 9. (a) Watter gawe kan jy aan Jehovah gee? (b) Hoe tart Satan Jehovah uit, soos Job se geval toelig?
8 Het jy al ’n geskenk vir ’n intieme vriend gekoop en dan op sy gesig gesien hoe verras hy is en hoeveel hy dit waardeer? Jy het moontlik lank gedink oor watter soort geskenk vir hom gepas sou wees. Dink nou aan hierdie vraag: Watter soort geskenk, of gawe, kan jy aan jou Skepper, Jehovah God, gee? Dit klink dalk verregaande. Wat het die Almagtige van ’n nietige mens nodig? Is daar hoegenaamd enigiets wat jy hom kan gee wat hy nie reeds het nie? Die Bybel gee die antwoord in Spreuke 27:11: “Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee.”
9 Soos jy waarskynlik uit jou studie van die Bybel weet, is dit Satan die Duiwel wat Jehovah uittart. Hy voer aan dat dié wat God dien, dit nie uit liefde doen nie, maar om selfsugtige redes. Laat hulle swaar kry, beweer Satan, en hulle sal ware aanbidding gou verlaat. Dink byvoorbeeld aan wat Satan vir Jehovah oor die regverdige man Job gesê het: “Het u nie self om hom en om sy huis en om alles wat hy het, aan alle kante, ’n heining geplaas nie? Die werk van sy hande het u geseën, en sy vee het op die aarde toegeneem. Maar steek vir ’n verandering asseblief u hand uit en raak alles aan wat hy het en kyk of hy u nie in u aangesig sal vervloek nie.”—Job 1:10, 11.
10. (a) Hoe weet ons dat Satan nie net Job se onkreukbaarheid bevraagteken het nie? (b) Hoe is jy betrokke by die geskil oor soewereiniteit?
10 Soos die Bybelverslag toon, het Satan nie net die lojaliteit van Job bevraagteken nie, maar ook dié van alle ander mense wat God dien—jy inkluis. Trouens, Satan het van die mensdom in die algemeen gepraat en vir Jehovah gesê: “Alles wat ’n mens het [nie net Job nie, maar enigiemand], sal hy gee vir sy siel” (Job 2:4). Sien jy jou rol in hierdie lewensbelangrike geskil? Soos in Spreuke 27:11 getoon word, sê Jehovah dat daar iets is wat jy aan hom kan gee—’n grondslag vir hom om ’n antwoord te gee aan Satan, die een wat hom uittart. Dink net—die Universele Soewerein vra jou om ’n antwoord in die grootste geskil van alle tye te help voorsien. Wat ’n ontsagwekkende verantwoordelikheid en voorreg het jy tog! Kan jy doen wat Jehovah van jou vra? Job het (Job 2:9, 10). So ook Jesus sowel as talle ander mense deur die geskiedenis heen, met inbegrip van baie jongmense (Filippense 2:8; Openbaring 6:9). Jy kan dit ook doen. Maar een ding is seker, jy kan nie in hierdie saak neutraal wees nie. Deur jou handelswyse sal jy toon dat jy óf Satan se uittarting óf Jehovah se antwoord ondersteun. Watter een gaan jy ondersteun?
Jehovah gee vir jou om!
11, 12. Maak dit vir Jehovah saak of jy besluit om hom te dien of nie? Verduidelik.
11 Maak jou keuse regtig saak vir Jehovah? Was daar nie al genoeg mense wat getrou gebly het sodat hy ’n voldoende antwoord aan Satan kan gee nie? Die Duiwel het weliswaar beweer dat niemand Jehovah uit liefde dien nie, ’n aantyging wat reeds vals bewys is. Maar Jehovah wil hê dat jy jou aan sy kant van die geskil oor soewereiniteit moet skaar omdat hy vir jou as persoon omgee. Jesus het gesê: “Dit [is] vir my Vader wat in die hemel is, nie wenslik dat een van hierdie kleintjies vergaan nie.”—Matteus 18:14.
12 Dit is duidelik dat Jehovah belangstel in die weg wat jy kies. Wat meer is, hy word daardeur geraak. Die Bybel toon duidelik dat Jehovah diep gevoelens het wat deur die goeie of slegte dade van mense gewek word. Byvoorbeeld, toe die Israeliete herhaaldelik in opstand gekom het, het dit Jehovah “bedroef” (Psalm 78:40, 41). Voor die Vloed van Noag se dag, toe “die slegtheid van die mens oorvloedig op die aarde was”, het Jehovah “gekrenk gevoel in sy hart” (Genesis 6:5, 6). Dink aan wat dit beteken. As jy ’n verkeerde weg inslaan, kan jy jou Skepper bedroef. Dit beteken nie dat God swak is of hom deur emosies laat beheer nie. Dit beteken eerder dat hy jou liefhet en besorg is oor jou welsyn. Wanneer jy daarenteen doen wat reg is, maak dit Jehovah se hart bly. Hy is nie net bly omdat hy nog ’n antwoord het om aan Satan te gee nie, maar ook omdat hy nou jou Beloner kan word. En dit is iets wat hy graag wil wees (Hebreërs 11:6). Wat ’n liefdevolle Vader het jy tog in Jehovah God!
Ryk seëninge nou
13. Hoe bring dit nou alreeds seëninge mee as ’n mens Jehovah dien?
13 Die seëninge wat daaruit voortspruit wanneer ’n mens Jehovah dien, sal nie net in die toekoms geniet word nie. Baie jongmense onder Jehovah se Getuies word nou alreeds geseën met vreugde en bevrediging, en met goeie rede. “Die bevele van Jehovah is reg; hulle maak die hart bly”, het die psalmis geskryf (Psalm 19:8). Jehovah weet beter as enige mens wat goed is vir ons. Deur die profeet Jesaja het Jehovah gesê: “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel. Ag, as jy maar aan my gebooie aandag sal skenk! Dan sal jou vrede net soos ’n rivier word, en jou regverdigheid soos die golwe van die see.”—Jesaja 48:17, 18.
14. Hoe kan Bybelbeginsels jou help om die pyn te vermy wat met skuld gepaardgaan?
14 As jy volgens Bybelbeginsels lewe, sal dit jou help om baie pyn en hartseer te vermy. Die Bybel sê byvoorbeeld dat diegene wat ’n liefde vir geld ontwikkel het, ‘hulleself oral met baie pyne deurboor het’ (1 Timoteus 6:9, 10). Het enige van jou portuurs die harde werklikheid van hierdie teks ondervind? Party jong mans en vroue is diep in die skuld omdat hulle eenvoudig die nuutste klere van ’n sekere handelsnaam en die jongste tegnologiese toestelle moet hê. Om belas te wees met langtermynbetalings teen hoë rentekoerse vir dinge wat jy nie werklik kan bekostig nie, is ’n pynlike vorm van slawerny!—Spreuke 22:7.
15. Hoe beskerm Bybelbeginsels jou teen die pyn wat deur geslagsonsedelikheid veroorsaak word?
15 Kyk byvoorbeeld ook na geslagsonsedelikheid. Elke jaar raak tallose ongetroude tieners regoor die wêreld swanger. Party gee geboorte aan ’n kind wat hulle nie wil of kan grootmaak nie. Ander ondergaan ’n aborsie en sit dan met ’n gewete wat hulle pynig. Dan is daar jong mans en vroue wat ’n seksueel oordraagbare siekte opdoen, soos vigs. Vir iemand wat Jehovah ken, is die ergste gevolg natuurlik ’n geskende verhouding met Jehovah (Galasiërs 5:19-21).b Die Bybel sê tereg: “Vlug vir die hoerery.”—1 Korintiërs 6:18.
Dien “die gelukkige God”
16. (a) Hoe weet ons dat Jehovah wil hê dat jy jou jeug moet geniet? (b) Waarom gee Jehovah riglyne wat jy moet volg?
16 Die Bybel beskryf Jehovah as “die gelukkige God” (1 Timoteus 1:11). Hy wil hê dat jy ook gelukkig moet wees. Trouens, Jehovah sê self in sy Woord: “Jy . . . moet vreugde vind in jou jeug en jou jong dae ten volle geniet” (Prediker 11:9, Die Bybel, 1983). Jehovah kyk verder as die huidige oomblik en kan die langtermyngevolge van goeie sowel as slegte gedrag sien. Daarom vermaan hy jou: “Dink dan nou aan jou Grootse Skepper in die dae van jou jonkheid, voordat die rampspoedige dae kom, of die jare aangebreek het wanneer jy sal sê: ‘Ek het geen behae daarin nie.’”—Prediker 12:1.
17, 18. Wat het ’n jong Christen gesê oor haar vreugde om Jehovah te dien, en hoe kan jy dieselfde vreugde vind?
17 Baie jongmense van vandag het groot geluk gevind omdat hulle Jehovah dien. Die 15-jarige Lina sê byvoorbeeld: “Ek kan die wêreld in die oë kyk. Ek het ’n gesonde liggaam omdat ek nie rook of dwelms gebruik nie. Ek ontvang waardevolle leiding deur die gemeente wat my help om Satan se verskriklike druk te weerstaan. Ek voel gelukkig weens die opbouende omgang wat ek by die Koninkryksaal geniet. Die beste van alles is dat ek die wonderlike vooruitsig het om vir ewig op die aarde te lewe.”
18 Soos Lina stry talle jong Christene hard vir die geloof, en dit verskaf hulle vreugde. Hulle besef dat hulle lewe—hoewel dit soms moeilik is—’n ware doel en ’n toekoms het. Gaan dus voort om die God te dien wat jou belange op die hart dra. Maak sy hart bly, en hy sal sorg dat jy nou en tot onbepaalde tyd gelukkig is!—Psalm 5:11.
[Voetnote]
a Sien die artikel “Die waarheid het my my lewe teruggegee”, in die Ontwaak van 22 Oktober 1996.
b Dit is vertroostend om te weet dat Jehovah iemand ‘ryklik sal vergewe’ as hy berou toon, ophou doen wat verkeerd is en sy sondes bely.—Jesaja 55:7.
Onthou jy?
• Met watter gevaar van “die bose”, Satan, het jy te kampe?
• Hoe kan jy Jehovah se hart bly maak?
• Hoe toon die Bybel dat Jehovah vir jou omgee?
• Wat is van die seëninge wat ’n mens ontvang wanneer jy Jehovah dien?
[Venster/Prent op bladsy 13]
’n Regverdige man struikel amper
Asaf was ’n vername Levitiese musikant by Jehovah se tempel in eertydse Israel. Hy het selfs liedere gekomponeer wat in openbare aanbidding gebruik is. Maar ondanks sy unieke voorregte het die goddelose gedrag van sy portuurs, wat God se wette verbreek en skynbaar ongestraf gebly het, ’n ruk lank vir Asaf aanloklik gelyk. “My voete het amper afgewyk, my voetstappe het byna uitgegly”, het Asaf later erken. “Ek het afgunstig geraak op die grootpraters toe ek die vrede van die goddeloses sien.”—Psalm 73:2, 3.
Later het Asaf na God se heiligdom gegaan en oor die saak gebid. Met hernieude geestelike insig het hy verstaan dat Jehovah verdorwenheid haat en dat die goddeloses sowel as die regverdiges mettertyd sal maai wat hulle saai (Psalm 73:17-20; Galasiërs 6:7, 8). Die goddeloses is waarlik op glibberige grond. Eindelik sal hulle tot ’n val kom wanneer Jehovah hierdie goddelose stelsel vernietig.—Openbaring 21:8.
[Prente op bladsy 15]
Jehovah dra jou belange op die hart, terwyl dit Satan se oogmerk is om jou te verslind
[Prent op bladsy 16]
Baie jongmense vind die grootste geluk deur Jehovah saam met mede-Christene te dien